Die Evangelie

Die Evangelie

Die belangrikheid van die Evangelie:

Wat is ons as gelowiges se lewensdoel op aarde? Kom ons gaan kyk wat die Here daaroor te sê gehad het.
Mark 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Omrede Jesus ons hierdie bevel gegee het, behoort ons hierdie opdrag ons lewensdoel te maak. Hy het ons nie beveel om boere, loodgieters, dokters of plaasarbeiders te word nie, maar verkondigers van die Evangelie. Die beroepe wat aan ons, deur Sy genade geskenk is, is gegee sodat ons Sy opdrag kan uitvoer. Die vraag wat ons moet beantwoord, is of ons Jesus se opdrag aan ons gehoorsaam uitvoer of nie? Onthou Jesus se waarskuwing in Luk 11:23 wat soos volg lees:
“Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.”

Wat het Paulus na sy wedergeboorte dan gaan doen? Hy het die Evangelie gaan verkondig!
1 Korintiërs 15:1- 2 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.”

Dit is deur die aanhoor en glo van die Evangelie dat ‘n persoon gered word:

Om hierdie rede, is dit so belangrik dat ons die Evangelie verkondig, of met die verspreiding daarvan betrokke moet wees! Mense se siele is op die spel!
Rom. 1:16  “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Nie almal word as Predikers of evangeliste geroep nie, maar die Here verwag van alle gelowiges om op die een of ander wyse by die verspreiding van die Evangelie betrokke te wees. Wanneer ons die Evangelie verkondig, is dit ons plig om seker te maak dat ons die Evangelie korrek, duidelik en verstaanbaar aan ons hoorders oordra. Indien ons dit nie doen nie, en iemand verstaan nie die Evangelie nie, dan sal die duiwel die woord wat ons aan daardie persoon verkondig het, uit daardie persoon se hart uit wegneem en daardie persoon sal, indien hy nie op ‘n latere geleentheid weer ‘n geleentheid kry om die Evangelie aan te hoor nie, verlore gaan.
Mat 13:19 “ As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is-dit is hy by wie langs die pad gesaai is.”
Ons moet seker maak en verstaan dat verlossing net deur God kom en net op Sy terme ontvang kan word. Om van enige ander metode of terme gebruik te maak, gaan net tot ons eie en ons hoorders se ondergang lei! Onthou, indien ons op hierdie punt verlei is, gaan dit beteken dat ons ander gaan verlei, wat daartoe gaan bydra dat hulle Hel toe sal gaan. Dus is dit van kardinale belang, dat ons weet in Wie (Die Here Jesus Christus se Persoon, naamlik volkome God en volkome mens) en in wat ons glo, (Sy voltooide werk aan die kruis vir ons sondes, asook Sy liggaamlike opstanding vanuit die dood) sodat ons nie onsself en ander verlei nie.
Jes 48:17 “So sê die HERE, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.”
Daar is geen verlosser buiten God nie, en ons moet dit baie mooi verstaan en so verkondig!
Jud 1:25 “aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.”
Om ‘n verlosser buiten God te gaan soek, of om verlossing op ons eie terme te wil bekom, sal daartoe lei dat ons in die verderf opeindig. Mense wat beweer dat alle paaie na God toe lei, is ernstig mislei. Een so ‘n persoon is Oprah Winfrey. Onthou die Skrifte waarsku ons baie ernstig teen sulke dwaalweë!
Spr 14:12 “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”
Jesus het dit ook baie duidelik in Johannes 6:29 gestel:
“Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom (die Here Jesus Christus) glo wat Hy (God die Vader) gestuur het.”
Indien ons die Here se opdrag, om die Evangelie te verkondig, dus wil gehoorsaam, sal ons moet seker maak wat die inhoud van die Evangelie werklik is. Dit is uiters gevaarlik om op menslike opinies en tradisies staat te maak en nie op die woord van God nie. En daarom is dit van uiterste belang, om slegs na die Bybel vir al ons leerstellings te gaan, wat die Evangelie van Christus insluit. Die vraag wat ons dan moet vra en beantwoord is: “Wat is die Evangelie volgens die Skrifte dan, sodat ons kan weet wat ons moet glo om die ewige lewe te ontvang?” In 1 Korintiërs 15:3-4 gee Paulus aan ons ‘n baie duidelike omskrywing van die Evangelie. Kom ons gaan lees die teksgedeelte.
1Kor 15:3-4: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”
Dit is die Evangelie in ‘n neutedop!! So eenvoudig soos dit! Net vir duidelikheid onthalwe, gaan bogenoemde teksgedeelte bietjie verder ontleed word, om sodoende sekere punte van belang uit te lig, omrede die bogenoemde gedeelte impliseer dat die hoorders weet wie Jesus is en wat Sy kruisdood vir hulle beteken het.

