Die Heilige Gees

Voor verlossing, verlossings en post verlossing bediening van die Heilige Gees

Sover dit die bediening van die Heilige Gees aanbetref, is dit belangrik om behoorlik onderskeid tussen die Heilige Gees se handelswyse voor wedergeboorte; tydens wedergeboorte (fase een van ons verlossing) en Sy handelswyse na wedergeboorte (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) te tref. Met hierdie studie sal daar gepoog word om hierdie verskillende werksaamhede van die Heilige Gees tydens die voor-verlossings; verlossing/wedergeboorte en post-verlossings tydperke van mekaar te onderskei en uit te lig.

1) Die Heilige Gees se voor-verlossings handelswyse:
Die Heilige Gees se voor-verlossings werksaamhede kan in twee dele ingedeel word, naamlik:
a) Eerstens weerhou en verhoed die Heilige Gees die verskyning en openbaarmaking van die Antichris, sodat hy nie voor sy tyd tot wêreldleier sal uitstyg nie.
2Ts 2:3 “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval (wegraping) kom en die mens van sonde geopenbaar word, (die Antichris) die seun van die verderf 2:4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 2:5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 2:6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;”
Tydens die Kerk Dispensasie, beperk die Heilige Gees onbeheerste boosheid d.m.v die ware Kerk, soos wat Hy, in en deur die ware Kerk, onbeheerste goddeloosheid weerstaan en inperk. Sodoende word onbeheerste goddeloosheid deur die Heilige Gees teëgehou en kan dit nie sonder perke, en buite God se soewereine skedule toeneem, soos wat dit wel tydens die Verdrukking, onder leiding van die Antichris, toegelaat sal word nie.

Na afloop van die Wegraping, sal die Here toelaat dat die Antichris sy verskyning op die wêreldtoneel maak, en daardeur sal God aan die goddelose mensdom gee wat hulle harte nog altyd begeer het, naamlik om vry van God se inperking van goddeloosheid te wees, en om die eie god van hulle lotgeval te wees en vrye teuels aan hulle goddelose luste te gee. Boonop sal die Here aan hulle ‘n leier gee, wat hulle verdien en begeer en wie die oorgroot meerderheid vrywilliglik sal aanbid!
2Ts 2:8 “ en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, (die Antichris) hy (die Antichris) wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 2:9 hy (die Antichris) wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”

Alhoewel daar wel mense gedurende die Verdrukking tot geloof in die Here sal kom, glo ek dat dit slegs mense sal insluit wat nie tydens die Kerk Dispensasie ‘n geleentheid ontvang het om die Evangelie te glo nie. Alle mense wat ‘n geleentheid ontvang het om die Evangelie te glo, en dit nie gedoen het nie, of ‘n ander evangelie, wat nie die ware evangelie is nie, geglo het, sal ‘n gees van dwaling ontvang en sal die Antichris navolg en dus verlore gaan.
2Ts 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
Om hierdie rede is dit belangrik om die ware Evangelie te ken en te glo!

b) Tweedens oortuig die Heilige Gees die wêreld van sonde, van geregtigheid en oordeel:
Joh 16:7 “ Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; 16:8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: 16:9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; 16:10 en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; 16:11 en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”
Dit is nie die Vader se wil dat enige persoon verlore gaan nie.
2Pe 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

2) Die Heilige Gees se werksaamhede met wedergeboorte:

a) Die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie hoor, verstaan en glo, wederbaar die Heilige Gees daardie persoon en is daardie persoon ‘n weergebore kind van God.
Joh 3:3 “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 3:4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 3:5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water (natuurlike geboorte) en Gees (Uit die Gees weergebore) nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; (Dus ‘n nasaat van Adam en dus ‘n menslike wese. Nie ‘n engel of enige ander wese nie!) en wat uit die Gees gebore is, is gees. (Uit die Gees gebore, dus uit God weergebore) 3:7 Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.
Tit 3:5 nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees 3:6 wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; 3:7 sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.”

