die doop deel 2

Bykomende vrae aangaande die doop. Deel 2

In deel twee van die studie genaamd “bykomende vrae aangaande die doop” gaan ons die ander vrae wat die leser gevra het vanuit die Skrifte beantwoord. Die onderwerp wat die leser aangespreek het is van uiterste belang, en daarom is dit ook dan ook uiters belangrik om hierdie vra aangaande die doop sorgvuldig te beantwoord, omrede die Evangelie van God se genade (en dus menslike siele) op die spel is. Die leser word ten sterkste aangeraai om die eerste artikel genaamd “Bykomende vrae aangaande die doop. Deel 1” asook die artikel “Die waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie” te lees en bestudeer.) In hierdie studie gaan ons dan voort en sal die uiters belangrike vrae deur die gebruik van die “Jou stelling” “My antwoord” formaat beantwoord word. (Bestudeer asb die volgende illustrasie genaamd “Sewe vorme van doop in die Skrifte“)

Jou stelling: Is dit nie ons tweede stap tot gehoorsaamheid/saligmaking nie? Hoekom word Paulus se doop ook pertinent as die afwassing van sy sondes uitgebeeld? Hand 22:16 [Vir die lesers onthalwe sal ek die genoemde teksgedeelte hierby invoeg, naamlik:
Hand. 22:16 “En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”]

My antwoord: Jy is korrek, mits jy bedoel dat die teksgedeelte oor fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap handel, en nie fase een van ons verlossing nie, waardeur ‘n persoon slegs deur die glo van die Evangelie (waarvan die waterdoop nie deel is nie) wedergebore raak, en die geskenk van die ewige lewe, as ewige besitting by God ontvang. Ek gaan egter Hand. 22:16 sorgvuldig bestudeer, sodat al die lesers van die webtuiste daarby baat kan vind. Boonop gaan ek ‘n groot gedeelte van die teksgedeelte waarin die stelling soos in Hand. 22:16 in voorkom aanhaal, want soos reeds in die artikel “Die waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie” genoem is, moet ons die konteks toelaat om die betekenis van ‘n spesifieke woord of stellig te bepaal. Ek gaan ook die genoemde teksgedeelte in afsonderlike gedeeltes opbreek, en dan afsonderlike opmerkings daaromtrent maak wat die konteks beter uit sal lig. Nog ‘n rede waarom ek dit wil doen, is om te bepaal na watter fase van verlossing Ananías na verwys het, toe hy Paulus beveel het, om hom te laat doop, sodat sy sondes afgewas kan word. Vir die korrekte uitleg van genoemde teksgedeelte is dit van uiterste belang om te bepaal op watter stadium Paulus geglo en wedergebore geraak het. (Fase een van sy verlossing naamlik wedergeboorte, waar slegs geloof in die Evangelie vereis word. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat die leser die artikel “Drie Fases van Verlossing” en die meegaande illustrasie deeglik bestudeer en ken.) Vir die doeleindes van hierdie studie is dit van uiterste belang om die omliggende konteks waarin Hand.22:16 in voorkom bestudeer. Sodoende sal ons verhoed dat ons tot die verkeerde gevolgtrekkings kom. (Bestudeer asb die volgende illustrasie genaamd “Sewe vorme van doop in die Skrifte“)

