Verbly julle in die Here

Verbly julle altyd in die Here, ek herhaal: Verbly julle!

Ons almal se lewens beïnvloed diegene rondom ons met wie ons gereeld in aanraking kom en veral gelowiges moet hierdie feit altyd in gedagte hou. Dit is God se wil dat ons lewens ons medemens se lewens ten goede moet aanraak. Wanneer ons egter die heeltyd oor alles loop en kla, en die heeltyd negatief oor alles is, kan dit maklik daartoe aanleiding gee dat dit ons medemens ook negatief kan aanraak. Boonop kan sodanige negatiewe gesindheid ‘n vaste patroon in ‘n persoon se lewe word, wat dit moeilik gaan maak om daaruit te kom. So ‘n persoon tree boonop ook buite God se wil vir hom op. Eerder as om oor alles te kla, verwag die Here van ons om onsself altyd in Hom te verbly met die wete dat Hy groter as ons omstandighede is.
Filip.4:4 “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!”
God sal nooit iets van ons verwag waarvoor Hy nie ook die krag aan ons sal verleen om dit te kan doen nie.

Dit is en bly God se wil vir ons om in alles dankbaar te wees, naamlik:
1Thess.5:16 “Wees altyddeur bly. 17 Bid sonder ophou. 18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”
In bogenoemde teksgedeelte merk ons dat Paulus ons beveel om altyddeur bly te wees, te bid, asook om altyddeur dankbaar te wees. By implikasie beteken dit dat God verwag dat ons bostaande bevele kan verstaan, en toepas, met die wete dat Hy in die hede sowel as in die toekoms (solank as wat ons leef en by ons volle verstand is) aan ons ‘n geleentheid gee om Hom in hierdie opsig te eerbiedig. Die bevel om altyddeur bly te wees, asook om te bid, is dus aan ‘n tydsaspek van ons lewens gekoppel, en die bevel om in alles dankbaar te wees, hou met ons huidige omstandighede verband. Dus verwag God van ons om ten alle tye, en onder alle omstandighede, hierdie bevel toe te pas. Paulus verklaar dan onomwonde dat dit God se wil vir ons is.

Om die Here onder goeie omstandighede te prys en dankbaar te wees is maklik. Dit is egter ‘n hele ander saak indien ons onsself in moeilike omstandighede bevind. Om God se opdrag in hierdie opsig te eerbiedig, beteken dat die gelowige deur geloof ‘n bewustelike keuse moet maak, om onder alle omstandighede homself in die Here te verbly en vir alles dankbaar te wees. Om waarlik gelukkig te wees begin met die keuse om werklik dankbaar te wees. Dit is ‘n geloofsoefening waardeur ons onsself moet forseer om iets te vind waarvoor ons dankbaar kan wees, eerder as om op die negatiewe ding te fokus wat ons van die binnekant af stukkend kan skeur. Daarbenewens moet ons onsself ook in geloof forseer om die Skrifte te oordink en op teksgedeeltes fokus wat ons spesifieke probleem aanspreek. Om hierdie rede is dit belangrik dat ons gesonde Bybelse leerstellings inneem, sodat die Heilige Gees dit in ons verstand kan opbring wanneer ons die Skrifte oordink. Om hierdie rede is dit baie belangrik om elke gedagte gevange te neem, naamlik:
2Kor.10:4 “want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, 5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”

Sodanige geestelike stryd is nie maklik of eenmalig nie, maar is iets wat ons elke oomblik van elke dag bewustelik in geloof moet beoefen. Boonop moet ons die beginsels wat ons in die Skrifte geleer het in ons lewens toepas, en dit alles op grond van geloof in die feit dat ons weet dat die Heilige Gees in ons verseël is. Indien ons in geloof die keuse maak om God gehoorsaam te wees, sal die Heilige Gees in en deur ons werk om God se wil te bewerkstellig. Gewapen met hierdie feite kan ons die menslik onmoontlike opdragte in die Wet van Christus suksesvol nakom, naamlik:
Filip.2:14 “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, 15 sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,”

