Paulus en Hand.21

Het Paulus homself in Handeling 21 weerspreek?

Vraag: Goeie dag Vic. Ek wil graag met jou praat oor iets wat ek nie verstaan nie. Almal neem aan dat Paulus se leerstellinge ons daarop wys dat ons nie onder die wet is nie, maar ek verstaan nie hoe Paulus dan in Handelinge 21 ‘n offer kan aflê om aan Jakobus en die Jode te bewys dat hy nog die wet onderhou nie. Ook het Paulus aan die einde van Handelinge nog in sy verdediging van homself gesê dat hy nooit teen die wet en sy insette gepraat het nie.Dit maak nie vir my sin nie. Of Paulus het gejok voor die raad of ons verstaan hom verkeerd en moet nog die gebooie onderhou. Jou hulp aangaande dit sal waardeer word.

Antwoord: Dit is ‘n baie moeilike en belangrike vraag wat jy gevra het. Om eerlik te wees, ek het nog nooit hierdie vraag teëgekom nie. Ek sal derhalwe poog om jou vraag slegs vanuit die Skrifte te beantwoord. Ek gaan eerstens die hele teksgedeelte waarna jy verwys aanhaal en dan verduidelik. Dit is belangrik om die konteks, die kulturele agtergrond, asook die spesifieke groepe mense in genoemde teksgedeelte te onderskei om tot ‘n korrekte slotsom te kom. Daarna moet ons ook Skrif met Skrif vergelyk om seker te maak dat ons gevolgtrekking met die hele Skrif in harmonie is. Dit is belangrik om vas te stel waaroor die konteks handel. Handel die konteks oor die Evangelie, wat slegs op grond van genade deur geloof ontvang kan word? Of handel die konteks oor ‘n kulturele vraagstuk, aangaande Joodse gelowiges wat alreeds die Evangelie geglo het en dus alreeds wedergebore en deel van die liggaam van Christus (die Kerk) was?

Hand.21:17 “En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders (Christelike gemeente in Jerusalem, naamlik gelowiges)ons met blydskap ontvang. 18 En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge (van die gemeente)was daar teenwoordig. 19 En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het. 21:20 “En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê: U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet. 21 En hulle (Joodse gelowiges)is (deur ongelowige Jode)aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie.”
Opmerking:Alhoewel daar blydskap aangaande Paulus se bediening onder die nie-Joodse nasies was, was daar egter kommer aangaande Paulus se reputasie onder die Joodse gelowiges, (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) wie yweraars vir die wet was. Dit moet gelet word dat die Joodse gelowiges waarna hier verwys word, gelowiges is wat alreeds op grond van God se genade deur geloof, sonder enige werke van die wet, gered was. (Hulle was dus alreeds wedergebore.) Die konteks handel dus oor Paulus se reputasie onder wedergebore Joodse gelowiges en handel nie oor sy reputasie onder Jode wie ongelowig was en hom toenemend teëgestaan het nie. Dit is juis die ongelowige Jode, wie werke van die wet deel van die Evangelie wou maak, wat hierdie valse aantygings teen hom gemaak het. Die King James Version stel hierdie feit duidelik.
Acts 21:21 “And they are informed of thee, that thou teachest all the Jews which are among the Gentiles to forsake Moses, saying that they ought not to circumcise their children, neither to walk after the customs.”

Dit is belangrik om te merk dat dit nie Paulus se plig was om Joodse tradisionele gebruike te verkondig nie, maar hy moes die Evangelie van God se genade verkondig. Hierdie Evangelie het egter niks met enige volk se tradisionele gebruike (wat besnyding insluit) te make nie. Besnyding vorm nie deel van die Evangelie nie, en derhalwe het Paulus ook nie hierdie gewoonte aan enige groep mense, insluitend Jode, as vereiste vir wedergeboorte voorgehou nie. Die Joodse gelowiges het nie wedergeboorte geraak omrede hulle besnede was nie (dit sou ‘n werke evangelie wees) Hulle het wedergebore geraak deur geloof alleen, sonder die doen van enige werke, en in hierdie opsig kan besnyding nie as vereiste vir wedergeboorte aan enige persoon voorgehou word nie. Solank as wat ‘n persoon besef dat besnyding nie deel van die Evangelie is nie, maak dit geensins saak indien hy verkies om die tradisionele gebruike van sy volk te eerbiedig nie. In hierdie opsig is dit die motief agter die optrede wat saak maak.

