Jesus 3

Waar kom die detail van die gesprek tussen Jesus en Sy Vader in Getsémané vandaan?

Vraag: Hallo Wickus. Hoop dit gaan nog goed met jou en René. Ons het gister ‘n gesprek om die tafel gehad oor waar die skrywers die detail van die gesprek/gebed tussen Jesus en God voor Hy gevange geneem is gekry het. Jesus kon wel hulle vertel het maar die gebed was baie intiem en daar was nie juis tyd om praatjies te maak toe hulle Hom gevange geneem het nie.

Antwoord: Goeie vraag! Ek stem saam met jou dat daar geen moontlikheid was dat die Here die inhoud van Sy gesprek met Sy Vader tydens Sy arrestasie met Sy dissipels kon deel nie. Ek glo ook nie dat een van die dissipels op daardie stadium in staat was om enigiets wat die Here hulle sou vertel werklik kon inneem nie. Derhalwe glo ek ook nie dat die Here die inhoud van Sy gebed enigsins op daardie stadium met Sy dissipels bespreek nie. Maar indien ons ingedagte hou dat die Here na Sy opstanding, en voor Sy hemelvaart, vir veertig dae lank op verskillende geleenthede aan Sy dissipels verskyn het, dan kon Hy baie maklik die besonderhede van Sy gesprek met Sy Vader aan hulle oorgedra het.
Hnd 1:3 “aan wie Hy ook, ná sy lyde, (Kruisdood) Hom lewend vertoon (na Sy opstanding) het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het.”
In hierdie opsig het die Here Jesus Christus dus meer as genoegsaam geleenthede gehad om die inhoud van Sy gebed met Sy Vader aan Sy dissipels oor te dra.

Die vraag wat jy gevra het, kan egter op ander teksgedeeltes van die Bybel toegepas word, waar daar nie noodwendig so ‘n eenvoudige antwoord gegee kan word nie. Een so ‘n voorbeeld is die boek van Job, en die gesprek wat God met Satan in die hemel gevoer het en waar daar geen moontlikheid van menslike getuies kon wees nie.
Job 1:6 “En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. 1:7 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. 1:8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. 1:9 En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees?1:10 Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 1:11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 1:12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.”
Indien jy egter die hele boek van Job deurlees, sal jy opmerk dat die Here nooit vir Job van hierdie gesprekke met Satan vertel het nie. Die vraag ontstaan dan hoe die Skrywer van die boek Job geweet het wat die Here met Satan in die hemel bespreek het?

Die antwoord is heel eenvoudig en ons vind dit in die Bybel.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee ( dus deur God geïnspireer en deur God ingegee. Vanuit die Grieks na Engels vertaal wat letterlik “God-Breathed” beteken.) en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
God het dus die hele Bybel (in sy oorspronklike tale) ingegee/geïnspireer, deur om van menslike skrywers, as middel, gebruik te maak, waardeur Hy deur middel van Sy Gees die Skrifte ( die ses en sestig kanonieke boeke van die Ou en Nuwe Testament.) foutloos laat opteken het. God het boonop Sy inspirasie op so ‘n wyse bewerkstellig, dat Hy die verskillende skrywers van die Bybel se onderskeidende persoonlikhede en literêre style gebruik het, sonder om die skrywers se eiesoortige persoonlikhede tersyde te stel. Om hierdie rede kon God inligting wat die skrywers van die Bybel nie noodwendig oor beskik het nie, aan hulle oordra, en verseker dat hulle die inligting wat hulle ontvang het, sonder enige foute opteken en as God se presiese woorde in die Bybel weergee. Dus kan die hele Skrif as ‘n Goddelike openbaring aan die mens bestempel word, waardeur God Homself aan die mens bekendmaak. In kort: “God praat met ons deur Sy woord, die Bybel!” En in my beskeie opinie is dit niks minder as ‘n wonderwerk nie!

