salwing Heilige Gees

Kan mens die Heilige Gees aan ander oordra?

Die Heilige Gees het dit duidelik gestel dat morele, asook leerstellige verval, in die laaste dae erge afmetings sal aanneem.
2Tim.4:2 “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
1Tim. 4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
Soos wat die einde van die Kerk Dispensasie nader kom neem morele, asook leerstellige verval, teen ‘n geweldige vinnige tempo toe. Die onlangse gebeure rondom die sogenaamde profeet Bushiri is maar slegs die punt van die ysberg, en is maar net een simptoom van ‘n baie groot probleem in die belydende Christendom. Die rede hiervoor is eenvoudig. Emosionele ervarings en gevoelens het korrekte Bybel uitleg vervang.

Daar bestaan twee gevare wanneer dit by die uitleg van die Bybel kom. As gevalle wesens is ons altyd geneig om die Skrifte in die lig van ons emosionele toestand, asook die gebeure om ons te interpreteer, instede daarvan om ons emosies en ervaringe deur die raamwerk van die Skrifte te interpreteer. Hierdie feit geld veral vir die werking van die Heilige Gees en daarom is dit van uiterste belang om die Skrifte korrek te interpreteer. (Dit sluit die korrekte konteks waarin ‘n spesifieke teksgedeelte in voorkom in.) Alle Geestelike ervarings moet binne die raamwerk van die korrekte Dispensasie met die Skrifte vergelyk word, alvorens dit as ‘n leerstelling op die Kerk van toepassing gemaak kan word. Ernstige misleiding vind huidiglik in die belydende Christendom plaas juis omrede hierdie beginsel nie in gemeentes toegepas word nie. Een so ‘n probleem is die feit dat pastore, asook ander persone, dink dat hulle nog steeds die Heilige Gees (die salwing van die Heilige Gees of te wel die “annointing”) deur handoplegging of uitsprake aan ander persone (sommige van hulle gelowiges) kan oordra. Hierdie leerstelling is ‘n ernstige mistasting soos wat hierdie artikel sal demonstreer.

Wanneer ons die Skrifte bestudeer, moet ons die dispensasionele veranderings, asook die verloop van God se progressiewe openbarings in ag neem. Een so ‘n voorbeeld is byvoorbeeld die feit dat met die aanbreek van die Kerk Dispensasie, na afloop van Christus se kruisiging en opstanding vanuit die dood, alle gelowiges met die Heilige Gees verseël word wat nie die geval met Ou Testamentiese gelowiges was nie. Om hierdie rede het Dawid, toe Hy met Batseba egbreuk gepleeg het, God gesmeek om nie Sy Gees van hom weg te neem nie.
Ps. 51:13 “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.”
Ons moet onthou dat Dawid onder die Dispensasie van die Wet gelewe het, en was nie deur die Heilige Gees verseël gewees, soos wat dit met alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof kom, die geval is nie.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) Ef.4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking)deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking wat met die Wegraping/eerste opstanding afgehandel sal wees)
Vir ‘n gelowige wat tydens die Kerk Dispensasie God versoek om nie Sy Gees van hom af weg te neem nie, toon sy eie ongeloof en gebrek aan kennis aangaande God se woord. Die rede is eenvoudig! In die lig van God se progressiewe openbaring, en die verandering van dispensasies, het Hy dit duidelik gestel dat alle gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk tot geloof kom, met die Heilige Gees verseël sal word, wat beteken dat die Heilige Gees nooit die gelowige sal verlaat nie. Dit sal dus ‘n teken van ongeloof, en dus sonde wees (die Gees dus troef) om bostaande teksgedeeltes te verontagsaam, en God tydens die Kerk Dispensasie te versoek om nie Sy Gees te onttrek nie. Hy het dit alreeds in Sy woord duidelik gesetel dat Hy dit nie sal doen nie!