Sover dit die Evangelie aanbetref, het hy alle mense (insluitende Jode) verbied om die wet van Moses, wat die besnydenis insluit, as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe aan mense voor te hou. Hy het egter nooit die Joodse gelowiges verbied om hulle te laat besny, indien hulle van hierdie feit kennis dra, en hulle kies om hulleself te laat besny (as deel van hulle kulturele gebruike) en nie as vereiste om gered te word nie. Wat hier te sprake is, is die Joodse kulturele gebruike, nie die Evangelie van God se genade nie. Die ongelowige Jode, wie Paulus beskuldig het, het op ‘n slinkse wyse hierdie twee konsepte met mekaar vermeng, met die doel dat dit verdere geleenthede vir die verkondiging van die Evangelie aan ander ongelowige Jode te belemmer. Jakobus (en die ander ouderlinge in die Jerusalem gemeente) se plan van aksie bevestig hierdie feit, anders sou hulle nie so ‘n plan kon voorstel nie. (‘n Feit wat ons later duidelik sal opmerk.)

Hand.21:22 Wat staan ons dan te doen? Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het. 23 Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat ‘n gelofte gedoen het; 24 neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou. 25 Wat egter die gelowiges uit die heidene betref het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery. 26 Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.
Opmerking: Jacobus het seer sekerlik die feit verstaan, dat Christus se voltooide werk aan die kruis, Jode sowel as heidene, van die Wet van Moses, as vereiste vir gemeenskap met God, asook heiligmaking, bevry het. Die ouderlinge se plan was om die Joodse gelowiges te verseker dat Paulus nie die Joodse kulturele gebruike wou ondermyn nie. Soos reeds gestel, handel die hele konteks oor kulturele gebruike en nie oor die Evangelie/wedergeboorte nie. Dit is op grond van hierdie feit, dat Jakobus hulle die onderstaande stelling aangaande ‘n besluit wat tydens ‘n vorige vergadering in Jerusalem plaasgevind het kon maak. (Hand.15:1-30)

Hand.21:25 “Wat egter die gelowiges uit die heidene betref het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery. 26 Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.”
Opmerking: Hand.21:25 verwys na ‘n vorige besluit wat die Kerkraad in Jerusalem, aangaande gelowiges wat vanuit die heidense nasies afkomstig is gemaak het, naamlik:
Hand.15:19 “Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, (Fase een, naamlik wedergeboorte) 20 maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.” (Fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking) Nadat Paulus hierdie voorstel aangehoor, en oordink het, het hy homself saam met die ander manne, wie die gelofte gemaak het, laat heilig en die tempel terrein binnegegaan.
Hand.21:26 “Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.”
Paulus se optrede in hierdie situasie demonstreer dat gelowiges wat van Joodse afkoms is, uit eie keuse kon kies of hulle die kulturele gewoontes van hulle volk wou eerbiedig, met die besef dat hulle geensins enige spesiale geestelike voordeel (wat nie vir die heidense gelowiges ook beskore is nie) daaruit sou kon ontvang nie.

