Gelowiges se Werke gaan Beoordeel word

Gelowiges se Werke gaan Beoordeel word

Voordat ons met hierdie studie oor ons werke begin, is dit belangrik dat ons as gelowiges, d.w.s. alle persone wat die Evangelie geglo het, weet dat hulle nooit verlore sal kan gaan nie. (Lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer inligting rondom hierdie onderwerp) (Joh 3:18 Joh5:24) Boonop is al die gelowige se sonde (verlede, hede en toekomstig ) op Jesus Christus geplaas, en het Hy met Sy lewe vir ons sondes aan die kruis versoening gedoen. (Kol 2:14) Daarom is ons volkome veilig in Jesus Christus en kan die gelowige nooit verlore gaan nie.(1Ko 1:30) Ons is begenadig in die Geliefde. (Efs 1:6) Deur Sy een offer, het Hy ons vir ewig volmaak. (Heb 10:14) En daarom het God ons net so lief soos wat Hy die Seun het. (Joh 17:23) Groter liefde as dit is daar nie! Aan die anderkant van die saak, stel die Bybel dit egter duidelik, dat ons lewenswyse en optrede aan hierdie kant van die graf gevolge vir die hiernamaals sal voortbring, wat nie noodwendig later ongedaan gemaak kan word nie. Die keuses wat ons in hierdie lewe gemaak het, sal gevolge hê! God kan en sal ook vergewe, indien ons ons sondes bely en dit laat staan, maar die gevolge van ons keuses sal egter bly staan. God gaan nie noodwendig die gevolge van ons keuses ongedaan maak nie!

Die Bybel stel dit baie duidelik, dat alle gelowiges voor die Regterstoel Oordeel van Christus sal moet verskyn en daar verduidelik wat hulle met hulle lewens gemaak het.
2Ko 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
Bostaande teksgedeelte bevestig baie duidelik dat ons goeie sowel as ons slegte werke by die Regterstoel Oordeel van Christus oorweeg sal word. Uit die konteks waarin hierdie teksgedeelte voorkom, asook die woord “ons” wat Paulus gebruik het, is dit duidelik dat hy met gelowiges praat en nie met ongelowiges nie. Die leser moet egter nie die Regterstoel Oordeel van Christus, wat net vir gelowiges geld, met die Wit Troon Oordeel, wat net vir ongelowiges geld, verwar nie. By die Regterstoel Oordeel van Christus is daar geen sprake dat die gelowige verlore kan gaan nie, maar hy kan wel loon verloor en met leë hande van Christus af wegloop. Alle ongelowiges sal na afloop van die Wit Troon Oordeel in die poel van vuur gewerp word. (Lees asb die artikel “Die Wit Troon Oordeel” vir meer inligting rondom hierdie onderwerp.)

1Kor 3:11-15 bevestig die feit, dat nie net ons goeie werke by die Regterstoel Oordeel van Christus oorweeg sal word nie, maar ons slegte werke sal ook onder die soeklig geplaas word.
1Ko 3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 3:12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag (Regterstoel Oordeel van Christus) sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Alle gelowiges behoort deeglike notisie van die bostaande teksgedeelte te neem. Om hierdie teksgedeelte te ignoreer, gaan ewigdurende implikasies meebring. Dink maar net hoe jy sou voel indien jy nou alle loon, waarvoor jy in jou lewe gewerk het, moet verloor! Ek dink nou aan die skok wat so ‘n gebeurtenis in ‘n persoon se lewe sal veroorsaak, om nie eers te praat van al die verdriet en trane nie. Presies dieselfde lot, net in ‘n baie groter skaal, kan die gelowige by die Regterstoel Oordeel van Christus beval. Om ‘n negatiewe beoordeling by die Regterstoel Oordeel van Christus te ontvang, gaan verrykende en ewigdurende implikasies vir die gelowige inhou, al bestaan daar geen moontlikheid dat hy verlore sal kan gaan nie.