Ons moet nie ons gevoelens met geloof verwar nie. ‘n Persoon se emosies is nie onlosmaaklik aan sy geloof gekoppel nie. In tye waar ons moeilike omstandighede beleef kan ons gevoelens teen ons werk, wat daartoe aanleiding kan gee dat ons emosies ons geloof negatief kan beïnvloed. Daarom is dit van uiterste belang dat wanneer ons onsself in moeilike omstandighede bevind, ons nie op grond van ons negatiewe emosies moet funksioneer nie maar eerder op geskrewe woord van God moet vertrou. Die Skrifte is immers God se woord aan ons. Wanneer ons negatiewe gevoelens dreig om toe te teem behoort ons geloof tot nog ‘n groter mate toe te neem. Dit sal verhoed dat ons negatiewe emosies ons oorweldig. Om hierdie rede is dit belangrik dat ons in ons geloof moet funksioneer en nie op ons gevoelens nie. Indien ons werklik onsself daartoe verbind om God se woord te eerbiedig, sal ons gevoelens met tyd inlyn met ons geloof stabiliseer. Dit beteken nie dat ons glad nie meer negatiewe emosies sal beleef nie, maar dit sal verseker dat ons emosies ons nie oorheers nie. Wanneer ons hierdie beginsels verstaan, en in geloof toepas, sal dit daartoe aanleiding gee dat ons geestelik bo ons moeilike omstandighede sal uitstyg, en God se vreugde sal ervaar al beteken dit dat ons nie noodwendig onmiddellik fisies vanuit ons moeilike omstandighede verwyder word nie.

Een so ‘n voorbeeld is dat ons dalk ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, maar as gelowiges weet ons dat ons met ons geliefdes, tydens die wegraping weer verenig sal word om nooit weer geskei te word nie.
1Thess.4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, (met die wegraping)saam met Hom bring.”
Alhoewel ons dalk oor die afsterwe van ons geliefdes kan huil, kan ons ook op dieselfde oomblik vreugde beleef, met die wete dat ons geliefdes vol vreugde by die Here is en ons hulle weer sal sien. Boonop kan ons moet skep, want ons weet dat hulle nooit weer sal ly soos wat ons nou ly nie en daarvoor moet ons dankbaar wees.

‘n Persoon wat homself alreeds gekondisioneer het om op grond van slegs sy emosies te funksioneer, gaan dit aanvanklik moeilik vind om eerder slegs deur geloof op negatiewe situasies te regeer. Die Here sal ons nie beveel om deur geloof te lewe indien dit vir ons onmoontlik sou wees nie. Die enigste wyse waarop die Skrifte eerbiedig kan word is deur geloof. Nêrens word ons in die Bybel aangesê om volgens ons emosies te lewe nie. Inteendeel, ons emosies kan heel misleidend wees. Veral in moeilike omstandighede kan ons ernstige foute begaan juis omrede ons emosies so ‘n sterk invloed op ons kan uitoefen. Ons moet nooit ons emosies met ware Bybelse geloof verwar nie.

Bybelse geloof is om dinge te sien soos wat God dit sien, en dan dienooreenkomstig in daardie waarhede te rus.
Rom.1:17ff “Maar die regverdige (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) sal (opdrag) uit die geloof lewe.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat ‘n voortgesette lewe van geloof vereis.)
Om vanuit die geloof te lewe kan heel bevrydend wees, omrede dit ons van die tirannie van ons omstandighede kan bevry. Dit plaas ons boonop in ‘n posisie waarin ons ons probleme vanuit God se perspektief kan waarneem. Ons probleme kan seer sekerlik nie groter as ons God wees nie, en hierdie feit behoort ons van emosionele oorreaksie in situasies waaroor ons geen beheer het nie te bevry. Slegs wanneer ‘n persoon God se perspektief aangaande sy lewe handhaaf, kan daar met regte gesê word dat die persoon werklik in God se wil vir hom leef.
Jak.1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”

Indien ons deurlopend deur toegewyde, en sistematiese Bybelstudie God se woord in geloof in ons lewens toepas, sal ons ‘n plek in ons geestelike lewens bereik waar God se woord meer werklik as ons omstandighede en emosies word. Indien ons tot hierdie vlak van geestelike volwassenheid opgegroei het, sal ons ‘n geestelike toestand van ware vreugde en vryheid betree, en solank as wat die gelowige hierdie vlak van geloof in God se woord handhaaf sal sy vreugde nie van hom weggeneem kan word nie.
Rom.8:35 “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
Hierdie mate van geestelike volwassenheid sal slegs bereik word indien ons in geloof toelaat dat die Heilige Gees dit in en deur ons bewerkstellig. Hierdie hele proses begin egter in ons wil wat ons denke ook insluit.