Die vraag ontstaan dan watter gelofte het die Joodse gelowiges gemaak, dat dit van hulle vereis word om hulle hare af te skeer en offers te bring? Dit kan niks anders as die gelofte van die nasireërskap wees nie.
Num.6: 13 “En dit is die wet van die nasireër: Op die dag as die dae van sy nasireërskap om is, moet hulle hom na die ingang van die tent van samekoms bring; 14 en hy moet sy offer aan die HERE bring: een jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer en een jaaroud ooilam sonder gebrek as sondoffer en een ram sonder gebrek as dankoffer 15 en ‘n mandjie ongesuurde koeke van fynmeel, koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk, en die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort. 16 En die priester moet dit voor die aangesig van die HERE bring en die sondoffer en brandoffer vir hom berei. 17 Hy moet ook die ram as dankoffer aan die HERE gereedmaak saam met die mandjie ongesuurde koeke; en die priester moet die spysoffer en drankoffer vir hom berei. 18 Dan moet die nasireër by die ingang van die tent van samekoms sy gewyde hoof skeer en die hare van sy gewyde hoof neem en dit op die vuur gooi wat onder die dankoffer is. 19 Verder moet die priester die gekookte blad van die ram afneem en een ongesuurde koek uit die mandjie en een ongesuurde platkoek; en hy moet hulle op die hande van die nasireër sit nadat dié sy gewyde hare afgeskeer het. 20 En die priester moet dit beweeg as beweegoffer voor die aangesig van die HERE. Dit is iets heiligs vir die priester saam met die bors van die beweegoffer en die boud van die hefoffer. En daarna mag die nasireër wyn drink. 21 Dit is die wet vir die nasireër wat sy offer aan die HERE beloof op grond van sy nasireërskap, behalwe wat hy verder kan bekostig. Volgens sy gelofte wat hy afgelê het, só moet hy doen volgens die wet van sy nasireërskap.”
Die Joodse gelowiges in Jerusalem, wie die gelofte geneem het, was skynbaar te arm om die nodige offers te bring, en daarom is Paulus gevra om vir hulle die kostes te betaal en sodoende aan alle Joodse gelowiges te demonstreer dat hyself ook ‘n yweraar vir die wet is.

Onthou, nege van die tien gebooie is in die Nuwe Testament in die konteks van die Wet van Christus aan die Kerk voorgehou. Slegs die onderhouding van die sabbatdag word nie van die Kerk verwag nie. (Lees asb die artikel “Die Sabbatdag kontroversie.”)
1Kor.9:21 “Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus — om die wat sonder die wet is, te win;”
Die Wet van Moses is nie dieselfde as die Wet van Christus nie. Sekere aspekte van die Wet van Moses is egter in die Wet van Christus opgeneem. Ons word nie wedergebore deur die wette te onderhou nie, ons behoort die Wet van Christus te onderhou omrede ons alreeds gered is. Wedergeboorte is die wortel, en Geesvervulde werke is die vrugte van wedergeboorte. Moenie die volgorde van hierdie twee feite verwar nie, anders gaan jy ‘n werke evangelie skep. (Lees asb die artikel “Heiligmaking op grond van genade deur geloof alleen” vir meer besonderhede aangaande hierdie aangeleentheid.)

Het Paulus voor die raad gelieg of verstaan ons hom verkeerde en moet ons nog die wet nakom: Nee, daar is verskeie redes waarom Paulus aan hierdie versoek voldoen het.

