Naby die Dood Ervarings

Naby die Dood Ervarings of Skyndood vs Wat sê die Skrifte

Vraag oor naby die dood ervarings: Goeie middag Vic

Baie dankie vir jou webtuiste dit help ons gesin baie Donderdag aande wanneer ons stil raak by God. Ek het verlede week vir hulle oor ter helle neergedaal gelees en dit was ongelooflik interessant. Ons het so lekker gesels rondom dit. Ons het wel ‘n vraag as jy ons dalk kan help met dit. Die mense wat n skyndood het en wat hemel toe gaan? Elke persoon het n ander ervaring van die hemel so dit is vir ons nogal verwarrend. Ek sal dit waardeur as jy vir ons dalk bietjie kan leiding gee rondom dit.

Vriendelike groete en seën

Antwoord: Baie dankie vir jou epos, en boonop is dit altyd ‘n seëning om te hoor dat medegelowiges die artikels op die webtuiste interessant en leersaam vind. Ek kan net die Here daarvoor dank, want sonder Hom sou ek nooit die webtuiste kon geskryf het nie. Dit is ook bemoedigend om te hoor dat daar nog gesinne is wat om God se woord vergader. Ongelukkig het ons samelewing meer sulke gesinne nodig! So ver dit jou vraag oor die naby die dood ervarings aanbetref, sal ek jou slegs my mening oor hierdie verskynsel kan gee, maar ek sal poog om my mening slegs op die Skrifte te baseer, omdat ek bo enige twyfel weet dat die antwoord in God se woord te vinde sal wees.

Ek glo dat in die meerderheid van gevalle waar mense naby die dood ervarings beleef, hulle geensins dit wat hulle tydens die naby die dood ervarings beleef en gesien het, self opmaak en daaroor lieg nie. Ek wil egter ook net noem, dat daar volgens my mening, wel mense is wat naby die dood ervarings opmaak om daardeur roem en geld te bekom, maar ek glo dat hulle wel in die minderheid is. Dit is dan ook ongelukkig so, dat dit juis hierdie mense is wat hulle sogenaamde naby die dood ervarings sal publiseer om geld daaruit te maak. Maar dit is egter ook so, dat daar baie geloofwaardige mense is wat wel naby die dood ervarings beleef het en wat nie daaroor lieg nie. Wat hierdie artikel egter gaan poog om te beantwoord is of ons, as gelowiges, die boodskappe wat deur mense wat naby die dood ervarings beleef het, se boodskappe en ervarings, as van God afkomstig, (en dus die waarheid) moet aanvaar of nie. Vir die antwoord gaan ons kyk wat sê die Skrifte!

Om te begin, moet ons nooit na ons omstandighede, emosies, ervarings asook binne in onsself kyk om die waarheid, asook ons teologie, te bepaal nie.
Jer 17:9 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”
Ons moet weg van onsself en ons ervarings af kyk, en na Christus en Sy woord vir die waarheid kyk, anders gaan ons reg binne in Satan se strik trap. Ons moet ten alle tye ons ondervindings en belewenisse in lig van God se woord (Die Bybel.) evalueer. Derhalwe moet ons ten strengste daarteen waak om nooit God se woord (Die Bybel) in lig van ons omstandighede, emosies, menslike opinies en buite Bybelse ervarings te evalueer of te verklaar nie! Indien ons dit doen, gaan ons onsself vir ernstige misleiding oopstel!
Psa 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”
Bostaande stelling geld vir alle buite Bybelse ervarings of verskynsels en geld ook vir naby die dood ervarings!