Wie is Jesus?:

Die Here Jesus Christus is die tweede Persoon in die Drie-Eenheid en is self God.
Joh 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”
Name, wat net die ware God toekom, word ook aan Jesus Christus toegeskryf, wat bo enige twyfel as bewys dien dat Jesus Christus self God is.
Jes 9:6 (9:5) “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun (die Here Jesus Christus) is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors–”
Verder het die Vader,  Jesus Christus, ook as God aangespreek.
Heb 1:8 “maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer;”
Mense wat beweer dat Jesus Christus nie God is nie, kan nie gered word nie, omrede hulle geloof misplaas is. Soos alreeds genoem is daar geen verlosser buiten God nie, en die Here Jesus Christus, wat self God is, is daardie Verlosser! ‘n Jesus wat nie God is nie, is nie die Jesus van die Bybel nie, en iemand wat in so ‘n Jesus glo se geloof is dus misplaas en so ‘n persoon sal verlore gaan.

Ook is Jesus Christus die Skepper van alles:

Joh 1:3 “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
Baie meer kan oor hierdie aangeleentheid gesê word, maar vir spasie onthalwe gaan slegs hierdie teksgedeelte aanhaal word, omrede dit selfverduidelikend is. Jesus Christus is dan ook die Skepper van alles, en hierdie feit dien as verdere bewys dat Hy God is!

Jesus het mens geword.

Jesus Christus is volkome mens en volkome God!
Joh 1:14 “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.”
Verder stel die Skrifte dit baie duidelik, dat die volheid van die Godheid in Jesus liggaamlik woon.
Kol 2:9 “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;
Jesus het net soos enige mens, moeg, honger en dors geword, omrede Hy ‘n volkome menslike liggaam by Sy Godheid gevoeg het. Hy was volkome mens en volkome God. Jesus Christus het egter geen van Sy  Godlike attribute afgestaan, toe Hy ‘n menslike liggaam by Sy Godheid gevoeg het nie. Toe Hy op aarde was, het Hy vrywilliglik gekies om nie van al Sy Godlike attribute gebruik te maak nie, maar Hy het op geen stadium van Sy attribute afgestaan of verloor nie. Onthou, God is onveranderlik!

Jesus Christus se maagdelike geboorte:

Lukas 1:31 “En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.1:32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,1:33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.
1:34 Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? 1:35 En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.
Indien Maria nie ‘n maagd was, soos wat sommige mense beweer nie, dan sou Maria nie die stelling kon gemaak het, wat sy in vers 34 gemaak het nie, naamlik dat sy nie ‘n man het nie. (By implikasie het sy dit duidelik gestel dat sy nog ‘n maagd was) Indien sy oor hierdie feit gejok het, sou die engel dit onmiddellik aan haar uitgewys het. Hy het egter aan haar verduidelik, dat die Heilige Gees haar sou oorskadu en daarom het sy nie ‘n man nodig gehad om verwagtend te raak nie. Dit wat met haar gebeur het was niks minder as ‘n wonderwerk van God afkomstig nie!

Jesus was sondeloos.

Hebreërs 4:15 “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
Dink mooi oor bostaande teksgedeelte na. Hier op hierdie aarde, het iemand geloop, wat nooit een sonde gepleeg het nie! Ook het Hy nooit een sondige gedagte of enige selfsugtige motief gekoester nie. Dit is amper te wonderbaar vir die menslike verstand om te begryp! Hoe moes ons sondige optrede Hom nie gewalg het nie! Die Een wat geen sonde geken het nie, en wat enige persoon se hart op enige gegewe oomblik, soos ‘n oop boek, kon lees? As gelowiges, behoort ons nooit vervelig te wees nie, want ons God is so groot en wonderbaar, en om oor Sy Godlike attribute na te dink, behoort ons vir ewig besig te hou!