Maar het die Here Jesus Christus nie in Lukas 11:13 gesê dat ons vir die ontvangs van die Heilige Gees moet bid nie?
Luk.11:13 “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”
Ja, die Here het dit gesê, maar ons moet egter die dispensasionele konteks in ag neem. Die Here Jesus Christus was as Jood onder die Dispensasie van die Wet gebore en het dus volgens Moses se Wet gelewe. Slegs na afloop van Sy kruisiging het daar ‘n dispensasionele verandering plaasgevind en het die Dispensasie van die Wet tot ‘n einde gekom. Tydens die Dispensasie van die Wet was dit heel gepas om vir die ontvangs van die Heilige Gees te bid. Tydens Sy gesprek met Sy dissipels, die aand net voor Sy kruisiging, het die Here Sy dissipels egter oor die verandering ingelig.
Joh.14:16 “En Ek sal die Vader bid, (met die aanbreek van die Kerk Dispensasie hoef die gelowige nie meer vir die ontvangs van die Heilige Gees te bid nie. Die Here Jesus Christus sou dit namens hulle doen!) en Hy sal julle ‘n ander Trooster (die Heilige Gees)gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; (dus die ongelowiges) maar julle ken Hom, (hulle is dus gelowiges) omdat Hy by julle bly (teenwoordige tydsvorm. Die Gees is dus by hulle maar nog nie in hulle nie.) en in julle sal wees.” (toekomstige tydsvorm. Christus belowe hulle die Heilige Gees wat sou kom en in hulle sou woon. Hierdie belofte is op Pinksterdag volbring.)

Hierdie belofte van Christus skakel mooi met Johannes die doper se vroeëre profesie in, naamlik:
Luk. 3:16 “antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie — Hy sal (toekomstige tydsvorm) julle doop met die Heilige Gees (‘n seëning vir gelowiges) en met vuur.” (komende oordeel van Christus. Alle gelowiges se werke na aanvanklike wedergeboorte gaan met vuur by die Regterstoel Oordeel van Christus beoordeel word, waar die mate van hulle genadeloon bepaal sal word. By hierdie oordeel is daar geen sprake dat die gelowige verlore kan gaan nie, omrede Christus vir al die persoon se sondes aan die kruis versoening gedoen het. Rom.14:3; 1Kor.3:10-15 Die ongelowiges daarenteen sal na afloop van die Duisendjarige Vrederyk van Christus voor die Wit Troon Oordeel van Christus verskyn, waar hulle werke sal bepaal watter mate van straf hulle in die ewige poel van vuur sal ontvang. Openb.20:11-15) Die leser word aangeraai om die artikels “Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus” asook “Die Wit Troon Oordeel” te lees.)

Met die aanbreek van die Kerk Dispensasie, toe die Heilige Gees op Pinksterdag op die gelowiges uitgestort is, is hierdie profesie vervul. By hierdie geleentheid was die dissipels met die Heilige Gees gedoop, en omrede hulle in God se wil was, met die Heilige Gees gevul. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees vs vulling met die Heilige Gees” asook die artikel “Doop met die Heilige Gees en met vuur” te lees. Beide hierdie artikels handel oor onderwerpe wat groot verwarring in die belydende Christendom veroorsaak en wat soms deur valse apostels en profete misbruik word om hulle eie agendas te bewerkstellig.)

Om hierdie rede is dit belangrik op die progressiewe verloop van God se openbaring in Sy woord in gedagte te hou. Onder die Dispensasie van die Wet was dit gepas om die Here vir die salwing van die Heilige Gees te vra, asook om Hom te versoek om Sy Gees nie a.g.v. sonde weg te neem nie. Met die aanbreek van die Dispensasie van die Kerk het daar egter ‘n verandering plaasgevind en word die gelowige permanent met die Heilige Gees verseël. (iets wat nie tydens die Ou Testament die geval was nie.) Vroeg tydens die aanbreek van die Kerk Dispensasie het die Here, om redes van Sy eie, (wat nie nou hier bespreek gaan word nie) verkies om die Heilige Gees soms deur die handoplegging van die apostels aan gelowiges te skenk.
Hand. 8:17 “Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.”
Maar hierdie reël het egter nie in alle gevalle gegeld nie. Met Petrus se besoek aan Cornelius se huisgesin, is die Heilige Gees op die groep mense daar teenwoordig, sonder die handoplegging van die apostels uitgestort. (met die oomblik van geloof in die Evangelie)
Hand.10:44 “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.”