Ek gaan dus by Hand.22:3 begin, naamlik:
Hand. 22: 3 “Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is. 4 Hierdie Weg (onthou die Here Jesus Christus se stelling in Joh.14:6 dat Hy die alleenlik die Weg na die Vader is.) het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee, 5 soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.”
Opmerking: Vir Paulus om hierdie Christene suksesvol voor die raad in Jerusalem te kan bring, en aankla, moes hy ‘n deeglike kennis van die Weg, soos wat hy dit noem, beskik. Hy het dus die vereistes vir die ontvangs van die ewige lewe, naamlik die Evangelie en die meegaande vereiste van geloof in die Evangelie geken. Die gelowiges wie hy gevangene geneem en ondervra het, sou aan hom al hierdie inligting gegee het, veral indien mens in ag neem, dat die vroeë Christene ywerig was om Christus se opdrag, om die Evangelie aan die ganse mensdom te verkondig, wou gehoorsaam. Boonop sou Paulus hulle nie kon aankla indien hy nie alreeds geweet het wat hulle glo en verkondig (die Evangelie) nie. Hy moes dus alreeds voordat hy die Here Jesus Christus, op die weg van Damaskus, ontmoet het, alreeds voldoende kennis aangaande die Here Jesus Christus, asook die proposisionele feite aangaande Sy Persoon, en voltooide werk aan die kruis vir die mensdom se sonde, en opstanding uit die dood (en dus die Evangelie) tot sy beskikking gehad het. (al het hy dit nog nie op hierdie stadium geglo nie.)

Hand.22: 6 “Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik ‘n groot lig uit die hemel my omstraal, 7 en ek het op die grond geval en ‘n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 8 En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg. 9 En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.
Opmerking: Vir meer inligting rondom hierdie gebeurtenis, gaan ek ook die parallelle gedeelte van Hand.9:3 hierby invoeg, wat meer besonderhede aan ons sal verskaf, wat daartoe sal bydra dat ons tot die korrekte slotsom sal kom, naamlik:
Hand.9:3 “En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; 4 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 5 En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. “
Ons moet die feit in gedagte hou, dat Paulus die Kerk vervolg het, en nie geweet het dat hy indirek die Here Jesus Christus ook vervolg het nie. En omrede hy nie die aanvanklike boodskap oor Christus (wat proposisionele feite aangaande Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis, asook Sy opstanding van uit die dood ingesluit het) geglo het nie, het hy nie geweet wie met hom praat toe die Here in die lig van Sy glorie aan hom verskyn het nie. Let op die Here se antwoord, naamlik “Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.” Die prikkels waarna die Here verwys, is die oortuigingswerk van die Heilige Gees, wat die feite aangaande die Evangelie (wat Paulus alreeds geken het) gebruik het om hom na Christus te trek, maar waarteen Paulus vasgeskop het. (Alhoewel dit vir hom moeilik was!) Boonop maak die Here dit duidelik, dat ‘n persoon nie Sy liggaam, (die Kerk) kan vervolg sonder om Hom te vervolg nie. Die Here Jesus Christus is onherroeplik met die ware Kerk verbind/geïdentifiseer en dit behoort as riem onder die harte van alle gelowige te dien. (Veral in hierdie tye waar die suiwere Christelike geloof, en leerstellings, toenemend onder aanvalle van binne, en buite, die belydende Christendom blootgestel word en waar hierdie tendens ook aan die toeneem is.) Dit is dan ook my vaste oortuiging dat dit presies tydens hierdie gebeurtenis was, toe die Here aan Paulus op die Damaskus pad verskyn het, waar Paulus wedergebore (fase een van sy verlossing) geraak het. Net soos in die geval met die mense in Cornelius se huis, toe hulle wedergebore geraak terwyl Petrus nog besig was om sy boodskap aan hulle oor te dra, net so het Paulus in die Here geglo, die oomblik toe die Here Homself as Jesus aan hom voorgestel het. (veral indien mens in gedagte hou, dat Paulus op hierdie stadium alreeds baie goed met die Evangelie van Christus se genade bekend moes wees. Hy moes dus tot volle oortuiging/geloof gekom het dat die Persoon genaamd Jesus, Wie hier met hom praat, die Here Jesus Christus, en dus die Weg is, wat aan die kruis vir die mensdom se sondes gesterwe het, en op die derde dag weer uit die dood uit opgestaan het. Hy sou al voor hierdie voorval die boodskap van die Evangelie male sonder tal by Christen gevangenis gehoor het.) Hy het dus by hierdie geleentheid vanuit ‘n posisie van ongeloof, na ‘n posisie van geloof in die Evangelie bekeer, en het op daardie oomblik wedergebore geraak, en is met die Heilige Gees verseël, maar nog nie met die Heilige Gees vervul/gevul nie. Derhalwe kon hy ook op a latere stadium die onderstaande stelling maak, naamlik:
Ef. 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”Lees asb verder, want ek sal hierdie siening bo enige twyfel demonstreer.

