God toets geloof

Waarom heg God waarde in geloof wat beproef is?

Vraag: Ek het die artikel “Beproewing van die gelowige se geloof” gelees. Nou wonder ek net soms waarom heg God so baie waarde in geloof wat beproef is?

Antwoord: Die antwoord op die vraag vind ons ver in die duistere verlede, reg in die begin van die skepping, toe die Here die aarde, en alles wat daarin is, binne die raamwerk van ses 24uur dae geskape het. Om die vraag korrek te beantwoord is dit egter belangrik dat ons nie slegs op die skeppingsweek alleenlik fokus nie, maar moet ook die verloop van die mensdom se geskiedenis op aarde onder die vergrootglas plaas. Derhalwe is dit van uiterste belang om ‘n korrekte filosofie van die aarde se geskiedenis te handhaaf. Die korrekte grondslag vir die wêreld se geskiedenis vind ons in die Bybel. Hiervoor is ‘n Bybel-gebaseerde filosofie van die wêreld se geskiedenis van uiterste belang, anders gaan dit tot valse leerstellings soos byvoorbeeld die evolusieleer aanleiding gee. Vir diegene wat in wetenskap en die vraagstuk rondom die evolusieleer belangstel, raai ek die webtuiste “Creation Ministries International” ten sterkste aan. Baie van hulle beeldmateriaal is ook op YouTube beskikbaar.

Voordat God die mens op dag ses van die skeppingsweek geskape het, was Satan alreeds geskape en ons weet vanuit die Bybel dat hy toegang tot die tuin van Eden gehad het. Die Skrifte stel dit ook duidelik dat Satan vol wysheid en volmaak in voorkoms geskape is. Die Skrifte gee aan ons ‘n mooi beskrywing van hoe perfek God die Satan geskape het. God het ook Satan tot in ‘n baie hoë posisie in die hemelse gedeelte van Sy Universele Koninkryk aangestel en was Satan die gerub wat beskut en het selfs op die berg van God gewandel. Dit kan met regte gestel word dat Satan tweede in bevel, naas God, in die hemelse gedeelte die Universele Koninkryk van God gedien het. Eseg.28:12-15 gee aan ons ‘n mooi beskrywing van Satan voordat daar ongeregtigheid in hom gevind is.
Eseg.28:12 “Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. 13 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. 14 Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. 15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.”
Alhoewel die Here die koning van Tirus aanspreek, spreek Hy ook Satan die invloed/krag agter die goddelose koning van Tirus aan. Dus kan met regte gesê word dat Satan, voor sy val, die hoogste posisie van enige geskape wese in God se Universele Koninkryk beklee het.

Maar wat is die ongeregtigheid wat in Satan gevind is? Die antwoord op hierdie vraag vind ons in Jes.14:12-14 naamlik:
Jes.14:12 “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! 13 En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. 14 Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!”
Met Satan se rebellie teen God was dit die eerste keer dat ‘n geskape wese homself teen God sy Skepper oprig en geweier het om in volkome afhanklikheid op God te vertrou. Satan wou dus onafhanklik van God leef en sodoende sy eie god wees.

Op dieselfde wyse, nadat God die mans op dag ses van die skeppingsweek geskape het, en hom oor die aardse gedeelte van Sy Universele Koninkryk aangestel het, het die mens eerder na Satan se leuens geluister, en homself ook aan rebellie teen sy Skepper skuldig gemaak, deurdat hy ook geweier het om God volkome gehoorsaam te wees en op Hom alleen vir al sy behoeftes te vertrou. Na die sondeval het die mensdom ‘n sonde natuur bekom, en vandaar af is dit die mens se neiging om onafhanklik van God op te wil tree en self sy probleme op te los. (die mens, net soos Satan, wil dus sy eie god wees) Volgens my beskeie mening is dit ook een van die redes waarom ons soms sukkel om volkome op God te vertrou, en eerder op onsself, ander geskape wesens, voorwerpe en middele in die skepping wil vertrou. Omrede ons ‘n sonde natuur na die sondeval bekom het, is dit ons vleeslike neiging om op onsself te wil vertrou/staatmaak en onafhanklik van God te leef. (al erken ons dit nie altyd nie.) A.g.v. die feit dat Satan die liggaam van n slang gebruik het om die mens te verlei, is dit nogal opmerklik hoe ‘n prominente rol die slang in baie van hierdie valse godsdienste beklee. In stede daarvan dat die mens oor die aardse gedeelte van die skepping heers, het hulle eerder toegelaat dat die slang, oor wie hulle moes heers, hulle insig gee en sodoende het hulle teen God in rebellie gekom. Eerder as om gode te word, soos wat Satan hulle belowe het, het hulle slawe van die skepping self geword (en daarom tree die mensdom soms erger as diere op) en het hulle die skepping tot ‘n posisie van ‘n god verhef. (die nuwe Era Beweging, Hindoeïsme ens, maak hulle aan hierdie dwaling skuldig.) Baie mense kla oor die lyding, asook wreedhede, wat ons in die wêreld aantref, en van hulle gaan self so ver en blameer God vir al hulle smarte. Wat hulle egter vergeet, is dat die sondeval die rede is waarom die wêreld lyk soos wat dit lyk, en dit alles a.g.v. rebellie teen God. (wat hulle weiering om op Hom alleenlik te vertrou en Hom alleenlik te gehoorsaam insluit!) Daar kan net een God wees!

