bekeer

Bekeer, of bekering, is nie reformasie in eie krag nie

Dit is van uiterste belang om te besef wat bekering (of om te bekeer) werklik volgens die Bybel beteken. Die twee primêre woorde, wat in verband met verlossing, in die Nuwe Testament, vir bekering gebruik word, is die Griekse woorde “metanoia” en “metanoeδ” (“meta” beteken “na” en “noeδ” beteken “gedagte”) wat basies beteken, om van gedagte of opinie te verander, of om te heroorweeg. Dus moet die konteks waarin die woord “bekeer” gebruik word, toegelaat word om te betrokke betekenis van die woord te bepaal. As ek byvoorbeeld sê dat jy moet “bekeer”, dan moet jy vra: “Bekeer van wat?” Omrede daar baie dinge in die lewe is waarvan jy kan bekeer wat absoluut niks met wedergeboorte te doen het nie. Ek kan bv van jou verwag om te bekeer (van sienswyse verander of heroorweeg) om vir enige span behalwe die Blou Bulle te skreeu. Dus moet die konteks waarin die term “bekeer” gebruik word, die betekenis in verband met die woord “bekeer” bepaal. Waar die woord “bekeer” in terme van verlossing/wedergeboorte in die Bybel gebruik word, handel die konteks altyd om vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof, in Christus, te beweeg/bekeer. Dit word nooit van die gelowige verwag, om homself van alle sondes te reinig, of om op te hou sonde doen, alvorens hy die ewige lewe as geskenk kan ontvang nie. Slegs geloof in die Here Jesus Christus (Wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis insluit, naamlik die Evangelie) word as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe aan ‘n persoon voorgehou. Niks anders nie! Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit belangrik dat die leser die drie fases van ons verlossing ken, en verstaan en derhalwe word die leser ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees asook die meegaande illustrasie sorgvuldig te bestudeer.)

In ‘n poging om ‘n term of leerstelling te omskryf en te verduidelik, is dit soms uiters voordelig om te beskryf wat daardie term of leerstelling nie beteken nie. Die rede vir hierdie tegniek is die feit dat die kontras tussen die twee stellings ‘n persoon help om die onderwerp wat bespreek word, in ‘n duideliker lig te sien en derhalwe kan dit met die begryp en verstaan van die onderwerp help . Ek gaan dus ook van hierdie tegniek in die volgende reeks artikels, wat oor die onderwerp van bekering handel, gebruikmaak om my sienswyse duidelik te stel. (Hierdie onderwerp is van uiterste belang, omrede mense wat goeie werke, en ophou sonde pleeg, as vereiste by slegs geloof in die Evangelie vir wedergeboorte voeg, is in my opinie, besig om ‘n ander evangelie as die ware Evangelie te verkondig, en wat in baie gevalle die deure van die ewige lewe in ongeredde mense se gesigte toeklap.) Omrede mense se ewige lot op die spel is, is dit van uiterste belang dat ons slegs God se woord moet gebruik om ons leerstellings te bepaal, en die betekenis van woorde binne die raamwerk, van toe dit op Skrif gestel is, te ondersoek, want terme en betekenisse van woorde verander oor lang tydperke en soms kan dit tot groot misverstande en selfs dwaalleerstelling lei. Om hierdie rede is dit belangrik om van die konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese Bybel interpretasie metode gebruik te maak, om seker te maak dat ons weet wat God werklik in Sy woord aan ons wil sê. Die term “bekeer” word deesdae soms in ander terme, as wat die Bybelskrywers die term gebruik het, aangewend, en dit lei soms tot foutiewe gevolgtrekkings en self dwaalleer.

Bekering is nie reformasie nie: Die Here Jesus Christus het hierdie feit baie duidelik gestel toe Hy die onderstaande stelling gemaak het, naamlik:
Luk 11:24 “Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. 11:25 En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. 11:26 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.”
Toe die bose gees hierdie persoon verlaat het, het hierdie persoon sy eie lewe gereformeer, deurdat hy sy huis uitgevee en versier het, en selfs van die bose gees ontslae laat kry het. Dus is dit heel moontlik dat hierdie persoon vir buitestaanders skaflik en selfs godsdienstig mag voorkom, maar die feit van die saak is dat hierdie persoon nooit wedergebore is nie. Hy kon dalk van sekere van sy sondes afstand gedoen het (en daar is baie mense in alle gelowe wat dit soms tot ‘n groot mate regkry.) en self die bose gees het hom verlaat. Buitestaanders (en hierdie persoon self) mag verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hierdie persoon werklik wedergebore is, en sy saak dus met die Here reg is. Die feit van die saak is, dat hierdie man in werklikheid van binne leeg was. Derhalwe het die bose gees wat hom verlaat het, terug gekom en sewe ander bose geeste, wat erger as hyself was, saamgebring en die man hulle tuiste gemaak. Nou is die persoon in werklikheid erger af as voorheen toe daar net een bose gees hom bewoon het. Die persoon se enigste oplossing vir sy dilemma, is om vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof in Christus te bekeer.

