Mattheus

Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 4

Gelykenis van die twee diensknegte:

Mattheus 24:45 “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee?”
Opmerking: Dit moet van die begin af duidelik verstaan word dat die diensknegte waarna die Here Jesus Christus hier verwys, nie lede van die Kerk wat as Sy Bruid bekend staan is nie. Die mense waarna die Here hier verwys, is mense wat gedurende die verdrukking of laaste sewe jaar tydperk van die 490 jaar tydperk wat oor die Joodse volk uitgespreek is sal lewe. Dus is dit die mense wat tydens die verdrukking geloof in Jesus bely, en dit sluit ware gelowiges asook mense wat nie werklik die Evangelie glo nie, in.
Mattheus 15:7 “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: 15:8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. 15:9 Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”

Dit moet baie duidelik verstaan word dat die Kerk glad nie hier ter sprake is nie en dat die Kerk alreeds met die aanbreek van die verdrukking, deur Jesus Christus self na die Hemel geneem is. (1 Thess 4:13 – 18; 1Thess 1:10; 5:9; 2Thess 2:1 – 12; Op 3:10) Persone waarna die Here hier verwys is mense wat gedurende die verdrukking die Evangelie van die Koninkryk hoor en bely dat hulle dit glo. Net soos wat die Here aan die gelowiges wat tydens die kerk dispensasie lewe ‘n rentmeesterskap opgelê het om hulle gawes te gebruik om die Evangelie aan ander oor te dra, so sal dieselfde rentmeesterskap geld vir diegene wat tot geloof in die verdrukking kom. Dus sal daar van hulle verwag word om nie net die Evangelie van die Koninkryk met ander te deel nie, maar dit word ook van hulle verwag om waaksaam te wees en om ander gelowiges te vermaan met die waarheid soos wat dit in die Skrifte gevind word. Hierdie is dus persone wat deur die Here aangestel is om Sy belange op aarde te behartig terwyl Hy afwesig is.

Mattheus 24:46 “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.
24:47 Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”
Opmerking: ‘n Persoon se optrede reflekteer gewoonlik wat daardie persoon in sy hart glo. ‘n Persoon soos wat die Here in die bostaande teksgedeelte na verwys, demonstreer deur die getroue behartiging van sy Heer se belange op aarde dat hy werklik glo dat sy Heer gou sal verskyn. Hy toon ook deur sy optrede dat hy ‘n liefde vir die waarheid, soos wat dit in die Bybel vervat is, het en daarom sal so ‘n persoon die Bybel bestudeer en weet dat as die teken van die Seun van die Mens is die hemelruim verskyn hy waaksaam moet wees, omdat sy Heer se wederkoms enige tyd kan plaasvind. So ‘n persoon demonstreer dus dat hy ware reddende geloof in God het en demonstreer hierdie feit deur sy optrede. Met Jesus se wederkoms aarde toe, sal die getroue dienskneg ryklik met ‘n heersers posisie in Jesus se duisendjarige Vrederyk beloon word.

So ‘n persoon sal iemand wees wat die Evangelie geglo het en wat dit sal uitleef. Hy sal die waarheid ten alle koste in die Bybel soek en dit toepas. Hy sal nie valse herders navolg nie, want hy sal sy Heer se stem ken en weet, dat wat die valse herder verkondig nie die waarheid is nie.
Joh 10:4 “En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.
10:5 Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”
So ‘n persoon sal sy Bybel ken en sal alles met die Skrifte vergelyk om seker te maak dat hy wel ‘n dienskneg van die Here is. Verder sal hy die woord met ander deel en hulle vermaan om gereed te wees vir Jesus se wederkoms. Hy sal die volk met die waarheid, soos wat dit in die Bybel opgeteken is, voer en nie met valse leerstellings nie. Onthou dat die Here hulle gewaarsku het dat daar baie valse profete sal wees, net soos wat daar nou al reeds baie valse profete is. (Mattheus 7:15; 15:3-14; 16:6-12; 23:1-36; 24:11) So ‘n persoon sal ook nie die eer van mense of die wêreld soek nie, maar sal net God se eer alleen soek, al kos dit hom alles. Dus, hy is ‘n ware gelowige.

Mattheus 24:48 “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom— 24:49 en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, 24:50 dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; 24:51 en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”
Opmerking: Weereens sal hierdie dienskneg se optrede die ware toestand van sy geloof demonstreer. Hy glo dus nie wat in die Bybel staan nie en glo ook nie dat die Bybel God se woord aan ons is nie. Hy glo dus nie die tekens van die tye, wat in die Bybel bekendgemaak is nie, en daarom steur hy hom nie aan die waarskuwing in die Bybel om waaksaam te wees nie. So ‘n persoon begin dan saam met die ongelowiges een en drink, omrede hy nie werklik in God glo nie, en dus behartig hy nie sy Heer se belange op die aarde, soos wat die Here hom beveel het nie.

