Liefde vir God

Is liefde vir God ‘n vereiste vir wedergeboorte?

Vraag: My vrou het so ‘n ruk terug my meegedeel dat sy nie met absolute sekerheid kan sê dat sy Christus liewer as vir my het nie. Sy het ook verder gegaan en verduidelik dat sy nie iets wil voorgee wat sy nie is nie. Ek het die evangelie soos dit op jou webtuiste weergegee met haar gedeel en sy glo alles wat jy daar geskryf het. Is volkome liefde vir God ‘n vereiste vir wedergeboorte? Glo jy sy is wedergebore? Help ons asb!!

Antwoord: As ek reg onthou het my broer en sy geliefde ook ‘n soortgelyke gesprek ‘n tydlank terug gehad. Dit blyk my daar is baie mense wat met dieselfde probleem worstel. Ek sal jou vraag slegs vanuit die Skrifte beantwoord, omrede wat in die Skrifte staan deur God aan die mens gegee is en daarin sal ons Sy antwoord op hierdie vraagstuk vind. Ons moet egter waak om nie ons tradisies of vooropgestelde leerstellinge wat ons by ander geleer het in die teks in te lees nie. Ons moet God toelaat om vir Homself deur Sy woord te praat. Ook moet ek jou vrou vir haar eerlikheid komplimenteer, want baie mense is bang om so ‘n stelling met ander te deel. Jy kan gerus ook die artikel “Bekeer, Bekering is nie reformasie in eie krag nie” lees.

Om te verseker dat ons tot die korrekte slotsom kom is dit belangrik dat ons ‘n paar vrae stel en dit dan beantwoord:

  • Wat is die standaard van liefde wat God van ons Vereis?
    • Kan enigeen van ons aan hierdie standaard voldoen solank as wat ons nog in ons sondige liggame inwoon?
    • Wat sê God moet mens doen om die ewige lewe te bekom?

Wat is die standaard van liefde wat God van ons Vereis?: Die standaard waarteen ons liefde vir God gemeet word is nie die standaard wat die mensdom bepaal nie, maar wat God bepaal, en hierdie liefde is niks anders as die wedersydse liefde soos wat ons dit tussen die drie Persone van die Drie-enige God vind nie. In kort: Jy moet God met jou hele hart, siel en verstand liefhê!
Joh.4:34 “Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.”
Christus het nooit van hierdie doelstelling af gedwaal nie, nie eens vir ‘n oomblik nie en het voltooi wat God die Vader van Hom verwag het, naamlik om met Sy lewe aan die kruis vir ons sondes te sterf. Hoekom? Want so lief het God die mens, en dit is die standaard waarteen ons ons liefde vir God moet meet!
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Kan enigeen van ons aan hierdie standaard voldoen solank as wat ons nog in ons gevalle liggame inwoon?: Ware liefde is baie meer as net ‘n emosie. Bybelse liefde behels ononderbroke, algehele en totale toewyding en niks minder as dit kan genoeg wees nie.
Joh.14:15 “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.”
Die Here Jesus Christus het egter ‘n nuwe gebod, naamlik die Wet van Christus aan die Kerk gegee, en die standaard wat die Here van die Kerk verwag is baie hoër as die standaard wat ons in die Wet van Moses, wat aan Israel gegee is vind, naamlik:
Joh.13:34 “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”
Die standaard van liefde wat God van die mens verwag is dus niks minder as die standaard van liefde soos wat ons dit in die Drie-Enige God vind nie! Tot die mate waarin ‘n persoon die Wet van Christus nakom, tot daardie mate het die persoon Hom lief. Almal van ons beskik oor ‘n hiërargie van vrese, behoeftes, belange en toewyding. Dit wat op enige gegewe tyd die apeks van ons hiërargie beklee is die god wat ons op daardie tydstip dien. Beklee God ten alle tye die apeks van ons hiërargie van belange en toewyding? Indien ons werklik eerlik is dan kan ons net een antwoord gee, en dit sal nee wees!Nie een persoon kan beweer dat hy ten alle tye die Wet van Christus volkome nakom nie, en derhalwe kan nie een van ons beweer dat ons Hom lief het, soos wat ons Hom behoort lief te hê nie. Behoort ons God volkome volgens God se standaard lief te hê? Ja! Doen ons dit volkome?: Nee!