Jesus het aan die kruis vir al ons sondes gesterf:

Handelinge 2:23 “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;
en verder:
Jesaja 53:5 “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. 53:6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”
Onthou, dit was die Here Jesus Christus, wat self God is, en die tweede Persoon in die Drie-eenheid is, wat vir al die mens se sondes, van alle tye, aan die kruis gesterwe het. God het ons gekoop met die bloed van die Here Jesus Christus!
Hnd 20:28 “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.”

Jesus het op die derde dag liggaamlik opgestaan.

Handelinge 10:40 “Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn”
Indien die Here Jesus Christus nie liggaamlik vanuit die dood uit opgestaan het nie, sou dit as bewys dien dat God die Vader nie Sy offer van Sy lewe as voldoende beskou het om vir al die mensdom se sondes te betaal nie. En boonop kan ‘n dooie verlosser niemand red nie. Om hierdie rede, is die opstanding van die Here Jesus Christus, van kardinale belang en daarom maak hierdie feit ‘n onontbeerlike deel van die Evangelie uit.
1Ko 15:17 “en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;”

Jesus het ook met ‘n fisiese liggaam opgestaan.

Johannes 20:27 “Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig”

Jesus het liggaamlik opgevaar na die Hemel

Handelinge 1:9 “En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
1:10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,
1:11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”

Jesus het ons sondes aan die Kruis ten volle betaal:

Die Here het vir al ons sondes aan die kruis betaal (Verlede, hede en toekomstige sondes)En nie in die Hel soos sommiges beweer nie!
Johannes 19:30 En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
Daar is gewilde televisie predikers en gewilde kerk denominasies wat beweer, dat Jesus Christus hel toe moes gaan en daar vir ons sondes betaal het. Dit is egter ‘n godslasterlike leerstelling, wat nie die hoorders daarvan sal red nie, maar verdoem. Die duiwel het niks met ons redding te make nie, en ons het ook nie teen die duiwel gesondig nie, maar teen God alleen. Ook word daar beweer, dat Jesus die eerste weergebore mens was. Weereens is hierdie ‘n Godslasterlike uitlating, want God kan nie weergebore word nie, want Hy is God en het lewe in Homself. Hierdie leerstelling is gewild onder die woord-geloof beweging, asook mense wat die voorspoed-evangelie verkondig . Mense soos Kenneth Copeland en baie van sy vriende op TBN. Joyce Meyer is ‘n ander prediker wat hierdie leerstelling verkondig het.

Dit is aan die kruis, waar God die Vader, al ons sondes van alle tye op die Here Jesus Christus gelê het en Hom in ons plek vir daardie sondes gestraf het. Nêrens anders nie!
2Ko 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Kol 1:20 en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele. 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,”
Om hierdie rede kon die Here Jesus Christus terwyl Hy nog aan die kruis was die volgende stelling maak:
Joh 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
God het toe die voorhangsel, wat die allerheiligste van die res van die tempel geskei het, van bo tot onder geskeur, as bewys dat die weg na Hom, deur die Here Jesus Christus se soendood vir alle mense, op grond van hulle geloof, bewerkstellig is.
Luk 23:45 “en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.”  
Die sonde probleem van die mens is finaal in Christus, deur Sy voltooide werk aan die kruis, vir ewig, opgelos en dit is nie nou meer soseer ons sonde probleem nie, maar eerder ‘n Seun probleem. Dit is wat ons met die Seun, en Sy voltooide werk aan die kruis vir ons, gaan doen wat gaan bepaal waar ons die ewigheid gaan deurbring. Gaan ons Hom glo af gaan ons nie?

Jesus is die enigste weg en daar is absoluut geen ander weg nie.