Hierdie groep skynheiliges sal mense insluit wat die inspirasie van die Bybel ontken, asook mense wat die Bybel verander om te lees soos wat hulle wil hê die Bybel moet lees, en nie wat werklik in die Bybel gestel word nie. Hulle sal dan hulle eie leerstellings opstel wat met die Bybel in botsing kom, en sal hulle op buite Bybelse openbarings van valse profete beroep om hulle verdraaide leerstellings te regverdig. Deur hierdie optrede verly hulle nie net hulleself nie, maar ook almal wat na hulle leuens en redenasies luister. Ons sien hierdie soort van optrede alreeds in die huidige dispensasie!! Hoe erg gaan dit dan nie gedurende die tyd van die verdrukking wees nie? Sulke skyngelowige mense se begeertes sal nog steeds op aardse rykdom, genot en afgode gerig wees en daarom sal hulle gretiglik saam met die dronkaards begin drink en die ware gelowiges, wat getrou op hulle Heer wag, begin slaan en mishandel. Net soos wat die mense, in Noag se dae in hulle boosheid voort gegaan het en salig onbewus daarvan was dat God se oordele oor hulle uitgegiet gaan word, sal die ongelowiges en die skynheiliges met Jesus se skielike wederkoms in die verderf gedompel word. Dit sluit ook mense in wat net in naam Jesus Christus bely en wat Sy Godheid ontken.

Met Jesus se wederkoms sal al die ongelowiges, wat deur hulle optredes sal bewys dat hulle nie werklik die Here geglo en op Sy koms gewag het nie, in die Hel gegooi word om die wit troon oordeel, wat na afloop van Jesus se duisendjarige Vrederyk sal plaasvind, af te wag. Dan sal daar ‘n geween en gekners van tande wees.
Opn 20:11 “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 20:12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 20:13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 20:15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”

Vlug van mense af wat beweer dat die Here ‘n God van liefde is, en dat Hy dus niemand vir ewig in die poel van vuur sal werp nie. Hierdie leun kom van die Duiwel af en so ‘n persoon verkondig nie die waarheid nie. Die Jesus, wat die God van die Bybel is, sal alle ongelowiges wat nie die Evangelie wil glo nie en wat Sy genade verwerp in die Hel werp. Ons moet daarteen waak om ‘n ander Jesus te skep wat die produk van menslike denke is en wat nie die Jesus van die Bybel is nie. So ‘n Jesus sal niemand kan red nie. Die Jesus van die Bybel is wel liefde, maar Hy is geregtig ook en sal regverdig oordeel. Almal wat nie in Hom gevind word nie, sal in die Hel beland en Hyself sal hulle daarheen stuur.
Joh 5:22 “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, 5:23 sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.”
Ons moet seker maak dat die Jesus wat mense aan ons verkondig, wel die Jesus is, soos wat die Bybel Hom aan ons bekendstel en nie ‘n Jesus wat iemand in sy verbeelding opgemaak het nie. Dit gebeur nogal gereeld in vandag se samelewing!

Net soos wat al die profesieë oor Jesus se eerste koms letterlik vervul is, kan ons verseker wees dat die profesieë oor Sy wederkoms ook letterlik sal plaasvind, soos wat dit duidelik in die Bybel gestel word. Ons moet waak teen mense wat die letterlike profetiese woord vergeestelik om hulle vooropgestelde eskatologie te regverdig. Hierdie mense verlei hulleself en ander wat na hulle luister. Om hierdie rede is dit baie belangrik dat elkeen van ons die Bybel vir onsself bestudeer en weet wat werklik daarin staan.

Voor ek afsluit wil ek net twee punte duidelik stel. Die eerste is dat mense wat tydens die dispensasie van genade (Kerk dispensasie) lewe en wat die Evangelie hoor en nie tot geloof kom voordat die wegraping plaasvind nie, sal nie weer ‘n geleentheid vir wedergeboorte in die verdrukking ontvang nie. Die Here sal ‘n gees van dwaling oor hulle stuur, sodat hulle die Antichris sal aanbid en hom as god sal dien. Hierdie mense sal dus gevolglik in die poel van vuur opeindig!
2Ts 2:5 “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 2:6 En nou, julle weet wat hom (die Antichris) teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou (Die Heilige Gees wat deur die ware Kerk die Antichris se openbaarmaking verhoed), uit die weg geruim is; (Met die wegraping van die ware kerk sal die Heilige Gees nie meer verhoed dat die Antichris sy verskyning maak nie)
2:8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word (die Antichris), hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
Dus kan met sekerheid gestel word, dat die persone wat huidiglik nie die Evangelie glo nie, ook nie weer ‘n geleentheid in die verdrukking sal kry nie. Net mense wat nog nie die Evangelie gehoor het nie en wat nie ‘n geleentheid gehad het om die Evangelie te hoor nie, sal so ‘n kans in die verdrukking kry. Dit is dus van uiterste belang dat indien ‘n persoon nog nie die Evangelie geglo het nie, dat daardie persoon dit nou doen. Die Here kan op enige oomblik Sy bruid kom haal en dan gaan dit te laat wees om dan eers die Evangelie te wil glo.

