Christus verheerlik

Christus se verheerliking op die berg

Die Here Jesus Christus se verheerliking op die berg, soos in Matt.17:1-14 gevind, gee aan ons ‘n duidelike tipologiese voorskou van al die mense wat tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus in die Koninkryk teenwoordig sal wees. Onthou, die koninkryk van Christus is nog nie op aarde teenwoordig nie, maar sal eers na afloop van die Groot Verdrukking, en wederkoms, persoonlik deur die Here op aarde gevestig word. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom” te lees.)

Baie mense beweer verkeerdelik dat Christus Sy koninkryk met Sy eerste kom op aarde gevestig het. Hulle maak dan verkeerdelik van Sy stelling soos in Matt.16:28 gevind gebruik om hulle sienswyse te bevestig, naamlik:
Matt.16:28 “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Om die Here Jesus Christus se stelling reg te verstaan, moet ons egter na die konteks waarin daardie spesifieke stelling gemaak is gaan kyk. In Matt.12:24 het ons gesien dat die godsdiensleiers die Here Jesus Christus as Messias verwerp het, omrede hulle beweer het dat Hy Sy wonderwerke in die krag van Satan gedoen het. Hulle het dus die onvergeeflike sonde van lastering teen die Heilige Gees gepleeg waarvoor daar geen vergifnis was nie. Dit is dan ook uit hierdie gebeure duidelik dat die Heilige Gees hierdie godsdiensleiers nie meer van hulle sonde sou oortuig nie, wat beteken dat hulle nooit die Here as hulle Messias sou aanvaar nie. Hierdie feit het daartoe aanleiding gegee dat Christus later aan die kruis sou sterf en nie Sy koninkryk met Sy eerste koms op aarde sou vestig nie. Voor hierdie gebeure het die Here verkondig dat die Koninkryk van God “naby” was, maar na afloop van die gebeure in Mattheus 12 het die Here Sy dissipels begin leer dat Hy aan die kruis sou sterf en op die derde dag vanuit die dood sou opstaan.

In Matt.16 sien ons waar die Here Sy dissipels vra wie hulle dink Hy is, waarop Petrus geantwoord het dat Hy die Seun van God was. Kort nadat Petrus bely het dat Christus die Seun van God was, het die Here weer Sy dissipels aangaande Sy komende kruisiging ingelig waarop Petrus Hom teëgestaan het. Die Here het onmiddellik Hom omgedraai en die volgende stelling gemaak, naamlik:
Matt.16:23 “Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”

Noudat Sy dissipels geweet het dat Hy Jerusalem toe gaan om daar te sterf, het Hy weer op nuut aan hulle die vereistes vir dissipelskap voorgelê.
Matt.16:24 Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis (wat die verlies van aardse ideale, rykdom, vriende, familie en selfs hulle eie lewens mag insluit) opneem en My volg.
Hulle was dus vry om Hom as dissipels te volg, of om van die weg van getroue dissipelskap af weg te draai. Veral nou dat hulle weet dat Christus Sy dood in Jerusalem tegemoet gaan. Vir diegene wat Hom getrou as dissipels sou volg hou Hy die waarborg van genadeloon voor, naamlik:
Matt16:25 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.
Die term “lewe verloor” beteken nie dat die dissipels, wie almal behalwe een alreeds gelowiges was, die gawe van die ewige lewe sou verbeur, indien hulle van die weg van getroue dissipelskap weggedraai nie. Dit sou beteken dat die Here ‘n werke evangelie verkondig, wat ander gedeeltes van die Skrifte sou weerspreek, waar die belofte van wedergeboorte slegs op grond van genade, deur geloof in Christus alleen, aan die mens voorhou word. Onthou, konteks konteks konteks! ‘n Persoon wat nie die Here as getroue dissipel navolg nie, maar vir homself en sy eie belange in hierdie wêreld wil leef, sal die ware betekenis en doel wat God vir daardie persoon se lewe beplan het misloop. (dit beteken dat ‘n gelowige genadeloon, en sekere gesagsposisies in die komende koninkryk kan verbeur. Lees gerus die artikel “Verliese a.g.v. sonde in die gelowige se lewe.”)

Dieselfde beginsel geld vir dissipels wat alles om Christus onwil in hierdie lewe prysgee. Hulle sal die werklike betekenis/doel wat God vir hulle lewens gehad het vind. (en die meegaande genadeloon en gesagsposisies in die komende Koninkryk ontvang.) Matt.16:26aWant wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?
(By die Regterstoel oordeel van Christus met leë hande en beskaamd weggaan, wat ewigdurende implikasie vir daardie gelowige sal inhou. Die gelowige sal nog steeds gered bly maar sal genadeloon en ander voordele verbeur wat nooit weer herwin sal kan word nie.)
1Kor.313 “elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Die gelykenis van die Ponde is ‘n goeie illustrasie van hierdie feit. Sien ook 1Joh.2:28)

Matt16:26ff “Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”
Soos reeds genoem, sal ‘n gelowige wie nie die Here as dissipel in hierdie wêreld wil navolg nie, (wat noodwendig verliese in hierdie lewe sal insluit) sal skade ly, en die genadeloon wat verbeur is sal nooi weer herwin kan word nie. Onthou die Here se waarskuwing: “Die wat eerste is sal laaste wees en die wat laaste is sal eerste wees.”

Matt16:27 “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld (beloon) volgens sy dade.” (Regterstoel Oordeel van Christus waar alle gelowiges se lewens na aanvanklike wedergeboorte beoordeel sal word, en waar daar genadeloon verdien of verbeur sal word, wat ewigdurende implikasies sal inhou.)

