God se genade

Ons kan nie God vir Sy genade beloon nie

Dit is ‘n logiese feit dat wanneer ‘n persoon iemand vir enige werk wat hy verrig het beloon, dan kan daardie betaling nie as ‘n genadegawe bestempel word nie. Hierdie feit geld veral wanneer dit by God se verlossingsplan vir die mens kom. Indien God die geringste verdienstelikheid in die persoon waarneem, dan sal Hy in geregtigheid daardie verdienstelikheid moet beloon en die beloning daarvan sal nie as ‘n genadegawe omskryf kan word nie.
Rom.4:4 “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; 5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Genade moet genade bly. Jode, sowel as heidene, is almal onder die geregverdigde oordeel van God geplaas, en omrede alle mense afstammelinge van Adam is, en met ‘n sonde natuur gebore word, word hulle sonder uitsondering in Adam geoordeel. Die skrifte verklaar dat alle mense onder die mag van sonde is. (Die Here Jesus Christus is die enigste uitsondering) Om hierdie rede is die mens nie net sondaars omrede hulle sonde pleeg nie, maar hulle is ook van nature sondaars. Ons pleeg sonde, omrede alle mense alreeds oor ‘n sonde natuur beskik, en posisioneel in Adam is, en daarom het God die hele mensdom onder Sy geregverdigde oordeel van sonde geplaas.
Rom.3:9 “Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, 10 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. 11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. 12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.”

Omrede God die hele mensdom in hulle federale hoof, naamlik hulle voorvader Adam, onder die sonde geplaas het verklaar God alle mense op gelyke grond skuldig. A.g.v. hierdie feit is enige moontlikheid van menslike verdienstelikheid vir ewig uit die weg geruim.
Gal.3:22 “Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.”
Rom.5:19 “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word.”
Geen mens kan dus enigsins aanspraak op sy eie verdienstelikheid maak nie, omrede dit nie net oor hulle persoonlike sondes, wat van persoon tot persoon verskil, gaan nie maar ook die feit dat hulle in Adam se federale hoofskap onder die oordeel van sonde geplaas is. Enige grondslag van menslike meriete is in hierdie opsig vir ewig uit die weg geruim en almal staan skuldig voor God, nie net a.g.v. hulle persoonlike sondes nie maar ook omrede hulle posisioneel in Adam is.

Hierdie skriftuurlike feit sluit enige moontlikheid vir die mens om sy eie verlossing d.m.v. sy eie geregtigheid voor God te kan bewerkstellig uit. Die enigste moontlikheid vir die mensdom om gered te word, kan slegs op grond van God se genade, deur geloof in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis bewerkstellig word. Sover dit die mensdom se verlossing (fase een, naamlik wedergeboorte) aanbetref is enige menslike werk onnodig, beledigend en verdoemend.
Jes.64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Bogenoemde teksgedeelte verduidelik aan ons die verband wat daar tussen God se genade en ons goeie werke bestaan. Die mens kan absoluut geen betekenisvolle werke verrig alvorens God nie alreeds die persoon gered het nie. God moes alles doen om die mens te verlos en sleg op grond van hierdie feit kan verlossing as ʼn genadegawe aan die mens geskenk word. Ons vind derhalwe ‘n logiese volgorde waardeur God eers die mens op grond van Sy genade van die ewige verderf verlos, alvorens die mens enigsins goeie werke kan verrig waardeur hy genadeloon kan verdien. Verlossing/wedergeboorte vind altyd slegs op grond van God se genade deur geloof plaas. Daarenteen word genadeloon altyd op grond van die mens se goeie werke, na afloop van aanvanklike wedergeboorte, verdien.
1Kor.3:10 “Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