Wanneer enige persoon wat verkondig dat bekering, in terme van verlossing/wedergeboorte, persoonlike reformasie in eie krag; of om op te hou sonde pleeg; of om genoegsame spyt, trane of hartseer vir sonde op te werk, ensovoorts vereis word, opereer so ‘n persoon in my opinie op ‘n suiwere humanistiese/menslike vlak wat heeltemal, of deels, van die mens se eie geregtigheid afhanklik is. Dit is egter nie die vlak, of terme, waarop God verlossing (fase een, naamlik wedergeboorte) aan die mensdom bied nie. Om ‘n nuwe blaadjie oor te slaan; (‘n voorneme wat baie mense tydens die aanbreek van die nuwejaar maak); of om slegte gewoontes met goeies te vervang; om ‘n uiterlike goeie lewe te lei, sonder om openlik in sonde te leef; mag dalk opsigself goed en wel wees, maar mag dalk niks met werklike wedergeboorte te make hê, of enigsins met bekering, soos wat die Bybel dit vir wedergeboorte van die mens vereis, in gemeen hê nie. Ons moet sekermaak dat ons nie bogenoemde vorme van menslike werke met Skriftuurlike bekering en wedergeboorte verwar nie. Persoonlike reformasie voor wedergeboorte is dood eenvoudig ‘n uiterlike verandering in gedrag, en optrede, wat in eie menslike krag bewerkstellig is en wat nie aan die mens die ewige lewe (wedergeboorte) of ‘n nuwe natuur sal verskaf nie.

God vereis niks minder as Sy eie Godlike geregtigheid (wat vir die mensdom onmoontlik is) en wat die mensdom slegs op grond van God se genade deur geloof (sonder die doen van enige werke) kan bekom. God is nie opsoek na die mens se eie geregtigheid/werke om wedergeboorte te bewerkstellig nie! Om enige vorm van menslike werke aan God, vir wedergeboorte, voor te hou is om die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis vir die mensdom as oneffektief en onvolledig te verwerp! Vir enige ongeredde persoon om onder die indruk te verkeer dat sy eie goeie werke (of eie reformasie) hom enigsins nader aan ‘n absolute heilige God kan bring, verkeer onder die invloed van ‘n uiterste groot delusie! (‘n Delusie wat deur baie in die belydende Christendom verkondig en verder gepropageer word!) Die persoon wat sy eie goeie werke vir God, in ruil vir die ewige lewe aanbied, gaan met ‘n groot skok agterkom dat hy die ewigheid in die ewige verderf gaan deurbring. Indien dit die geval sou wees, dat ons werke enigsins ‘n aandeel in ons verlossing (fase een, naamlik wedergeboorte) sou kon bydra, sou so ‘n persoon op sy eie werke en eiegeregtigheid kon roem, ‘n stelling wat die Bybel ten sterkste weerlê!
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Die mens sal slegs op grond van God se genade, deur geloof alleen in die Evangelie, gered word en op geen ander wyse nie! (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bekering, geloof en die ewige lewe” te lees.)

Omrede wedergeboorte slegs op grond van God se genade deur geloof alleen bekom kan word, is dit net logies dat die mens niks kan doen om die ewige lewe, (deur die doen van enige werke) kan verdien nie. (of enige goeie werke doen om homself gered te hou nie. Dit sluit in, pogings in eie krag, om op te hou sonde pleeg; eers van sonde af weg te draai, alvorens ons God deur geloof nader; of om enigsins ‘n nuwe baaitjie om te slaan met die hoop dat dit God sover sal kry om ons in genade aan te sien. Almal is alreeds die onderwerp van God se genade, en hulle moet dit slegs in geloof op God se terme aanneem deur dood eenvoudig die Evangelie te glo.) God stel dit baie duidelik in Sy woord aan ons, dat geloof en goeie werke vir wedergeboorte, in direkte teenstelling ten opsigte van mekaar staan. Boonop stel die Bybel dit baie duidelik dat hierdie twee elemente nie met mekaar vermeng mag word so ver dit aanvanklike verlossing (fase een) aangaan nie. Om dit weer duidelik te stel: “Om geloof en werke met mekaar te vermeng, of dit met mekaar te verwar, sover dit wedergeboorte aanbetref, is om die Evangelie van God se genade in ‘n valse evangelie, naamlik ‘n werke evangelie, te verander , ‘n evangelie wat nie die hoorders daarvan sal red nie. (en boonop kan dit as ‘n belediging vir Christus se voltooide werk aan die kruis bestempel word! Hierdie feit behoort baie deeglik deurdink te word.)
Gal 3:11 “En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige (fase een, naamlik wedergeboorte en dus ‘n regverdige/wedergebore persoon) sal uit die geloof lewe. 3:12 Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang— 3:14 sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.”

