Joh.3:5

Joh.3:5 en die waterdoop ‘n Skriftuurlike perspektief

Wat het die Here Jesus Christus met die term “water” in Joh.3:5 bedoel?
Joh.3:5 “Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.”
Bostaande vraag is van uiterste belang, omrede die korrekte uitleg van bostaande teksgedeelte gaan bepaal of die waterdoop deel van die Evangelie uitmaak of nie. Daar is groot meningsverskille rondom hierdie vraagstuk, en baie mense glo dat die Here Jesus Christus die waterdoop bedoel het toe Hy bostaande stelling gemaak het. Aan die anderkant, is daar diegene wat beweer dat die Here Jesus Christus nie die waterdoop kon bedoel het nie, omrede die waterdoop ‘n menslike werk is, wat dan sou beteken dat geloof alleenlik nie meer as enigste vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe aan ‘n persoon voorgehou kan word nie. In kort: “Die inhoud van die Evangelie, naamlik wat ons moet glo om die ewige lewe te ontvang, is op die spel!” Boonop is die korrekte uitleg van bostaande teksgedeelte van uiterste belang, omrede dit die verskil tussen ‘n werke evangelie, en die ware Evangelie gaan bepaal, en waardeur die mensdom die ewige lewe deelagtig gaan word of verlore sal gaan. Derhalwe is dit van uiterste belang dat Joh.3:5 korrek geïnterpreteer word, omrede mense se siele is op die spel is! Daar is dus geen middeweg nie!

Die leser word ook aangeraai om die artikel “Die Waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie” te lees, en die beginsels vir Bybelinterpretasie wat daar weergegee is, ook met die bestudering van Joh.3:5 aan te wend, om sodoende te verseker dat Joh.3:5 korrek en binne die korrekte konteks geïnterpreteer word. Soos reeds genoem, is die inhoud van die Evangelie, en dus mense se siele, op die spel!

Ek gaan die hele teksgedeelte vanaf Joh.1:1-18 weergee en dit in gedeeltes opdeel en bespreek, sodat ons die korrekte konteks en betekenis van die term “water” kan bepaal. Ek sal ook dan Skrif met Skrif vergelyk om seker te maak dat my interpretasie nie met ander teksgedeeltes in botsing is nie. Onthou, die Bybel is God se woord en daar kan dus geen teenstrydighede daarin wees nie, anders sou dit beteken dat die Here Homself weerspreek, iets wat nooit kan gebeur nie. Waar dit wil voorkom asof daar ‘n weerspreking in die Skrifte is, moet ons aanvaar dat die probleem by die interpretasie van die Skrifte is en nie in die Skrifte self nie. In gevalle soos hierdie, is dit dan ook ‘n goeie indikasie dat ons, ons interpretasie van ‘n spesifieke teksgedeelte moet aanpas sodat dit nie met enige ander gedeelte in die Skrifte in botsing kom nie. Hierdie beginsel geld veral waar dit by die inhoud van die Evangelie kom, omrede ‘n persoon wat ‘n valse evangelie glo nie wedergebore sal raak nie, maak nie saak hoe sterk sy geloof mag wees nie. Om die verkeerde voorwerp van geloof te hê, is om die merk te mis en sal daartoe lei dat ‘n persoon verlore gaan, indien hy nie die ware Evangelie hoor, verstaan en glo nie. Derhalwe is dit van uiterste belang om die konteks toe te laat om die spesifieke betekenis van die term “water” te bepaal en moet ons daarteen waak om ons eie betekenis in die teksgedeelte van Joh.3:5 in te wil lees.

Nou kan ons na die teksgedeelte gaan en dit bespreek, naamlik:
Joh1:1 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode.2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Opmerking: Die term “ weer gebore” is die sleutel tot die konteks van die hele teksgedeelte, vanaf Joh.1:1 tot en met die einde van Christus se gesprek met Nikodémus. Wat het die Here met Sy stelling bedoel en hoe sou Nikodémus die term “weer gebore” verstaan? En die antwoord vind ons in sy reaksie op Christus se stelling dat hy weer gebore moet raak.

