Ek is bekommerd! Gee God nie om nie?

Ek is bekommerd! Gee God nie om nie?

Mar 4:35 “En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant. 4:36 En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom. 4:37 En ‘n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. 4:38 Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?”
Opmerking: Ons lewe in ‘n tydperk waarin baie dinge skeefloop en dan raak ons bekommerd en voel asof God nie ons gebede verhoor nie. Ander van ons beleef soms ook tydperke van erge probleme en teenspoed en worstel dan met God in gebed daaroor, maar dit wil voorkom asof God nie werklik omgee nie. In sulke gevalle voel dit ook vir hulle asof God in die skuit lê en slaap!

In tye soos hierdie, is dit dan ook ‘n gulde geleentheid vir Satan om in ons gedagtes vir ons te fluister, dat God nie werklik vir ons omgee en ook nie ons gebede sal verhoor nie. Hierdie suggesties van Satan kan op ‘n baie subtiele wyse in ons verstand geplaas word en wat aanvanklik eers na ‘n klein probleempie mag lyk, verander naderhand in ‘n berg soos wat ons, ons oë van Jesus afhaal en ons oë op die probleem begin vestig en daaroor begin nadink. Baie van ons bevind onsself egter wel soms in diepe waters en is die probleem wel groter as wat ons kan hanteer. In gevalle soos hierdie is Satan nie nodig om ons aan die grootheid van die probleem te herinner nie, maar dien die omvang van die probleem self as bewys dat die probleem groter is as wat ons ooit sal kan hanteer. Dan is dit nie lank voordat ons die Here se getrouheid bevraagteken en in Sy beloftes begin twyfel nie. Baie mense bevraagteken God se liefde vir hulle en wonder of God werklik vir die mens omgee!

Markus 4:39 “En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom.”
Opmerking: Ons moet nie geloof op buite Bybelse profesieë of omstandighede bou nie maar op God en Sy Woord alleen. Die Bybel stel dit baie duidelik dat God ons so lief gehad het dat Hy Sy eniggebore Seun gestuur het om vir ons sondes aan die kruis te sterf. (Joh 3:16) Indien dit sou gebeur dat ons onsself in moeilike omstandighede mag bevind en die Here nie ons gebede beantwoord nie, moet ons nie moedeloos raak en God se liefde vir ons begin bevraagteken nie. Dit kan dalk wees dat daar sonde in ‘n persoon se lewe mag wees wat die Here uit die persoon se lewe uit wil verwyder alvorens Hy die gebede wat aan Hom gerig is beantwoord.
Heb 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?”
As ons hemelse Vader, is God te lief vir ons om toe te laat dat ons in die moeras van vuilheid en sonde voortleef. Hy het immers nie gesterwe om ons in sonde te laat voortleef nie, maar om ons van sonde te verlos. Sal jy as ouer jou kind in vrot riool water laat speel. So sal God ook nie toelaat dat dit met ons gebeur nie. Sy liefde vir ons sal dit nooit kan toelaat nie.
Luk 11:11 “En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee;”
God sal nie aan Sy kinders iets gee wat hulle skade sal berokken nie. Dink mooi na oor hierdie feit en vra die Heilige Gees om jou te lei.

Indien daar geen bewuste sonde in ‘n persoon se lewe is nie en die Here nog steeds nie die persoon se gebede beantwoord nie, is dit heel moontlik dat God daardie persoon se geloof toets met die doel om die persoon se geloof te versterk, sodat die persoon God kan verheerlik en loon vir die ewigheid kan bymekaar maak!
1Pe 1:6 “Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 1:8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 1:9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.”
In sulke moeilike omstandighede het ons ‘n groot geleentheid om God se Naam te verheerlik en aan die wêreld en Satan kan bewys dat ons geloof en liefde vir God nie afhang van die seëninge wat Hy aan ons gee nie, maar dat ons Hom liefhet vir wie Hy is. Hou egter altyd die feit ingedagte dat God almagtig is en dat Hy op enige gegewe tyd net ‘n woord hoef te spreek en al die probleme wat so groot lyk sal in ‘n oogwink verdwyn. Hou aan hierdie waarheid vas.

Onthou ook dat as God oor kraaie besorg is, hoeveel te meer is Hy nie besorg oor ons wat erfgename saam met Jesus Christus is nie? (Gal 3:29)
Luk 12:24 “Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!”

Markus 4:40 Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? 4:41 En ‘n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!”
Opmerking: Soos wat al in vorige artikels baie duidelik gestel is, lê die waarde of krag van ons geloof nie in ons geloof self nie, maar in die objek/voorwerp van ons geloof, naamlik in God die Almagtige. Dus moet ons nie leer om meer geloof in ons geloof te verkry nie, maar ons geloof moet in God gestel word en ons moet leer om die Almagtige volkome te vertrou, dit maak nie saak hoe haglik ons omstandighede mag lyk nie.
Efs 3:20 “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, 3:21 aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.”

Dit gebeur gereeld dat God van ons verwag om op Hom te wag en dit verg nie net ware geloof nie, maar ook geduld, wat een van die vrugte van die Gees is. Sodoende verseker God dan dat Sy kinders geestelik groei, tot so ‘n mate dat hulle volkome in Hom en Sy liefde vir hulle sal glo. Kyk wat het God met Abraham gedoen. Hy het gewag totdat dit vir Abraham menslik onmoontlik was om kinders te hê, alvorens Hy ingegryp het en ‘n wonderwerk gedoen het en ‘n seun aan hom gegee het. Onthou God kan dieselfde vir ons doen. Ons moet net leer om op die punt te kom waar ons nooit God se liefde vir ons sal bevraagteken nie.
Rom 8:35 “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
8:36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

Onthou niks is vir God onmoontlik nie en Hy laat alles saamwerk vir die wat Hom liefhet.
Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Onthou egter dat ware liefde meer as net woorde is en dit manifesteer altyd in dade.
Joh 14:15 “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.
14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
Ons moet nooit op ons probleme en omstandighede fokus nie, maar op God wat ons oneindig liefhet. Verder hoef ons nie ons probleme self te behartig nie, ons moet dit in gebed na ons Hemelse Vader neem, want Hy gee vir ons om. Moenie moedeloos raak nie!! Hou jou oë gevestig op Jesus nie op jou probleme en die wêreld nie!!
1Pe 5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.