Gelykenis van Die Mosterdsaad

Gelykenis van Die Mosterdsaad

Mat 13:31 ‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.
Opmerking: Onthou ons het weer hier met ‘n gelykenis te doen waar die Here aan Sy dissipels wil verduidelik hoe die tydperk tussen Sy hemelvaart en wederkoms gaan verloop. Let op, dat dit die tydperk tussen Sy eerste en wederkoms is, en nie net die dispensasie van genade nie (Kerk Dispensasie). Dus, sluit dit die tydperk vanaf Sy hemelvaart tot en met Sy wederkoms, na afloop van die Groot Verdrukking, in wanneer Jesus Sy voete op die aarde (die Olyfberg) sal neersit. Mosterdsaad is ‘n baie klein saad tipe, maar wanneer dit gesaai word en opgroei, word dit ‘n groot bos. Dit is egter opvallend dat daar ‘n onnatuurlike mate van groei plaasvind, aangesien die Here sê dat dit ‘n boom word.  dus is daar ‘n onnatuurlike groot groeiproses. Omrede die Here Sy punt duidelik wou oordra, lê Hy klem op die onnatuurlike groei van die boom, wat eintlik net ‘n bos moes wees.

Die Mosterdsaad is die belydende Christendom/ kerk op aarde wat ‘n baie geringe begin gehad het, maar met die begunstiging en beskerming van die staat, (Konstantyn) het dit gou ‘n baie groot en ryk sambreel organisasie geword, waarin voëls kom nesmaak het. Daar het dus ‘n onnatuurlike groot groei plaasgevind en ‘n groot organisasie het ontstaan. Let verder op, dat dit nie net die ware Kerk insluit nie, maar ook mense wat net bely dat hulle gelowiges is.(Die meerderheid) Onthou, die Here Jesus self het na Sy volgelinge/ware gelowiges as n klein kuddetjie.
Lukas 12:32 “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”
Voëls is simbolies van die bose. (Daniël 4:20-22 ) Jesus het reeds in die gelykenis van die saaier Mattheus 13:19 gemeld dat die voëls die bose is. So ons merk dan op, dat die kerk ‘n rusplek vir alle tipe boosheid (wat valse leerstellings insluit) geword het, net soos wat die Here voorspel het. (en wat ons huidiglik in die belydende Christendom kan waarneem) Die bose het hulle self kom tuismaak in die belydende kerk. Kyk maar watse verskriklike dade in die naam van Jesus, en onder die vaandel van die kerk/belydende Christendom gepleeg is en nog steeds gepleeg word. Die belydende Christendom is ook deurdrenk met valse leerstellings, wat miljoene mense weerhou om die ware Evangelie te hoor en sodoende gered te word.  

Om hierdie rede is dit belangrik dat ons as gelowiges die ware Evangelie ken en effektief aan ander kan oordra. Mense se siele is op die spel!! derhalwe is persoonlike Bybelstudie van uiterste belang. Ons behoort nie net enige iets as die waarheid te aanvaar, alvorens ons dit binne die korrekte konteks met die Skrifte vergelyk het nie. Miljoene mense word deur valse leerstellings om die bos gelei, omrede hulle alles as vanselfsprekend aanvaar wat aan hulle verkondig word, sonder om dit met die Skrifte te vergelyk. Om so iets te doen stel mens aan ernstige dwaalleerstelling bloot.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.