Drie Fases van Verlossing

Drie Fases van Verlossing

Voordat ons met hierdie Bybel studie begin, moet ons net besef dat die dood nooit in die Bybel as die totale uitwissing van die mens beskryf word nie. Met fisiese, sowel as geestelike dood, vind daar ‘n skeiding plaas. As ‘n persoon fisies tot sterwe kom, word sy vleeslike liggaam van sy gees en siel geskei, maar die persoon is nog steeds bewus van alles wat om hom aangaan. Dus, word die liggaam van die persoon in die graf gelê, maar sy siel en gees leef bewustelik in die Hel of in die Hemel voort. ( Luk 16:19 – 31 Lasarus en die ryk man )
2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”
Net so ook, wanneer ‘n persoon geestelik dood is, is sy gees van God geskei a.g.v. sy sonde. Solank as wat hy nog in sy fisiese liggaam, hier op aarde lewe, is hy nog steeds van sy aardse bestaan bewus, asook die omstandighede waarin hy homself mag bevind. Indien so ‘n persoon egter in sy ongeredde toestand tot sterwe sou kom, dan word sy gees en siel permanent van God en Sy teenwoordigheid geskei, en is hy volkome bewus van die omstandighede waarin hy homself bevind.
Lukas 16:24 “En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.”
In bostaande teksgedeelte sal opgemerk word, dat die Here Jesus dit baie duidelik stel, dat wanneer ‘n persoon fisies tot sterwe kom, daardie persoon nog steeds bewustelik voortbestaan en kan hy ook boonop lyding en smarte ervaar.

Kom ons gaan nou na ons studie. Die eerste fase van verlossing, naamlik wedergeboorte, vind plaas die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo. Die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, kom woon die Heilige Gees in daardie persoon in en word die persoon ook boonop deur die Heilige Gees verseël.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Die verseëling van die gelowige, deur die Heilige Gees, dien as waarborg dat die wedergebore persoon nou as die eiendom van God verseël is en dit verseker dat die gelowige nooit verlore sal kan gaan nie.
2Ko 1:22 “wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.”
Die Heilige Gees, wie die derde Persoon in die Drie-Eenheid is, en wie God self is, is die seël wat die gelowige se verlossing waarborg. Die persoon wat die verseëling van die Heilige Gees wil breek, moet dus sterker as die Heilige Gees wees en daar bestaan nie so iemand nie. Die gelowige kan dus verseker weet dat God hom sal verlos en is daar geen sprake dat die gelowige ooit verlore sal kan gaan nie.
Efs 4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”

Ook is al ons sondes op daardie moment volkome deur Jesus Christus betaal en staan ons voor God asof ons nog nooit gesondig het nie. (Posisionele geregtigheid) Onthou, Jesus Christus het al die gelowige se sondes op Homself geneem en met Sy bloed daarvoor aan die kruis betaal. Dit sluit die verlede, hede en toekomstige sondes in. Daar is nie een sonde wat nie deur Jesus Christus aan die kruis betaal is nie. Hierdie gebeurtenis staan ook as die voltooide werk van Christus aan die kruis bekend en is iets wat alreeds afgehandel is.
Kol 1:20 “ en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.”
2:13 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, 2:15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.”
Die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, is fase een van die persoon se verlossing, naamlik wedergeboorte, afgehandel.

In fase een van ‘n persoon se verlossing, dra die gelowige niks by tot sy redding nie, behalwe geloof in Jesus Christus en wat Hy aan die kruis gedoen het. Geen werke word in hierdie fase van die persoon se redding vereis nie. Ook kan geen werke by die Evangelie gevoeg word om gered te word nie. Sou daar werke of enige ander vereiste, behalwe geloof alleenlik by die Evangelie gevoeg word, word die ware Evangelie verander in ‘n werke evangelie wat nie die hoorder daarvan sal kan red nie. Die persoon wat so ‘n werke evangelie verkondig kom dan onder die vloek wat Paulus in Gal 1:8–9 uitspreek het.
Gal 1:8 “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 1:9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
Die Evangelie gaan oor wat God, in Jesus Christus, vir die mens gedoen het en die mens kan niks tot God se genade werk bydra of verbeter nie. Dit gaan oor hoe lief God die mens gehad het en nie oor hoe wonderlik die mens is nie. Daar was niks in ons wat God na ons toe getrek het nie. Dit was Sy liefde, en niks anders nie, wat Jesus in ons plek kruis toe gestuur het. God het ons sondes op Jesus Christus geplaas, en Hom in ons plek gestraf, sodat Hy regverdig kon wees indien Hy ons, op grond van Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, vryspreek.
Rom 3:21 “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 3:22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 3:25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 3:26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 3:27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”

