leërmag

Wie of Wat is die hele Leërmag in Genesis 2:1?

Vraag: Hi Vic, glo dit gaan goed met jou! Weer een strik vraag vanaand by Bybel studie. Gen 2:1 – wie is die “ganse leërmag” 

Antwoord: Ek gaan eerstens die teksgedeelte aanhaal:
Gén 2:1 “ So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2:2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.”
Hiermee haal ek graag Strong’s se definisie van die term “leërmag” in Engels aan, naamlik: “צָבָא tsâbâʼ, tsaw-baw’; or (feminine) צְבָאָה tsᵉbâʼâh; from H6633; a mass of persons (or figuratively, things), especially reg. organized for war (an army); by implication, a campaign, literally or figuratively (specifically, hardship, worship):—appointed time, (+) army, (+) battle, company, host, service, soldiers, waiting upon, war(-fare).”
Dus kan die term leërskare meer as een betekenis weergee en derhalwe moet die omliggende konteks toegelaat word om die korrekte betekenis van die gegewe woord te bepaal.

As voorbeeld gaan ek Neh. 9:6 en 1Kon. 22:19, waar hierdie woord ook aangetref word, binne die korrekte konteks probeer uitlê, en toelaat dat die konteks die korrekte betekenis van die Hebreeuse woord bepaal. Die 1953 Afrikaanse vertaling vertolk korrek die Hebreeuse woord “tsaba’” as leërskare en leërmag afsonderlik. Kom ons gaan nou na bogenoemde teksgedeeltes.
Neh 9:6 “U is alleen die HERE, U het die hemel, (aarde se atmosfeer) die hoogste hemel (die buitenste ruimte) en al sy leërskare, (Hebreeus “tsaba’” = planete en sterre) gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër (Hebreeus “tsaba’” = Engele) van die hemel buig hulle voor U neer.”
Dus moet mens die konteks gebruik om die regte betekenis van die gegewe woord te bepaal. Nog een teksgedeelte waar die woord ‘tsaba” in voorkom:
1Kn 22:19 “Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die HERE: Ek het die HERE sien sit op sy troon terwyl al die hemelse leërskare (Hebreeus “tsaba’” = Engele) by Hom staan, aan sy regter— en aan sy linkerhand.”
Dus, deur die gebruikmaking van die konteks waarin die woord “leërskare” voorkom om die betekenis van die woord te bepaal, is dit redelik maklik om te sien dat die Bybel in hierdie geval na engele verwys en nie na planete nie.

Nou weer terug na Gen. 2:1. Ek glo derhalwe dat Gen.2:1 na alles wat God geskape het verwys, wat engele sowel as planete en sterre insluit, omrede die konteks waarin Gen. 2:1 in voorkom, dit duidelik stel dat die Here Sy Skepping (die Heelal, en alles wat daarin is, asook die engele sowel as planete en sterre insluit) in ses letterlike 24 uur dae voltooi en op die sewende dag gerus het.
Gén 2:1 “ So is dan voltooi die hemel (wat die hemel, [aarde se atmosfeer], sowel as die hoogste hemel ( [die buitenste ruimte] Sien Neh 9:6 soos soos alreeds vroeër aangehaal.) en die aarde met hulle (Let wel, die hemele en die aarde het elk sy eie afsonderlike leërmag.) ganse leërmag. (Hebreeus “tsaba’” Die hemele se leërmag sal die sterre en planete, asook die engele insluit. Die aarde se leërmag sal die mensdom, in hierdie geval Adam en Eva, asook alle dierelewe en plantelewe insluit.)
2:2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.”
Dus, glo ek dat die konteks waarin hierdie teksgedeelte staan die hele Skepping aandui en dit sluit die engele en sterre en planete in.

Ek hoop my antwoord beantwoord jou vraag.

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.