  • In Hand. 23:1 wat na afloop van bogenoemde gebeure plaasgevind het, het Paulus dit duidelik gestel dat hy nie teenstrydig met sy eie gewete optree het nie.
    Hand.15:1 “En Paulus het die oë op die Raad gehou en gesê: Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.”
  • Dit wil ook voorkom dat Paulus self op ‘n vorige geleentheid, na afloop van sy wedergeboorte, self so ‘n gelofte gemaak het.
    Hand.15:18 “En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het, het hy van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Aquila. En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het ‘n gelofte gedoen. 19 En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek.”
  • Later, met sy eerste gevangeneming, en sy verskyning voor Felix, het hy sonder om te skroom na hierdie besoek (en heiliging) in Jerusalem verwys.
    Hand.24:17 “Maar ná baie jare het ek gekom om aan my volk aalmoese te bring en offers. 18 En terwyl ek hiermee besig was, het sekere Jode uit Asië my in die tempel gevind nadat ek geheilig was, nie met ‘n skare of met ‘n opskudding nie.”
  • Paulus het van sy vryheid in Christus gebruik gemaak, om alles vir almal te wees, om sodoende ‘n geleentheid vir die verkondiging van die Evangelie te bewerkstellig.
    1Kor.9:19 “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. 20 Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. 21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus (Wat baie hoër vereistes van optrede as die wet van Moses vereis)— om die wat sonder die wet is, te win; 22 vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. 23 En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ‘n deelgenoot daarvan kan word.”
  • Een van die redes waarom Paulus Jerusalem besoek het was om geld vir die arm gelowiges in Jerusalem te bring. Hierdie liefdesdaad sou ook die eenheid van die Kerk demonstreer, omrede die skeidingsmuur tussen die heiden en Joodse gelowiges in Christus verwyder is.
    Gal.3:28 “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”
  • Die briewe wat Paulus teen hierdie tyd alreeds geskrywe het, naamlik Galasiërs, 1 en 2 Thessalonicense 1 en 2 Korinthiërs en die brief aan die Romeine het dit baie duidelik gestel, dat ‘n persoon slegs op grond van God se genade, deur geloof, gered en geheilig kan word. Derhalwe moet die vraag of Paulus homself weerspreek het, of dat hy ‘n fout begaan het as buite die kwessie beskou word. Hy moes dus na die Joodse praktyke, (waarin hy ook alreeds deelneem het) as herdenkings aan Christus se voltooide werk aan die kruis beskou het. Hy het dus na hierdie heiliging/offers teruggekyk, en daarin deelgeneem, omrede dit hom aan dit wat Christus alreeds aan die kruis vir hom gedoen herinner het. Die Skrifte stel dit duidelik, dat tydens die komende Duisendjarige Vrederyk van Christus, daar weer diere offers in die herboude Tempel in Jerusalem sal plaasvind. (wat as herinneringe sal dien wat Christus se voltooide werk aan die kruis sal herdenk.)
    Mal.3:1 “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, (Sy wederkoms) sê die HERE van die leërskare. 2 Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. (Hy kom om die wêreld te oordeel en Sy koninkryk op aarde op te rig.)3 En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring. 4 Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd.” (die Ou Testament)
    Die leser word ten sterkste aangeraai om ook die volgende teksgedeeltes sorgvuldig deur te lees, naamlik Eseg.43:1-46:24 wat ‘n duidelike beskrywing van die milleniale tempeldiens, wat na afloop van Christus se wederkoms sal plaasvind, beskryf.

Paulus se optrede het nie met sy vorige leerstelling, wat verklaar dat Jode, sowel as heidene, nie onder die Wet geplaas kan word om hulle te red of heiligmaking in hulle te bewerkstellig in botsing gekom nie. Anders sou hy die Jerusalem raad van hierdie feit ingelig het, net soos wat hy Petrus op ‘n vorige geleentheid aangespreek het, naamlik:
Gal.2:11 “Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. 12 Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is. 13 En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins. 14 Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe? 15 Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, 16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
By daardie geleentheid was die waarheid van die Evangelie in gedrang gebring.

Ter afsluiting: Onthou, die valse aantygings wat die ongeredde Jode teen Paulus gemaak het was dat hy teen die Wet van Moses praat. Maar Paulus het nooit die Wet sleggemaak nie. Hy het dit duidelik gestel dat die Wet goed is, maar die probleem lê nie by die Wet nie maar by die mens wie nie die Wet volkome kan nakom nie.
Rom.7:6 “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie. 7 Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. 8 Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood. 9 En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe. 10 En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees. 11 Want die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei en daardeur gedood. 12 Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. 13 Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word.”
Die Wet was ons tugmeester na Christus toe. Dit was nooit gegee om enige persoon te red nie. Slegs op grond van God se genade deur geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis word ons wedergebore.
Gal.3:24 “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.”
Anders as wat die ongelowige Jode beweer het, het Paulus nooit die Wet van Moses sleggemaak nie. Dit was dus ‘n valse aantyging wat die kerkraad in Jerusalem moes weerlê. Die hele konteks handel dus oor kulturele gebruike en nie soseer oor die vereistes vir wedergeboorte nie. ‘n Joodse gelowige kan dus na wedergeboorte (in ‘n kulturele konteks) ‘n yweraar vir die sedes van die Wet van Moses wees (wat besnyding insluit) solank as wat hy besef dat sodanige optrede hom nie nader aan God sal bring of enigsins tot sy verlossing ‘n bydrae kon lewer nie. Net soos wat ons kulturele gebruike ons nie noodwendig nader aan God sal bring nie.

Dit is my bede dat hierdie artikel jou vraag beantwoord.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.