Maar met verloop van tyd het die Heilige Gees Paulus geïnspireer om die volgende stelling te maak, naamlik:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
Al die vorige teksgedeeltes moet dus binne die raamwerk van die dispensasionele veranderings en in die lig van God se laaste stelling rakende hierdie onderwerp, soos in Ef.1:13 gevind, vertolk word alvorens dit as bindende leerstelling op die Kerk van toepassing gemaak kan word. Dus geld die stelling soos is Ef.1:13 gevind op die Kerk en vervang al die vorige werkwyses van die Heilige Gees, omrede die stelling in Ef.1:13 na afloop van al hierdie gebeure gemaak is. Op grond van hierdie feit, ontvang alle mense die Heilige Gees die oomblik wanneer hulle die Evangelie glo en dit sonder die oplê van enige hande. Onthou, die boek van Handelinge handel oor die oorgangstydperk van die vroeë Kerk Dispensasie en is hoofsaaklik vertellende van aard en nie hoofsaaklik voorskriftelik van aard nie. (dit vertel ons dus wat gebeur het en lê nie in alle gevalle die leerstelling wat vir die Kerk Dispensasie sal geld uiteen nie. Vir daardie doeleindes het ons die briewe aan die gemeentes ontvang wat hoofsaaklik die leerstellings van die Kerk uitbou.) Die toepassing van hierdie feite behoort enige verdere verwarring rondom hierdie aangeleentheid, asook enige verdere vergrype rakende die salwing van die Heilige Gees uit die weg te ruim. Gegewe hierdie feit, is dit duidelik dat ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom hulle (willens en in meeste gevalle onwetens) aan valse leerstellings skuldig maak. Dit sluit baie bekende televisie-evangeliste in!

Omrede daar ‘n dispensasionele verandering plaasgevind het, en die feit dat gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie wedergebore word permanent met die Heilige Gees verseël word, verklaar Paulus dat enige persoon wat nie die Heilige Gees het nie, nie aan God behoort nie.
Rom.8:9 “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”
Die feit dat die Heilige Gees die gelowige tydens die Kerk Dispensasie permanent inwoon, is dit net logies dat hierdie feit die fondasie vorm waaruit al die ander Geestelike bedieninge voortvloei. En omrede die Heilige Gees die gelowige permanent inwoon, is enige verdere salwing in die Heilige Gees onnodig en word nie in die Bybel verkondig nie. Nêrens word die gelowiges in die briewe, wat direk aan die Kerk gerig is, aangesê om weer deur die Heilige Gees gesalf te word nie. Gelowiges word aangemoedig om in die Gees te wandel, nie om die een af ander salwing by ‘n persoon te ontvang nie!
Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, (want die Gees is dan alreeds binne in hulle verseël, wat beteken dat Hy permanent by, en in, hulle is) dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; 17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. 18 Maar as julle deur die Gees (wat alreeds binne in julle is) gelei word, dan is julle nie onder die wet nie. 19 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. 22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Om in die Gees te profeteer, in die Gees te val, rond te rol of in onbekende brabbeltaal te praat is nie ‘n vrug van die Gees nie, en so ‘n persoon is nie geestelik nie. (Die leser word aangeraai om die artikels, “Spreek in vreemde tale” asook “Val in die Gees” te lees.) Dit is uiters belangrik om te onthou dat die vrug van die Gees uit waarheid bestaan, naamlik:
Ef.5:9 “Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel, “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” asook die artikel “Genees en genesing tydens die post-apostoliese tydperk” te lees.

Gegewe bostaande feite, behoort dit duidelik te wees dat ‘n persoon nie meer die Heilige Gees deur handoplegging of deur die bemiddeling van enige derdeparty of mens ontvang nie. Boonop ontvang die gelowige ook nie meer as een keer die salwing van die Heilige Gees nie. ‘n Persoon ontvang die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie verstaan en glo en op geen ander wyse of metode nie. Boonop is die Heilige Gees God die Almagtige en kan nie goedsmoeds deur mense rondgestuur en aangesê word om mense te salf net omrede so ‘n persoon dalk mag dink dat hy ‘n reg daartoe het nie. (veral indien so ‘n persoon homself aan dwaalleer skuldig maak nie) Wat in baie gemeentes plaasvind kom nie van die Here af nie en deurstaan ook nie die toets van die Skrifte binne die korrekte konteks nie. Baie van die sogenaamde salwing “annointings” in die Heilige Gees kom nie van God af nie maar kan eerder aan sielkundige manipulering toegeskryf en/of kan self ‘n demoniese oorsprong hê. Daarom vind ons dat vals leraars soos Bushiri, die Copelands, die Hagins, en hordes ander net soos hulle, dit kan regkry om hierdie “gees”, wie nie die Heilige Gees is nie, deur spraak/bevele asook handoplegging aan ander oor kan dra. (en soms word hierdie gees sommer met die hande gegooi!) Diesulke persone dien nie die Here nie maar is eerder met Godslastering besig.