Hand 22:10 “En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen.”
Opmerking: Die vraag wat ons nou vanuit die konteks moet bepaal, is wat Paulus bedoel het toe hy die Here gevra het wat hy nou moes doen? Was dit ‘n vraag hoe om wedergebore (fase een ) te word, of was dit ‘n vraag wat hy nou moet doen, nadat hy alreeds wedergebore geraak het en wat hy toe gevolglik moes doen? (fase twee van ons verlossing, naamlik dissipelskap/heiligmaking) Op Paulus se vraag wat hy nou moet doen, beveel die Here hom om na Damaskus te gaan en daar sou aan hom gesê word wat om te doen. Dit is baie opvallend dat die Here by hierdie geleentheid nie aan Paulus sê dat hy die Evangelie moet glo om gered te word nie. Daar word dus niks van geloof gemeld nie. Die vraag is hoekom nie? Sou die opdrag om die Evangelie te glo nie die logiese antwoord op Paulus se vraag wees, indien hy nie geweet het hoe om verlossing te bekom nie? Onthou, die Here het aan die Jode juis op hierdie wyse geantwoord, toe hulle Hom gevra het wat hulle moes doen om die werke van God te volbring, naamlik:
Joh.6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Die Here beveel hom egter nie om die Evangelie te glo nie, want die Here, wat God is, (en dus alwetend is) weet alreeds dat Paulus tot geloof in Hom gekom het en dus sou dit sinneloos wees om hom te beveel om die Evangelie te glo. (iets wat Paulus alreeds gedoen het!) Die Here beveel hom eerder om na Damaskus te gaan en daar sou hy verdere opdragte ontvang.

Hand.22:11 “Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom.12 En ‘n sekere Ananías, ‘n vroom man volgens die wet, wat ‘n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon, 13 het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk. 14 En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; 15 want jy sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.
Opmerking: Ook hier gaan ek die parallelle teksgedeelte soos in Hand. 9:8-16 aanhaal, naamlik:
Hand.9:8 “Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. 9 En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie. 10 En daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in ‘n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here. 11 Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; 12 en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien. (Let wel! Ananías word nooit aangesê om die Evangelie aan Paulus te verkondig nie, maar word beveel om sy hande op Paulus te lê, nie om die Heilige Gees te ontvang nie, maar slegs om weer te kan sien. Paulus was alreeds wedergebore, en is alreeds deur die Heilige Gees verseël, al was hy nog nie op hierdie stadium met die Gees vervul nie! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees en vervulling met die Heilige Gees” te lees.) 13 Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; 14 en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. 15 Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. 16 Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. (Weereens vind ons geen bevel om die Evangelie asook geloof in die Evangelie te verkondig nie. Ananías word egter ingelig oor die Here se planne met Paulus, en die verdere feit dat die Here aan Paulus gaan bekendmaak hoeveel hy vir die Here moet ly, en die feit dat hy die Here se Naam aan die nasies, konings en aan die Jode moet verkondig. (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap! Nie fase een, naamlik wedergeboorte nie!) Bostaande teksgedeelte is nie ‘n oproep om die Evangelie te glo nie, (fase een) maar is eerder ‘n oproep tot toegewyde heiligmaking/dissipelskap en dus fase twee van Paulus se verlossing, naamlik heiligmaking, en toegewyde dissipelskap, wat van die mens se samewerking afhanklik is. Hierdie hele gedeelte het dus niks met wedergeboorte te make nie, maar dien eerder as ‘n oproep tot toegewyde dissipelskap, iets wat Paulus kon weier en nog steeds wedergebore bly! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Voor verlossing, verlossings en post-verlossing bediening van die Heilige Gees” en “Die onderskeid tussen Wedergeboorte en Loon vir Goeie Werke” asook “Onderskeid tussen ‘n Gelowige en ‘n Dissipel” en laastens “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees.) Onthou, mens raak nie wedergebore deur om vir die Here te ly of selfs die Evangelie te verkondig nie! (wat menslike werke is) Mens word wedergebore deur slegs geloof in die Evangelie te plaas en niks anders nie!
Gal. 2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”