Johannes 4:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Daar is absoluut geen ander weg, om gered te word, behalwe deur Jesus Christus nie. Onthou die kerk red ons nie, die doop red ons nie, die wet, asook ons eie menslike goeie werke sal ons ooit kan red nie, want niks en niemand anders, as die Here Jesus Christus, het aan die kruis vir ons sondes betaal nie. Niks kan by die voltooide werk van die Here Jesus Christus aan die kruis, as vereiste vir wedergeboorte bygevoeg word nie!!
Joh 6:27 “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël. 6:28 Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 6:29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Indien daar enige ander vereiste, behalwe geloof alleen in Jesus Christus alleen, vir wedergeboorte nodig was sou die Here dit hier moes noem! Hy het egter nie, want daar is geen ander vereiste nodig om wedergebore te word nie! Ons moet nie dissipelskap met die Evangelie verwar nie. Indien enige verdere vereistes, behalwe geloof alleenlik, vir wedergeboorte benodig was sou die Here hierdie lys van vereistes hier genoem het. Dan sou Hy mos goeie werke, water doop, kerk bywoning, wetsonderhouding en sabbatdag onderhouding as vereistes vir wedergeboorte aan Sy gehoor voorgehou het, soos wat sommige mense en denominasies verkeerdelik verkondig. Jesus Christus het egter geen ander vereistes, as geloof alleen, vir wedergeboorte aan Sy gehoor voorgehou nie, en ons sien ook baie duidelik uit 1Kor 15:3-4 dat werke geensins deel van die Evangelie uitmaak nie!

Om hierdie feite te verontagsaam, kom daarop neer, dat so ‘n persoon God se woord en Sy terme vir verlossing verwerp en met menslike terme, wat menslike werke en tradisies insluit, vervang wat ernstige implikasies vir so ‘n persoon sal inhou. Die Bybel stel dit baie duidelik soos volg:
Rom  4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.
Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
Dit is uiters belangrik om God op Sy woord te neem en nie ons eie opinies en tradisies in Sy woord in te wil lees nie. As ons hierdie feit gehoorsaam en glo, dan sal ons opmerk dat die Evangelie in werklikheid baie eenvoudig is en dat die Evangelie, in werklikheid, die blye boodskap is, soos wat die Bybel dit aan ons wil voorhou!

Wat moet die mens doen om gered te word?

Handelinge 16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
En verder:
Johannes 3:15 “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
En laastens:
Joh 6:40 “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”

En wat van bekering.

Almal wat met die besef, dat hulle sondaars is en die hel verdien, en in geloof na die Here Jesus Christus as Verlosser draai, en glo dat Hy vir hulle sondes aan die kruis betaal het, bekeer in my opinie outomaties. Geloof in Christus en bekering is in noue verband, en vind outomaties plaas indien die persoon die Here as sy Verlosser glo en aanneem. Dus moet ‘n persoon vanuit ‘n posisie van ongeloof, na ‘n posisie van geloof in Jesus Christus, as Verlosser, draai om gered te word. Mens kan tog nie in Christus as enigste Verlosser glo en dan op dieselfde tyd op die wet, goeie werke of enige iemand of iets anders glo om gered te word nie! Om enigiets by Jesus se voltooide werk aan die kruis vir wedergeboorte te voeg, is om die ware Evangelie in ‘n werke evangelie te verander. Nie die wet, tradisies, ophou sonde pleeg, tiendes, trane en berou, doop, kerkbywoning of enige iets anders, kan as vereiste vir wedergeboorte, by Jesus se voltooide werk aan die kruis bygevoeg word nie! Om in Jesus Christus, insluitend Sy voltooide werk aan die kruis en liggaamlike opstanding vanuit die dode, vir verlossing te glo, en op dieselfde oomblik enige iets anders vir verlossing, anders as slegs eenvoudige geloof in Christus vir verlossing by te voeg, is om Jesus se werk aan die kruis as onvoldoende te verwerp, en daardie persoon sal op sy werke geoordeel moet word, en sal dus verlore gaan. So ‘n optrede demonstreer maar net eenvoudig, dat die persoon nie werklik glo, dat Jesus vir al sy sondes aan die kruis betaal het nie en dat Jesus se kruisdood nie voldoende is om die persoon van God se regverdige oordeel te red nie. Geloofs bekering, is dus bekering vanuit ‘n posisie van ongeloof  na ‘n posisie van geloof in die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir die gawe van die ewige lewe.

