Satan

Satan

Voordat ons met hierdie studie begin, wil ek net die leser vooraf waarsku en om verskoning vra, omrede ek sekere teksgedeeltes soms herhaal. Ek doen dit egter om so ver moontlik die Satan se werkwyses en sy attribute duidelik oor te dra, en dit vir die leser makliker wil maak, deurdat ek die betrokke teksgedeeltes aanhaal en hier weergee, sodat die leser dit direk van die artikel af kan lees. Ek versoek egter die leser om sy eie Bybel byderhand te hou en alles wat ek hier weergee self met die Bybel te vergelyk. Die leser word ook aangeraai om die artikels “Die leerstelling van gevalle engele” asook “Die leerstelling van die Heilige engele ” te lees.

1. Satan se bestaan:

  • Soos wat die Bybel oor hom leer: Satan se bestaan is deur ieder en elke Nuwe-Testamentiese skrywer erken en sy bestaan word in sewe Ou-Testamentiese boeke bevestig.
  • Soos wat Jesus Christus oor Satan geleer het: Die Here Jesus Christus het nie net slegs die bestaan van Satan erken nie, maar het ons ook meer van hom geleer.

Mat 13:39 “en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.
Luk 10:18 Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.
11:18 En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle sê dat Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf.”

2. Satan se persoonlikheid:

  • Hy beskik oor emosies:
    Opn 12:17 “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
  • Hy beskik oor intellek:
    2Ko 11:3 “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.”
    Satan is ‘n hoogs intelligente wese en dit sou uiters dwaas wees om hom te onderskat.
  • Hy beskik oor ‘n wil:
    2Ti 2:26 “en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen.”
  • Persoonlike voornaamwoorde word aan hom toegeskryf:
    Job 1:7 “Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.”
  • Die gebruik van voornaamwoorde om Satan te beskryf bewys dat die Bybel hom as ‘n persoonlike wese, wat sy eie unieke persoonlikheid besit, beskou
  • Die Here behandel Satan as ‘n moreel verantwoordelike persoon:
    Mat 25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”

3. Satan se natuur en aard:

  • Satan se persoonlike eienskappe:
    Hy is ‘n teenstander:
    1Pe 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
    Hy is ‘n aanklaer wat ons die heeltyd by God aankla:
    Op 12:10 “Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”
    Hy is ‘n leuenaar:
    Joh 8:44 “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.”
    Om hierdie rede is dit so belangrik vir gelowiges om die waarheid, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, te verkondig en nie van manipulering en valse profesie gebruik maak as dit by die werk van die Here kom nie.
    Hy is ‘n moordenaar:
    Bostaande teksgedeelte het alreeds hierdie punt mooi gedemonstreer en daarom gaan ek dit nie hier herhaal nie. (sien Joh 8:44)
    Hy is ‘n besliste en toegewyde sondaar:
    1Jo 3:8 “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.”
  • Wat Satan is:
  • Hy is ‘n wese wat deur God geskape is:
    Joh 1:1 “In die begin was die Woord, (die Here Jesus Christus) en die Woord was by God, en die Woord was God. 1:2 Hy was in die begin by God. 1:3 Alle dinge het deur Hom ( die Here Jesus Christus) ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
    Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat alles insluitende die duiwel deur God geskape is.
    Esg 28:13 “Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.”
    Hy is ‘n gees: (Bose gees)
    Efs 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
    Hy is een van die groep engele wat as gerubs bekendstaan:
    Esg 28:14 “Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.”
    Hy het die hoogste gesagsposisie van alle engele beklee:
    Esg 28:12 “Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. 28:14 “Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.”
    (Alhoewel God die koning van Tirus in bostaande teksgedeelte aanspreek, spreek Hy op dieselfde oomblik Satan die krag en inspirasie agter die koning van Tirus aan.)
  • Satan se beperkings:
    Hy is ‘n geskepte wese en daarom is hy nie alwetend, alsiende, almagtig of alomteenwoordig soos God nie:
    Hy kan deur die gelowige weerstaan word:
    Jak 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
    God plaas sekere beperkings op Satan:
    Job 1:10 “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 1:11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 1:12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.”

4. Satan se name, ampstitels en voorstellings:

  • Sy name:
    Duiwel (lasteraar)
    Lucifer (seun van die daeraad [oggend]
    Beëlsebul
    Mat 12:24 “Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.”
    Bélial
    2Ko 6:15 “En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?”
  • Sy ampstitels:
    Die god van hierdie wêreld:
    2Ko 4:4 “naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
    Die owerste van die mag van die lug:
    Efs 2:2 “waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,”
    Die aanklaer van die broeders:
    Op 12:10 “ Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”
    Die versoeker:
    1Ts 3:5 “Daarom, toe ek dit nie langer kon uithou nie, het ek ook gestuur om julle geloof te wete te kom, of die versoeker julle nie miskien versoek het en ons arbeid tevergeefs sou wees nie.”
    Die owerste van hierdie wêreld:
    Joh 12:31 “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.”
    Die bose een:
    1Jo 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”
  • Hoe Satan in die Bybel voorgestel word:
    As ‘n wese wat homself voorstel as ‘n engel van die lig:
    2Ko 11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
    Die ou slang:
    Op 12:9 “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”
    Die Draak:
    Op 12:3 “En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone;”