Boonop waarsku die Here ons in Sy woord, om nie op ons eie insigte staat te maak nie.
Spr 3:5 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”
Onthou, daar is baie dinge in die wêreld wat ons nie verstaan nie. Met al ons tegnologie en geleerdheid wat die mensdom bekom het, weet die mens nie eens behoorlik hoe al die prosesse in die menslike brein funksioneer nie. Dan praat ek nie eens van hoe die menslike gees en siel met sy fisiese liggaam, as eenheid saamgevoeg, derhalwe funksioneer nie. Onthou dat die Natuurlike wetenskappe nie werklik die geestelike sy van die mens kan bestudeer nie, juis omrede die fisiese nie die geestelike kan evalueer nie. Mens kan seersekerlik nie die menslike gees onder ‘n mikroskoop plaas of dit in ‘n laboratorium bestudeer en eksperimente daarop doen nie! Boonop dit alles, is die geestes wêreld nie gebonde aan die natuurwetenskap se wette nie. Ons weet nie eens watter wette vir die geestes wêreld geld nie! En wat dan van die sogenaamde geestes wetenskappe soos sielkunde? Hierdie beroepe kan nie, in die werklike sin van die woord, as wetenskappe omskryf word nie, maar is eerder menslike teorieë. Die leser word aangeraai die webtuiste van Martin & Deidre Bobgan by http://www.psychoheresy-aware.org/mainpage.html vir meer besonderhede rondom hierdie aangeleentheid te besoek. Slegs God weet alles, want Hy alleenlik is die Skepper en is alwetend. En daarom het Hy ons Sy woord (die Bybel) gegee, in lig waarvan, ons al ons ervarings en belewenisse moet evalueer.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Derhalwe ‘n paar punte om ingedagte te hou, wanner ons met buite Bybelse of geestelike manifestasies of ervarings te doen kry:

1) Net omdat ‘n ondervinding geestelik mag voorkom beteken dit geensins dat daardie ondervinding Bybels is of van God afkomstig is nie. (Ek ontken dus nie noodwendig die bestaan van daardie spesifieke gebeurtenis nie, maar ons moet egter altyd na die bron agter daardie gebeurtenis gaan soek om vas te stel wat die oorsprong daarvan is.)

2) Indien mens navorsing oor naby die dood ondervindings gaan doen, is dit opmerklik dat mense van verskillende gelowe baie keer hulle afgode sien en met daardie afgode gesprekke voer. Hierdie stelling geld vir Hindoes, Moslems, die wit lig, of self die Christus (nie die ware Jesus Christus nie) van die Nuwe Era Beweging ens. Derhalwe is dit baie duidelik, dat hierdie gebeurtenisse en boodskappe nie van die God van die Bybel afkom nie. Onthou, Satan sal homself aan ‘n persoon voorhou as dit wat daardie persoon die graagste in wil glo. Vir ‘n Hindoe sal hy homself as Brahma of Shiva voordoen, of ‘n ander bose gees stuur om hom as sulks voor te doen. Indien ‘n persoon in buiteruimtelike wesens glo, sal Satan homself as sulks aan so ‘n persoon voorhou. (Onthou, Satan is die meester in verleiding!) Satan sal homself ook as Christus of die Heilige Gees (veral in sogenaamde Christelike byeenkomste soos die van Tod Bentley en te veel ander soos hy.) voordoen, en boonop waarsku die Skrifte ons dat die Duiwel homself as ‘n engel van die lig voordoen.
2Ko 11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
Die apostel Johannes waarsku ons ook dan om die geeste op die proef te stel. Dit is ons plig om die bron agter elke sogenaamde geestelike manifestasie, geestelike verskynsel of ervaring vas te stel.
1Jo 4:1 “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”