Indien ‘n persoon enige vereiste, behalwe geloof in Jesus Christus alleenlik, vir die geskenk van die ewige lewe byvoeg, demonstreer daardie persoon dat hy nie werklik tot bekering gekom het nie. Dus het hy nie bekeer nie, en is ook nie wedergebore nie. Kom ons neem die man, wat saam met Jesus gekruisig was, as voorbeeld en dan sal ons duidelik sien wat dit behels om tot bekering te kom en die gawe van die ewige lewe te ontvang.
Mattheus 27:44 “En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig.
Luk 23:39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. 23:40 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? — 23:41 ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. 23:42 En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. 23:43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”
Eers beledig die een rower God, dan ondervind hy ‘n verandering in sy denkwyse (bekering) en glo dat Jesus Christus werklik die Verlosser is, (wedergeboorte) en vra Jesus om hom te onthou wanneer Hy in Sy Koninkryk kom. Hy erken dat hy as gevolg van sy sonde die dood verdien. Hy kyk dan in geloof na Jesus Christus as sy Verlosser, vir die gawe van die ewige lewe, en vra Hom om hom te onthou as Hy in Sy Koninkryk kom, omrede hy glo dat die Here in staat is om hom te verlos en sal doen wat Hy gesê het Hy sal doen. Hy kom dus as selferkende sondaar na Jesus Christus alleen vir verlossing en na niks of niemand anders nie. (Hy maak nie op sy eie goeie werke of op die wet staat vir wedergeboorte nie. Ook vertrou hy slegs op Jesus Christus, vir die ewige lewe, en nie op Jesus Christus plus enige iets of iemand anders, insluitende homself, nie! Slegs op Jesus Christus alleen!! Plus niks!! Dit is uiters belangrik dat ons hierdie feit mooi moet verstaan!! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bekering, Geloof en die Ewige Lewe” te lees.) Dit is ware bekering en geloof. Op die oomblik as die sondaar in Jesus Christus, as sy Verlosser glo, word daardie persoon wedergebore en woon die Heilige Gees vir ewig in daardie persoon in. So ‘n persoon is dan vir ewig God se kind, en word outomaties deel van die ware kerk, wat as Jesus se liggaam/Bruid bekend staan.

‘n Mens sluit nie by die ware kerk aan nie. ‘n Persoon word outomaties, met wedergeboorte, deel van die kerk. Slegs by ontvangs van die Heilige Gees, kan daar werklike heiligmaking in die gelowige se lewe plaasvind, en nie voor die tyd nie, want dit is die Heilige Gees wat aan die gelowige die nodige krag verleen om oor sonde in sy lewe te heers. Dus is dit sinneloos om van ‘n persoon te verwag om op te hou sondig, voordat hy wedergebore is. Sonder die Heilige Gees sal die persoon nie oor die vermoeë beskik, om oor sonde te heers nie, en sal hy ook nie wil nie. Orals waar mense in die kerk dispensasie aangesê word om te bekeer, om wedergebore te raak, is dit om mense te kry om vanaf die wet of afgode in geloof op die Here Jesus Christus alleen as Verlosser te vertrou. Dus moet hulle ‘n denke verandering ondergaan, (bekering) en van ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof bekeer en in Jesus as enigste Verlosser glo/vertrou. Om wedergebore te raak is eenvoudig, maar dit is vir die mens moeilik om te aanvaar dat die Here alles vir hom gedoen het, en dat die mens geen aandeel behalwe geloof in die Evangelie moet hê om wedergebore te raak nie. Indien ‘n persoon goeie werke doen, om homself te red, of om homself gered te hou, demonstreer so ‘n persoon deur sy optrede, dat hy vir sy eie verlossing werk, en nie in geloof in Jesus se voltooide werk aan die kruis vir hom rus nie.

Ons almal is sondaars en op pad hel toe.

