Satan se oordeel

God se sistematiese oorwinning oor Satan

Voordat ons God se sistematiese oorwinning oor Satan bespreek, is dit belangrik om kennis van die feit te dra dat Satan geensins God se gelyke is nie. Sover dit menslike siele aanbetref, verkeer baie mense verkeerdelik onder die indruk dat God en Satan in ‘n gelyke stryd gewikkel is. Die gewilde liedjie van Chris De Burg “Spannish Train” herinner my nogal aan hierdie verkeerde siening. In die liedjie vind ons die Here Jesus Christus en Satan waar hulle ‘n kaartspel speel waarvan die prys die siele van mense is. (dus dobbel hulle met menslike siele!) In hierdie liedjie vind mens ook dat die duiwel dit regkry om die Here te verneuk en sodoende wen hy meer siele. Alhoewel bogenoemde liedjie op niks anders as Godslastering neerkom nie, is dit boonop heeltemal foutief en het absoluut niks met werklike feite te make nie. God en Satan is geensins in ‘n gelyke stryd gewikkel nie. (‘n Valse leerstelling wat as deulisme omskryf kan word.) God, as Almagtige Skepper, is volkome in beheer van Satan en gebruik hom net as instrument om Sy skepsele ‘n les te leer en hulle te dwing om ‘n keuse tussen Homself en Satan te maak. Wanneer ‘n persoon die lig wat God genadiglik aan hom skenk verwerp, dan maak daardie persoon in werklikheid ‘n keuse vir Satan en sal in die hiernamaals saam met Satan die gevolge van daardie keuse moet dra. Mense gaan verlore omrede hulle God se oplossing vir hulle sonde probleem, naamlik die Evangelie van die hand wys. Almal van ons het ‘n keuse om te maak, en ons gaan vir daardie keuses verantwoordelik gehou word. (Die leser word aangeraai om die artikels “Bekering, geloof en die Ewige lewe” asool die artikel “Generiese geloof vs Reddende geloof” te lees.

Dit is verder belangrik om te let dat volgens die Bybel die geskiedenis van die wêreld linieer van aard is. Dus het die aarde se geskiedenis, op die skaal van tyd, ‘n definitiewe beginpunt en sal tot ‘n definitiewe eindpunt kom. Hierdie gebeurtenis sal plaasvind wanneer God die nuwe hemel en nuwe aarde skep.
2Pet.3:3 “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel 4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. 5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, 6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. 7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”
Tydens die verloop van die wêreld se geskiedenis merk ons dat sekere van God se geskape wesens, uit eie keuse teen God gerebelleer het. Gevolglik vorm smart, lyding, asook die dood ‘n integrale deel van die mensdom se ervaring van die geskiedenis. Alhoewel sonde en rebellie, op ‘n put in tyd, God se skepping binnegedring het, kan ons verseker wees dat God wel ‘n einde daaraan sal maak, wanneer God na afloop van Christus se duisendjarige vrederyk, en die Wit Troon Oordeel, ‘n nuwe hemel en nuwe aarde sal skep waarin geen sonde ooit weer toegelaat sal word nie. Vir die doeleindes van hierdie artikel gaan daar hoofsaaklik op God se sistematiese oorwinning oor Satan gekonsentreer word. (Die leser word aangeraai om die artikels “Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” asook die artikel “Satan se optrede ten opsigte die nasies” te lees.)

Net soos wat die mens se verlossing in fases plaasvind, asook die wêreld se geskiedenis d.m.v. dispensasies op ‘n skaal van tyd afgehandel sal word, net so sal Satan se nederlaag, vonnisoplegging en oordeel op ‘n sistematiese wyse op die skaal van tyd uitgevoer en afgehandel word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees.) God is besig om die wêreld se geskiedenis tot ‘n besliste eindpunt te bring, waardeur Hy aan al Sy skepsele sal demonstreer dat slegs Hy as die enigste soewereine God die reg, en vermoeë, beskik om die wêreld, asook die hele skepping suksesvol te regeer. Na afloop van hierdie huidige wêreld se geskiedenis, sal God, Sy heerlikheid volkome tentoongestel het, en daarbenewens aan Sy skepsels die sinneloosheid, suiwer boosheid, asook rampspoedige gevolge wat enige vorm van rebellie teen Hom op ‘n praktiese wyse gedemonstreer het. Boonop sal God ook Sy geregtigheid, genade en liefde d.m.v. Christus se voltooide werk aan die kruis aan die mensdom gedemonstreer het, en sal Hy wel ‘n einde aan enige vorm van rebellie en sonde maak. Om Sy doel met die huidige wêreld se geskiedenis te bewerkstellig, maak God van Sy hele skepping (insluitende alle moreel verantwoordelike wesens, insluitende die Satan) gebruik. Om hierdie rede noem ons Hom die Here van die Leërskare! Derhalwe behoort alle geskape wesens te besef dat hulle volkome van God afhanklik is, en behoort hulle Hom vrywilliglik onderdanig te wees. God het alle engele, asook die mensdom, met ‘n vrye wil geskape, en as moreel verantwoordelike wesens is hulle voor God vir daardie keuses verantwoordelik.