b) Met die oomblik van wedergeboorte bewoon die Heilige Gees permanent die gelowige.
Joh 7:37 “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!
(beeldspraak vir glo) 7:38 Hy wat in My glo, (dus kom en drink) soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. 7:39 En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. 
Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.
Joh 14:16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:
(nie tydelik of tot die eerste keer wat jy sondig of in jou geloof struikel nie, maar tot in alle ewigheid.) 14:17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

c) Met Wedergeboorte word die gelowige eenmalig met die Heilige Gees gedoop.
Hnd 1:5 “Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.
1Ko 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (Reeds afgehandelde gebeurtenis wat tydens wedergeboorte eenmalig plaasgevind het.)
Die gelowige ontvang eenmalig, met wedergeboorte, die Heilige Gees en daarna word ons nie weer met die Heilige Gees gedoop nie. Gedurende die Post-Apostoliese gedeelte van die Kerk Dispensasie ontvang ‘n persoon die Heilige Gees, die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo, en ontvang ons nie meer die Heilige Gees deur handoplegging van die ware apostels nie, omrede daar nie meer apostels is nie. (Lees asb die artikel “Ware Apostels vs Valse Apostels.”)
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Daar is ongelukkig baie mense wat rondgaan en beweer dat hulle die Heilige Gees deur handoplegging aan ander mense kan oordra. (Holy Spirit impartation.) Boeke, soos die Boek van Handelinge, wat vertellend van aard is, (wat dus vir ons die historiese feite van gebeure weergee soos wat dit plaasgevind het, en hoe die Here op ‘n gegewe tydstip verkies het om op te tree.) moet altyd in lig van voorskrywende dele van die Bybel, soos veral die briewe bestudeer word, alvorens enige gebeurtenis as reël vir die hele Kerk Dispensasie vasgelê kan word. Net omdat die Here in sekere gevalle verkies het om die Heilige Gees, deur handoplegging van Sy Apostels op mense uit te stort, beteken dit geensins dat hierdie verskynsel of gebeurtenis noodwendig as reël vir die hele Kerk Dispensasie moet geld en op die Kerk as reël van toepassing gemaak kan word nie. Bostaande teksgedeelte weerlê baie duidelik so ‘n mistasting. ‘n Persoon ontvang die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo en op geen ander wyse nie. Die Skrifte stel hierdie feit baie duidelik, maar daar is ongelukkig nog steeds baie mense wat hierdie mistasting aanhang en selfs in sommige gevalle vir hulle eie gewin aanwend. Om hierdie rede is dit belangrik om self die Bybel te bestudeer, en alles wat aan ons verkondig word self, en binne konteks, met die Skrifte te vergelyk. (Lees ook asb die artikel “ Bekering, Geloof en die Ewige Lewe.)

d) By wedergeboorte, word die gelowige deur die Heilige Gees verseël.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
By wedergeboorte, word die gelowige nie net deur die Heilige Gees verseël nie, maar onderneem God om die gelowige te verlos, en neem Hy dus die verantwoordelikheid op Homself (God Self) om toe te sien dat fase drie van die gelowige se verlossing, naamlik verheerliking, wel suksesvol afgehandel sal word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.) Dus kan die gelowige bo enige twyfel verseker weet, dat hy nooit verlore sal kan gaan, en uit God se hand kan val of self kan uitklim nie, want sy verlossing (fase drie) is nie van homself afhanklik nie, maar word slegs op grond van Christus se voltooide werk aan die kruis vir die gelowige bewerkstellig. Op grond van hierdie waarheid, word die gelowige deur die Heilige Gees self verseël en dien die Heilige Gees as waarborg dat die gelowige nooit homself kan verloor of self verlore gaan nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” te lees.)

e) Dit is die Heilige Gees wat die gawes aan die kerk uitdeel soos wat Hy wil.
1Ko 12:4 “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; 12:5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; 12:6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. 12:7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. 12:8 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 12:9 aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; 12:10 aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. 12:11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
1Ko 12:28 “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. 12:29 Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? 12:30 Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?”
Hierdie Geestelike gawes sluit die permanente gawes, sowel as die tydelike gawes, wat na afloop van die Apostoliese Tydperk tot ‘n einde gekom het, in. (Die leser word aangeraai om die artikels “Spreek in vreemde tale”; “Is die Gawe van profesie nog in werking vandag” asook “Het die Kerk dieselfde Mag en Outoriteit as wat die Apostels gehad het om te Genees?”vir meer besonderhede rondom hierdie aangeleenthede te lees.)