3) Baie mense wat naby die dood ervarings beleef, beweer dat hulle deur ‘n lig tonnel gaan en dan ‘n helder wit lig of selfs die Here Jesus Christus sien. Maar indien ons glo dat die Bybel God se finale woord aan die mensdom is (en dit is) dan sou mens verwag dat die Here na hierdie tonnel sou verwys het. Veral indien mens in ag neem dat die apostel Paulus, onder inspirasie van die Heilige Gees, dit duidelik gestel het dat die Bybel al is wat die gelowige benodig om sy Godsdiens getrou uit te lewe.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Indien mens egter in ag neem, dat die Heilige Gees, by wedergeboorte, die gelowige permanent as Sy eiendom verseël, kan mens met redelike sekerheid aanneem, dat wanneer die gelowige tot sterwe kom hy onmiddellik in die teenwoordigheid van God sal wees. En die apostel Paulus bevestig ook baie duidelik hierdie waarheid.
2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”
En onthou, die Here Jesus Christus het belowe dat Hy die Heilige Gees sou stuur en dat die Heilige Gees vir ewig by gelowiges sal bly.
Joh 14:16 “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:”
Die gelowige kan nie van die Heilige Gees geskei word nie (Ewige sekuriteit van die gelowige. Ewigheid beteken ewigheid. Mense wat beweer dat die Heilige Gees ‘n gelowige a.g.v. sonde sal verlaat, maak van die Here Jesus Christus ‘n leuenaar!) en sal derhalwe onmiddellik met sy afsterwe God sien, omrede die Heilige Gees, Wie self God is, permanent in die gelowige inwoon. Ons lees egter niks van ‘n tonnel waardeur ons moet gaan nie! Ons kan nie van die Heilige Gees geskei word nie, en derhalwe vind ek dit vreemd dat mense wat naby die dood ervarings beleef het, baie selde of nooit noem dat hulle die Heilige Gees gesien het nie. (Ek glo egter dat iemand wel sal beweer dat hy die Heilige Gees, tydens sy naby die dood ervaring gesien het, veral indien hulle daardie feit op die webtuiste lees. Daar sal altyd mense wees wat sulke feite sal misbruik om hulleself te verryk!)

4) Soos reeds vroeër genoem, is daar baie dinge wat ons nie weet of verstaan nie, juis omdat ons nie oor al die feite aan hierdie kant van die graf beskik nie. Dit kan dus wees dat ‘n persoon se eie brein, chemiese aktiwiteite of tekort aan suurstof in sy brein die rede is waarom hy hierdie dinge waarneem. Kan dit dalk die Duiwel wees, wat hierdie gebeurtenisse/beelde, tydens die naby die dood ervaring in ‘n persoon se verstand projekteer of plaas? Veral indien mens in ag neem, dat die persoon homself dalk in ‘n veranderde toestand van bewussyn bevind. Al wat ons wel met alle sekerheid kan stel, is dat wat hierdie mense sien, in die meeste gevalle met die Bybel in botsing is en dit geld ook vir Christene wat beweer dat hulle hemel toe of hel toe was. Ek raai die leser ten sterkste aan om Mark Hitchcock se boek “Visits to Heaven and Back: Are They Real?” te bekom en te lees. In hierdie boek ondersoek hy die gevalle van naby die dood ervarings wat Christene beleef het (of wat hulle beweer hulle beleef het) en demonstreer bo enige twyfel, dat wat hierdie mense na so ‘n gebeurtenis verkondig, direk met die Bybel in botsing is. Baie van hierdie mense beweer dat hulle ‘n onbeskryflike gevoel van vrede ervaar, en dit maak nie saak of hulle die Evangelie geglo het of nie. Net op hierdie een punt behoort alles wat mense tydens die naby die dood ervarings beleef het, as onbetroubaar, verwerp te word, omrede dit van die Here Jesus Christus ‘n leuenaar maak. Die Here Jesus Christus het dit duidelik gestel dat niemand na die Vader kan kom sonder om deur Hom te gaan nie!
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Hnd 4:12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.
1Ko 15:1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 15:2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”

5) Indien mens verder in gedagte hou, dat die Bybel die dood nooit as beëindiging van bestaan omskryf nie, maar eerder as skeiding van die gees en siel van die mens met sy liggaam, wat dood in die graf gelê word. ( Lees asb die artikels “Sewe Verskillende Vorme van dood in die Bybel” , asook “Wat is die Ewige Lewe?“) Dan is dit opmerklik dat naby die dood ervarings nie as die dood omskryf kan word nie, want dan sou mens dit nie as naby die dood ervarings kon omskryf nie, maar eerder as vanuit die dood opgestaan. Waar dit by gevalle van naby die dood ervarings kom, is dit duidelik dat die menslike gees nog nie van die persoon se liggaam geskei is nie, en ook sal niemand anders as God werklik presies weet wanneer die persoon se gees en siel van sy liggaam geskei het nie. Dan eers sou mens die persoon as dood kon omskryf. Die mensdom beskik egter nie oor hierdie inligting aan hierdie kant van die graf nie, omrede ons nie ‘n persoon se gees kan waarneem nie. Dit geld ook vir mense wat vir ‘n kort tydjie “dood” was en wat toe weer deur dokters bygebring is. In hierdie gevalle kan mens ook nie weet of God die persoon se gees van sy liggaam af geskei het nie. Net God sal oor hierdie inligting beskik, want Hy is die een wat lewe aan alles gee.