Joh 1:4 “Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?”
Opmerking: Nikodémus verstaan Christus se stelling, dat hy weer gebore moet raak, as letterlik en dink dat hy weer deur die proses van fisiese geboorte sal moet gaan, en noem ook hierdie feit aan die Here. Nikodémus verstaan nog nie dat die Here van geestelike geboorte praat wat slegs deur God bewerkstellig kan word nie. Jesus weet dat Nikodémus Hom nie reg verstaan nie, en dat hy onder die indruk verkeer dat hy weer ‘n keer fisies gebore moes word. Nikodémus het dus die regte konteks verstaan, naamlik ‘n tweede geboorte, maar die wyse waardeur dit sou plaasvind het hy nie verstaan nie. Die Here gaan dan verder, en verduidelik dat ‘n mens uit water en uit die Gees gebore moet word, alvorens so ‘n persoon Sy koninkryk kan binnegaan, net soos wat onderstaande teksgedeelte baie duidelik demonstreer.

Joh.1:5 “Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.”
Opmerking: Die Here stel dit nou duidelik dat daar twee geboortes moet plaasvind alvorens ‘n mens Sy Koninkryk sal kan binnegaan, en meld die twee geboortes, naamlik een uit water en die een uit die Gees. Maar die Here los dit nie daar nie, en verduidelik Sy stelling in meer detail. Onthou, Nikodémus het die konteks reg verstaan, maar hy het die feit dat hy ‘n tweede keer gebore moes word nie mooi begryp nie. Hy was onder die indruk dat die Here die stelling maak dat hy weer ‘n tweede keer in die vlees (of fisies) gebore moes word. Die Here verduidelik egter dat hy uit water en uit die Gees gebore moet word. Dus, twee geboortes. Hy gaan dus verder en verduidelik Sy opmerking in nog meer detail en net hier vind ons die betekenis van die term “water”. (die konteks van die gesprek handel dus oor twee geboortes!)

Joh.1:6 “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”
Opmerking: Die Here los ons nie in die duisternis met wat Hy met die term “water” bedoel het nie. Hy stel dit baie duidelik dat Hy van twee geboortes praat, naamlik die vleeslike en die geestelike. Die water waarna die Here is Joh.1:5 verwys, het absoluut niks met die waterdoop te make nie, maar met die vrou se vrugwater wat eers moet breek alvorens sy geboorte aan haar kind kan skenk. (dus natuurlike/vleeslike geboorte) Dus, moet die kind letterlik uit water gebore word, alvorens hy geestelik gebore kan word, omrede alle mense in sonde gebore word. (onthou die konteks!) Ons moet ook die konteks toelaat om die betekenis van die term “water” te bepaal en nie ons eie betekenis aan die term afdwing nie! Baie mense neem verkeerdelik aan dat die term water, die waterdoop beteken, maar om dit te doen is om die konteks waarin die term “water” in voorkom te verontagsaam, wat ernstige mistasting tot gevolg het. Niemand word deur die waterdoop gebore nie! Nie fisies of geestelik nie! Die term “water” en die term “vlees” verteenwoordig dieselfde gedagte, naamlik vleeslike/natuurlike geboorte. Die term “weer gebore” en die term “Gees” verteenwoordig dieselfde gedagte, naamlik wedergeboorte. In hierdie konteks is dit dus onmoontlik dat die term “water” die waterdoop kan verteenwoordig. Die woord “doop” kom geensins in hierdie hele gesprek tussen die Here en Nikodémus voor nie!

Joh.1:7 “Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.”
Opmerking: Die Here gaan nou verder en verduidelik in nog meer detail wat Hy bedoel het. Slegs mense kan fisies gebore word (in sonde) en dan weer geestelik gebore word, (wedergeboorte) en dus twee geboortes. Engele skenk nie geboorte nie en kan ook nie wedergebore raak nie. Slegs die mens skenk natuurlike geboorte en slegs die mens kan geestelik wedergebore raak. Die Here gaan verder en maak hierdie feit baie duidelik en stel dit aan Nikodémus dat hy nie homself oor hierdie feit moet verwonder nie! En noudat die Here die fisies/menslike/natuurlike geboorte verduidelik het, gaan Hy voort en begin die Geestelike geboorte te verduidelik.

Joh.1:8 “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.”
Opmerking: Anders as met natuurlike/fisiese geboorte, is wedergeboorte nie ‘n waarneembare proses soos natuurlike geboorte nie, net so min as wat mens die wind kan raaksien. Mens kan egter soms die gevolge van die wind se werking waarneem, maar die wind word nooit met die menslike oog waargeneem nie. Dieselfde beginsel geld vir wedergeboorte! Wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, ontvang hy onmiddelik die Heilige Gees en word deur die Heilige Gees verseël.
Ef.1:3 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,” (en om hierdie rede is dit van uiterste belang om die ware Evangelie te hoor, verstaan en glo!)
Die proses van wedergeboorte is egter nie met die menslike oog waarneembaar nie, maar die gevolge van wedergeboorte mag in die vorm van die Geestelike vrugte in die gelowige se lewe waarneembaar word.
Gal. 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Ef.5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”