Boonop is dit ‘n teken van ongeloof om die Heilige Gees te vra om ‘n samekoms by te woon. En dit terwyl God alreeds in Sy woord dit duidelik gestel het dat Hy by, en in, alle gelowiges is, en dat die gelowige, asook die ware Kerk as geheel, die tempel van die Heilige Gees is.
Joh.14:16 “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
1Kor.3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? 17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”
Valse leraars skend God se tempel met hulle optredes en valse leerstellings! Hulle kan maar seker daarvan wees dat hulle, hulle dag (asook verdiende loon) sal ontvang! Let wel, daar is baie Godvresende gelowiges, wat leraars insluit, wie slagoffers van dwaalleerstellings is en wat daarvan sal wegbreek indien dit aan hulle uitgewys word. Daar is egter ander wie wolwe in skaapsklere is, en wie weet dat dit wat hulle doen verkeerd is, maar nog steeds daarmee voorgaan. Die Here het ook ‘n woord aan diesulkes, naamlik:
2Kor.11:13 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.
2Pet.2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; 2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; 3 en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”

Ware liefde (soos wat God bepaal) kan nie ware liefde wees indien dit van die waarheid geskei word nie. Die Heilige Gees is immers Heilig en die Gees van waarheid! Liefde wat nie lief genoeg het om te korrigeer nie is nie ware (Skriftuurlike) liefde nie, maar eerder ‘n duiwelse delusie. Die Here stel dit in Sy woord duidelik dat Hy diegene wie Hy liefhet korrigeer.
Heb.12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.
1Kor.11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
Daar is geen uitsonderings nie. Ware liefde korrigeer en dit laat nie alles toe nie! (dit sluit dwaalleerstellings in) God is immers liefde en Hy (wat implikasie Sy woord insluit) is die standaard waarteen alle liefde gemeet moet word!
Spr.13:24 “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.”

Nog ‘n stelling wat mens gereeld hoor, is dat mense God versoek om die Heilige Gees op die een of ander dorp of land moet uitstort. Wat bedoel so ‘n persoon met die term “dorp” of “land”? Die Skrifte stel dit baie duidelik dat die Heilige Gees slegs deur mense wat die Evangelie verstaan en glo ontvang word, nie ongelowiges nie. ‘n Dorp of land bestaan immers uit geredde persone sowel as ongeredde persone. (gewoonlik die oorgroot meerderheid) Die geredde persone sou alreeds met die Heilige Gees verseël gewees het die oomblik toe hulle die Evangelie geglo het. Hulle sou dus alreeds met die Heilige Gees gesalf gewees het. (Ef.1:13; Ef.4:30) Nêrens word ons in die briewe, wat direk aan die Kerk gerig is, aangesê om te bid sodat God Sy Gees op die een of ander dorp of land uitgestort moet word nie. Ons word wel aangesê om te bid, en met die verkondiging van die Evangelie besig te wees, omrede dit die krag van God tot redding van mense wat glo is, naamlik:
Rom.1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Ons moet eerder by die opdragte wat God in Sy woord aan ons gee bly en dit gehoorsaam. Baie stellings wat mens deesdae binne die geledere van die belydende Christendom hoor klink op papier baie mooi maar is egter heeltemal onskriftuurlik en niks anders as fabels nie. (2Tim.2:4)

Wanneer ‘n persoon die Skrifte verlaat, en op omstandighede en gevoelens begin staatmaak, stel so ‘n persoon homself aan ernstige misleiding bloot. Hierdie feit geld ook vir mense wat goedsmoeds enige leeraar glo sonder om sy stellings binne die korrekte konteks met die Skrifte te vergelyk.
Spr.3:5 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.
Jer.17:5 So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.”
Baie mense vertrou onder die vaandel van godsdiens eerder die charismatiese “profeet” of “apostel” instede om werklik op God en Sy woord te vertrou. Sodoende plaas so ‘n persoon op ‘n subtiele wyse eerder sy geloof in ‘n persoon instede van God en Sy woord.
Mark.11:22 “Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.”
Indien hulle egter die moeite gedoen het, om alles wat aan hulle verkondig word met die Skrifte te vergelyk, sou hulle die valse leraars en hulle dwaalleerstelling kon identifiseer en met hulle breek.

Binne ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom word die hedendaagse godsdiens meer rondom die mens en sy begeertes gebou, instede van God en Sy woord. Indien God se wil nie op die een af ander wyse om die hedendaagse gelowige en sy wil/begeertes draai nie dan stel so ‘n persoon nie belang om verder te luister nie. Instede van werklik God se wil vanuit die Bybel te bekom, draai hulle eerder na buite Bybelse profesieë, asook die sogenaamde “salwing in die Gees” (anointings) en fokus op vleeslike manifestasies, asook sensasies, om goed te voel en om hulleself te oortuig dat God by hulle teenwoordig is. Hulle wil dus eerder op sig wandel as op geloof soos wat die Here dit in Sy woord bepaal het.
Heb. 10:38 “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.
2Kor. 5:7 Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”

En sodoende word hulle maklik die slagoffers van dwaalleerstellings en aanvaar in baie gevalle gedwee die gevolge daarvan!
2Kor.11:20 “Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan.”

