Covid-19

Covid-19 en God se oordeel op die wêreld

Omrede daar soveel vra rondom Covid-19 ontstaan het, sal met die skryf van hierdie artikel gepoog word om vanuit ‘n suiwer Skriftuurlike perspektief na die huidige gebeure rondom Covid-19, en die vraag of Covid-19 deur God aangewend word om die wêreld vir hulle boosheid te straf te beantwoord. Daar word huidiglik baie opinies aangaande hierdie onderwerp gemaak en sommige daarvan is selfs belaglik. Om hierdie rede is dit belangrik om die Covid-19 vraagstuk vanuit ‘n gesonde Bybelse oogpunt te nader, en boonop moet die fokus nie van die dispensasie waarin ons leef, naamlik die Dispensasie van Genade/Kerk losgemaak word nie. Slegs wanneer ons al die feite in rekening bring, kan ons met met enige mate van sekerheid ‘n Skriftuurlike opinie formuleer. Iets wat ons ook aangaande die Covid-19 vraagstuk sal doen.

Is die Covid-19 virus God se eskatologiese oordeel oor ons nasie en die wêreld se sonde: Vir die antwoord van hierdie vraag is dit van uiterste belang om Dan.9:27 te bestudeer, omrede dit kortliks aan ons ‘n oorsig van die Dag van die Here, wat met Sy eskatologiese oordeel van die wêreld begin, en op ongekende seën met Sy wederkoms sal eindig.
Dan.9:27 “En hy (die Antichris) sal een week lank met baie (met die meerderheid van die volk Israel) ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, (die Antichris sal teen die middel van die Verdrukking, met die aanbreek van die Groot Verdrukking, die Joodse offergawes, in die herstelde tempel stopsit, en die allerheiligste binnegaan en dit ontheilig deur homself as god te verklaar.) en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.” (Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasies genaamd “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking” asook die illustrasie “Sewe Dispensasies” deeglik te bestudeer.)

Die eskatologiese oordeel van die wêreld word egter binne die konteks van ‘n spesifieke tydperk van die wêreld se geskiedenis beperk, wat met die Antichris se tekening van ‘n vredeverbond met Israel begin, en wat deur sy ontheiliging van die tempel teen die middel van die Verdrukking gevolg sal word, en waarna die Antichris se heerskappy met Christus se wederkoms aarde toe tot niet gemaak sal word. Dit is in hierdie raamwerk van tyd waarin die Bybel God se eskatologiese oordeel van die wêreld plaas en nie voor die tyd nie. Vir enige persoon om die stelling te maak dat God besig is om die wêreld vir hulle sondes te straf, beteken dat daardie persoon verklaar dat hy ‘n buite Bybelse openbaring by God ontvang het, wat egter met die Bybelse raamwerk waarin God se eskatologie oordeel van die wêreld weergegee word, in botsing is. Die Skrifte stel dit duidelik dat God met die aanbreek van die verdrukking Sy oordele op die wêreld gaan uitstort en daarom merk ons dat dit juis tydens die verdrukking is wanneer God die Seël, trompet en skaal oordele op die aarde uitstort. (Open.6-18) Bestudeer asb weer aangehegde illustrasie genaamd “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking” asook die illustrasie “Sewe Dispensasies” Volgens die Bybel is daar ‘n spesifieke tydperk vasgestel wanneer God die wêreld in geheel vir hulle boosheid gaan straf en daardie tyd staan as die Verdrukking bekend. Ons leef egter nog nie in daardie tydperk nie, maar eerder in die Dispensasie van Genade.

Die Heilige Gees as Teëhouer moet eerstens uit die wêreld verwyder word?: Voordat die dag van die Here, wat met die Verdrukking begin, kan plaasvind, en wanneer Hy Sy oordele op ‘n goddelose wêreld gaan uitstort, moet die Heilige Gees, wat d.m.v. die Kerk die verskyning van die Antichris teëhou, met die wegraping uit die weg geruim word.
2Thess.2:1 “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval (wegraping) kom en die mens van sonde (die Antichris) geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6 En nou, julle weet wat hom teëhou, (die Heilige Gees wie d.m.v. die Kerk die Antichris se verskyning teëhou) sodat hy op sy tyd (‘n Tyd wat God bepaal het) geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, (na afloop van die Groot Verdrukking met Christus se wederkoms aarde toe om Sy Duisendjarige Vrederyk op aarde op te rig.) 9 hy (die Antichris) wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”

Die Dispensasie van die Kerk kom tot ‘n einde slegs wanneer die wegraping plaasvind en dan volg daar ‘n oorgangstydperk (wat van weke tot selfs dekades kan duur) wanneer die Antichris sy politieke opmars begin maak, en sy magsposisie tot so ‘n mate sal versterk, dat hy in ‘n posisie sal wees om ‘n vredesverdrag met Israel af te dwing. Boonop sal hy militêr in ‘n baie sterk posisie moet wees, alvorens die Israeliese weermag daarvan oortuig sal wees om die verdediging van hulle land in sy hande te los, en dat hy ook oor die militêre mag beskik om daardie vredesverdrag suksesvol te eerbiedig. (Anders sal die Israelies baklei en ons weet byvoorbeeld dat hulle oor ‘n stewige arsenaal kernwapens beskik) Ons bevind ons egter nog nie in daardie tyd nie, omrede die wegraping nog nie plaasgevind en die Dispensasie van Genade/Kerk nog nie tot ‘n einde gekom het nie.