Onmiddelik na die belofte van beloning vir getroue dissipelskap, maak Christus die volgende stelling, naamlik:
Matt.16:28 “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Omtrent ‘n week nadat Christus hierdie belofte aan Sy dissipels gemaak het, vind die volgende gebeure plaas, naamlik:
Matt.17:1 “En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring. En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom. Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía. 5 Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helder ligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! 6 En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees. 7 En Jesus het nader gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en moenie vrees nie. 8 Toe slaan hulle hul oë op en sien niemand meer nie, behalwe Jesus alleen. 9 En onderwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie. 10 En sy dissipels vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elía eers moet kom? 11 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers en sal alles herstel; 12 maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. So sal die Seun van die mens ook deur hulle ly. 13 Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het. 14 En toe hulle by die skare kom, gaan daar ‘n man na Hom en val voor Hom op die knieë en sê:”
Ek gaan net tot hier aanhaal, omrede dit al is wat ons vir die doeleindes van hierdie artikel benodig.

Die Verheerliking: Met Christus se verheerliking op die berg, vind ons dat die Here vir ons ‘n toekomsblik, nie net van Homself tydens die Duisendjarige Vrederyk gee nie, maar ook die groepe mense wat daarin teenwoordig sal wees.

Die Verheerlikte Here Jesus Christus: Tydens Christus se koninkryk op aarde sal ons Hom nie meer in Sy vernederde gedaante waarneem nie, maar Hy sal in al Sy heerlikheid vir duidend jaar lank vanuit die huidige Jerusalem in Israel oor die hele wêreld regeer. Met Christus se verheerliking op die berg kry ons ‘n toekomsblik van hoe Hy tydens die Duisendjarige Vrederyk op aarde sal lyk.

Moses: Tydens die verheerliking op die berg het Moses saam met die Here verskyn, alhoewel ons weet dat hy vir ‘n baie lang tyd alreeds dood was. Moses verteenwoordig alle gelowiges in glorie, wie die koninkryk d.m.v. fisiese dood sal binnegaan. In die koninkryk, onder Christus se direkte administrasie sal daar heersers posisies uitgedeel word, wat afhangend is van hoe getrou ‘n spesifieke gelowige die Here Jesus Christus tydens hierdie lewe as dissipels nagevolg het.

Elía: Elía verteenwoordig alle gelowiges in glorie, wie die komende koninkryk d.m.v. die wegraping sal binnegaan.
1Kor.15:50 “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. 51 Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, 52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; (die laaste basuin wat die einde van die Kerk Dispensasie aankondig) want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons (gelowiges wie nog lewe) sal verander word. 53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.
1Thess.4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie,
(gelowiges wie alreeds dood is.) sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, (slegs gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot sterwe gekom het) saam met Hom bring. 15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons (gelowiges) wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, (gelowiges wie alreeds gesterf het) sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; (die wegraping) en so sal ons altyd by die Here wees.”

Petrus, Jakobus en Johannes: Die apostels wat saam met Christus op die berg was toe die verheerliking plaasgevind het, het in daardie stadium nog nie tot sterwe gekom nie, en was ook nie lewend in die hemel opgeneem soos wat dit met Elía die geval was nie. Hulle was by hierdie geleentheid nog nie in glorie gewees nie, en derhalwe verteenwoordig hulle alle Joodse gelowiges wat die Groot Verdrukking sal oorleef, en wat die komende koninkryk met hulle nie verheerlikte liggame sal binnegaan om weer voor te plant. Hulle sal dus deel van die grondslag vorm waaruit die nie-verheerlikte populasie in die Duisendjarige Vrederyk van Christus sal voortspruit.
Eseg.37:21 “en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. 22 En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie. 23 En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my ‘n volk wees, en Ek vir hulle ‘n God wees. 24 En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel. 25 En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig. 26 En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. 27 En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle vir my ‘n volk wees.”

Die skare mense aan die voet van die berg. Hierdie groep mense is verteenwoordigend van alle mense wat na afloop van die oprigting van Christus se Koninkryk op aarde in die koninkryk ingebring sal word.
Ps.2:6 “Ek tog het my Koning (die Here Jesus Christus) gesalf oor Sion, (Jerusalem in Israel) my heilige berg. 7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. 8 Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.”
Ps.72:8 “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.”

Ter Afsluiting: Die Bybel is vol sulke tipologiese inligting en dit vorm ‘n interessante deel van Bybelkennis. Die Here gebruik gereeld werklike historiese gebeure in die Bybel om aan ons dieper insig aangaande Sy plan met die wêreld te gee. Bybelstudie behoort ‘n integrale deel van alle gelowiges se daaglikse bestaan te vorm. Ons kan nie beweer dat ons die Here ken, en dit terwyl ons basies geen insig aangaande Sy woord het nie. God kan nie van Sy woord geskei word nie. Tot die mate wat ‘n persoon die Bybel ken, en dit uitleef, tot daardie mate kan daar gesê word dat hy die Here ken. Dit is my bede dat hierdie artikel die leser sal help om die Here Jesus Christus nog beter te leer ken en Hom as getroue dissipel te volg, al kos dit alles.
Openb.2:26 “En aan hom wat oorwin (alle gelowiges, omrede hulle die Evangelie geglo het, en dus in Christus is, wie oorwin het is) en my werke tot die einde toe bewaar, (Slegs die groep gelowiges wie die Here getrou as dissipels gevolg het. Nie noodwendig alle gelowiges nie) sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.” (genadeloon, wat deur toegewyde dissipelskap, na aanvanklike wedergeboorte verdien word.)

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.