5. Satan se oorspronklike posisie, status en val:

  • Sy posisie en status:
    Esg 28:11 “Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 28:12 Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. 28:13 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. 28:14 Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. 28:15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.”
  • Sy sonde:
    Jes 14:12 “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! 14:13 En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God (dit kan gewone sterre wees wat ‘n hoë posisie beskryf of dit kan ander engele wees oor wie hy wou heers) en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. (Satan wou God se glorie op homself neem) 14:14 Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! (Hy wou die hemel en aarde in besit neem en daardeur homself as God verklaar. Dit is opmerklik dat hy besef dat niemand hoër as God kan wees nie, en daarom poog hy net om homself met God gelyk te stel. God waarsku ons egter in Sy woord dat Hy nie Sy glorie met enigiemand deel nie. In 1 Tim 3:6 omskryf Paulus Satan se sonde as hoogmoed en om hierdie rede poog Satan altyd om God na te boots. Ons as Christene moet veral op ons hoede te wees vir die sonde van hoogmoed.) 14:15 Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! 14:16 Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? 14:17 Die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie? 14:18 Al die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis; 14:19 maar jy is gewerp, ver van jou graf, soos ‘n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas. 14:20 Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes, jou volk gedood; die nageslag van die kwaaddoeners word vir ewig nie genoem nie.”
  • Sy straf:
    Esg 28:16 “Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! 28:17 Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.”

6. Satan se oordele:
Net soos wat die gelowige se verlossing in fases plaasvind, (lees asb die artikel “drie fases van Verlossing”) vind Satan se oordele ook in fases plaas, en sal hy finaal, na afloop van Jesus Christus se duisendjarige vrederyk, in die poel van vuur gewerp word, waar hy vir ewig gepynig sal word. (Op 20:10)

  • Die duiwel is met Jesus Christus se Kruisiging geoordeel:
    Joh 12:31 “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.”
  • Satan is uit sy hoë posisie in die hemel gewerp:
    Esg 28:16 “Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!”
  • God het in die tuin van Eden oordeel oor Satan uitgespreek:
    Gén 3:14 “Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. (die God/Man die Here Jesus Christus) Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” (die Kruisiging)
  • Gedurende die sewejarige Verdrukking sal die duiwel aarde toe uitgedryf word:
    Op 12:12 “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het. 12:13 En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het;”
  • Met die aanvang van Jesus Christus se duisendjarige vrederyk op aarde sal Satan gebind word en in die afgrond gewerp word:
    Opn 20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 20:2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 20:3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
  • Die duiwel sal na afloop van Jesus Christus se Duisendjarige Vrederyk in die poel van vuur gewerp word waar het vir altyd gepynig sal word:
    Opn 20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”

7. Satan se werkwyse en optredes:

  • Satan se werk en optrede, soos wat dit die Nasies raak:

Huidiglik verlei hy die Nasies:
Op 20:3 “en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”

Hy sal die Nasies versamel en hulle na die slag van Armageddon lei:
Op 16:13 “En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. 16:14 Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”

  • Sy optrede soos wat dit die gelowige raak:

Hy versoek die gelowige om in immoraliteit te verval of immoreel op te tree:
1Ko 7:5 “Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.”

Hy hits ander gelowe, insluitend die valse Christendom, regerings en mense aan om ware Christene te vervolg:
Op 2:10 “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” Onthou die kroon van die lewe is loon wat die gelowige deur getroue werke verdien, en het niks met die kostelose geskenk van die ewige lewe te make nie. ‘n Gelowige kan die kroon van die lewe as loon verloor, maar hy kan nie die geskenk van die ewige lewe verloor nie.

Die duiwel saai ook onkruid (ongelowiges) tussen die koring (gelowiges):
Mat 13:37 “En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, 13:38 en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, 13:39 en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.”

Hy belaster, beskinder en kla die gelowige aan:
Opn 12:10 “ Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”

Die duiwel hinder die gelowige in die uitvoer van sy pligte:
1Ts 2:18 “Daarom wou ons na julle toe kom, ek Paulus, meer as een maal; maar die Satan het ons verhinder.”

Deur van demone gebruik te maak, poog die Duiwel om die gelowige te verslaan:
Efs 6:11 “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

Hy poog om die gelowige te kry om te lieg:
Hnd 5:3 “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?”
Om hierdie rede is dit uiters belangrik dat ons as gelowiges nie van leuens en gemanipuleerde tegnieke gebruik maak, as ons die werk van die Here doen nie. God beskou lieg en enige vorm van oneerlikheid as ‘n ernstige sonde!