Die Dispensasie van Genade/Kerk is nog nie afgehandel en die Verdrukking het nog nie aangebreek nie: Omrede die wegraping, en die aanbreek van die Verdrukking nog nie plaasgevind het nie, is dit volgens my beskeie mening verkeerd om te verklaar dat God die Covid-19 virus gebruik om die wêreld te oordeel. Al wat mens deesdae hoor is Covid-19, Covid-19 Covid-19 en hoe die Here besig is om die wêreld te straf. Maar hierdie tendens geld nie net vir die uitbreek van die Covid-19 virus alleenlik nie. Elke keer as daar ‘n natuurlike ramp of nuwe epidemie uitbreek, dan is daar mense, en veral sogenaamde profete, wat verklaar dat God die wêreld (of nasie) a.g.v. hulle boosheid oordeel. Dieselfde beginsel geld vir wanneer daar droogte in ons land is. Hierdie mense ignoreer egter die werklike hoofrede waarom ons al hierdie dinge en meer beleef. Om te beweer dat God die Covid-19 virus gebruik om die wêreld te oordeel is om stellings, wat buite die perimeters wat die Bybel daarstel, te maak.

Wat is dan die oorsaak van die Covid-19 epidemie?: Die antwoord vind ons in die Skrifte, en is heel eenvoudig! Ons beleef huidiglik die Covid-19 en siekte epidemies, (en fisiese dood) omrede ons nog in ‘n gevalle skepping leef wat nog onder die vloek van God verkeer. In Gen. 3:1-5 vind ons waar Satan die mens d.m.v. die slang met sonde versoek. In Gen.3:6 vind ons die sondeval. In Gen.3:6-13 vind ons die gevolge van die mens se sonde. In Gen.3:14-19 vind ons God se oordeel vir Adam en Eva se sonde en in Gen.3:20-24 vind ons God se genade ten spyte van die sondeval.

Die leser word aangeraai om die bostaande teksgedeeltes self deur te lees. Vir die doeleindes van hierdie artikel gaan slegs die teksgedeeltes, wat direk van toepassing vir hierdie artikel is, aangehaal en weergegee word. Ons gaan spesifiek op God se oordeel van sonde fokus. Nadat die sondeval plaasgevind het, het die Here in chronologiese orde almal wat by die val betrokke was geoordeel en hulle straf uitgespreek. Die slang se oordeel vind ons in Gen.3:14-15 wat nie vir die doeleindes van hierdie artikel terspraaklik is nie. Daarna volg God se oordeel van die vrou, soos gevind in Gen.3:16, wat ook nie hier terspraaklik is nie. In Gen.3:17-19 vind ons Adam se oordeel, naamlik:
Gen.3:17 “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
Net soos wat Adam, wie as God se verteenwoordiger oor die aardse gedeelte van God se Universele Koninkryk moes regeer het, teen God gerebelleer het, sou die skepping ook nou teen die mens in opstand kom. Van nou af sou hy met moeite eet en sou die aarde ook dorings en bossies voortbring. Net soos wat die mens geestelike gesterwe het, (die oomblik toe hy teen God gerebelleer het en van die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het) sal hy ook nou fisies tot sterwe kom. Smart, siekte, lyding en fisiese dood sou nou deel van sy bestaan vorm.
Gen.3:19b “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
Derhalwe ly die mens nie net a.g.v. geestelike kwale nie, maar ly hy ook a.g.v. fisiese kwale, waarvan die verouderingsproses, en siekte epidemies, deel van vorm wat uiteindelik in liggaamlike dood eindig. (dit sluit siekte wat a.g.v. Covid-19 ontstaan in)

Dit is hier waar ons natuurlike rampe en siekte epidemies (wat Covid-19 insluit) tydens die Kerk Dispensasie moet plaas. Paulus bevestig hierdie feit in die brief van Romeine, naamlik:
Rom.8:18 “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. 19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. 20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. 24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?”