Wat sê God moet mens doen om die ewige lewe te bekom?:
Joh.6:40 “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Die hele Evangelie van Johannes is geskryf met die doel om aan die mens te verduidelik hoe hy die ewige lewe kan ontvang. Die apostel Johannes het dan ook hierdie stelling gemaak toe hy aan die einde van die skryf van die evangelie volgens Johannes gekom het, naamlik:
Joh.19:35 “En hy wat dit gesien het, (naamlik die apostel Johannes) het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; (omrede hy ‘n ooggetuie was en deur God geïnspireer is om alles korrek op te teken) en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo.
Die Here Jesus Christus het ook die volgende antwoord gegee toe Hy gevra is wat ‘n mens moet doen om die ewige lewe te ontvang, naamlik:
Joh.6:2 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.
En verder het Jesus gesê:
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe
(as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, (kan dus nie geoordeel en verlore gaan nie.) maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. (Ewige sekuriteit van die gelowige)

Die goeie nuus: God verwag net een ding van ‘n ongelowige persoon en dit is om in die Here Jesus Christus te glo.
1Joh.5:13 “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
En dit het jou vrou alreeds gedoen en is alreeds wedergebore en ‘n ware gelowige. God vereis dus slegs geloof in Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis en opstanding vanuit die dood vir die mens se sondes insluit) om die ewige lewe te ontvang.

Die slegte nuus: Jou vrou pleeg ‘n ernstige sonde om jou liewer te hê as wat sy God het. Dit gaan egter nie die probleem oplos om oor haar liefde vir God te lieg nie. (wat ook n sonde is) Wat sy kortkom, is heiligmaking wat slegs deur die Heilige Gees in en deur die gelowige bewerkstellig kan word. En hiervoor gaan sy tyd nodig hê. Sy moet die saak met die Here in gebed bespreek en haar sonde aan Hom bely. Daarbenewens moet sy ‘n keuse maak om meer tyd met God en Sy woord te bestee. Soos wat sy God beter leer ken, en tot die besef kom wat Hy alles vir haar gedoen het, en hoe lief Hy vir haar is, sal haar liefde vir die Here toeneem. Onthou die apostel Johannes se woorde, naamlik:
1John.4:19 “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”
Sy sal egter ‘n keuse moet maak of sy die Here regtig liewer as alles wil hê en dan op die instaatstellende krag van die Heilige Gees (wat tydens wedergeboorte in haar verseël is. Ef.1:13.) vertrou om dit in haar te bewerkstellig. Indien sy regtig wil sal die Here dit verseker doen. Onthou, ware liefde is meer as net ‘n emosie, dit is ‘n verbintenis tot toewyding aan ‘n persoon.

En onthou, God verwag een ding van die gelowige wat sonde pleeg en dit is om daardie sonde te bely, naamlik:
1Joh.1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Alvorens ‘n persoon nie wedergebore geraak het nie, gaan dit hom niks baat om sy sondes te bely nie, want hy is nie in ‘n Vader kind verhouding met God nie. Hy moet dus die evangelie glo en gered word (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en daarna moet hy toelaat dat die Heilige Gees heiligmaking in sy lewe bewerkstellig. (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking en waar die Here van ons verwag om ons sondes te bely.) Van die ongelowige vereis God slegs een ding, naamlik geloof in die Evangelie van God se genade. Van die gelowige persoon verwag God dat die gelowige sy sonde moet bely.

Ter afsluiting: Gelukkig is die ontvangs van die ewige lewe nie van ons liefde ( waarin nie een van ons volkome aan voldoen nie) vir God afhanklik nie, maar slegs van ons geloof in Hom. (die evangelie) Die gevaar bestaan dat ons soms in ons ywer om mense na die Here te lei, en hulle sover te kry om die Here lief te hê, maklik in die strik val waardeur ons in werklikheid ‘n werke evangelie aan so ‘n persoon voorhou. Om ons liefde vir God as ‘n verdere vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe by slegs geloof in die evangelie by te voeg verander ons die evangelie van God God se genade in ‘n werke evangelie. Indien ons dit doen, verkondig ons niks anders as ‘n valse evangelie nie!