Indien mens vanuit die Skrifte ‘n deeglike studie van Satan maak, sal mens gou opmerk dat die duiwel op ‘n gegewe punt in tyd geskape is, en dat hy ook op ‘n spesifieke punt in tyd teen God gerebelleer het. Indien die hele omvang van die verloop van die wêreld se geskiedenis, soos in die Skrifte gevind, in rekening gebring word, word dit toenemend duidelik dat God die Satan se nederlaag/oordeel op ‘n sistematiese wyse tot uitvoer bring, waarna Satan na afloop van die komende Duisendjarige Vrederyk van Christus in die poel van vuur gewerp sal word. Vervolgens ‘n oorsig van Satan se sistematiese oordeel en vonnisoplegging .

  • Satan se aanvanklike demovering vanuit sy aanvanklike posies in die hemel:
    Jes.14:12 ‘Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! 13 En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. 14 Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! 15 Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!
    In Eseg. 28:12-17 vind ons ‘n verdere beskrywing van Satan, asook hoe beeldskoon en volkome hy geskape is. Let wel: Alhoewel God die koning van Tirus direk aanspreek, spreek Hy egter ook die mag agter die koning van Tirus, naamlik Satan, aan. Die onderstaande teksgedeelte bevestig hierdie feit, naamlik:
    Eseg.28: 12 “Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. 13 Jy was in Eden, die tuin van God;
    (die koning van Tirus was nie so volmaak in skoonheid nie en ook was hy nooit in die tuin van Eden nie.) allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. 14 Jy was ‘n gérub (die koning van Tirus was nie ‘n gerub nie maar ‘n mens) met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. 15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. 16 Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, (die uitwerping van Satan vanuit sy gesagsposisie in die hemel) en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! 17 Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, (Satan is geensins God se gelyke in enige opsig nie) Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.”
  • Satan se neerlaag word alreeds in die tuin van Eden voorspel:
    Na afloop van Satan se aanvanklike rebellie teen God, en sy daaropvolgende demovering, vind ons hom weer in die tuin van Eden, waar hy die mensdom tot rebellie teen sy Skepper aanspoor. Dit is ook tydens hierdie gebeure waar ons die eerste profesie aangaande sy uiteindelike oordeel/ondergang vind. (hierdie profesie is duisende jare voor sy finale oordeel persoonlik deur God aan die duiwel voorspel. Soos wat in die res van hierdie artikel gedemonstreer sal word, merk ons dat Satan se finale nederlaag op ‘n sistematiese wyse d.m.v. verskillende fases plaasvind. Satan is dus van die begin af oor sy finale oordeel/lot ingelig, en daarom kan ons verseker weet dat die duiwel se oordeel wel suksesvol, en op die regte tyd, volkome afgehandel sal word. God is soewerein, alwetend, asook almagtig, en derhalwe kan Sy soewereine plan nie deur Sy skepsele se rebellie (wat die duiwel insluit) in die wiele gery word nie.
    Gen.3: 14 “Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. (omrede Satan, net soos die mensdom, oor ‘n vrye wil beskik, gaan hulle vir daardie keuses verantwoordelik gehou word.) Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. 15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy (die Here Jesus Christus) sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” (die Here Jesus Christus se kruisiging)
    Alhoewel God die Satan vooraf van sy finale oordeel in kennis gestel het, is dit ook duidelik dat God die Satan nie onmiddellik in die poel van vuur (sy finale bestemming) gewerp het nie. (iets wat Hy baie maklik kon doen.) God het ‘n plan met Sy universele koninkryk en wil d.m.v. hierdie plan vir al Sy skepsels ‘n les leer.
  • Satan se nederlaag by die wêreldwye sondvloed:
     Gen.6:1 “Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. 3 Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar. 4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. 5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, 6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. 7 En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het. 8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.”
    Net soos wat al Adam se afstammelinge sondaars is, was Noag ook geensins sondeloos nie. Hy en sy drie seuns, met hulle vroue, het egter in die Here geglo, inteenstelling met die res van die mensdom wat in ongeloof verval het. Sommige Bybelkenners vermoed ook dat sommige van die gevalle engele op die een of ander wyse met vroue uit die mensdom gepaar het wat aanleiding tot ‘n engel-mens hibriede gegee het. Om te verhoed dat die menslike geenpoel heeltemal besoedel word, het die Here die wêreld d.m.v. sondvloed skoongevee om sodoende Noag en sy gesin se geenpoel te beskerm. Hulle gebruik dan teksgedeeltes soos byvoorbeeld Jak.1:6 wat soos volg lees:
    Jak.1:6 “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;”
    Volgens hierdie siening het die Here Jesus Christus vir slegs die mensdom se sonde aan die kruis versoening gedoen en nie vir engel-mens hibrides nie. Alhoewel die hele wêreld in boosheid en ongeloof verval het was daar egter nog ‘n klompie ware gelowiges. Ook in hierdie geval het die duiwel in sy plan misluk en het die Here Sy soewereiniteit oor Sy skepping bevestig. Die sondvloed was dus nog een verdere fase in Satan se uiteindelike nederlaag waar hy uiteindelik in die poel van vuur gaan beland.
  • Die kruisdood van Christus en Satan se nederlaag daar:
    Die duiwel was verkeerdelik onder die indruk dat hy die oorwinning oor Christus behaal het toe hy die Joodse volksleiers opgesweep het om die Here Jesus Christus te laat kruisig. Hy het nooit besef dat sy optrede vooraf deur God van alle ewigheid af geken is en dat God juis die Satan se plan gebruik het om Sy eie wil te bewerkstellig. Die kruisdood van Christus dien as die grondslag waarop Satan se oordeel/ondergang gebaseer is en waarop Satan in die poel van vuur gewerp gaan word. Alhoewel Satan se oordeel verseker is, en hy alreeds kennis van sy skuldigbevinding en vonnis ingelig is, is daardie oordeel/vonnisoplegging nog nie volkome afgehandel nie.
    Joh.16:  7 “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; 8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: 9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; 10 en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; 11 en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”
    Kol.2: 13 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, 15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.”
    Die duiwel se oordeel is dus alreeds uitgespreek, maar sy vonnisoplegging sal eers in die toekoms, na afloop van Christus se duisendjarige vrederyk op aarde, uitgevoer en afgehandel word. Om hierdie rede verwys die Bybel nog steeds na die duiwel as die god van hierdie wêreld.
    2Kor.4: 4 “naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.
    Ef.2:2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,”
    (Die leser word aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer.)
  • Middelpunt van die Verdrukking:
    Na afloop van die wegraping, en aanbreek van die 7jaar verdrukking, vind ons die volgende stap in die sistematiese ondergang van Satan, wanneer die engel Mígael op bevel van God, die duiwel uit die hemel werp en hom tot die aarde beperk.
    Openb.12:7 “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; 8 en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. 9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. 10 Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”
    Alhoewel Satan sy gesagsposisie in die hemel na afloop van sy rebellie vroeg tydens die skeppingsweek verbeur het, het hy nog steeds die reg gehad om voor God en Sy troon te verskyn, waar hy die gelowiges dag en nag aankla. Ons merk nou, dat teen die middelpunt van die verdrukking, met die aanbreek van die groot verdrukking, word hy verdere toegang tot die hemel verbied en dien hierdie gebeurtenis as ‘n verdere fase in Satan se stelselmatige ondergang/oordeel. (Bestudeer gerus die illustrasie “Gebeure-net-voor tydens en na afloop van die Groot Verdrukking”
  • Begin van die Duisendjarige Vrederyk:
    Die volgende fase in die sistematiese oordeel van Satan vind ons tydens die aanbreek van die Here Jesus Christus se duisendjarige vrederyk. Die duisendjarige vrederyk van Christus vind na afloop van die Groot Verdrukking en Christus se wederkoms plaas.
    Openb.20: 1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
    Dit is gevolglik baie duidelik dat Satan eers na afloop van die Here Jesus Christus se wederkoms gebind sal word (‘n gebeurtenis wat nog in die toekoms lê) en nie voor die tyd nie. Enige persoon wat beweer dat hy die duiwel kan bind weerspreek die Bybel en verkondig derhalwe dwaalleerstellings. Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat dit ‘n engel is wat die duiwel gaan bind en nie die Kerk of enige menslike wese nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” te lees.)
  • Na afloop van die Duisendjarige Vrederyk van Christus:
    Die laaste en finale fase in die duiwel se oordeel vind ons na afloop van die Duisendjarige Vrederyk van Christus. (Die Millennium)
    Openb.20: 6 “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. 7 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. 10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier (die Antichris) en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
    Slegs na afloop van die Here Jesus Christus se duisendjarige vrederyk, sal die finale fase van die duiwel se oordeel afgehandel wees.