6) Indien mens egter al hierdie feite ingedagte hou, behoort dit duidelik te wees dat Satan meer as die mensdom weet wat tydens gevalle van naby die dood ervarings plaasvind. (Hy is immers ‘n gees en kan dinge in die geesteswêreld waarneem. Dus weet hy baie meer wat tydens naby die dood ervarings plaasvind.) Boonop is dit baie duidelik dat hy hierdie gebeurtenisse vir sy eie doelstellings misbruik, en daardeur word miljoene mense verlei om te dink dat hulle nie nodig het om die Evangelie te glo nie. Dit geld ook vir mense wat van naby die dood ondervindings lees en dan alles glo wat aan hulle vertel word. Onthou God se waarskuwing:
Hos 4:6a “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis;”
Alhoewel bostaande stelling direk aan die volk Israel gerig is, is die beginsel daarin gevind ook op die Kerk van toepassing.
Mat 22:29 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.”
Dit is maar net ‘n doodeenvoudige feit, dat groot gedeeltes van die belydende Christendom meer van buite Bybelse ervarings, sogenaamde tekens en wonders en profesieë af weet as wat hulle van hulle Bybels self af weet. (Hoe anders kan mens die hoë getalle van verleiding en valse leerstellings in die belydende Christendom verduidelik?) Die probleem moet egter eerstens by die leiers in die gemeentes gelê word, wat veronderstel is om toe te sien dat hulle gemeentes getrou die woord van God (die Bybel) geleer word. Ongelukkig word pastore wat Bybelse leerstellings getrou verkondig al hoe skaarser, juis omrede buite-Bybelse manifestasies en profesieë so gewild is.

7) Baie mense is al deur hierdie naby die dood ervarings en die stories wat daarop volg in die okkulte ingelei. Belydende Christene wat naby die dood ervarings beleef, en wat verkondig dat hulle na die hel toe getuur is om ander gelowiges teen die gevare van die hel te waarsku, en veral die wat verkondig dat hulle baie Christene in die hel teëkom, maak van God en Sy woord ‘n leuenaar! Die Bybel stel dit baie duidelik dat ‘n persoon wat die Evangelie geglo het nooit tot in alle ewigheid verlore sal kan gaan nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” asook “Bekering, Geloof en die Ewige Lewe” te lees.) Indien daar Christene in die hel is dan beteken dit dat die Here gelieg het. Vir ‘n gelowige om hel toe te kan gaan, beteken dat die Heilige Gees daardie persoon moes verlaat, iets wat die Here gesê het nooit die geval met ‘n gelowige, wat tydens die Kerk Dispensasie lewe, kan gebeur nie.
Joh 14:16 “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:”
En boonop moet so ‘n gelowige uit die Here Jesus Christus se hand val, en asof dit nie genoeg is nie, ook uit God die Vader se hande val. Indien so iets ooit kan gebeur, beteken dit dat die Here Jesus Christus gelieg het toe Hy hierdie stellings gemaak het. (Die Here is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie!)
Joh 10:28 “n Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 10:30 Ek en die Vader is een.”
Om te verkondig dat ‘n persoon, wat die Evangelie geglo het, hel toe kan gaan, is om van God ‘n leuenaar te maak, en kom op niks anders as Godslastering neer nie. Boonop kom dit ook daarop neer, dat so ‘n persoon Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir die gelowige (Die Evangelie) verwerp en met ‘n evangelie vervang waar die mens se werke die bepalende faktor is of daardie persoon hemel of hel toe sal gaan. So ‘n stelling kom op niks anders as ‘n ander en dus ‘n werke evangelie neer nie!
Gal 1:3 Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus, 1:4 wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader, 1:5 aan wie die heerlikheid toekom in alle ewigheid! Amen. 1:6 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 1:7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 1:8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 1:9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