In hierdie opsig het die proponente van die Voorspoed Evangelie, en Die Woord Geloof beweging die belydende Christendom deur hulle valse leerstellings, en wanvoorstelling van ware Bybelse geloof ernstige geestelike skade berokken. ‘n Persoon wie se geloof nie op dispensasionele kontekstuele korrekte Bybelse waarhede gebaseer is nie, se geloof is op menslike opinies gebaseer wat nooit as ware Bybelse geloof sal kwalifiseer nie. Sonder Bybelse waarhede (wat korrekte Bybelse leerstellings insluit) is Bybelse geloof onmoontlik, en hierdie feit verhoed baie gelowiges om werklik tot geestelike volwassenheid op te groei. In hierdie opsig word hulle boonop nie vir die soms moeilike omstandighede waarteen Christus ons gewaarsku het voorberei nie.
Joh.16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Ons moet valse leerstellings soos gemorskos vermy, omrede dwaalleerstelling ons baie meer skade as gemorskos kan berokken. En net soos gemorskos ons op die korttermyn goed kan laat voel, maar in die langtermyn ons dood kan maak, so ook kan valse leerstellings ons op die kort termyn goed laat voel maar dit verhoed egter dat ‘n persoon tot geestelike volwassenheid opgroei. Gelowiges wat nie tot geestelike volwassenheid opgroei nie, kan nie genadeloon verwag, of verwag dat God hulle in posisies van aansien in Christus se komende koninkryk moet aanstel nie. Lees gerus weer die artikel “Die Gelykenis van die Ponde” Ons moet altyd ten sterkste daarna streef eerder om met voedsame geestelike kos gevoed te word.

Ons moet God toelaat om God te wees. Wanneer ons hierdie feit vergeet dan wil ons self in beheer van alles wees. In hierdie opsig benadeel ons onsself omrede slegs God in beheer van alles kan wees. Daar is mense wat hulleself letterlik in die graf in bekommer omrede hulle nie God wil toelaat om volkome in beheer van hulle lewens te wees nie. Die Skrifte vermaan ons om al ons sorge op Hom te werp omrede Hy vir ons sorg, naamlik:
1Pet.5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg (alreeds) vir julle.”
Die Here wil nie hê dat Sy kinders in angs moet lewe nie. Hy begeer dat hulle vry van vrees lewe en eerder met vrede en vreugde gevul moet wees.
Filip.4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”

‘n Gelowige wat tot geestelike volwassenheid opgegroei het, sal soos Paulus besef dat God soms teëspoed in ons lewens toelaat, sodat ons geestelik daardeur kan groei en om hierdie rede kon Paulus die volgende stelling maak, naamlik:
Rom.5:3 “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, 4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; 5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
En een van die groot redes waarom ons in tye van lyding onsself kan verheug, is omrede ons weet dat God ons lyding gebruik om ons tot geestelike volwassenheid te bring, om sodoende ons toenemend gelykvormig aan die beeld van Sy Seun te maak. God handel vanuit ‘n ewige perspektief, en indien ons Hom toelaat om ons tot geestelike volwassenheid te ontwikkel, sal Hy ons ryklik by die Regterstoel Oordeel van Christus daarvoor kan beloon. Self op ons sterfbed is God volkome in beheer, en hoef ons vir niks te vrees nie want Hy is by en in ons teenwoordig. Ons het Sy woord dat Hy ons nooit sal verlaat nie en Hy sal nie. Al die lyding wat ons in hierdie wêreld moet deurgaan is maar net ‘n oogwink in die tapisserie van die ewigheid.