Ter afsluiting: Met die skryf van hierdie artikel, is daar duidelik gedemonstreer dat Satan se vonnisoplegging (en oordeel ) op ‘n sistematiese wyse, en in fases, deur die verloop van die geskiedenis plaasvind en afgehandel word. Wanneer God die nuwe hemel en nuwe aarde skep, merk ons dat God ‘n einde aan sonde, rebellie en boosheid maak wat vroeg tydens die skepping van die huidige hemel en aarde daardie skepping binnegedring het. Die feit dat God ‘n nuwe hemel en aarde in die toekoms gaan skep word duidelik in die Skrifte voorspel, naamlik:
Openb.21:1 “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. 2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. 3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. 4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. 5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. 6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. 7 Hy wat oorwin, (alle persone wat die Evangelie op ‘n punt van tyd geglo het is in Christus geplaas en is oorwinnaars) sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.”
Na afloop van die huidige skepping, soos wat ons dit vandag ken, se geskiedenis sal God aan Sy skepping op ‘n praktiese wyse gedemonstreer het dat slegs Hy oor die vermoë, asook reg, beskik om as God suksesvol in Sy skepping kan regeer, en dat daar naas Hom geen ander God kan wees nie. Ware geluk kan slegs te vinde wees wanneer ons die Here volkome gehoorsaam en onderdanig is. (Die leser word weereens aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer.) Maranata!

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.