Die Here gebruik Sy geïnspireerde woord aan ons, om Homself, en Sy werkwyses aan ons te openbaar. Niemand van ons was in die verlede by God toe Hy die heelal en aarde geskape het nie, en Hy het hierdie inligting, deur die inspirasie van die Heilige Gees, en en deur Sy dienaars aan ons in die kanonieke boeke van die Bybel laat opteken.
Gén 1:1 “In die begin het God die hemel en die aarde geskape. ”
Indien God nie hierdie inligting deur Sy geïnspireerde woord aan ons bekend gemaak het nie, sou ons net soos die ongelowige mensdom om ons oor die ontstaan van alles moes spekuleer. (Ek praat hier van die evolusieleer en verskeie modelle van die Oerknalteorie ens.) Indien God nie deur Sy woord aan ons verduidelik het dat Hy die Skepper van alles was nie sou ons nooit die oorsprong van alles geweet het nie.
Joh 1:1 “In die begin was die Woord, (die Here Jesus Christus) en die Woord ( Jesus) was by God, en die Woord (Die Here Jesus Christus) was God. 1:2 Hy was in die begin by God. 1:3 Alle dinge het deur Hom (Die Here Jesus Christus) ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”

Ter Afsluiting: Dit is slegs God se geïnspireerde woord wat hierdie inligting aan ons verskaf, en wat aan ons ‘n Bybelse filosofie van die lewe gee, naamlik waar kom ons vandaan; wat is ons doel op aarde; en waar gaan ons heen? Dit is ook dan slegs God se geïnspireerde woord wat bogenoemd vrae volledig beantwoord, en die Bybel is die enigste boek in die wêreld wat die toekoms volledig akkuraat kan voorspel. Dit is in die Bybel waar ons leer wat in die toekoms vir die wêreld voorlê! Dit is die Bybel waar dit duidelik gestel word dat hierdie huidige aarde verbrand gaan word en nuut herskep gaan word.
2Pe 3:5 “Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, 3:6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. 3:7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”  (Dit is egter tragies dat Mense, en soms self gelowiges, na buite Bybelse profete, soos Nostradamus, Siener Van Rensburg en nog vele meer gaan, en nie die moeite doen om die profesieë, soos wat God dit in die Bybel laat opteken het, bestudeer om inligting oor die toekoms te bekom nie.)
2Pe 1:19 “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; 1:20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; 1:21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (Let wel: Bogenoemde teksgedeelte praat nie hier van die sogenaamde moderne apostels en profete se profesieë nie. Bostaande teksgedeelte verwys na die profesieë soos wat dit in die Skrifte opgeteken staan. Lees gerus die artikels “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?”; Valse Apostels en Ware Apostels”, asook “Valse Profete en Ware Profete”)
Daar is baie profesieë in die Bybel opgeteken wat die toekoms duidelik weergee, en wat nog in vervulling moet gaan, net so ook is daar baie profesieë in die Ou Testament opgeteken wat alreeds letterlik in vervulling gegaan het en wat bewys dat die Bybel God se woord aan ons is. Ons sou nooit werklik die verlede, hede en toekoms kon verstaan het, indien die Here dit nie deur Sy geïnspireerde woord, die Bybel, aan ons bekendgemaak het nie.

Om hierdie rede kan ons verseker weet dat net soos wat die profesieë oor die Here Jesus Christus se eerste koms letterlik in vervulling gegaan het, die profesieë oor die toekoms ook net so letterlik in vervulling sal gaan! (Lees gerus ook die reeks artikels “Die Profetiese Rede op die Olyfberg” vir meer besonderhede.) Derhalwe kan ons ‘n korrekte filosofie van die lewe, wat op die Bybelse waarheid gebaseer is, opstel en handhaaf, en dit alles omrede God dit in Sy woord aan ons bekend gemaak het, naamlik:
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,”
Sonder die God geïnspireerde Skrifte sou ons werklik in die donker gesit het! Dit is my bede dat hierdie artikel jou vraag bevredigend beantwoord.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.