Derhalwe is die menslike geskiedenis grootliks deur die mens se selfgenoegsaamheid, onafhanklikheid en rebellie teen God gekenmerk. Hierdie tendens sal stelselmatig toeneem totdat dit op die verskyning van die man van sonde, naamlik die Antichris, sal uitloop. ‘n Goddelose man wat homself teen God sal ophef en in die tempel in Jerusalem sal gaan sit en homself tot God verklaar.
2Thess. 3 “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”
Daarom is dit van uiterste belang dat gelowiges voortgesette heiligmaking in hulle lewens toelaat, sodat hulle toenemend vir God se gebruik geheilig kan word. Dit sal beteken dat hulle teen die stroom van wêreldgesindheid en valse godsdienste (wat ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom insluit) moet op swem, en wat die gelowige toenemend in botsing met Satan en sy volgeling sal bring.

Daar is egter hoop vir die mensdom! Anders as Satan, asook die rebelse Adam, het daar ‘n tweede man op die aardse gedeelte die Universele Koninkryk van God verskyn, naamlik die God-Mens. (die Here Jesus Christus.) Alhoewel Hy gelyk aan God, en God self is, het Hy Homself egter verneder en as mens op die aarde verskyn om God se wil volkome te gehoorsaam, en tot so ‘n mate dat Hy selfs vir ons sondes aan die kruis gesterwe het.
Hebr.10:5 “Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. 6 Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. 7 Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom — in die boekrol is dit van My geskrywe — om u wil te doen, o God.”
Die rede vir die Here Jesus se eerste Koms was duidelik. Hy het gekom om die bose werke van Satan te verbreek. (wat God die Vader se wil vir die Seun was!)
1Joh.3:8ff “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.”

Indien mens Satan se val/rebellie mooi gaan ondersoek, sal mens opmerk dat die hele grondslag van sy val in die term “ek wil” te vinde is. Vanuit hierdie term “ek wil” het sy bose planne voortgevloei en is een van hierdie bose doelstellings om die mens se geloof/vertroue, asook volkome afhanklikheid van God, te vernietig. Derhalwe het die Seun van God aarde toe gekom om sodoende Satan se bose werke ongedaan te maak en is dit God se doelwit om die gelowige se vertroue/geloof in Hom volkome te herstel. Dit is God se doel om in al Sy kinders geloof-afhanklikheid in Hom te skep; dit verder te ontwikkel; dit te versterk, asook om dit deur loutering te suiwer. Die rede hiervoor is eenvoudig. Volkome vertroue, vrywillige afhanklikheid en gehoorsaamheid is ‘n vereiste vir diegene wat regdeur die ewigheid die naaste posisie aan God gaan beklee en wat ook Sy glorie gaan reflekteer. Gelowiges gaan posisioneel hulleself selfs nader aan God bevind as die posisie wat Satan voor sy val beklee het. Dink mooi oor hierdie stelling na!
Joh.17:20 “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo — 21 dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22 En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. 23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. 24 Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.”
Dit word nêrens in die Skrifte gestel dat Satan in die Seun was nie, en dat die Seun in God is nie. Dit word egter aan gelowiges wat tydens die Kerk-Dispensasie leef as belofte voorgehou.
Openb.3:21 “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”
Dink weereens mooi oor hierdie stelling na! Die leser word aangeraai om ook die artikel “Beproewing van die gelowige se geloof” asook ‘asook die reeks artikels “Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref.” sorgvuldig te lees.

Ter Afsluiting: God is besig om die huidige wêreld se geskiedenis tot ‘n besliste punt te bring, waardeur Hy aan al Sy skepsele sal demonstreer dat slegs Hy as die enigste soewereine God die reg, en vermoeë, beskik om die wêreld asook die hele skepping suksesvol te regeer. Na afloop van hierdie huidige wêreld se geskiedenis, sal God, Sy heerlikheid volkome tentoongestel het, en daarbenewens aan Sy skepsels die sinneloosheid, suiwer boosheid, asook rampspoedige gevolge wat enige vorm van onafhanklike optrede t.o.v. God, asook rebellie, teen Hom op ‘n praktiese wyse gedemonstreer het. Boonop sal God ook Sy geregtigheid, genade en liefde d.m.v. Christus se voltooide werk aan die kruis aan die mensdom gedemonstreer het en sal Hy wel ‘n einde aan enige vorm van rebellie en sonde maak. Die Bybelse filosofie van die skepping se geskiedenis (soos wat ons huidiglik die wêreld ken) het dus ‘n definitiewe beginpunt en ‘n definitiewe eindpunt. As ons Skepper, asook alle gelowiges se Hemelse Vader, verwag die Here van ons om volkome op Hom, en Hom alleen, te vertrou. Hierdie is dan een van die belangrikste redes waarom God die gelowige se geloof beproef. (alhoewel die beproewing van ons geloof nie altyd ‘n baie aangename ondervinding is nie en kan soms as loutering beskryf word.) Onthou egter dat die Here ten alle tye volkome in beheer is. In Christus berei die Here vir Homself ‘n nuwe skepping voor wat vrywilliglik volkome op Hom sal vertrou en wat Hom onderdanig en gehoorsaam sal wees. Die Here doen en laat alles met ‘n doel toe. Ons handhaaf oor die algemeen ‘n aardse en tydelike sienswyse, maar God weet alles en het die hele prentjie in gedagte wanneer Hy Sy beslissings maak. Die doel van God se genade is om deur lyding die kind van God te dissiplineer, sodat die gelowige ‘n stadium bereik waar hy in volkome onderdanigheid en geloof-afhanklikheid in sy Hemelse Vader vir al sy behoeftes sal vertrou. Onthou ons word vir ‘n posisie in Christus voorberei wat selfs Satan voor sy val nooit beklee het nie. Ek hoop hierdie verduideliking werp so bietjie lig op die komplekse onderwerp. En onthou:
1Kor. 2:9 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.
Openb.3:21 “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.