Alhoewel ons geen goeie werke kan doen om wedergebore te raak nie, (behalwe om die Evangelie te glo. Fase een van ons verlossing – wedergeboorte) word dit egter van ons verwag om na wedergeboorte, loon deur heiligmaking, goeie werke en toegewyde dissipelskap bymekaar te maak. (fase twee van ons verlossing – heiligmaking) Met hierdie fase van ons verlossing, word van die gelowige verwag om in geloof, deur die inwerking van die Heilige Gees, homself te verloën, sy sondige begeertes af te lê, sy kruis op te neem en Christus as dissipel na te volg. Hierdie faset van die gelowige se verlossing vereis baie opofferings en kan self die gelowige se fisiese lewe in hierdie wêreld kos. Die loon vir hierdie tipe toewyding gaan egter astronomies groot wees, en sal enige lyding in hierdie lewe, geensins met die heerlikheid van die loon vir getroue dissipelskap vergelyk kan word nie. Mat 16:24 illustreer hierdie waarheid baie mooi.
Mat 16:24 “Toe sê Jesus vir sy dissipels: (Al Jesus se dissipels, behalwe een, was alreeds by hierdie geleentheid wedergebore. Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte, was dus alreeds afgehandel.) As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. (Christus onderrig Sy dissipels oor dissipelskap en nie hoe om wedergebore te raak nie nl. fase twee van hulle verlossing – heiligmaking/dissipelskap. Let ook op, dat om jou kruis op te neem, op werke gebaseer is, en boonop is dit ‘n werk wat van die gelowige verwag word, alvorens hy as ‘n dissipel van Christus beskou kan word. Hierdie werke kan egter slegs deur die Heilige Gees in die gelowige se lewe bewerkstellig word, soos wat die gelowige homself in geloof aan die Here Jesus Christus onderwerp en in Christus glo om Sy lewe in en deur die gelowige te lewe. Hierdie werke het egter niks met aanvanklike geloof en wedergeboorte te make nie. Onthou die gawe van die ewige lewe is kosteloos en word slegs deur geloof bekom.)16:25 Want elkeen wat sy lewe wil red, (vir homself en sy eie belange in hierdie bose wêreld leef) sal dit verloor; (sal tot ‘n groot mate die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe verloor. Onthou alle gelowiges ontvang die ewige lewe as ‘n geskenk, maar die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe gaan van gelowige tot gelowige verskil. Daar is dus ‘n direkte verband tussen heiligmaking/dissipelskap en die kwaliteit van die ewige lewe wat ons gaan beërwe. ‘n Persoon kan aan die einde van sy lewe besef dat sy lewe geen ewigheidswaarde het nie!) maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, (deur toegewyde dissipelskap/heiligmaking en dit kos baie! [Werke] sal dit vind. (Die toegewyde dissipel sal alreeds in hierdie lewe ‘n groter mate van intimiteit met Christus ervaar, wat sal uitloop op ‘n groter kapasiteit vir nog steeds groter intimiteit met God, groot loon, eer en aanprysing ens, van God in Christus se komende koninkryk. Wat ons dus in hierdie lewe doen, gaan grootliks die kwaliteit en erfporsie bepaal wat ons in die toekoms by Christus gaan ontvang) 16:26 Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? (‘n Negatiewe beoordeling by die regterstoel oordeel van Christus en met leë hande (sonder enige loon) wegloop. Daar sal dus nie weer ‘n geleentheid wees om loon by mekaar te maak, asook ons kapasiteit vir intimiteit met God te vergroot, ons leierskaprolle te verbeter, en boonop sal ons ook nooit weer die kwalitatiewe aspek van hoe ons die ewige lewe gaan beleef kan verbeter nie. Ons gaan dus vir ewig met die gevolge van ‘n vermorste lewe opgeskeep sit. In Kort, dit gaan ‘n onbeskryflike groot tragedie wees, wat ons almal moet vermy.) Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? (geen hoeveelheid geld of trane sal ooit kan opmaak vir ‘n vermorste lewe nie. Dit is beter om nou as toegewyde dissipel vir Christus te lewe en later deur Hom beloon te word, as om vir jouself te leef en later met leë hande voor Christus te verskyn) 16:27 Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” (Alhoewel geen werke van ons kant af vir aanvanklike wedergeboorte gedoen mag word nie, gaan ons egter op ons werke na wedergeboorte beoordeel word, en daarvolgens vergoed word. Fase drie van ons verlossing – Verheerliking.) Ons kan egter in hierdie fase alle loon verloor, maar ons sal nooit die ewige lewe kan verloor en in die poel van vuur beland nie.) Op die einde van die dag, na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking fase, gaan ons almal se bekers vol wees, maar ons almal se bekers gaan nie ewe groot wees nie. Ons almal behoort baie mooi oor hierdie saak na te dink! Onthou die Here het ons in Sy woord gewaarsku dat ons sal saai wat ons maai.
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Boonop vermaan die Here ons, om in Sy liefde te bly. Onthou ons word nie wedergebore deur om in Jesus Christus se liefde te bly nie, ons word wedergebore, deur die glo van die Evangelie. (Fase een van ons verlossing- wedergeboorte) Om egter in Jesus Christus se liefde te bly, verg moeite en is dus niks anders as werke nie. Joh 15:9-11 illustreer hierdie waarheid baie mooi.
Joh 15:9 “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. 15:10 As julle my gebooie bewaar, (iets wat ons, in geloof en in die krag van die Heilige Gees moet doen, dus is dit niks anders as werke nie. Fase twee van ons verlossing – Heiligmaking) sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. 15:11 Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.” (‘n geestelike kwalitatiewe aspek van die ewige lewe wat ons alreeds aan hierdie kant van die graf/wegraping kan ervaar!) Om die Here Jesus Christus se gebooie en woord te bewaar, beteken dat die gelowige al Jesus Christus se leerstellings, soos wat Hy dit in Sy woord aan ons gegee het, gehoorsaam. Hierdie leerstellings sluit die leerstelling, soos in die Berg Predikasie uiteengesit, asook alle ander leerstellings soos wat dit in die Nuwe Testament opgeteken staan, in. ‘n Onontbeerlike aspek van hierdie leerstelling is die leerstelling oor toegewyde dissipelskap, wat die Here verkondig het en wat met die water doop van onderdompeling na wedergeboorte behoort te begin.