3) Die Heilige Gees se werksaamhede na afloop van die gelowige se wedergeboorte:

a) As gelowiges word ons beveel om met die Gees vervul te word.
Efs 5:18 “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Hierdie opdrag het absoluut niks met die valse leerstelling, wat beweer dat die gelowige na afloop van sy wedergeboorte en doop met die Heilige Gees, weer as die sogenaamde tweede genadegawe deur die Heilige Gees gedoop moet word, te make nie. Met wedergeboorte word die gelowige slegs eenmaal met die Heilige Gees gedoop en van daardie oomblik af woon die Heilige Gees vir altyd in daardie persoon. Om met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons toelaat dat die Heilige Gees, Sy lewe in en deur ons lewe, soos wat ons Sy woord (die Bybel) bestudeer, en God se opdragte wat daarin opgeteken staan, in geloof in ons lewens toepas en dat ons Hom nie weerstaan of bedroef nie. Tot die mate waarop ons onsself en die eie ek verloën, en toelaat dat die Heilige Gees ons deur Sy woord beheer, tot daardie mate word ons met die Gees vervul. Om met die Gees vervul te wees beteken dat ek myself van die eie ek ontledig, en Christus die spil maak waarom my lewe draai, en toelaat dat Hy deur die Heilige Gees my optredes, deur Sy woord, bepaal en beheer. Om met die Gees vervul te word, is nie om van byeenkoms na byeenkoms te gaan, om die Gees te vra om op ons te val nie. Ook is dit nie om na sogenaamde moderne apostels of profete, te gaan om sodoende deur hulle handoplegging die Heilige Gees (anointing) weer en weer te ontvang nie. Die Heilige Gees is alreeds in ons en is alreeds deur die Here Jesus Christus op ons uitgestort!
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. (‘n Afgehandelde feit)
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is (verlede tydvorm, dus reeds afgehandel) met die Heilige Gees van die belofte, 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”

b) Die Heilige Gees onderrig en verlig die Skrifte vir ons.
1Ko 2:12 “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk”.
Daarom is dit uiters belangrik om God se woord self te bestudeer en ken. God kan nie van Sy woord geskei word nie. ‘n Persoon kan nie beweer dat hy die Here goed ken, indien daardie persoon nie God se woord goed ken nie. God praat met ons deur Sy woord, die Bybel en nie deur sogenaamde moderne profete en buite Bybelse openbarings nie. (Lees asb die artikel “Is die Gawe van Profesie nog in Werking vandag?”)
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

c) Die Heilige Gees stel ons in staat om die Christelike lewe uit te leef, en om in Sy krag, deur geloof, heiligmaking in ons lewens toe te pas.
Rom 15:13 “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!
Gal 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. 5:18 Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie. 5:19 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 5:20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 5:21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 5:23 Teen sulke dinge is die wet nie. 5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. 5:26 Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.”
Om deur die Gees gelei/gevul te word beteken nie om in die Gees te val, rond te rol, brabbel tale spreek ens nie. Dit beteken dat ons, deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, selfbeheersing toepas en Gees vervulde; Christus gesentreerde, asook Bybel gesentreerde lewens te lewe. Onthou God kan nie van Sy woord geskei word nie!

d) Die Heilige Gees oortuig die gelowige van sonde.
Die Heilige Gees sal die gelowige van sondes, wat hy na wedergeboorte begaan, oortuig en God mag self daardie persoon vir sonde in sy lewe met fisiese dood tugtig, maar God sal nooit die gelowige veroordeel en in die poel van vuur werp nie, omrede Christus vir al die gelowige se sondes (verlede, huidige en toekomstige sondes) aan die kruis betaal het, en daar is dus geen sonde wat die gelowige tot die poel van vuur kan verdoem nie.
Heb 12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.
Opn 3:19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.
1Ko 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
Die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die Kruis het vir ewig die mensdom se sonde probleem opgelos en uit die weg geruim. Dit is nou nie meer soseer wat ‘n persoon ten opsigte van sy eie sondeskuld voor God kan doen nie, maar wat daardie persoon met God se oplossing vir die mens se sonde (die Evangelie) maak. Gaan daardie persoon God se oplossing op God se terme aanvaar en glo, of gaan hy op sy eie goeie werke staatmaak om hom te red en gered te hou?