Dit moet weereens baie duidelik gestel word dat ‘n persoon se goeie werke absoluut niks tot sy redding kan bydra of hom gered kan hou nie. Die oomblik wanneer ‘n persoon geloof in die evangelie plaas, is daar absoluut niks verder wat hy kan doen om sy geregtigheid voor God te bewerkstellig nie. Omrede die persoon, deur die glo van die evangelie, die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid ontvang het, en op grond van sy nuwe posisie in Christus deur God die Vader geregtig verklaar is, is daar niks wat hy kan doen om die ewige lewe te ontvang of dit te behou nie. Derhalwe kan geen daad wat die persoon voor of na die glo van die evangelie enigsins die feit dat die persoon hemel toe sal gaan nadelig beïnvloed nie. Indien ‘n persoon glo dat hy deur sy heilige lewenswandel, voor of na afloop van die glo van die evangelie, sal verseker dat hy die ewige lewe sal beërwe, dan toon daardie persoon sy ongeloof in die Here Jesus Christus se versoeningswerk aan die kruis. Dit is baie belangrik om bogenoemde stelling mooi te oordink. Die gelowige se werke wat hy na afloop van aanvanklike wedergeboorte verrig is wel van uiterste belang omrede hy alreeds fase twee van sy verlossing, naamlik die heiligmaking fase, binnegegaan het. Alle gelowiges moet met erns daarna streef om goeie werke, na afloop van aanvanklike wedergeboorte, te bewerkstellig, om sodoende die Here Jesus Christus se aanprysing te hoor en genadeloon te verdien, naamlik:
Matt.25:21 “En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in, in die vreugde van jou heer.”
Luk.19:26 “want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.”

Bogenoemde teksgedeelte handel oor fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap waar die persoon genadeloon deur goeie werke kan verdien of verbeur. Niemand van ons sal aan hierdie kant van die graf die volle omvang van die vreugde besef, wat die gelowige wat Christus se aanprysing hoor, sal ervaar nie. Die feit bly staan dat ons nooit God vir die gawe van die ewige lewe sal kan vergoed nie. Enige sodanige poging is ʼn ernstige mistasting, en kan as bewys dien dat die persoon nie werklik die evangelie verstaan nie.

Dit moet egter onthou word dat dissipelskap (wat goeie werke, deur geloof in die Here en in die krag van die Heilige Gees verrig is) uiters belangrik is, maar dit is, en sal nooit enige aandeel in ‘n persoon se verlossing, fase een, naamlik wedergeboorte, speel nie en sal ook nie ‘n persoon gered hou nie. Die gelowige word deur God self van die ewige verderf bewaar, en dit slegs op grond van die feit dat hy in die Here Jesus Christus (wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis insluit) geglo, en sodoende Christus se toegerekende geregtigheid (nie sy eie geregtigheid nie) ontvang het.

Die gawe van die ewige lewe word absoluut sonder enige kostes daaraan verbonde deur God aan die verlore mensdom aangebied. Ons verlossing, en meegaande geskenk van die ewige lewe, het God alles gekos en kos die mens absoluut niks nie. Ongelukkig vind ons dat die dwaalleerstellings van werkheiligheid (wat enige vorm van ‘n werke evangelie werksaligheid, asook heerskappy verlossing insluit) oral rondom ons verkondig word, en dit sal ook so voortgaan. Die rede waarom werksaligheid (werke evangelies) so gewild is, is omrede die hubris van die mensdom so sterk is, en daarom is dit nog altyd die mens se begeerte om op die een of ander wyse sy eie verlossing, wat op menslike werke gebaseer is, te bewerkstellig. Die rede hiervoor is dat dit die mens laat goed/waardig voel wanneer hy op die een of ander wyse tot sy verlossing ‘n bydra lewer. Baie mense wil net nie die feit aanvaar, dat iets so groot soos die ewige lewe, absoluut kosteloos by God in ontvangs geneem moet word nie.

Mens kan nie beweer dat die gawe van die ewige lewe kosteloos is en dan op dieselfde tyd verdere voorwaardes aan die voor of agterkant van die evangelie aanheg nie. Voorbeelde hiervan is wanneer dit aan die ongelowige persoon voorgehou word, dat hulle eers van al hulle sondes moet bekeer, alvorens hulle die gawe van die ewige lewe in ontvangs kan neem. Op hierdie wyse word die genadegawe van die ewige lewe, wat slegs op grond van geloof in die evangelie bekom kan word, met menslike werke vermeng. Predikers wat hierdie dwaallering verkondig vergeet die feit dat ‘n persoon eers na die glo van die evangelie (sonder die doen van enige werke) die Heilige Gees ontvang. Dit is die Heilige Gees wat dan die gelowige in staat stel om deur die Gees te wandel en sodoende oor sy sonde natuur te heers. (heiligmaking)
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”