Dus is dit ook baie duidelik, dat die gelowige a.g.v. sonde en ongehoorsaamheid, homself buite Christus se liefde  mag bevind. Boonop stel die Bybel dit baie duidelik, dat indien die gelowige opsetlik bly sondig, nadat hy die waarheid ontvang het, hy God se tugtiging (in sommige gevalle self fisiese dood) in hierdie lewe kan verwag.
Op 3:19 “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”
Boonop bestaan die gevaar dat die gelowige voor die Regterstoel Oordeel van Christus, as ‘n “slegte dienskneg” bestraf kan word. Alle gawes en geleenthede vir diensbaarheid, wat deur God aan die gelowige in hierdie lewe geskenk is, kan weggeneem en aan ‘n getroue dienskneg gegee word.
Luk 19:24 “En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het— 19:25 en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde 19:26 want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.”
(Lees asb die artikel “gelykenis van die ponde” vir meer inligting”) Alhoewel die gelowige nooit verlore sal kan gaan nie, kan hy egter sy loon, krone, ‘n hoë mate van intimiteit met God, skatte, heerskappy saam met Christus ens, verloor. Hy kan dus alles behalwe die ewige lewe en God as sy erfporsie verloor, en dit sluit ook sekere gawes wat ons in hierdie lewe ontvang het in. Die ewigheid is ‘n lang tyd, en daar gaan nie ‘n tweede geleentheid wees om sake reg te maak nie! Wat ons deur ons lewenswyse in hierdie wêreld wen of verloor, gaan ons die ewigheid indra. Dit gaan ‘n baie groot bepalende invloed, op die wyse van hoe ons die ewige lewe saam met Christus gaan ervaar, uitoefen. Daarom is dit so belangrik dat ons in hierdie kort tydperk wat ons op hierdie aarde oor het, alles inspan om seker te maak dat ons nie met leë hande voor God verskyn nie. Onthou ons lewenswyses in hierdie lewe het ewigdurende implikasies. Moenie wag tot dit te laat is nie!

