vergifnis twee

POSISIONELE VERGIFNIS VS OUERLIKE VERGIFNIS

Met die skryf van hierdie artikel sal daar gepoog word om duidelik die onderskeid tussen posisionele vergifnis en ouerlike vergifnis te demonstreer, omrede sommige gelowiges somtyds deur hierdie twee fasette van die Christelike lewe verward raak. Indien ons posisionele vergifnis met ouerlike vergifnis verwar, kan dit daartoe lei dat ons menslike werke, as vereiste, by slegs geloof alleen in die Evangelie byvoeg, wat die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie verander en wat niemand sal verlos nie. Om hierdie rede vermaan die Apostel Paulus ons om die woord van God reg te sny, en sodoende sal ons verseker dat ons God se goedkeuring sal wegdra. 2Tim.2:16 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”

a) Posisionele vergifnis: Word in die vorm van die Evangelie, en sonder uitsondering aan alle ongeredde sondaars aangebied, naamlik:
Luk.24: 45 “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. 46 En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, 47 en bekering (verandering in opinie oor Wie die Here Jesus Christus is, asook sekere proposisionele feite aangaande Hom wat Sy voltooide werk in die kruis insluit) en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. 48 En julle is getuies van hierdie dinge.” (Lees asb die artikel “Generiese geloof vs Reddende geloof”)
Posisionele vergifnis handel dus oor fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van verlossing” ook te lees.)

Ouerlike vergifnis: Word uitsluitlik aan God se kinders, (gelowiges) wat alreeds die Evangelie geglo het, aangebied, naamlik:
1Joh.1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Bostaande teksgedeelte is aan gelowiges gerig en hierdie mense het dus alreeds die Evangelie op ‘n gegewe punt in tyd gehoor, verstaan, en geglo en derhalwe wedergebore geraak. Ten opsigte van ‘n ongelowige, kom die Vader se ouerlike vergifnis glad nie hier ter sprake nie, omrede die ongelowige nie die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid, deur die glo van die Evangelie ontvang het nie, en vind homself dus buite Christus, en nog steeds in sy sondes en op pad na die ewige verderf toe.

b) Posisionele vergifnis: Word uitsluitlik met wedergeboorte (fase een van ons verlossing) geassosieer, wanneer ‘n persoon die Evangelie glo en deel van God se familie word.
Ef.1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
Om hierdie rede is dit belangrik dat ons as gelowiges vriendelik met mekaar moet wees en bereid moet wees om mekaar te vergewe, net soos wat God ons in Christus vergewe het. Derhalwe is dit belangrik dat ons, onsself oor ons medegelowiges moet ontferm.
Ef.4:32 “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”

Ouerlike vergifnis: Word uitsluitlik met ons gemeenskap met God geassosieer, en vorm deel van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap, waar ons, ons geloof in gehoorsaamheid aan God moet uitleef en waarin almal van ons gereeld struikel.
1Joh.1:3 “wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4 En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees. 5 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. 6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. 7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. 8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Dit mag selfs gebeur dat God ons in liefde vir voortgesette, onbelyde sonde met swakheid, siekte en selfs die dood (en onheil) mag tugtig. Dit beteken geensins dat die gelowige verlore sal kan gaan nie, maar sy gemeenskap met sy hemelse Vader word onderbreek solank as wat hy sonde bedryf en dit nie laat staan en bely nie.
1Kor 11:30 “ Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.” (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “die gelykenis van die ponde” asook “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” en laastens “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees.)

c) Posisionele vergifnis: Vereis slegs geloof in die Evangelie sonder enige menslike werke.
Joh. 1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
Joh. 6:28 Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.
Hand. 16:39 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

Ouerlike vergifnis: Bekering (om ‘n verandering in opinie oor die goddeloosheid van ons sonde te ondergaan, en ons sonde in die lig, waarin God dit sien, in oënskou te neem) en dan met daardie sonde te breek en daardie sonde aan God te bely (wat beteken dat ons saam met God oor die goddeloosheid van ons sonde stem) en dan om vergifnis vra.
1Joh.1:9 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Bostaande teksgedeelte is aan wedergebore gelowiges gerig en daarom sluit die apostel Johannes hom by sy gehoor in. Let op die term “ons”. Dus is bogenoemde stelling aan gelowiges wat hulleself in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking bevind, gerig. As God se kinders, kan hulle dus nooit verlore gaan en in die poel van vuur opeindig nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” te lees)

d) Posisionele vergifnis: Is van toepassing op alle gelowiges, maak nie saak hoe geestelik volwasse hulle is of hoe ver hulle in die proses van heiligmaking gevorder het nie.
Kol. 1:13 Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,
14 in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.
Kol.2: En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,”

Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is ‘n kostelose geskenk en is op geen wyse van ons goeie werke afhanklik nie.