Die tweede en laaste punt wat ek wil bespreek is dat mense wat die Evangelie in die dispensasie van genade (Kerk dispensasie) glo, deur die Heilige Gees verseël word. Dus neem die Here die verantwoordelikheid op Homself om daardie persoon te bewaar en kan die persoon nie uit genade verval nie, omrede die Heilige Gees permanent in die gelowige inwoon met wedergeboorte.
Efs 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.
2Ko 1:21 Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, 1:22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.
Efs 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Uit die bostaande teksgedeeltes blyk dit baie duidelik dat die Heilige Gees ‘n gelowige verseël tot en met die dag van verlossing. Dit word baie duidelik in bostaande teksgedeeltes gestel!

Maar in die Ou Testament het die Heilige Gees net op seker mense gekom om hulle die krag te gee om God se wil uit te voer. Die Heilige Gees kon egter iemand weer verlaat omrede Hy niemand verseël het nie. Die Heilige Gees het Saul in die Ou Testament ook dan so verlaat!
1Sa 16:14 “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.”
Selfs koning Dawid het die Here gesmeek om nie Sy Gees van hom af te laat wyk, nadat hy egbreuk met Batseba gepleeg en haar man laat vermoor het, nie.
Psa 51:11 “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.”
‘n Gelowige, in die dispensasie van genade, hoef nie bang te wees dat die Heilige Gees hom sal verlaat nie, want die Heilige Gees het met wedergeboorte daardie persoon as Sy eiendom verseël. Die gelowige kan verseker weet dat die Here Sy eiendom sal kom haal.

As ons die Ou Testament noukeurig bestudeer, dan sal daar opgemerk word dat die gelowiges in die Ou Testament nooit die waarborg gegee is dat die Heilige Gees hulle sal verseël nie. Hierdie waarborg is slegs vir die gelowiges gegee wat gedurende die dispensasie van genade (Kerk dispensasie) lewe en wat strek vanaf die tydperk toe die Heilige Gees op pinkster op die dissipels uitgestort is en wat met die wegraping beëindig sal word. Dan sal die Here weer terug draai en weer hoofsaaklik met die volk Israel werk (en sekondêr met die nasies). Hierdie tydperk sal beëindig word met die wederkoms van Jesus en dan sal die 490 jaar tydperk wat oor die volk Israel uitgespreek is voltooi wees. Die mense wat tydens die verdrukking tot geloof kom word nie deur die Heilige Gees verseël nie, behalwe die 144000 Jode wat wel verseël word en behoue deur die verdrukking sal gaan.
Opn 7:3 “en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie. 7:4 En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd vier en veertig duisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel”
Indien die leser nog nie deel een, twee en drie van hierdie reeks artikels gelees het nie, word hy aangeraai om dit te doen, omrede daarin ‘n breedvoerige verduideliking van hierdie gebeure gegee is.

Om hierdie rede, het die Here in Openbaring die mense wat in die verdrukking sal lewe gewaarsku om getrou aan Hom te bly en nie die teken van die Antichris te ontvang nie. Die persoon wat dit doen sal verlore gaan en sal saam met die Antichris gestraf word.
Opn 14:9 “En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, 14:10 sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. 14:11 En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.”
Diegene wat weier om die merk te neem sal uit die finansiële sisteem van die wêreld geskuif word en hulle sal dit moeilik vind om te oorleef. Dus gaan daar geweldige druk op die gelowiges geplaas word om die merk te neem.

Opn 14:12 “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”
Soos baie duidelik uit bostaande teksgedeelte afgelei kan word, is die onus op die gelowiges wat gedurende die verdrukking leef om getrou aan God te bly, en is hulle verantwoordelik om nie die merk van die dier te neem nie. Meeste van die gelowiges wat gedurende die verdrukking tot geloof in die Here gaan kom, sal egter as martelare sterwe.
Opn 6:9 “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. 6:10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? 6:11 En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”
Die wat nie sterwe nie, sal dit baie moeilik op aarde vind. Om hierdie rede noem die Here hulle wat strewe salig, want dan sal hulle verskriklike lyding verby wees en sal hulle veilig in die Hemel wees.
Opn 14:13 “En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.”
Met die oorblywende gelykenisse wat in Mattheus 25 bespreek word sal hierdie waarheid egter baie duidelik uitgebeeld word. Soos reeds genoem gaan die tydperk van die Groot Verdrukking ‘n verskriklike tydperk wees en kan ons as die Kerk dankbaar wees dat ons nie deur hierdie tyd sal hoef te gaan nie.

Tot ‘n volgende keer! Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.