‘n Dispensasionele verandering het plaasgevind:Die Kerk en Israel moet nie met mekaar verwar word nie. Ons bevind ons huidiglik in die Kerk Dispensasie, nie die Dispensasie van die Wet nie. Onder die Dispensasie van die Wet het God hoofsaaklik deur ‘n nasie, naamlik Israel gewerk. Met die kruisiging van Christus het daar ‘n dispensasionele verandering plaasgevind en nou werk die Here hoofsaaklik deur die Kerk. Ons moet nie Israel met die Kerk verwar nie. Die twee groepe is radikaal verskillend en die Kerk is nie Israel nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” asook “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie” te lees. Ons kan byvoorbeeld nie die vloeke en seëninge wat ons in Deuteronomium, wat God met Israel tydens die Dispensasie van die Wet aangegaan het na die Kerk Dispensasie oordra en dan daarvolgens bid en verwag dat God dit moet eerbiedig nie. Nêrens in die Bybel vind ons dat God ‘n voorwaardelike verbond met die Kerk aangegaan het nie. Iets wat Hy wel met die volk Israel gedoen het. Ek praat hier met ‘n verbond wat God met ‘n spesifieke nasie aangegaan het en nie wat ‘n nasie met God aangegaan het nie. God het die verbond met die volk Israel geïnisieer, nie andersom nie. God werk nou deur die ware Kerk, wat uitsluitlik uit wedergebore persone bestaan, nie met Israel wat uit gelowiges sowel as ongelowiges bestaan het nie. Israel as nasie, wie onder die Dispensasie van die Wet gelewe het, kon verwag om van pessiektes, droogtes en ander rampe verlos te word indien hulle, hulle kant van die verbond nagekom het. Dieselfde beloftes is egter nie aan diegene wie onder die Dispensasie van die Kerk/Genade leef gemaak nie.

Derhalwe sal ons vind dat gelowiges, wie in die Dispensasie van Genade/Kerk leef, net so vatbaar vir pessiektes as die ongelowige mense rondom hulle is. Slegs indien dit God se wil is dat ‘n spesifieke gelowige nie deur ‘n spesifieke epidemie aangetas sal word nie, kan daardie persoon verwag om van daardie spesifieke epidemie gevrywaar te wees. En hierdie beginsel geld vir alle epidemies nie net vir Covid-19 nie. Gelowiges, net soos ongelowiges, gaan aan siektes soos kanker, hartkwale, malaria, ensovoorts dood. Nie slegs ongelowiges nie. (Covid-19 is geensins anders nie. Ons beleef Covid-19 en ander siektes omrede die wêreld nog onder God se vloek verkeer wat a.g.v. die sondeval op die fisiese skepping geplaas is. En hierdie feit sluit ons fisiese liggame in. (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, het nog nie plaasgevind nie en derhalwe is ons nog nie met ons onsterflike verheerlikte liggame oorklee nie.) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Waarom gaan gelowiges nog steeds dood?” asook die artikel “Drie fases van verlossing” te lees.) Kyk maar hoeveel van die sogenaamde geloofsgenesers sterf self aan kanker en ander kwale en dit terwyl hulle beweer hulle kan ander mense genees. (Die leser word aangeraai om die artikels “Genees en Genesing tydens die Post Apostoliese Tydperk” asook “Genesing ‘n Skriftuurlike Perspektief” te lees) Hierdie beginsels geld vir Covid-19 ook. Baie mense neem teksgedeeltes buite konteks aan, en hou dit dan as belofte aan ons, wie tydens die Kerk Dispensasie leef, voor asof God nou verplig is om hierdie beloftes, wat slegs aan die nasie Israel, wie onder die Dispensasie van die Wet geleef, gemaak is en pas dit nou op mense wie tydens die Dispensasie van Genade/Kerk leef toe. Oom Angus Buchan is een so ‘n persoon wie geneig is om teksgedeelte buite konteks aan te haal en aan die Kerk oor te dra. Een so voorbeeld vind ons in 2Kron.7:14 naamlik:
2Kron.7:14 “en my volk, (Israel) oor wie my Naam uitgeroep is, (daar is slegs een volk met wie God ‘n verbond aangegaan het en dit is die volk Israel) hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land (‘n spesifieke geografiese gebied op aarde waarvan die Israeliese grondgebied van vandag ‘n deel van uitmaak. Nie die Suid Afrikaanse grondgebied nie!) genees.”

Die Skrifte stel dit ook duidelik dat bostaande teksgedeelte eers volkome na die afloop van die Groot Verdrukking, wanneer die Here Jesus Christus met Sy wederkoms Israel tot die hoof van die nasies sal verhoog en hulle buitengewoon sal seën. Hierdie gebeure sal slegs plaasvind wanneer Israel teen die einde van die Groot Verdrukking totale uitwissing in die oë staar en dan sal hulle eers die Here Jesus Christus hulle ware Messias om hulp aanroep.Bogenoemde beloftes is aan die nasie Israel, wie onder die Dispensasie van die Wet gelewe het, gemaak nie aan die Kerk, wie tydens die Dispensasie van Genade lewe nie! Onthou, konteks, konteks, konteks!