8) Indien die Here naby die dood ervarings wou gebruik om die mensdom te waarsku, of inligting aan hulle oor te dra, dan sou ons kon verwag het dat hierdie tipe gebeurtenisse tydens die Apostoliese tydperk sou plaasvind, omrede die Bybel toe nog nie voltooid was nie. Wat egter opmerklik is, is die feit dat ons nêrens iemand vind wat wel dood was en uit die dood uit opgewek is, wat rondgaan en aan ander vertel wat met hom tydens sy dood plaasgevind het nie. Hierdie stelling kan nie as blote toeval afgeskryf word nie, en derhalwe kan mens aanneem, dat dit nie die Here se wil is dat belewenisse wat ‘n persoon tydens sy afsterwe ervaar aan ander oorgedra moet word nie. Die Bybel staaf dan ook bogenoemde waarneming.
2Ko 12:2 “Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. 12:3 En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— 12:4 dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.”
Ek vermoed dat Paulus se naby die dood ervaring (hy kon selfs dood gewees het, mens weet nooit nie) heel waarskynlik in Listre plaasgevind het.
Hnd 14:19 “Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was.”
Wat egter opmerklik is, is die feit dat hy nooit toegelaat was om aan ander te vertel wat hy daar gesien het nie. Hierdie feit is in skrille kontras met wat ons in gevalle van naby die dood ervarings van vandag sien. Dieselfde beginsel geld vir Lasarus (Joh. 11:11) en enige ander gelowige wat uit die dood uit opgewek is. Hulle het niks van dit wat hulle gesien het gaan loop en rondvertel nie.

9) Boodskappe wat tydens naby die dood ervarings bekom word, kan nooit as van God afkomstig aanvaar word nie. Die verhaal wat die Here in Lukas 16:19-31 vertel het weerlê, bo enige twyfel, die feit dat God ooit iemand vanuit die dode sal stuur om ander oor die gevare van die “Hel” te waarsku. Daarvoor het God Sy woord (Die Bybel) aan ons gegee, en indien ons die Skrifte as voldoende beskou en wil gehoorsaam nie, sal ons ook nie na iemand wat uit die dood uit opgestaan het luister nie.
Luk 16:19 “En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. 16:20 En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. 16:21 En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. 16:22 En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. 16:23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. 16:24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. 16:25 Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. 16:26 En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. 16:27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— 16:28 want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. 16:29 Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. 16:30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. 16:31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”
Gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef, het die hele openbaring van God aan die mens in die vorm van die ses en sestig boeke van die Bybel. Ons het meer inligting as die Ou Testamentiese gelowiges en derhalwe het ons geen rede om na buite Bybelse ervarings of boodskappe van mense wat kwansuis in die hel of hemel was te luister nie. Wat God aan ons wou sê het Hy is die Skrifte vir ons laat opteken. Indien ons nie na die Skrifte luister nie, gaan ons ook nie na iemand wat kwansuis uit die dood uit opgestaan het luister nie. Ons moet die Skrifte gehoorsaam en nie op buite Bybelse manifestasies, profesieë en belewenisse staatmaak nie, andersins gaan ons ernstig mislei word. (ongelukkig merk ons alreeds ongekende vlakke van verleiding en valse leerstellings in die belydende Christendom op.)