Gees bewerkte heiligmaking vind na afloop van aanvanklike wedergeboorte plaas en nie voor die glo van die evangelie nie. Indien die vereiste vir die bekeer van alles sondes voor die evangelie, as vereiste vir wedergeboorte, bygevoeg word, dan sal nie een mens ooit gered kan word nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Alle mense pleeg nog steeds sonde nadat hulle kwansuis van al hulle sondes bekeer het. Dit geld ook vir mense wat alreeds wedergebore is. Hierdie feit demonstreer duidelik dat die persoon nie werklik van al sy sondes bekeer het nie, want indien hy werklik van al sy sonde bekeer het dan beteken dit dat daardie sonde nie weer gepleeg sal word nie. Bekering van sondes is ʼn proses wat na afloop van aanvanklike wedergeboorte moet plaasvind (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking), en is nie ʼn vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe of die behoud daarvan nie.

So ook word ‘n persoon wat na die Here kom voorgesê om beloftes te maak dat hy die Here Jesus Christus met sy hele hart, verstand en siel sal volg, en dit terwyl nie een mens, (behalwe die Here Jesus Christus) dit al ooit kon regkry nie. In so ʼn geval verbreek die persoon elke keer sy belofte aan God die oomblik wanneer hy sonde pleeg of God nie met sy hele wese dien en volg nie. Onthou, die Here Jesus Christus is die standaard waarteen ons, ons getrouheid aan God moet meet en nie die subjektiewe opinies van mense nie. Die Here waarsku ons om nie sulke beloftes te maak nie.
Mat 5:33 “Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou. 5:34 Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie—nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; 5:35 ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; 5:36 ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie. 5:37 Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.”

Ander verkondig weer dat ‘n om gered te word ‘n persoon sy hele hart vir die here moet gee alvorens hy gered kan word. Daar is egter nie een teksgedeelte in die skrifte wat hierdie vereiste by slegs geloof in die evangelie koppel nie. Nie een nie. Indien bekering van alle sondes, beloftes of enige ander menslike werk by die evangelie, as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe, bygevoeg word dan is die konsep van die genadegawe van die ewige lewe alles behalwe kosteloos.

Om sulke vereistes by eenvoudige geloof in die evangelie by te voeg, is om menslike werke deel van die evangelie te maak, en is presies dieselfde dwaalleer wat die gemeente in Galasië binnegedring het en waarteen Paulus so sterk uitgevaar het, naamlik:
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”

Ter afsluiting: Ons moet mooi verstaan dat menslike werke geensins, en absoluut niks met God se plan vir ons verlossing (wedergeboorte) te make het nie. Menslike werke speel absoluut geen rol in die ontvangs van die ewige lewe nie. Menslike werke kan ook nie ‘n persoon gered hou nie. Dit is die Here Jesus Christus wat die gawe van die ewige lewe aan die persoon skenk wat Hom alleen daarvoor vertrou.
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (dit sluit die persoon self ook in.)
Boonop is dit God wat die mens gered hou nie die mens se werke nie.

Indien ‘n persoon eers hy sy lewe vir die Here moet gee alvorens hy die ewige lewe kan ontvang, dan vind daar ‘n ruiltransaksie tussen God en die persoon plaas. In so ‘n geval is die gawe van die ewige lewe nie meer op grond van God se genade gebaseer nie. Die skrifte weerlê egter so ‘n moontlikheid, naamlik:
Rom.3:21 “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Omrede die ewige lewe ‘n genadegawe is kan ons nooit God daarvoor vergoed nie. Ons behoort egter uit dankbaarheid vir wat God vir ons gedoen het, lewens lei wat Hom verheerlik en met die verkondiging van die ware evangelie betrokke wees. Ons mag egter nooit probeer om God vir die gawe van die ewige lewe te betaal/beloon nie.

Ons moet gaan op wat God werklik in die skrifte aan ons sê en enige menslike toevoegings heeltemal verwerp.
Joh.6:29 “Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.
Joh.3:18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Joh.3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
Hand.16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
Joh.3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

‘n Persoon sal slegs op grond van God se genade deur geloof alleenlik (+niks anders) gered word en op geen ander wyse nie. ʼn Ware gelowige is ʼn persoon, wat op ʼn spesifieke punt in tyd geglo het, dat die Here Jesus Christus die Seun van God is, en dat Hy vir al die persoon se sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis gesterf het en wat op die derde dag uit die dood uit opgestaan het. Glo u dit?

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.