Ouerlike vergifnis: Word slegs ontvang deur gelowiges, wat op die Heilige Gees, en deur die Skrifte van hulle sondes oortuig word en wat dan daardie sondes laat staan en die sonde aan God bely.
Hand. 8:22 “Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word.
Spr. 28:13 Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”

Ouerlike vergifnis as dus slegs vir responsiewe gelowiges en nie vir gelowiges wat in onbelyde sonde voortleef nie. Familiale vergifnis geld dus net vir gelowiges wat deel van God se familie, deur wedergeboorte is, en is geensins van toepassing op ongelowiges wat nie die Evangelie geglo het nie. Dus is familiale vergifnis slegs vir gelowiges wat hulle in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking bevind, en nie op ongelowiges van toepassing nie.

e) Posisionele vergifnis: Word vereis om die ewige lewe as genadegawe te ontvang.
1Kor. 6:9 “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? 10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”
Posisionele vergifnis word slegs ontvang indien ‘n persoon vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof in die Evangelie bekeer. Die gelowige sondaar ontvang ten tye van die glo van die Evangelie die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid, en God die Vader sien dan die gelowige sondaar nie meer in sy sondes nie maar in Christus. Geen goeie werke, insluitende die waterdoop, kan as vereiste by die Evangelie van God se genade gevoeg word om die gawe van die ewige lewe te ontvang nie.

Ouerlike vergifnis: ‘n Gelowige wat in sonde leef sal die vreugde (wat ‘n vrug van die Gees is) verloor en kan selfs onder God die Vader se tugtiging kom, maar die gelowige sal nooit verlore kan gaan nie.
Ps.51:9 “Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. 10 Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.”
Onbelyde sonde verbreek ‘n persoon se gemeenskap met sy Hemelse Vader, en sodra dit gebeur verhinder sulke optrede die die Heilige Gees om die vrugte van die Gees in die gelowige se lewe voort te bring.
Gal.5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Om hierdie rede is dit belangrik om sonde te erken, dit te bely, en te laat staan, sodat ons weer die vrugte van die Gees in ons lewens kan ervaar, waarvan vreugde een so ‘n vrug is.

f) Posisionele vergifnis: Word slegs eenkeer vir alle tye ontvang.
Kol.2: 13 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,”
Posisionele vergifnis vorm deel van fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte. Wedergeboorte , net soos natuurlike geboorte, vind op ‘n spesifieke punt in tyd plaas en word dan nooit weer herhaal nie.
Heb. 10:10 “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.
10: 14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak
(Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) die wat geheilig word.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking)

Ouerlike vergifnis: Is ‘n gebeurtenis wat gereeld herhaal word, en vind plaas elke keer wanneer die gelowige deur die Heilige Gees vir ‘n spesifieke sonde(of sondes) in sy lewe oortuig word, en wanneer die gelowige daardie sonde bely, laat staan en om vergifnis vra.
1Joh. 1:7 “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. 8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”

Ter Afsluiting: Dit is van uiterste belang om die onderskeid tussen posisionele en ouerlike vergifnis te kan onderskei, anders ontstaan die gevaar dat ons menslike werke en wetsonderhouding deel van die Evangelie van God se genade kan maak, wat katastrofiese gevolge kan meebring. Dit is ook egter van uiterste belang dat die gelowige besef dat goddeloosheid gevolge het. (en soms baie ernstige gevolge)

God bepaal wat sonde is, en wat nie sonde is nie, en geen sinode of enige ander mens het die reg om goedsmoeds die Skrifte tersyde te stel en hulle eie wette op te stel nie. Net omrede ons of ‘n spesifieke sinode mag besluit dat ‘n sekere sondige optrede aanvaarbaar is, beteken geensins dat God nie daardie sonde sal straf nie. Boonop is ons ook nie in die posisie om te kies watter straf die Here vir ‘n gegewe sonde wil uitdeel nie. God het besluit om Sodom en Gomorra met vuur te verwoes en daar was absoluut niks wat daardie sondaars aan die saak kon doen nie. (ons generasie sal wys wees om hierdie feite in rekenskap te hou.) Om hierdie rede moet ons nie verbaas wees indien onheil ons oorval a.g.v. ons sonde nie. Die Here stel dit duidelik dat ‘n mens net sal saai wat hy maai, en God gaan Homself nie laat bespot nie.
Gal. 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” (Hierdie stelling geld ook vir gelowiges!)