God het egter vir ons ‘n Weg oopgemaak om gered te word, en ons moet dit op Sy manier en op Sy terme aanvaar, anders sal ons verlore gaan.
Rom 3:10 “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. 3:11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. 3:12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.
3:13 Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. 3:14 Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 3:15 Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. 3:16 Verwoesting en ellende is in hulle paaie, 3:17 en die weg van vrede ken hulle nie. 3:18 Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. 3:19 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 3:21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 3:22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
3:25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God
3:26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.
3:27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”

Dus!:
Menere, wat moet ek doen om gered te word? Antwoord!! Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word! Daar het jy dit, niks meer of niks minder nie. Geen goeie werke, geen kerk, geen tiendes, geen doop of enige ander kerk ordonnans kan bygevoeg word nie. Deur Genade allen! deur geloof alleen! in Christus alleen! Plus niks!! Onthou, ons doen goeie werke , gaan kerk toe, ens uit dankbaarheid, omdat ons gered is en nie om gered te word nie. Indien ons enige werke doen, om gered te word, dan demonstreer ons dat ons nie die Evangelie glo nie. So as iemand bv vir jou sê jy moet gedoop word om gered te word en jy doen dit, dan demonstreer jy dat jy nie die ware Evangelie glo nie.

Indien iemand jou egter, nadat jy alreeds tot geloof in Jesus Christus gekom het, aanraai om gedoop te word, omrede die Here dit van jou, as Sy nou alreeds wedergebore kind, verwag omdat dit die eerste stap vir dissipelskap is, praat hy die waarheid en stel ek voor dat jy so gou as moontlik gedoop word. Doop is die eerste stap van dissipelskap, en het niks met aanvanklike weergeboorte te make nie. (‘n Gelowige sal nie hel toe gaan indien hy nie gedoop is nie) Dissipelskap behoort na wedergeboorte te volg, maar is egter nie ‘n vereiste vir wedergeboorte nie. Onthou die gawe van die ewige lewe is ‘n geskenk en word kosteloos deur geloof ontvang. Dit het God alles gekos en jou niks nie!
Rom 11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
Gal 3:5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? “
Dissipelskap aan die ander kant, is nie kosteloos nie en sal baie van jou vereis. Dissipelskap is egter nie deel van die Evangelie nie en moet ook nie met die Evangelie verwar word nie! Jy word gedoop uit gehoorsaamheid aan God en nie om gered te word nie. Dit geld vir enige ander goeie werke. Prys die Here!! Dit kos ons niks nie maar dit het Hom alles gekos!

NB! Om enige werke, behalwe geloof alleenlik, by die Evangelie te voeg, verander die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie en so ‘n persoon kom dan onder die vloek wat Paulus in Galasiërs 1:8 -9 oor so ‘n persoon uitgespreek het. Neem hierdie waarskuwing baie ernstig op!
Galasiërs 1:8 “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 1:9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!
Pasop, want daar is baie vals profete en predikers wat ‘n ander evangelie; ‘n ander Jesus en ‘n ander gees vir hulle hoorders aanbied. Dit is egter nie die God of die Evangelie van die Bybel nie!

Reddende geloof is dus, om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om die persoon se persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou.

Glo jy dit? Indien jy met sekerheid ja beantwoord het, kan jy op grond van God se woord aan jou weet dat jy nou wedergebore is, en dat jy nou deel van Sy familie is en nooit verlore sal kan gaan nie. Prys die Here vir Sy onnaspeurlike genade en liefde! Nou is dit nie ‘n blye boodskap nie?!

Belangrike Versoek: As die ontvangers van God se onbeskryflike gawe van die ewige lewe, verwag die Here dat ons almal op die een of ander wyse met die verkondiging van die Evangelie besig moet wees. (Indien die Here dit op die leser se hart lê, kan die leser die volgende skakel volg en ‘n kort weergawe van die Evangelie uitdruk en eksemplare daarvan orals opplak, uitdeel en selfs in die biblioteek boeke, as boekmerke, plaas. Die leser kan daarmee doen net wat hy/sy mag goeddink, net solank as wat die Evangelie uitkom en met die mensdom om ons gedeel word! Hier is die skakel “Kort weergawe van die Evangelie” Onthou die Here sal ons by die Regterstoel Oordeel vir ons moeite beloon!!

Baie dankie en Seën Groete!!

Vic

Wat sê die Skrifte