Joh. 5:9 “Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur?”
Opmerking: Nikodémus begin nou vir die eerste keer werklik verstaan dat die Here van twee geboortes praat, naamlik die menslike geboorte en die geestelike geboorte. Onthou, ons moet die konteks, asook die vloei van die gesprek in ag neem, anders gaan ons ernstige foute begaan, en gaan dit beteken dat ons, ons eie opinies in God se woord inlees en Hom nie toelaat om vir Homself te praat nie! (Konteks, konteks, konteks!) Die Here gaan nou voort en begin vir Nikodémus verduidelik hoe wedergeboorte kan plaasvind.

Joh.3:10 “Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? 11 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. 12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? 13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. 14 En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Opmerking: Nou verduidelik die Here hoe Hy wedergeboorte gaan bewerkstellig, deurdat Hy gaan toelaat dat Hy gekruisig word en sodoende versoening vir die mensdom se sondes aan die kruis gaan doen. Dit is die doelwit van Sy eerste koms! Die Here Jesus Christus het aarde toe gekom om aan die kruis vir die mensdom se sondes te sterf en op die derde dag weer uit die dood uit op te staan. En wat is die mensdom se aandeel in die hele proses? Absoluut niks, behalwe om die geskenk van die ewige lewe as geskenk by God deur geloof in Christus alleenlik te ontvang. Dit is opmerklik dat die Here absoluut niks van die waterdoop, as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe, hier weergee nie. ‘n Ernstige weglating indien die waterdoop ‘n vereiste by geloof in die Evangelie vir die ontvangs van die ewige lewe is. (die enigste vereiste wat die Here hier weergee is geloof!)

Op ‘n latere stadium gedurende Sy aardse bediening het die Jode die Here gevra watse werke hulle moet doen om die ewige lewe te ontvang, naamlik:
Joh.6: 27 “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël. 28 Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Indien daar ooit ‘n geleentheid was om waterdoop, as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe, weer te gee was dit by hierdie geleentheid. Die Here doen dit egter nie en vereis slegs geloof in Hom as die vereiste om die ewige lewe te ontvang! Indien God slegs geloof in die Evangelie vir die gawe van die ewige lewe vereis, wie is die mens dat hy God die heeltyd wil beledig, deur sy werke by Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis te wil voeg, en sodoende sy eie verlossing te bewerkstellig?

Noudat ons Joh.3:5 binne die korrekte konteks bestudeer het, is dit belangrik om ons gevolgtrekking met die res van die Skrifte te vergelyk om seker te maak dat ons nie ‘n fout begaan het nie. Die Skrifte stel dit keer, op keer, dat die mens op grond van God se genade deur geloof alleenlik, sonder die doen van enige werke van die mens se kant af, verlos word! Ek gaan slegs ‘n paar teksgedeeltes hier weergee, naamlik:
Gal.2: 21 “Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.
Gal.5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.
Ef.2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”

Vervolgens ‘n paar feite om in gedagte te hou:

1. Die gesprek wat ons in Joh.3:5 tussen die Here en Nikodémus vind, het vroeg tydens Christus se aardse bediening plaasgevind, lank voordat Hy die waterdoop in Sy naam ingestel het. Die term “water” wat ons in Joh.3:5 vind kan nie die waterdoop beteken nie.

2. Die term “water” word wel in Joh.3:5 gevind, maar die term “doop” word nêrens in die hele gesprek met Nikodémus genoem nie. ‘n Term wat mens van die Here sou verwag, ingenome die feit, dat Hy wel die term “doop” gebruik het toe Hy die waterdoop later tydens Sy aardse bediening aan Sy dissipels bekendgestel het.

3. Indien die Here die waterdoop in Joh.3:5 in gedagte gehad het, sou mens kon verwag dat Hy die term “doop” sou aanwend, omrede Hy God is, en sou weet dat die term “water” misverstaan sou word en verkeerdelik as vereiste by geloof vir die ontvangs van die Evangelie ingelas sou word. Hy gebruik egter die term “water” wat met natuurlike geboorte ooreenstem en nie met wedergeboorte of geestelike geboorte nie. (Hy vermy dus bewustelik die term “doop” en gebruik die term “doop” en nie “water” nie, toe Hy die waterdoop vir die eerste keer aan Sy dissipels bekend gestel het.