2Tim 2:11-12 illustreer die feit baie mooi! Slegs gelowiges wat in geloof volhard gaan die eer ontvang om saam met Christus te regeer. Daar gaan egter gelowiges wees wat die Here gaan verloën en hulle sal nie deur Christus voor Sy Vader as getrou aangeprys word nie.
2Ti 2:11 “Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. (Fase een van ons verlossing – wedergeboorte. Die leerstelling van posisionele waarheid. Die absolute sekerheid van die ewige lewe.) 2:12 As ons verdra, (deur om te ly vir toekomstige seëninge) sal ons met Hom regeer. (Om saam met Christus te wil regeer, moet ons in die geloof volhard. Fase twee van ons verlossing – heiligmaking) As ons Hom verloën, (Indien ons in ons geestelike lewens en getrouheid aan Hom misluk, deur Hom nie as toegewyde dissipels te volg nie, en Hom self ontken!) sal Hy ons ook verloën. (wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn, waar ons vir getroue diens beloon sal word, of a.g.v. ontrouheid loon sal verloor.) 2:13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; (Jesus Christus skenk nog steeds die gawe van die ewige lewe aan die ontroue gelowige.) Hy kan Homself nie verloën nie.” (Omrede Hy is wie Hy is! Hy sal dus nooit die geskenk van die ewige lewe by die gelowige wegneem nie!)
Jesus Christus het dit boonop duidelik gestel, dat Hy ons slegs voor Sy Vader in die hemele sal bely indien ons bereid is om Hom voor die mense te bely.
Mat 10:32 “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. 10:33 Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.”
Hoe tragies sal dit nie wees, om eendag wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn, te moet hoor dat die Seun nie bereid is om ons voor Sy Vader te bely nie, omrede ons nie bereid was om Hom voor die mensdom te bely nie!

Indien die Wegraping sou plaasvind, of ons tot sterwe sou kom, terwyl ons in sonde of in die vlees bly wandel , sal dit beteken dat ons loon sal verloor. Ons kan slegs loon bymekaarmaak, soos wat ons in Christus bly. Ons wandel op enige gegewe tyd of in die vlees of in die Gees, en kan nie altwee gelyktydig doen nie.
Joh 15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
En boonop leer die apostel Johannes ons, dat ons ons sondes moet bely, sodat God ons kan vergewe.
1Jo 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Alhoewel ons nie voor die Regterstoel Oordeel van Christus vir ons sondes gestraf kan word nie (God die Vader het alreeds Jesus Christus vir al ons sondes aan die kruis gestraf.) sal ‘n sondige leefwyse verhoed dat ‘n persoon loon kan bymekaarmaak. (Dan praat ek  nie eens van al die smarte wat die sondige gelowige homself in hierdie lewe op die hals kan haal nie!)  Alhoewel die gelowige nooit a.g.v. Christus se versoeningswerk aan die kruis verlore sal kan gaan nie, kan hy egter loon verloor as hy voor Christus met sonde in sy lewe verskyn. Anders sou Paulus ons nie kon waarsku dat ons vir die goeie werke sowel as slegte werke beoordeel gaan word nie.