10) Net omrede ‘n persoon ‘n belewenis gehad het, of omrede hy ‘n wonderwerk of naby die dood ervaring beleef het, dink baie mense outomaties dat so ‘n gebeurtenis of wonderwerk van God afkomstig moet wees en derhalwe geglo moet word. Moenie toelaat dat die teken en wonder; naby die dood ervaring; genesing of profetiese uitlating jou aandag van God se woord aflei nie. Die Here het Sy volk Israel teen hierdie tipe van misleiding gewaarsku en dieselfde beginsel geld vir die Kerk tydens die Kerk Dispensasie!
Deu 13:1 “ As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 13:2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, 13:3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. 13:4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.”
Ons, as gelowiges, se plig is om op God se woord (Die Bybel) te fokus, en nie op die boodskappe, wat mense wat naby die dood ervarings beleef het, verkondig nie. Ons moet al ons ervarings, asook stories wat aan ons vertel word, in lig van die Skrifte beoordeel. Ons moet nooit die Skrifte in lig van ons ervarings en ander mense se profetiese uitlatings en belewenisse beoordeel nie. Om so iets te doen, is om aan God ongetrou te wees! Soms laat die Here wonderwerke d.m.v. sogenaamde moderne valse profete toe; en soms laat Hy naby die dood ervarings toe, om ons daardeur te toets, om te sien, of ons eerder die boodskappe wat uit sulke gebeurtenisse voortvloei gaan glo, eerder as om aan Hom en Sy woord (Die Bybel) getrou te bly. (Volgens my beskeie mening, het groot gedeeltes van die belydende Christendom hierdie toets gedruip! Kyk maar hoe gewild is hierdie sogenaamde “hemel of hel toe en terug” boekies asook buite-Bybelse profesieë!)

Ter Afsluiting: Ons lewe in ‘n tydperk van ongekende verleiding en een van die hoof redes hiervoor is die feit dat groot gedeeltes van die belydende Christendom nie meer God se woord (die Bybel) as voldoende beskou nie, en derhalwe smag hulle na vleeslike manifestasies, tekens en wonders, sogenaamde genesings dienste, salwing in die gees byeenkomste, buite-Bybelse profesieë, asook sogenaamde boodskappe van mense wat kwansuis hemel of hel toe was. Hulle vergeet egter dat God dit in Sy woord baie duidelik gestel het, dat die Bybel voldoende vir al ons geestelike behoeftes is.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Boonop kan groot gedeeltes van die belydende Christendom nie meer as geloof gedrewe godsdiens omskryf word nie, maar behoort eerder as ‘n ervaring en emosionele gedrewe Godsdiens omskryf word, wat geensins God se goedkeuring sal wegdra nie. Ons sal wys wees om weer God se vermaninge in Sy woord ernstig op te neem, naamlik:
2Ko 5:7 Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.
Rom 1:17 “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige (Fase een van ons verlossing , naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel.) sal uit die geloof lewe. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat ‘n lewe van geloof insluit en wat nie op wat ons sien, beleef en omstandighede gebaseer is nie.)
Heb 10:38 “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.
Heb 11:1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” 
Die Here wil hê ons moet Sy woord, (die Bybel) in geloof, deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees eerbiedig en in ons lewens toepas. Ons moet geensins ons Godsdiens rondom ons ervaringe, emosies of buite Bybelse profesieë bou nie, maar slegs om God en Sy woord aan ons. Anders demonstreer ons maar net, dat ons nie werklik glo wat Hy in sy woord aan ons gesê het nie en dat ons, ons godsdiens, op ons terme wil opstel en uitleef. Dit bly egter slegs geloof wat God sal behaag.
Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Onthou God kan nie van Sy woord (die Bybel) geskei word nie!

En onthou: “Ons moet ten alle tye ons ondervindings en belewenisse in lig van God se woord (Die Bybel.) evalueer. Derhalwe moet ons ten strengste daarteen waak om nooit God se woord (Die Bybel) in lig van ons omstandighede, emosies, menslike opinies en buite Bybelse ervarings te evalueer of te verklaar nie!” Boonop is ervaring en emosionele gedrewe godsdiens nie noodwendig geloof gedrewe Godsdiens nie. Die ware Christendom is ‘n geloof gedrewe Godsdiens en nie anders om nie! Met al hierdie feite in hand, kan dit met sekerheid gestel word, dat ons nooit die inligting wat tydens naby die dood ervarings ontvang is, as van God afkomstig mag aanvaar nie. Sulke inligting moet dus as onbetroubaar verwerp word, omrede sulke inligting nie die toets van die Skrifte kan deurstaan nie. Ek hoop en bid my antwoord beantwoord jou vraag.

Seën Groete

Vic

 

 

Deel met ander asb.