Is jy seker God bestaan nie?

Is jy seker God bestaan nie?

Net die dwaas sê in sy hart, daar is nie ‘n God nie. Daar is deesdae baie mense, en veral ook in Suid Afrika, wat hierdie stelling maak. Ek glo elke mens is geregtig op sy eie mening, maar om so ‘n stelling te maak is in my beskeie opinie ‘n bietjie arrogant. Verder is dit my eie keuse of ek so ‘n persoon gaan glo of nie. (Dit is immers ‘n kwessie van lewe of dood) Ek sou hom graag wou glo, maar dit sou dwaas van my wees om sy stelling, sonder enige nadenke van my kant af, goedsmoeds te aanvaar. Die gevolge kan rampspoedig wees. Om my standpunt te staaf moet ons teruggaan na die begin.

In Genesis maak die Here ‘n stelling dat Hy die wêreld gemaak het, in ses letterlike 24 uur dae en op die 7de dag het Hy gerus. (Genesis 1:1-31 en Genesis 2:1-3 ) Dit is ‘n feitelike stellig en Hy neem aan dat ons dit sal glo, dit kom immers van Homself af. Om God se stellings oor Homself te verwerp kom daarop neer om Hom te verwerp. Die persoon wat beweer dat God nie bestaan nie, demonstreer twee van sy eie gebreke wat daartoe bydrae dat ek geen rede het om sy stelling te glo nie.

Die persoon wat so ‘n stelling maak demonstreer dat hy arrogant is en verder minstens ‘n leuenaar is. So ‘n persoon hoef nie ernstig opgeneem te word nie, maak nie saak hoe slim en geleerd hy mag wees nie. Kom ek verduidelik.
Om te beweer dat God nie bestaan nie, impliseer dat die persoon wat die stelling maak, alwetend is. En ek weet hy is nie, kyk maar net watse klomp nuwe ontdekkings elke dag gemaak word. Hoekom het die persoon nie van hulle geweet nie? Die Antwoord is dat die persoon nie alwetend is nie, en dus nie geregtig is om so ‘n dogmatiese stelling, dat God nie bestaan nie, te maak. Hoe kan hy dan weet daar is nie ‘n God nie? Wat so ‘n stelling nog erger maak is die feit dat die persoon dan ‘n attribuut wat slegs God toekom op homself van toepassing wil maak. (in effek verklaar hierdie persoon dus dat hy alwetend is, anders sou hy nie kon verklaar dat die Here nie bestaan nie!)

Vir so ‘n persoon om sy geloofwaardigheid te behou, en dan te verklaar dat God nie bestaan nie, beteken dat so ‘n persoon ten minste alomteenwoordig moet wees. Ons almal weet tog dat die heelal groot is, baie groot is, en dat ons nie regtig weet hoe groot dit is nie. Nou hoe kan hy sê God bestaan nie, indien hy nog nie orals in die heelal op dieselfde oomblik was nie. Kruip God dalk nie daar iewers in ‘n hoekie van die heelal vir hom weg nie? Om die bewering te staaf dat God nie bestaan nie, en sy stelling geloofwaardig te maak, sal hy alomteenwoordig moet wees, omrede die Here hom baie maklik in so ‘n groot ruimte kan vermy. Dus impliseer die persoon dat hy alomteenwoordig is, wat ek weet hy nie is nie. Erger nog! Hy neem nog ‘n attribuut wat slegs God oor beskik en maak dit indirek op homself van toepassing!

Ter afsluiting: Om te sê God bestaan nie, sal die persoon buite tyd self moet kan beweeg, ‘n stelling wat net God alleen kan maak. Die Bybel stel dit baie duidelik dat God alles geskape het, (wat tyd insluit) dus staan Hy buite Sy skepping self en ook buite tyd self. God het tyd geskep en tyd is deel van God se skepping!
Joh 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 1:2 Hy was in die begin by God. 1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
Deur die Bybel te verwerp, maak hy indirek die stelling dat God lieg, en dat hy weet God lieg, want hy moes daar gewees het om te sien dat God nie werklik geskape het nie. Dus moes die persoon ten minste buite tyd self gewees het om al die feite waar te neem. Iets wat ek met sekerheid kan sê, hy nie gedoen het nie. (indien die persoon buite tyd is, soos wat hy insinueer, hoekom verouder hy dan?) Nog erger as dit, hy stel homself gelyk met God, presies wat die duiwel ook wou doen. Ironies is dit nie?

As ek dan na al die feite wat tot my beskikking is in aanmerking neem, kan ek met sekerheid sê die persoon lieg en het ‘n baie groot dink en opinie van homself, tot so ‘n mate, dat hy selfs attribute wat net God toekom, op homself van toepassing maak en dan God ‘n leuenaar noem. Dus verhef hy homself tot die posisie van God, en verklaar dat God die leuenaar is! ‘n Uiterste gevaarlike ding om te doen! In kort!  Ek glo hom nie, en dink hy is ‘n dwaas, net soos wat die Woord sê.
Psa 14:1 “Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie.”

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.