Wanneer daar in die Bybel na fase een van ‘n persoon se verlossing verwys word, is dit opmerklik, dat die tydvorm hoofsaaklik in die verlede tydvorm gestel word. Fase een, naamlik wedergeboorte, is ‘n eenmalige gebeurtenis op ‘n punt in tyd, wanneer ‘n persoon die Evangelie glo en wedergebore word. Waar gelowiges in die Bybel aangespreek word, en fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte die onderwerp blyk te wees, sal die Bybel hoofsaaklik na hierdie gebeurtenis verwys as iets wat alreeds plaasgevind het. Kom ons gaan kyk na ‘n voorbeeld.
Tit 3:5 “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered (Verlede taal, fase een nl. wedergeboorte) deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees 3:6 wat Hy ryklik uitgestort (verlede taal – fase een) het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser;
3:7 sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.”
Uit bostaande teksgedeeltes kan baie duidelik waargeneem word, dat die tydvorm in die verlede tyd geskryf is, omrede wedergeboorte ‘n eenmalige gebeurtenis is. Waar Paulus dus met weergebore Christene praat, verwys hy altyd na hulle redding as iets wat in die verlede plaasgevind het, soos uit bostaande teksgedeelte gesien kan word. Wanneer daar na fase een van ‘n persoon se verlossing verwys word, sal die tydvorm altyd in die verledetydsvorm gestel word.

Die tweede fase van verlossing, naamlik die heiligmaking fase, vind plaas wanneer die alreeds wedergebore persoon van die krag en houvas van die sonde in sy lewe verlos en bevry word. Hierdie fase vind in die hede plaas. Die Heilige Gees lei die gelowige om met alle bewuste sondes in sy lewe te breek, en Hy verskaf ook die krag om hierdie doel te bereik. Boonop staan die Heilige Gees die gelowige ook in die hele proses van heiligmaking by, alhoewel daar van die gelowige verwag word om sy samewerking te gee. Fase twee van verlossing staan as die heiligmaking fase bekend, en word daar van die gelowige verwag, om in die proses van heiligmaking sy samewerking te gee wat goeie werke insluit. Ook word die gelowige gemaan om homself met die Here Jesus Christus te beklee, en behoort sy optrede toenemend gelykvormig te word aan die van die Here Jesus Christus.
Efs 4:22 “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, 4:23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed (fase twee – heiligmaking) 4:24 en julle met die nuwe mens moet beklee (Teenswoordige tydvorm, fase twee nl. heiligmaking) wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
Soos baie duidelik uit bostaande teksgedeelte waargeneem kan word, moet die gelowige in die teenswoordige tyd met heiligmaking besig wees. Nog ‘n verdere voorbeeld:
Kol 3:9 “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het 3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het (Verlede tydvorm. Fase een van verlossing – Wedergeboorte) wat vernuwe word (teenwoordige tydvorm , fase twee heiligmaking) tot kennis na die beeld van sy Skepper,”
Nog ‘n voorbeeld:
1Ko 1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word (Teenswoordige tydvorm. Fase twee van verlossing – heiligmaking) is dit die krag van God;”
Die aanhaling “Gered word” het nie betrekking op fase een van verlossing nie, maar wel op fase twee, naamlik heiligmaking. ‘n Persoon word wedergebore deur die glo van die Evangelie (verlede tyd), maar die gelowige word gered van die houvas en krag van die sonde in fase twee, naamlik die heiligmaking fase. (Teenswoordige tydvorm)
En laastens:
Jak 1:21 “Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, (Fase twee – heiligmaking. Let op die tydvorm, wat in die hede gestel is. Dus iets wat die gelowige nou moet doen.) en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.” ( fase twee – heiligmaking. Ons moet vra: “Gered van wat?” Die antwoord: “Ons siele word gered van die houvas wat sonde daarop het en die poel van vuur is nie hier ter sprake nie.)

Die derde en laaste fase van verlossing vind plaas, wanneer die eerste opstanding, wat met die wegraping begin, plaasvind en waaraan slegs wedergebore mense deel van sal uitmaak. (Lees gerus die reeks artikels “die Wegraping“) (1Ko 15:51- 53; 1Ts 4:13-18) In hierdie fase, wat die verheerliking fase genoem word , word die gelowige geskei van die teenwoordigheid van sonde en die fisiese dood. (wat siektes insluit) Daar sal ook opgemerk word, dat die tydvorm hoofsaaklik in die toekomstige tyd gestel word. Kom ons gaan kyk na ‘n voorbeeld:
Heb 9:28 “so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.” (toekomstige tydvorm, fase drie nl. verheerliking fase )
Soos duidelik uit bostaande teksgedeelte waargeneem kan word, is Jesus se koms vir ons, vanuit die Hemel, iets wat nog in die toekoms moet plaasvind.
Fil 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” (fase drie – verheerliking)
Slegs na afloop van die verheerliking, (fase drie, wat nog in die toekoms moet plaasvind) wanneer die gelowige met sy verheerlikte liggaam oorklee sal word, sal die gelowige vry van die sonde natuur en fisiese dood wees, wat siektes, pyn en lyding ens insluit. Die leser word sterk aangeraai om die aangehegde Illustrasie te bestudeer “Drie Fases van Verlossing Illustrasie