Ja, ons behoort God volkome, en met algehele toewyding lief te hê, maar ons kan dit nie altyd volkome regkry nie, omrede ons almal nog steeds met ‘n sonde natuur sit en nog steeds sonde pleeg. (Slegs wanneer fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking waar ons met ons sondelose verheerlikte liggame oorklee sal word sal die sonde natuur van ons weggeneem word. Lees gerus die artikel “Drie Fases van verlossing” weer.) En onthou, dit is Christus wat die toets aan ons gegee het waarteen ons ons liefde vir Hom kan toets, naamlik deur die mate wat ons die Wet van Christus nakom. Nie een van ons kom die Wet van Christus volkome na nie, en derhalwe het ons Hom nie so lief soos wat ons Hom behoort te hê nie. Ons kan maar net daarvoor in die krag van die Heilige Gees streef! Ons moet baie streng daarteen waak om enige verdere vereistes, behalwe geloof alleenlik, by die evangelie vir die ontvangs van die ewige lewe te voeg. Ons wil nie ‘n evangelie verkondig wat mense ongered laat bly nie.

Wanneer ‘n persoon al die goeie werke, wat die Here van alle ware gelowiges verwag, verrig in ‘n poging om homself by God aanvaarbaar te maak, of om homself gered te hou, dan glo daardie persoon in ‘n werke evangelie wat niks anders as ‘n sataniese namaaksel van die ware evangelie is nie! Ja, goeie werke is uiters belangrik, maar ons moet verstaan dat ons nie goeie werke kan doen om gered te word of om onsself gered te hou nie, maar ons is eerder alreeds gered om goeie werke voort te bring. Ons moet nie die ossewa voor die osse inspan nie.
Ef.2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (Alreeds wedergebore deur geloof in die evangelie alleen. Fase een, naamlik wedergeboorte.) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap, wat voortgesette dade van geloof vereis, en waardeur ons liefde vir die Here behoort toe te neem. Nie om ons gered te hou nie, maar om aan Hom te gee wat Hy met regte toekom, naamlik alle lof, eer en liefde!) Lees asb die artikel “Wedergeboorte en die rede vir goeie werke

Wanneer ‘n persoon in hierdie opsig mislei is, kom sodanige persoon moeilik tot die besef dat hy ongered is, omrede hy presies soos ‘n ware gelowige, en in sekere gevalle selfs beter as ware gelowiges mag optree, en nooit tot die besef kom dat hy in werklikheid in ‘n werke evangelie geglo en nooit wedergebore is nie. In so ‘n geval is dit uiters moeilik om so ‘n persoon van die waarheid te oortuig, omrede hy alreeds vas daarvan oortuig is dat hy gered is, maar die feit bly staan dat hy nog steeds ongered is.

Rus in die feit dat die Here ook vir hierdie sonde van jou vrou aan die kruis gesterwe het en dat dit Sy getrouheid is wat haar vir ewig gered sal hou. Met hierdie vaste fondament kan sy nou daarop fokus om in haar liefde tot God te groei, met die wete dat Hy alreeds alles vir haar gedoen het omrede Hy so lief vir haar is. Slegs wanneer hierdie waarhede volkome besef word sal dit daartoe aanleiding gee dat sy die Here liewer sal hê. Onthou:
1John.4:19 “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

NB: Dit is nie ons liefde vir God wat Christus aangespoor het om aan die kruis vir ons sondes te sterwe nie, maar dit is Sy liefde vir ons. Dit is ook nie ons getrouheid (wat ons liefde insluit) aan Hom wat ons gered hou nie, maar dit is eerder Sy getrouheid wat ons gered hou. God doen wat Hy doen, omrede Hy is wie Hy is! God is liefde! (1Joh.4:8) Is dit nie alreeds genoeg rede om Hom liewer te hê nie?

God het alreeds alles aan die kruis vir die mens gedoen. Al wat Hy van ons verwag is om dit in geloof in ontvangs te neem. Niks meer as dit sal deur Hom aanvaar word nie en daarom kom alle eer en lof slegs Hom toe. Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike (volledige) sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wie Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.