Om werklik in geloof te leef, is om te glo wat God in Sy woord aan ons sê. Wanneer ons geloof van ons belewenisse, gevoelens, waarnemings asook vleeslike manifestasies afhanklik is beskik ons nie oor geloof wat die Here behaag nie. Ons geloof moet slegs op God se woord gebaseer wees en dit ten spyte van enige emosies, ervarings, omstandighede en belewenisse, wat maar alles wisselvallig is, en wat maklik verkeerd geïnterpreteer kan word. ‘n Persoon kan byvoorbeeld op sy sterfbed met erge pyn en doods wroegings worstel maar nog steeds op God se woord vertrou al beleef hy verskriklike omstandighede. Dit is so persoon wat die Here behaag. Ons lewens gaan nie altyd net aangenaam wees nie. Daar gaan tye wees, wanneer ons omstandighede nie so aangenaam gaan wees nie, tye wanneer ons onsself in diepe duisternis gaan bevind. Dit is in tye soos hierdie wanneer ons geloof in God tot die uiterste getoets sal word en wanneer Hy juis ver van ons af voel. Die gelowige wat in tye soos hierdie vas bly glo dat die Heilige Gees by (en in) hom is en en dat Hy hom nooit sal verlaat nie (gebaseer op God se woord soos in die Bybel gevind) wie se geloof die Here sal behaag.
Hebr.11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
Jes.50:10 “Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God! 11 Kyk, julle almal wat ‘n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord — wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.”

Ter afsluiting: Vanuit die huidige studie is daar vanuit die Skrifte duidelik gedemonstreer dat die Heilige Gees nie meer deur die bemiddeling van enige persoon of deur handoplegging op mense uitgestort word nie. ‘n Persoon ontvang die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie verstaan en glo en op geen ander wyse nie. Wat ons vandag in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom sien is nie van die Here afkomstig nie. John Wimber van die Vineyard Beweging en die groepe wat daaruit voort gevloei het (en ander groepe soos dit) is van die groot sondebokke in hierdie verband en het die ware Christendom ongekende skade berokken. Hulle het egter vergeet dat die Heilige Gees die Gees van waarheid is. Deesdae is die slagspreuk geloof en positiwiteit, wat tot voorspoed, genesing en “bewegings” van die Heilige Gees aanleiding sal gee. Baie mense gaan van die een samekoms na die ander om die “salwing” te ontvang, sodat hulle vleeslike manifestasies kan ervaar. Hulle vergeet egter dat Bybelse geloof nie ‘n krag is wat ons deur geloof en positiwiteit kan aktiveer om God so ver te kry om ons wil te laat geskied nie. Ware geloof se waarde/krag is uitsluitlik in die voorwerp van daardie geloof, naamlik God, gesetel en dit is Sy wil wat saak maak nie ons wil nie.

Ware Bybelse geloof in nie ‘n poging om God te manipuleer om ons wil te doen nie, maar is ‘n vaste oortuiging dat Hy, as God, alwetend is en weet wat ons nodig het, al is dit nie wat ons graag wil hoor nie. Die heilige Gees is nie die een of ander krag/gees/salwing wat die een persoon na ‘n ander kan oordra en dit boonop deur mense wat alles behalwe heilig lewe maar wat eerder wolwe in skaapsklere is nie. ‘n Groot gedeelte van die godsdiens wat ons vandag in die belydende Christendom aantref, is slegs in naam godsdiens, maar dit is eerder mense-diens onder die dekmantel van godsdiens. Die verwikkelinge rondom Bushiri is nie die eerste so ‘n geval nie, en sal ook nie die laaste wees nie. Wolwe soos hy gaan onverpoosd met hulle dwaalleerstellings voort, en daardeur word God en Sy woord in oneer gebring. (en deur ongelowiges bespot) Hulle slaag grotendeels in hulle doel omrede hulle die meeste Christelike netwerke beheer. Hulle weet dat dit geriefliker is om ‘n televisie aan te skakel, en te luister wat ander sê, (veral as die inhoud daarvan juis dit is wat ons die graagste wil hoor en ons vleeslike begeertes voed) eerder om self ons Bybels op te tel, te leer hoe om die Bybel op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse te interpreteer, en dan in diepte Bybelstudie te doen. Mag die Here ons daarmee help! Slegs dan sal ons weet wat die Here werklik aan ons wil sê.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.