God wil in Sy verhouding met ons, ons geloof tot so ‘n mate ontwikkel dat ons Sy uitkyk op ons lewes deel, met die bedoeling dat God se gedagtes, begeertes, wil, en prioriteite ons sin word. Daarom is dit belangrik dat ons God se hele raadsplan vir ons lewens geredelik aanvaar, sodat God se wil vir ons die grondslag van ons verwysingsraamwerk vorm. Wanneer ons verwysingsraamwerk toenemend met die van God ooreenstem sal die gelowige van binne af na buite deur die Heilige Gees verander word om toenemend soos Christus te word. Wanneer ons oor alles kla dan weerstaan ons God in hierdie opsig. Die Here Jesus Christus dien as mooi voorbeeld vir ons, en was ook geensins van lyding met Sy eerste koms gespaar nie, naamlik:
Hebr.5:8 “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het;”

Die gesindheid van ons harte beïnvloed ons waardes en dienooreenkomstige optredes. Die Here Jesus Christus het juis diegene geprys wat Sy woord in hulle harte bewaar en wat met volharding vrug dra. (Luk. 8:15) Die leser kan weer gerus die artikel “Die gelykenis van die Saaier” weer ‘n slag lees. Ons almal het ‘n keuse om te maak. Ons kan ons rug op God se woord draai en volgens ons eie wil, en insig leef (en die gevolge daarvan dra), of ons kan onsself in nederigheid aan Hom, en Sy wil vir ons onderwerp met die wete dat Hy ons in Sy hande dra. God het ‘n doel met alles. Ons bring onnodiglik smarte oor onsself wanneer ons oor alles top en kla. Wedergeboorte bring nie outomaties nederigheid of ‘n goddelike perspektief na vore nie. Na aanvanklike wedergeboorte moet elke gelowige deur die proses van heiligmaking sy aardse verwysingsraamwerk met ‘n Goddelike verwysingsraamwerk vervang. Hierdie eerbare doel sal slegs bereik word indien die gelowige op ‘n konsekwente en gereelde wyse Bybelse leerstellings inneem en dit in die krag van die Heilige Gees in sy lewe toepas. Dit is egter ‘n lewenslange proses en daarom moet ons nooit verslap of moed opgee nie. (Rom 12:1-2; Ef 4:11-16; 2 Tim. 2:15; 3:16-17; 1 Pet 2:2; 2 Pet 2: 3:18).

Vrees is egter nie ‘n emosie wat ‘n persoon na goeddunke kan beheer nie, en daarom moet ons leer om toenemend deur die Gees te wandel, op die Here Jesus Christus te fokus en volkome op Hom staat te maak. Dit sal baie help indien ons, ons gedagtes op die Bybelse waarhede fokus eerder as om oor ons probleem na te dink.
Kol.3:2 “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Filip.4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”

Indien ons op die probleme in die wêreld om ons gaan fokus gaan ons bang word. Wanneer ons egter op Christus en Sy woord fokus sal ons vrede ervaar.

Ter afsluiting: Die Here Jesus Christus moet die sentrale plek in ons lewens inneem, nie ons omstandighede of begeertes nie. Dit is juis wanneer ‘n gelowige toenemend deur die Heilige Gees na die beeld van die Here Jesus Christus verander word, wanneer die vrede van God in daardie gelowige se lewe sal manifesteer. Onthou, die vrug van die Gees sluit vrede en vreugde in. Die grondslag van sodanige vrede is ons vertroue in die Here Jesus Christus, en dit is juis hierdie vertroue wat God toenemend in ons lewens deur heiligmaking wil ontwikkel. Ons moet God tot die dood toe vertrou.
Jes.26:3 “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U. 4 Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is ‘n ewige rots.”
Die innerlike deel van die mens smag om geestelike voedsel in te neem en om gereeld gemeenskap met God te geniet. Net soos wat ons liggame gesonde voedsel moet inneem om korrek te funksioneer, moet ons ook gesonde geestelike spys inneem om geestelik gesond te bly. Indien ons nie voortdurend gemeenskap met God geniet nie, en ook nie in die Gees wandel nie, sal dit tot depressie en vrees aanleiding gee. Hoe langer werklike gemeenskap met God vermy word hoe erger sal die probleem raak.

Ja, die druk kan by tye baie groot wees, maar in daardie tye moet ons ‘n bewustelike geloofsbesluit neem om nie daaroor te kla nie, maar om eerder altyd bly te wees, sonder ophou te bid en in alles dankbaar te wees. Ons moet na dinge vanuit God se perspektief kyk, en kies om Hom loof en te prys met die wete dat Hy alles vir ons ten goede laat saamwerk. (Rom.8:28)
2Kor.4:16 “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 17 Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; (wat genadeloon insluit) 18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
Oordink asb die onderstaande teksgedeelte vanuit ‘n ewige perspektief, naamlik:
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom lief het.”
En daarom:
Filip.4:4 “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
5 Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.