Vir ‘n ongelowige om sy optrede te verbeter, in ‘n poging om God so ver te kry om hom in genade aan te sien, is ‘n ernstige mistasting, en toon ‘n katastrofiese gebrek van kennis aangaande God se Persoon en attribute, wat Sy genade insluit. (Ongelukkig maak ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom dieselfde fout.) Een van God se attribute is liefde (en Sy liefde sal altyd voorsien wat Sy attribuut van geregtigheid vereis) en tree Hy vanselfsprekend vanuit Sy aard genadig teenoor die mensdom op! As Hy nie die inisiatief geneem het, om vir die mensdom se sondes aan die kruis te betaal, en hulle dan in genade na Homself te trek nie, sou niemand ooit God gesoek het nie. (Verlossing is uitsluitlike ‘n genade werk, wat God vir die mensdom doen, en word dit geensins deur die mens eerstens geïnisieer of deur werke verdien nie. Verlossing is wat God vir die mens doen nie anders om nie!)
Joh 6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Joh 12:32 En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. 12:33 En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.” (Anders as wat proponente van die uitverkiesing-leer verkondig, trek God almal en nie net ‘n sekere uitgekose groepie nie!)
Derhalwe kan ‘n persoon God nie op een of ander wyse oorreed, of deur werke omkoop om so ‘n persoon in genade aan te sien nie. Die mensdom, as geheel, is alreeds die voorwerp van God se genade, en mense gaan slegs verlore omrede hulle nie God se oplossing vir hulle sonde (die Evangelie) op Sy terme deur slegs geloof aan te neem nie. Dit is uitsluitlik oor Wie God is, naamlik liefde, dat Hy uitsluitlik op hierdie basis van Sy liefde, Sy Seun gestuur het om vir die mensdom se sondes aan die kruis versoening te doen, sodat diegene wat die Evangelie glo deur God as geregtig verklaar kan word, omrede hulle in Christus se toegerekende geregtigheid geklee is, omdat daar alreeds deur Christus vir hulle sonde versoening gedoen is. (En dit alles op grond van God se genade sonder enige meriete van die mensdom se kant af!)

Dus is die mensdom se pogings om God se aandag deur goeie werke te trek, (Hy is immers alwetend!) of om Hom te oorreed om so ‘n persoon te verlos absoluut vrugteloos, onnodig, en selfs verdoemend, omrede wedergeboorte/verlossing (fase een) nie deur menslike pogings en goeie werke bewerkstellig kan word nie. Derhalwe kan bekering sover dit wedergeboorte/verlossing fase een aanbetref nie reformasie deur enige vorm van werke beteken nie.

Werklike heiligmaking, in ‘n Skriftuurlike sin van die woord, kan slegs na afloop van fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte in aanvang neem, en gedurende hierdie fase, waar die gelowige nou vir ewig God se kind is, word daar van hom verwag om sy hemelse Vader gehoorsaam te wees, net soos wat dit met enige aardse vader die geval is. (Die rede hiervoor is wedersydse liefde. God verlos ons in ons sondes, maar in Sy liefde, los Hy ons nie in ons sondes nie! Deur die lewenslange proses van heiligmaking verlos Hy ons van die houvas van sondes in ons lewens, en dit is Sy wil dat ons optrede, na wedergeboorte, toenemend met ons posisie in Christus ooreenstem. Lees asb die reeks artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” )

