Die doel met hierdie webtuiste is om die Here te verheerlik met alles wat hier mag verskyn. Om die waarheid te praat net soos wat die Here van ons verwag. Ons wil weer by gelowiges die liefde van die Woord, in sy suiwere waarhede, aankweek. Ons wil ook Bybel-gesentreerde artikels hier plaas, wat opbouend vir alle kinders van die Here sal wees, asook hom of haar te vermaan, om as ligte in ‘n donker wêreld te skyn, sodat ons hemelse Vader se Naam daardeur verheerlik sal word.
Verder is ons doel om weer by mense die versekering te kweek, dat alles wat ons benodig om ‘n godvrugtige en heilige lewe in hierdie wêreld te leef, slegs in die Skrifte te vinde is en nie in buite Bybelse idees en openbarings nie.
2 Timoteus 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Soos wat uit bogenoemde teksgedeelte waargeneem kan word, is die Skrifte al wat ons benodig, en daarom hoef die gelowige nie na buite-Bybelse, en boonop onbybelse ervarings, tydskrifte, boeke of praktyke te gaan vir antwoorde nie, maar slegs na God en Sy Woord alleen. Ons moet weer op die stadium kom, dat indien ons ‘n vraagstuk in die lewe beantwoord wil hê, ons weer die volgende stelling sal maak, naamlik: “Wat sê die Skrifte?” Die Skrif is die finale gesag in ons lewens, omrede dit die Woord van God is, en dus finale gesag het. Hierdie stelling geld vir alle gelowiges wat graag getrou aan die Here Jesus Christus en Sy leerstellings wil bly.
En laastens is ons doel om gelowiges weer so ver te kry, om hulle vertroue weer volkome in die Here en Sy woord te plaas, en derhalwe met absolute sekerheid te kan weet dat God volkome in beheer van alles is. Net soos George Müller wil ons ook aan die wêreld demonstreer dat om in die Here te glo, en op Hom alleen te vertrou die, mees logiese ding is om te doen. Mag ons hemelse Vader se Heilige Naam, deur ons nederige besluit, verheerlik word. Mag die Here ons help om nie aandag op onsself te vestig nie maar op Hom alleen, want alle eer kom Hom en Hom alleen toe!
Boonop versoek ons die Here Jesus Christus en Ons Hemelse Vader om ons verder met hierdie voorneme te help, sodat Sy Naam alleenlik daardeur verheerlik sal word. Boonop is dit ons bede dat ons medebroeders en susters, in Christus, deur die lees van die artikels op hierdie webtuiste geestelik geseën en gevoed word, sodat hulle as getrou dissipels van die Here Jesus Christus op aarde mag lewe! Dit in kort, is die doel wat ons met hierdie webtuiste wil bereik. Amen.