Hierdie beginsel geld vir alle onbelyde sondes, sowel as vir gelowiges wat in sonde bly voortleef. Hulle moet nie dink dat hulle sondige leefwyse geen negatiewe gevolge gaan hê nie. Om hierdie rede is ek vas oortuig dat gelowiges wat wêreldgesind, materialisties, gierig ens is, wel gered bly, maar hulle gaan ernstige verliese ly, wanneer hulle voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn. Sulke gelowiges kan dalk te laat uitvind, dat hulle met leë hande voor God gaan staan en hulle kan selfs verloor wat hulle wel in hierdie lewe gehad het. Met wedergeboorte word die gelowige se liggaam die tempel van die Heilige Gees en dit is wel moontlik dat die gelowige die tempel van die Heilige Gees kan skend.
1Ko 3:16 “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? 3:17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”
Valse leerstellings, sonde en wêreldsgesindheid ens, is alles wyses waarop die tempel van die Heilige Gees geskend kan word. Met die oordeelsdag (Regterstoel oordeel van Christus vir gelowiges en die Wit Troon Oordeel vir ongelowiges) gaan die Here al die verborge motiewe en gedagtes van die mens se hart beoordeel.
Rom 2:16 “ in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.”

Alhoewel toegewyde dissipelskap nie as deel van die Evangelie bestempel kan word, en dus nie ‘n vereiste vir wedergeboorte is nie, is toegewyde dissipelskap egter ‘n vereiste vir loon en heersers posisies by die komende Regterstoel Oordeel van Christus. Dus bestaan daar wel die moontlikheid, dat die gelowige, die eer om saam met Christus in Sy koninkryk te regeer, kan verloor. Ons moet ook verder ingedagte hou, dat die Here Jesus Christus die Almagtige God en Skepper van alle dinge is. Ons almal gaan deur Hom beoordeel word, vir hoedanige wyse ons in hierdie wêreld gelewe het. As God weet Hy wat ons staan om te verloor en daarom is dit belangrik om Sy waarskuwings ernstig op te neem.
Mat 6:19 “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; 6:20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; 6:21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Ek het nogal baie ernstig oor hierdie saak nagedink, veral toe ek ‘n ruk gelede met my broer per epos gekommunikeer het, en hy vir my gesê het dat hy nogal bang vir die dood is. Ek het hom meegedeel dat ek sonder enige twyfel weet waarheen ek met my afsterwe sal gaan, maar dat een van my grootste vrese is om met leë hande voor God te moet verskyn. Baie gelowiges besef nie die erns van hierdie saak nie, en hulle besef nie wat hulle staan om te verloor nie!

Indien ons die waarskuwings soos in hierdie artikel uiteengesit ernstig opneem, en die drie fases van ons verlossing in gedagte hou, soos wat ons die Bybel bestudeer, sal ons vind dat ons kennis en intimiteit met die Here toenemend sal verbeter. Ek verskaf gou ‘n paar illustrasies wat die leser sal help om die verskillende fases van ons verlossing in die Skrifte te onderskei en wat betrekking op die inhoud van hierdie artikel het.
1Pe 5:10 “En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, (fase een van ons verlossing – wedergeboorte.)nadat ons ‘n kort tyd gely het, (fase twee van ons verlossing – heiligmaking/dissipelskap.) julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”
1Ko 2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het (fase drie – verheerliking, wat loon vir goeie werke insluit.) vir die wat Hom liefhet.” (fase twee – heiligmaking/dissipelskap.) Let wel: Slegs gelowiges wat Jesus Christus se gebooie in geloof nakom en uitleef is volgens Jesus Christus diegene wat Hom lief het.
Joh 14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; (fase twee van ons verlossing – heiligmaking.) en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” (Die gelowige, wat deur sy geloofsywer sy liefde vir God demonstreer en uitleef, sal vind dat God Homself tot ‘n groter mate aan die gelowige sal openbaar. Hierdie waarheid geld nie net vir die hiernamaals nie, maar die gelowige sal vind, dat die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe, al aan hierdie kant van die graf, tot ‘n groot mate ervaar kan word.)
Rom 8:17 “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God (fase een van ons verlossing – Wedergeboorte. Alle gelowiges ontvang God as erfporsie.) en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, (fase twee van ons verlossing – heiligmaking/dissipelskap. Om egter in sekere opsigte mede erfgenaam van Christus te word, gaan ons baie kos, en hierdie erfporsie kom dus met ‘n voorvereiste.) sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (fase drie – verheerliking. Na afloop van hierdie fase, kan ons saam met Christus tot ‘n baie hoë mate verheerlik word, mits ons bereid is om deur toegewyde dissipelskap nou vir Hom te ly.)