Dit moet ook verder in rekening gehou word, dat God nog steeds sonde haat omrede Hy absoluut heilig is. (Nog een van God se attribute) En daarom sal Hy nie net goedsmoeds Sy kinders se sondes miskyk of ignoreer nie. ‘n Gelowige wat in sonde bly voortleef en wat nie toegewyde heiligmaking in sy lewe toelaat nie, sal deur sy Hemelse Vader in liefde getug word, maar God sal nooit daardie kind van Hom vir enige rede (en dit sluit enige sonde, selfs die sonde van homoseksualisme in.) verwerp nie, omrede Christus alreeds vir al die gelowige se sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis betaal het, en derhalwe tree God nou in Sy attribuut van geregtigheid, as regverdige Regter, op wanneer Hy die gelowige in Christus geregtig verklaar, omrede daar geen sondes is om op die gelowige se rekening te lê nie. God sou nou ongeregtig optree indien Hy die gelowige, wat Hy alreeds regverdig verklaar het, verwerp. (iets wat God nooit wil, sal of kan doen nie!) Ons hemelse Vader het in Sy attribuut van liefde opgetree toe Hy verlossing aan die mensdom, deur Sy Seun se kruisdood, bewerkstellig het. In Sy Seun het Hy, as regverdige Regter, ons sonde gestraf en tree Hy nou egter in Sy attribuut van geregtigheid (as regverdige Regter) op wanneer Hy nou die gelowige (wat die Evangelie geglo het) op grond van Christus se voltooide werk aan die kruis, volkome regverdig verklaar, omrede die gelowige in Christus se toegerekende, en dus Goddelike geregtigheid, geklee is en die Vader, wat nou as regverdige Regter optree, kan nou niks anders doen as om die gelowige regverdig te verklaar nie. (Dit is God se wonderlike verlossingsplan vir die mensdom! En dit alles op grond van God se liefde en genade deur geloof alleenlik!)

Die gevolge van sonde in ‘n gelowige se lewe sal later in meer detail bespreek word en gaan nie in hierdie artikel vervolledig behandel word nie. Al wat hier van belang is, is die feit dat die gelowige moet besef dat hy nooit a.g.v. enige sonde verlore kan gaan, indien hy werklik die Evangelie verstaan en geglo het nie. (Indien ‘n persoon glo dat hy deur die pleeg van een of ander sonde verlore kan gaan, of uit genade kan val en verlore gaan, dan glo daardie persoon nie in werklikheid dat Christus vir al sy sondes aan die kruis gesterf het nie. Dink baie mooi oor hierdie feit na! Dit is uiters belangrik!) Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike (volledige) sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou.

Ter afsluiting: Onthou altyd hierdie een uiters belangrike Skriftuurlike feit, naamlik: Wedergeboorte (fase een van jou verlossing) word slegs deur geloof (sonder die doen van enige werke van die mens se kant af) in die Here Jesus Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit) bewerkstellig. Genadeloon kan slegs na afloop van fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte, deur toegewyde heiligmaking/dissipelskap (wat goeie werke insluit) verdien word. Slegs gelowiges kan genadeloon vergader.  (Lees asb die artikels “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” asook “Gelykenis van die Ponde“) ‘n Ongeredde persoon se goeie dade beteken niks, in die sin dat daardie persoon nog steeds onder God se regverdige oordeel verkeer en as sulks kan hy nie genadeloon versamel nie. ( sy werke is dit wat God sal gebruik om te bepaal watse graad van straf so ‘n ongelowige in die ewige verderf verdien, maar dit sal geensins hom help om die ewige verderf vry te spring nie. Lees asb die artikel “Die Wit Troon Oordeel.”)

Werklik heiligmaking kan slegs in die krag van die Heilige Gees bewerkstellig word, en hiervoor word die samewerking van die gelowige verwag. Maar ‘n ongeredde persoon het nie die Heilige Gees wat in sy liggaam inwoon nie, en derhalwe is werklike heiligmaking vir so ‘n persoon onmoontlik en is sy goeie werke niks anders as reformasie in eie krag, wat geen ewige waarde vir so ‘n persoon sal kan bewerkstellig nie. Dus is bekering nie reformasie nie. Ek hoop die eerste artikel in hierdie reeks artikels sal aan die leser demonstreer dat wedergeboorte slegs op grond van God se genade, deur geloof in Christus alleenlik, bewerkstellig word, en nie op enige ander metode, wyse of tegniek, wat op die een of ander wyse van menslike werke afhanklik is nie. (Lees gerus die artikel “Godsdiens vs Verlossing” dit sal help met die verstaan van hierdie uiters belangrike onderwerp!) Het jy al vanuit die posisie van ongeloof, na ‘n posisie van geloof in Christus alleen (sonder om enigsins op jou eie werke of meriete staat te maak) en Sy voltooide werk aan die kruis vir jou bekeer? Indien dit die geval is, het jy in die Skriftuurlike sin van die woord bekeer, en dan is ons albei kinders in God se familie! Al mag ons dalk mekaar nie in hierdie lewe raakloop nie, gaan ons verseker in die ewigheid mekaar ontmoet! Dink net oor wat alles ons sal kan gesels. Ja, dit is belangrik om te bekeer, maar ons moet weet wat die Bybel met die term “bekeer” bedoel as dit ons beveel om te bekeer.

Seën groete!

Vic

Een kommentaar op “Bekeer, of bekering, is nie reformasie in eie krag nie”

Kommentaar is gesluit.