Hand.22:16 “En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”
Opmerking: Ook hier gaan ek die parallelle teksgedeelte soos in Hand.9:17 aanhaal, naamlik:
Hand.9:17 “En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word.”
Dit is opmerklik dat Ananías gestuur is om Paulus die hande op te lê om daardeur van sy tydelike blindheid verlos te word, asook dat hy Paulus moes doop, sodat Paulus met die Heilige Gees gevul kon word.
18 En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. 19 En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was ‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus. 20 En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.” (Iets wat Paulus slegs met genoegsame Geestelike insig kon doen indien hy na wedergeboorte (waar hy met die Heilige Gees gedoop is, maar nie gevul is nie) met die Heilige Gees vervul is, wat slegs sou plaasvind indien hy openlik met die sienswyse van die oorgroot ongelowige Joodse generasie, waarvan hy deel was, breek deur om hom in die openbaar deur die waterdoop met die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis identifiseer. (op hierdie wyse moes hy homself van die ongelowige Joodse volk, wat hulle Messias laat kruisig het, distansieer en hom openlik deur die waterdoop met die Here Jesus, as dissipel, identifiseer en assosieer andersins sou die Here hom nie as dissipel kon gebruik nie!) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Doop met die Heilige Gees en vervulling met die Heilige Gees” asook “Word gelowiges een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop?” te lees) Paulus kon slegs die Here Jesus Christus as dissipel volg (en met die Heilige Gees vervul word) indien hy in die openbaar met die sienswyse van die Joodse volk breek, wie nie in Christus geglo het nie en wie gedink het dat hy die kruisdood verdien. En slegs nadat hy die Here gehoorsaam het en homself laat doop het, wat die eerste stap in fase twee van ons verlossing, naamlik dissipelskap/heiligmaking behoort te wees, is hy met die Heilige Gees vervul, en slegs daarna was hy in staat om Christus met die nodige krag in die sinagoges te gaan verkondig. En met hierdie wete het hy ook later in sy briewe aan gelowiges (wie alreeds op hierdie stadium wedergebore was) aangesê om met die Gees vervul te word.
Ef. 5:18: “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
‘n Vervulling wat nie sou plaasvind indien die gelowiges nie hulle samewerking in dissipelskap/heiligmaking (fase twee van hulle verlossing) gegee het nie. Slegs in hierdie sin moes Paulus hom met water laat doop en homself openlik met Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis identifiseer. ‘n Uiterlike demonstrasie wat alreeds innerlik deur die Heilige Gees bewerkstellig is toe hy op die Damaskus pad wedergebore geraak het. (lees asseblief die artikel “Word met die Gees vervul” wat aan die leser sal verduidelik hoe om met die Gees vervul te word.)
1Kor. 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Gal.3:26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; (nie deur die geloof en waterdoop nie) 27 want julle almal wat (deur die Heilige Gees)in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.”
Titus 3:4 Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het — 5 nie op grond van die werke van geregtigheid
(wat die waterdoop insluit)wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte (nie die bad van die waterdoop nie)en die vernuwing deur die Heilige Gees (iets wat die waterdoop ooit sou kon bewerkstellig nie, maar net iets wat die Heilige Gees kon verrig!)6 wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; 7 sodat ons, geregverdig deur sy genade, (nie ons goeie werke nie, wat die waterdoop insluit)erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.”