Gelowiges kan hulleself presies aan dieselfde reeks sondes skuldig maak as wat die ongeredde wêreld om hulle kan doen. Net so ook, kan hulle die presiese mate van onheil in hierdie wêreld beleef as wat die ongeredde mensdom om hulle kan beleef. (dink maar aan die eerste en tweede wêreldoorloë, asook die meegaande menseslagting soos byvoorbeeld Armeense volksmoord (eerste wêreldoorlog) asook die Joodse volksmoord wat onder Adolf Hitler tydens die tweede wêreldoorlog plaasgevind het. Nie alle smarte is noodwendig die direkte oorsaak van ‘n spesifieke sonde in ons lewens nie, maar ‘n groot gedeelte daarvan is wel!

Gelowiges wat wêreldgesind is, tree as vyande van God op, al is hulle Sy kinders, en hulle kan verseker weet dat die Here met hulle sal afreken. Indien ‘n gelowige as vyand van God gaan optree, moet dit hom nie verbaas indien die Here hom in hierdie lewe ook as vyand behandel nie.
Jak. 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Die Apostel Paulus het onder inspirasie van die Heilige Gees voorspel hoe die belydende Christendom aan die einde van die dispensasie van die Kerk sal lyk, naamlik:
2Tim.3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Is bostaande beskrywing van die belydende Christendom nie dalk die rede hoekom dinge in ons land, en in die wêreld oor die algemeen, lyk soos wat dit lyk nie? En dan wil ons kla indien dit wil voorkom dat die onheil ons wil oorval en dan hardloop ons op stringe na sogenaamde profete wat leuens van voorspoed en vrede aan ons voorhou.
I Joh. 2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 2:16 Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
I Kor. 10:22 Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?

Indien ons wil hê die Here moet ons moet seën, dan sal ons tot bekering moet kom. (Dit beteken geensins dat die wêreld as geheel beter sal word nie die Bybel stel dit baie duidelik dat die wêreld toenemend goddeloos sal raak soos wat die wederkoms van die Here nader kom.) Die stelling oor bekering geld ook vir die sogenaamde profete wat deesdae die wêreld vol is, en wat hulle valse profetiese woorde rondslinger asof dit uit die mode uitgaan. Hierdie mense moet van die eerstes wees wat tot bekering kom en dit geld vir die mense wat so gretig is om na hulle te luister. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van Profesie nog in werking vandag” te lees.) Ons moet ons leerstellings slegs vanuit die Bybel bekom en nêrens anders nie! Boonop moet ons sekermaak, dat diegene wat die Bybel aan ons verkondig die Bybel reg uitlê, anders gaan ons maar net weer verder verly word. Bestudeer self die Skrifte en maak seker dat wat aan jou verkondig is die waarheid, binne die korrekte konteks, volgens die Bybel is! Kyk! Die onheil staan alreeds voor die deur, al mag hierdie sogenaamde profete ‘n ander prentjie aan ons probeer voorhou! Ja, ons Hemelse Vader is genadig, ( en ons werke vorm nie deel van die Evangelie nie) maar Sy genade is nie ‘n lisensie aan ons om goedsmoeds te sondig nie! Onthou, Hy sal Homself nie laat bespot nie! Hy sal ons tugtig en ons sal maai wat ons saai!

Mense die tye is boos en die wegraping kan nie meer ver wees nie. Dit mag dalk nog vandag plaasvind. Derhalwe is dit van uiterste belang dat ons die Evangelie getrou verkondig, (of op die een of ander wyse daarby betrokke moet wees) en dissipels van die pasgebore gelowiges maak. Ook behoort ons heilige lewens in hierdie bose wêreld te ly met die wete dat die Here Jesus Christus ons enige tyd kan kom haal.
Mat. 5:14 “Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. 16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.