Wat kan ons uit die Covid-19 epidemie leer?:

  • Covid-19 is nie naastenby die ergste epidemie wat die wêreld al getref het nie. Die Swart Dood, (Swart Plaag) om maar net een voorbeeld te noem, wat Eurasië en Noord-Afrika tydens 1347 tot 1351 getref het (en wat later weer uitgebreek het) was baie erger as wat Covid-19 huidiglik is. In hierdie opsig kan Covid-19 nie as ‘n uitsonderlike gebeurtenis beskou word nie. (Ja, en gelowiges het ook in hierdie epidemie omgekom.) Solank as wat ons in ‘n gevalle wêreld bly sal ons maar altyd met die een of ander virus, siekte of epidemie worstel.
  • Wat die Covid-19 epidemie wel anders maak, is nie die sterftesyfers nie, maar eerder die wêreld se reaksie op die epidemie. Die wêreld soos wat ons dit ken, is onherroeplik deur die reaksie op Covid-19 verander en hierdie feit sal met tyd al hoe duideliker word. (Hierdie onderwerp sal in die volgende artikel meer breedvoerig bespreek word.)
  • Tydens die Kerk Dispensasie werk die Here hoofsaaklik deur die kerk, wie uit alle wedergebore persone bestaan, nie deur ‘n spesifieke nasie nie. Die Kerk is nie ‘n nasie nie. Indien daar beweer word dat God die wêreld, of ‘n spesifieke nasie, vir hulle sondes straf, moet so ‘n persoon bo enige twyfel kan bewys dat slegs ongelowiges, (of ongehoorsame gelowiges) deur Covid-19 aangetas word. Vir ‘n gelowige wat Geesvervuld is en die Here gehoorsaam dien, om dan met Covid-19 besmet te word, sou beteken dat God so ‘n persoon onregverdiglik straf vir ‘n sonde wat hy nie gepleeg het nie.
  • Covid-19, as epidemie, sal die een of ander tyd iets van die verlede wees, maar daar gaan binne kort ‘n tyd kom wanneer God Sy grimmigheid, tydens die Verdrukking, op die wêreld vir hulle goddeloosheid gaan uitgiet, en dan sal daar geen oplossing vir die krises wees nie en sal nie slegs miljoene mense hulle lewens verloor nie maar eerder biljoene.
    Mat.24:7 “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
    Openb.6:7 En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! 8 En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”
  • Die Bybel stel dit duidelik dat boosheid sal toeneem wat tot die verskriklike oordeel van die Verdrukking aanleiding sal gee. (En dit sluit alle nasies in!) Ons sien orals dat goed sleg genoem, en sleg goed genoem word. Dwaalleerstellings en wêreldgesindheid het die Kerk tot ‘n groot mate binnegedring en groot gedeeltes van die belydende Christendom bevind hulle onder die invloed van selfaangestelde valse apostels en profete wat leerstellings verkondig wat met die Bybel in botsing is. (een sodanige groep is die Nuwe Apostoliese Reformasie) Ons kan verwag dat hierdie tendens sal toeneem (omrede die Bybel dit voorspel) en daarom is dit van uiterste belang om slegs die Bybel te gebruik om ons leerstellings te bepaal. (Die leser word aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?” te lees)

Ter Afsluiting: Al wat ons tydens die Covid-19 krises kan doen is om te bid en alle voorsorgmaatreëls (binne ons vermoë) te tref om nie deur die Covid-19 virus aangetas te word nie, en die saak dan in Sy hande te los. Daarbenewens moet ons besig wees met wat Hy ons beveel het om te doen, en veral soos wat ons die einde van die Kerk Dispensasie sien nader kom.
Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Matt.28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Ons moet besef dat alles in God se hande is en dat Hy volkome in beheer van sake is, (dit sluit die wêreld se geskiedenis en die Covid-19 epidemie in) en dat Hy besig is om hierdie wêreld se geskiedenis tot ‘n besliste punt te bring en dat daar niks sal gebeur wat Hy nie toelaat nie. Ons lewe egter in ‘n gevalle wêreld, en ons almal beleef op die een of ander wyse die gevolge van die vloek, en daarom moet ons streef om die Evangelie met almal te deel, sodat die Here ons met die Wegraping kan kom haal, wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee sal word en sodoende van die gevolge van die vloek bevry kan word. Vir die res van die bewoners van die aarde, sal die vloek egter eers met Christus se wederkoms en die Duisendjarige Vrederyk gedeeltelik gelig word, en dan finaal met die aanbreek van die ewigheid in die nuwe hemel en aarde gelig wees.
Openb.22:20 “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! 21 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.”

Seën groete

Vic

Deel met ander asb.