  • Satan se werk en optredes soos wat dit die ongelowiges raak:

Hy steel die woord uit ongelowiges se harte:
Luk 8:12 “Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.”

Hy verblind hulle, sodat hulle nie die Evangelie glo nie en dus verlore gaan:
2Ko 4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”

Hy gebruik mense (gelowige sowel as ongelowiges) om God se werk teen te staan:
Opn 2:13 “Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon.”

  • Satan se werk en optredes soos wat dit Christus se versoeningswerk raak:

God het voorspel dat daar konflik tussen Satan en die vrou se saad naamlik Jesus Christus sou wees:
Gén 3:15 “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. (die Here Jesus Christus) Hy (Jesus Christus) sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” (die Kruisiging)

Die duiwel het die Here Jesus Christus in die woestyn versoek:
Mat 4:1 “Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. 4:2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. 4:3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. 4:5 Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan 4:6 en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie. 4:7 Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. 4:8 Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, 4:9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. 4:10 Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. 4:11 Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.”

Die duiwel het verskeie persone (ongelowiges sowel as gelowiges) beïnvloed om Christus se werk op aarde te dwarsboom:
Mat 2:16 “Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.
Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Mat 16:23 Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”

Die duiwel het Judas Iskáriot binnegevaar en hom gebruik om Jesus Christus te verraai:
Joh 13:26 “Jesus antwoord: Dit is die een aan wie Ek die stukkie sal gee as Ek dit ingedoop het. En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskáriot, die seun van Simon. 13:27 En nadat hy die stukkie geneem het, het die Satan in hom ingevaar. En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig.”

8. Die gelowige se wapenrusting wat hom teen Satan sal beskerm:

  • Die gelowige moet die duiwel weerstaan:
    1Pe 5:9 “Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.
    Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
  • God maak soms van Satan gebruik, om sekere van Sy doelstellings in die gelowige se lewe te bewerkstellig:
    2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”
  • Die gelowige moet waaksaam wees:
    1Pe 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
  • Die gelowige mag nie die duiwel laster nie:
    Jud 1:8 “Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens. 1:9 Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou! 1:10 Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde.”
  • Die Gelowige moet sy geestelike wapenrusting aantrek:
    Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 6:14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 6:15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 6:18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges”

Ter Afsluiting: Met die skryf van hierdie artikel, is dit my gebed, dat die leser ‘n kort maar deeglike beskrywing van Satan en sy werkwyses sal ontvang. Soos enige anter artikel op hierdie webtuiste, word die leser aangeraai om die artikel uit te druk, dan aandagtig deur te lees, en oor die inhoud daarvan na te dink en dit met God in gebed te bespreek. Ek het so ver moontlik die Bybel die praatwerk laat doen, maar raai nog steeds die leser aan om alles wat ek hier geskryf het, self met die Bybel te vergelyk, om seker te maak dat wat hier gesê is, die waarheid volgens God se woord is. Dit is verbasend hoe baie addisionele inligting die Here aan mens verskaf, indien mens die tyd afknip en tyd met Hom en Sy woord spandeer. So iets verg soms moeite en opofferings, maar die loon daarvan sal nooit werklik bepaal kan word nie. Onthou alles wat ons in hierdie lewe vir die Here doen, het ewigdurende gevolge. Die ewige lewe word sonder enige werke, van ons kant deur geloof as geskenk van God ontvang. Alle gelowiges gaan egter vir hulle werke (goed of sleg) na wedergeboorte beoordeel word.
2Ko 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
As ons goed doen, gaan ons daarvoor beloon word. As ons sleg gedoen het gaan ons ‘n negatiewe beoordeling by die Regter Stoel Oordeel van Christus ontvang, en gaan ons loon verloor. (onthou die ewige lewe is nie by hierdie oordeel ter sprake nie) Die loon wat ons kan ontvang, en ook verloor, is in terme van hierdie wêreld onberekenbaar, en daarom moet ons ons daarop toewy om loon vir die hiernamaals bymekaar te maak. Die Here self het ons gewaarsku, dat die wat eerste is laaste gaan wees, en die wat laaste is eerste. (alhoewel alle gelowige gered sal wees, sal daar egter verskille in loon wees, en gaan sekere gelowiges selfs dit wat hulle by God in hierdie wêreld ontvang het, verloor! Lees asb die artikel “Gelykenis van die Ponde” vir meer inligting omtrent hierdie onderwerp.) Daar gaan egter ‘n baie groot verskil in loon wees wat heersers posisies, ons erfporsie en Christus se aanprysing asook ander voordele en loon gaan insluit.
Opn 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen (gelowige sowel as ongelowige) te vergeld soos sy werk sal wees.”
Onthou die ewige lewe is verniet, (absoluut kosteloos en geen werke mag daarby gevoeg word as deel van die Evangelie nie) maar dissipelskap en loon gaan ons kos!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.