Die praktiese toepassing van hierdie feite sal verseker, dat wanneer die Bybel bestudeer word, die gelowige tussen die drie fases van verlossing onderskeid sal kan tref. Vir die korrekte uitleg en verstaan van die Bybel, is dit vir die gelowige uiters belangrik om te kan bepaal na watse fase van verlossing, die skrywers van die Bybel, in ‘n gegewe teksgedeelte na verwys. Indien teksgedeeltes soos Fil 2:12 bestudeer word, dan wil dit voorkom asof die gelowige sy eie heil moet uitwerk. Dit wil ook verder voorkom, of hierdie teksgedeelte met ander teksgedeeltes in die Skrifte in botsing is, omrede dit op ander plekke in die Bybel duidelik gestel word dat ‘n persoon slegs op grond van geloof alleen verlos word en nie deur werke nie. Indien ‘n persoon die drie fases van verlossing, soos wat dit in die eerste gedeelte van hierdie artikel uiteengesit is, ingedagte hou, sal dit die leser help om die teksgedeelte in konteks van hierdie waarhede uit te lê en te verstaan. Kom ons gaan pas nou hierdie beginsels op Fil 2:12 toe.
Fil 2:12 “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;”
Indien ons egter na die werkwoordtydsvorm gaan kyk, sal ons opmerk dat dit in die teenwoordige tyd gestel is en moet ons dus vra van watse heil hier gepraat word? Die logiese antwoord is dan duidelik dat die skrywer hier van die heiligmaking fase praat, naamlik fase twee van verlossing, waar dit van die gelowige verwag word, om in samewerking, en in die krag van die Heilige Gees, die houvas en krag van die sonde in sy lewe moet verbreek. In hierdie teksgedeelte, net soos in fase twee, word die gelowige aangemoedig om heiligmaking in sy lewe toe te pas. Boonop is dit ook uit die konteks, waarin hierdie teksgedeelte gevind word, duidelik dat die skrywer op gelowiges fokus en nie op ongelowiges nie. Indien fase een, naamlik wedergeboorte, die onderwerp van die teksgedeelte was, sou die skrywer nie sy lesers aangesê het om hulle eie heil uit te werk nie, (iets wat ons nie kan doen om die ewige lewe te ontvang nie, anders sou hy ‘n werke evangelie verkondig wat met die Bybel in botsing is.)want die ewige lewe word as geskenk deur geloof alleen ontvang en nie deur werke nie. Hy sou eerder die Evangelie aan hulle moes verkondig, om deur die glo daarvan wedergebore te raak. Iets wat Jakobus nie in die konteks van hierdie brief doen nie. Die gelowige se posisionele stand voor God, as Sy kinders, word glad nie in hierdie teksgedeelte aangespreek nie, en is hulle ewige sekuriteit in Christus ook glad nie in gedrang nie. Fase twee van die gelowige se verlossing is dus die fokus van hierdie teksgedeelte, naamlik heiligmaking (waar hulle wel werke moet voortbring.) en nie fase een (wedergeboorte) of fase drie (die verheerliking) nie.

Dus, word ‘n persoon nie deur geloof plus werke gered nie, maar slegs deur geloof in die voltooide werk van Christus vir daardie persoon aan die kruis. Die Here verwag egter, dat die gelowige, met die Heilige Gees moet saamwerk in die heiligmaking proses. Die gelowige se lewenswandel behoort altyd meer en meer soos die van die Jesus Christus te word, sodat sy huidige lewenswandel ooreenstem met sy stand in Christus. Dit is die wil van die Vader vir alle gelowiges. Derhalwe kan ‘n gelowige met alle eerlikheid verklaar, dat hy verlos is, (fase een, naamlik wedergeboorte) verlos word (fase twee, naamlik heiligmaking) en verlos sal word. (Fase drie, naamlik die verheerliking wat met die Wegraping/eerste opstanding in vervulling sal gaan)

Hierdie uiteensetting van die drie fases van verlossing, kan op alle moeilike teksgedeeltes soos Jacobus toegepas word. Indien hierdie reëls konsekwent toegepas word, sal dit daartoe lei, dat skynbare konflikte in moeilike teksgedeeltes verwyder word. Die leser word aangeraai om hierdie waarhede in gedagte te hou, soos wat hy of sy die Bybel bestudeer. Boonop sal die toepassing van hierdie metode die bestudering van die Bybel heelwat vergemaklik, wat daartoe sal lei dat meer genot uit die lees van die Bybel bekom sal word.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.