e) Die Heilige Gees verander ons, om toenemend soos Christus te word.
Soos wat die gelowige die Bybel bestudeer, en deur geloof toelaat dat die Heilige Gees hom deur Sy woord verander, sal die gelowige toenemend in sy heiligmaking vorder en al hoe meer soos die Here Jesus Christus in lewenswandel en optrede word.
2Ko 3:18 “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (Heiligmaking)

f) Die Heilige Gees as ons trooster.
Die Here het ons nooit belowe dat ons sonder smarte of moeilikhede in hierdie wêreld sou lewe nie. Inteendeel het Hy ons gewaarborg dat ons verdrukking in hierdie bose wêreld sal beleef, en daarvan kan ons verseker wees!
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Maar die Here het ons ook belowe dat Hy die Trooster, naamlik die Heilige Gees, sou stuur Wie tot in alle ewigheid by ons sal bly.
Joh 14:16 “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 14:17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Boonop kan ons verseker weet, dat die Heilige Gees ons in alles sal bystaan en vertroos, en daarom moet ons nie op onsself staatmaak nie, maar al ons smarte en probleme op Christus werp en op God se krag staatmaak en nie op ons eie nie. Buiten dit alles kan ons verseker weet dat die Heilige Gees ons sal versterk en vertroos.
Hnd 9:31 “En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.”
Lees asb die artikel “Jesus se oplossing vir ons Vrees en bekommernis

g) Dit is die Heilige Gees wat die vrugte van die Gees in ons voortbring.
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Soos wat die gelowige, in geloof en afhanklikheid, in Christus die ware wynstok bly, sal die Heilige Gees vrugte in daardie persoon se lewe te voorskyn laat kom. Dit is die Heilige Gees wat die vrugte te voorskyn laat kom en nie die mens self nie. Alle werke wat nie, in en deur die Heilige Gees in die gelowige bewerkstellig word nie, is werke van die vlees en nie vrugte van die Gees nie. Dit sluit goeie werke in die vlees verrig ook in!

Ter Afsluiting: Omrede ons die Heilige Gees benodig voordat ons die Skrifte werklik kan verstaan, en omrede ‘n ongelowige persoon nie werklik die Skrifte kan verstaan nie, is dit belangrik om eerstens die Evangelie aan so ‘n persoon oor te dra. Dit gaan ons niks baat, om ‘n persoon te leer hoe om as dissipel van die Here te lewe, sonder dat daardie persoon die Evangelie gehoor verstaan en geglo het nie. So ‘n persoon sal net nog ‘n Judas of Fariseër wees, wat van buite af dalk vroom mag voorkom, maar wat egter heeltemal ongered is, en wat selfs later die ware Evangelie mag teëstaan, en as vyand van God onder die dekmantel van Godsdiens, God se werk op aarde weerstaan, deur byvoorbeeld ‘n werke evangelie of iets soortgelyks voor te staan en dit selfs te verkondig. (Onthou Judas was ‘n dissipel van die Here, maar was heeltemal ongered!)
1Ko 2:14 “Maar die natuurlike mens (ongeredde persoon) neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Die Heilige Gees sal ‘n ongelowige persoon van sy sonde en skuld voor ‘n heilige God oortuig, sodat die persoon kan kies of hy die Evangelie wil glo of nie. Slegs na aanvanklike wedergeboorte, sal die Heilige Gees daardie persoon in heiligmaking/dissipelskap lei, wanner die Heilige Gees self permanent in die persoon inwoon en hom verseël het. Daar is baie predikers en evangeliste wat die Evangelie met dissipelskap verwar, en wat die vereistes vir dissipelskap (wat werke vereis) met slegs geloof (wat geen werke vereis nie) by die Evangelie as vereiste vir wedergeboorte (fase een) voeg, wat tot gevolg het, dat die Evangelie van God se genade in ‘n werke Evangelie verander word. So ‘n werke evangelie sal nie tot redding van die hoorders strek nie! Daar is ongelukkig baie mense wat ‘n werke evangelie aanhang, en wat verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hulle wedergebore is, omrede hulle kwansuis die wet of die Sabbat nakom. Hierdie mense kan ongelukkig dalk te laat uitvind dat hulle nie die ware Evangelie van God se genade geglo het nie, maar eerder die slagoffers van ‘n valse werke evangelie is. Dan is daar weer ander mense wat verkeerdelik onder die indruk is dat hulle wedergebore kinders van God is, omrede ‘n profeet of evangelis hulle die hande opgelê het en aan hulle die salwing oorgedra (Holy Spirit impartation) het, maar wat egter nooit die ware Evangelie geglo het nie. Om hierdie rede is dit belangrik om die Evangelie te ken en te glo! Dus is dit uiters belangrik om kennis van die Heilige Gees se werksaamhede voor wedergeboorte; tydens wedergeboorte (fase een van ons verlossing) en Sy handelswyses na wedergeboorte (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) te dra. Dit is my bede dat hierdie artikel die leser in hierdie verband sal help.

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.