4. Onthou, die Bybel is ‘n progressiewe openbaring van die Here se woord aan die mensdom. Ons moet daarteen waak om gedeeltes buite die korrekte konteks, en tydsverloop, uit te haal en dit op ander teksgedeeltes af te dwing sonder om hierdie feite in ag te neem.

5. Die Bybel is God se woord en Hy kan Homself nie weerspreek nie. Waar dit wil voorkom of daar weersprekings is, moet ons besef dat die fout by ons interpretasie van die spesifieke teksgedeelte lê en nie in God se woord is nie. Soos alreeds in hierdie artikel gedemonstreer, word die mens op grond van God se genade deur geloof in Christus alleenlik verlos. (sonder die doen van enige menslike werke.) ‘n persoon wat sy eie heil, deur goeie werke wil bewerkstellig verdoem homself tot die ewige verderf! Onthou, Geloof in Christus (se Persoon en voltooide werk aan die kruis, en Sy opstanding vanuit die dood = die ewige lewe. Werke alleenlik, asook werke + geloof = ewige verderf! (Lees asb die artikel “Die waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie.”)

6. Die konteks waarin ons Joh.3:5 vind, handel oor twee geboortes en geensins oor die waterdoop nie. Om waterdoop in Joh.3:5 te wil inlees, is om die konteks te ignoreer wat tot ‘n werke evangelie sal lei, wat mense in die ewige verderf sal werp. (Onthou die Evangelie van God se genade, asook mense se siele is op die spel!)

7. Die ordinasie van die waterdoop is op sigself bloedloos en die Bybel stel dit egter baie duidelik dat sonder die vergieting van bloed daar geen vergifnis vir sondes is nie!
Heb.9:22 “En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.”

8. Die apostel Paulus, onder inspirasie van die Heilige Gees, het dit duidelik gestel dat die waterdoop nie deel van die Evangelie uitmaak nie!
1Kor.1:17 “Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.”
Indien die waterdoop deel van die Evangelie uitmaak, dan het die Here ‘n ernstige fout begaan om vir Paulus te tuur om ‘n Evangelie, waarvan die waterdoop nie deel vorm nie, te verkondig! So iets is onmoontlik en die hele leerstelling van doopsaligheid behoort op grond van hierdie enkele feit alleenlik heeltemal verwerp te word! Wat meer kan God in Sy woord aan ons opteken, wat mense sal oortuig dat die waterdoop nie deel van die Evangelie is nie

Ter Afsluiting: Dit is ons plig om seker te maak dat ons die Evangelie ken en korrek verkondig. Mense se siele is op die spel! Die duiwel gebruik, as een van sy mees suksesvolle wapens, ‘n valse evangelie wat op menslike werke berus om miljoene godsdienstige mense hel toe te sleep! (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Die gelowige se posisie in Christus vs sy optrede” asook “ Godsdiens vs Verlossing” te lees.) Die leerstelling van doopsaligheid kom van Satan af en moet heeltemal verwerp word! Niemand word uit die waterdoop wedergebore nie! Ons almal gaan voor Christus staan en sal moet rekenskap vir ons lewens gee. Dit geld veral vir die leerstellings wat ons verkondig, omrede die Here lief vir die mensdom is en alles in Sy vermoeë gedoen het om hulle te verlos. Al wat die mens moet doen, is om die Evangelie te glo! Niks anders nie!

Om werke by slegs geloof in die Evangelie, as vereiste vir wedergeboorte, te verkondig is om die Here se Persoon en voltooide werk aan die kruis te bespot en mense tot die ewige verderf te lei. Onthou, verlossing is wat God, in Sy liefde, vir die mens doen, nie wat die mens vir God kan doen nie! Om hierdie rede moet ons seker maak wat ons glo, alvorens ons dit as leerstellings aan ander wil verkondig. Dit geld veral sover dit die Evangelie van God se genade aanbetref! Hierdie stellig geld veral vir mense wat voltyds in die bediening staan. Ons moet ons aan Bybelstudie toewy en seker maak dat ons weet, en verstaan wat God deur ons aan ander wil oordra!
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die King James vertaling stel hierdie teksgedeelte baie mooi, naamlik:
“Study to shew thyself approved unto God, a workman that needeth not to be ashamed, rightly dividing the word of truth.”

Indien ons ‘n werke evangelie verkondig, en mense gaan a.g.v. ons woord die ewige verderf binne dan is daardie mense se bloed op ons hande! (dink mooi oor hierdie stelling na!)
Rom.11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie
Rom. 5:1 “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; 2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.”

Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike (volledige) sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.