Ter Afsluiting: Water kan nooit sondes afwas nie. Water kan slegs uiterlike vuilheid op die liggaam afwas maar sonde (wat die sonde van ongeloof, moord, skinder, ensovoorts insluit) kom vanuit die hart waar water nooit enige reiniging werk kan verrig nie. Die Here Jesus het self hierdie feit baie duidelik gestel, naamlik:
Matt.15:19 “Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. 20 Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.”
Daarbenewens stel die Bybel dit baie duidelik dat ons gered is op grond van Christus se bloed, wat Hy aan die kruis gestort het, nie deur die waterdoop waar daar geen bloedvergieting plaasvind nie.
Rom. 5:9 “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.
Ef. 1:7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,
Heb. 9:14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”

Dit is Christus se soendood aan die kruis wat ons verlossing bewerkstellig het, nie die waterdoop, wat maar net ‘n uiterlike demonstrasie is van wat werklik gebeur het toe die Heilige Gees ons in Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis ingedoop/geïdentifiseer het nie. Geen menslike ritueel kan enigsins tot die voltooide werk van Christus ‘n bydrae lewer nie. Om so iets te glo is om ernstig te dwaal.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Boonop kan die waterdoop nie bewerkstellig wat Christus se bloedvergieting aan die kruis alreeds voltooi het nie, anders sou die Here nooit die onderstaande stelling aan die kruis kan maak nie, naamlik:
Joh. 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
Christus se verlossingswerk is vir eens en vir altyd, en volkome, aan die kruis afgehandel, en die menslike werk van die waterdoop kan geensins tot Christus se verlossingswerk bydra nie!

Hand. 22:16 kan dus nie as ‘n oproep tot verlossing fase een, naamlik wedergeboorte vertolk word nie, maar is eerder ‘n oproep tot fase twee van ons verlossing, naamlik toegewyde dissipelskap/heiligmaking. Die waterdoop dra dus geensins tot ons wedergeboorte by nie, maar behoort as eerste stap op ons weg tot toegewyde dissipelskap te dien. Die enigste vorm van dissipelskap wat vir die Here aanvaarbaar sal wees, is wanneer daardie dissipelskap op die hakke van werklike wedergeboorte (fase een van ons verlossing) volg. (Anders is so ‘n persoon niks anders as ‘n Judas nie, wat ‘n dissipel van die Here was, maar wat nooit wedergebore was nie! Dit is my beskeie mening, dat daar baie mense in die belydende Christendom is, wat as dissipels van die Here lewe, maar wat ongelukkig die slagoffers van ‘n werke evangelie is, en dus nooit werklik die Evangelie van God se genade geglo het en werklik wedergebore geraak het nie. Hulle lyk dalk, en leef dalk soos skape, maar hulle is nie in werklikheid skape nie! Lees asb die artikel “Die Breë en die Smal weg“) Hand 22:16 kan dus nie as proefteks gebruik word wat bewys dat die waterdoop deel van die Evangelie is nie. Derhalwe is dit ‘n fatale fout om die waterdoop, as ‘n verdere vereiste, by slegs geloof in die Evangelie te voeg om die ewige lewe deelagtig te word. Om so iets te doen is om die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander wat niemand sal red nie. Onthou, mense se siele is op die spel en daarom is dit uiters belangrik om te weet wat ons glo, en hoekom ons dit glo, alvorens ons dit aan ander wil verkondig. (veral as dit by die Evangelie kom!)

Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om al jou persoonlike sondeskuld (verlede,hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Indien die Here toelaat, sal ek in deel drie van hierdie reeks studies, die laaste vrae aangaande die waterdoop ook vanuit die Skrifte beantwoord.

Seën Groete

Vic