Ter Afsluiting: Op die einde van die dag is dit God wat gaan bepaal of ons lewens enige ewigdurende betekenis gehad het of nie. Onthou, dit is slegs God se opinie wat gaan saak maak, en nie wat ons of die wêreld dink nie. Die wete dat ons vir ewig sekuur in Christus is (lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige”) gee aan ons as gelowiges die vryheid om die ware betekenis en doel van ons lewens na te jaag. Ons hoef nooit te vrees dat ons deur die tweede dood van ons hemelse Vader geskei kan word nie. Alhoewel gelowiges nie die geskenk van die ewige lewe kan verloor nie, waarsku die Bybel ons egter dat ons wel ons erfenis, asook die ewige waarde en betekenis van ons aardse bestaan kan verloor. Die feit dat die Skrifte ons leer, dat ons lewens wel betekenisvol en ewigheidswaarde het, behoort ons aan te spoor om opofferings te maak, kanse vir God te waag, asook om hard en toegewyd vir die Here te werk. Ons moet heiligmaking, asook toegewyde dissipelskap najaag, met die wete dat God alles waardeer wat ons vir Hom doen. Dit is belangrik om te besef dat ons lewens wel saak maak en dat dit ‘n groot verskil kan maak. Alle gelowiges het ‘n doel in die lewe en daar is geen rede om doelloos rond te tas nie. As kommuniste en terroriste hulle doelwitte met soveel passie uitleef, hoeveel te meer behoort ons, as kinders van God, dit ook nie te doen nie?

Die wete dat ons loon kan verloor, behoort ons aan te moedig, om nie toe te laat dat die tragedie van ‘n waardelose lewe asook ‘n negatiewe beoordeling by die Regterstoel Oordeel van Christus ons beval nie. Die anderkant van die saak is ook egter waar. Deur toegewyde diens aan God, sal ons seker maak dat ons waarde aan ons aardse bestaan heg. Dit is egter ook so, dat sommige van ons hierdie edel doel met meer toewyding sal najaag as ander, en dat sommige van ons dit geensins sal najaag nie. (Lees asb die artikels “Die Gelykenis van die Ponde” asook “Lone Krone en goeie Werke” vir meer inligting omtrent hierdie feit.) Sommige gelowiges gaan met leë hande van die Regterstoel Oordeel van Christus af wegloop, alhoewel hulle nog steeds gered sal bly.
1Jo 2:28 “En nou, my kinders, (gelowiges) bly in Hom, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking)sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.”
Daar kan sekerlik geen groter tragedie as ‘n vermorste lewe wees nie! Dit geld veral vir gelowiges wat met leë hande voor Christus gaan verskyn. Om die woorde: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg.” uit ons Heer se mond te hoor, behoort ons tot nuwe hoogtes van toegewyde diens, aan Christus, aan te spoor, met die wete dat Hy ons ryklik daarvoor sal beloon.
1Ko 15:58 “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”
Dit maak nie saak hoeveel keer jy al misluk het nie, solank as wat jy nog lewe, kan jy weer begin. Bly in die geloofstryd en moenie opgee nie! Hou jou oë gevestig op Christus en volg Hom. Dan sal Hy, deur jou en vir jou loon bymekaarmaak
Fil 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Glo en leef dit! Dit is die waarheid! Jy het ‘n doelwit, streef dit nou na! Jy sal nie spyt wees nie! Die gelowige wat loon by Christus gaan ontvang, sal vind dat die loon uit verhouding groter gaan wees as wat hy verdien het, en die moeite en lyding wat dit geverg het om die loon te vergader, gaan verdwyn in vergelyking met wat ons staan om te ontvang! Onthou God is genadig en soek net ‘n rede om jou ryklik te beloon!
Op 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.