Die koninkryk van Christus

Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 5

In deel vier van hierdie reeks artikels, wat oor die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde handel, het ons 12 feite aangaande die toestande wat op aarde tydens die Here Jesus Christus se koninkryk op aarde sal heers. In deel vyf gaan ons die volgende punte bestudeer, naamlik: 1. Wat sal met die vloek tydens Christus se Vrederyk op aarde gebeur? 2. Wat sal die geestelike toestand van Christus se Koninkryk aan die begin wees? 3. Waar en wat sal die belangrikste plek van aanbidding in Christus se Koninkryk op aarde wees? 4. Wat sal sommige van die eienskappe in Christus se koninkryk op aarde wees? 5. Watter verandering i.t.v. Israel sal gedurende Christus se Koninkryk op aarde plaasvind? 6. Hoe eindig die Duisendjarige Vrederyk van Christus op aarde? 7. Hoe is die belofte van Genesis 3:15 aangaande Satan en sy engele volkome vervul? 8. Wie is almal by die Wit Troon Oordeel teenwoordig en wat is die finale resultaat? Die leser word weereens ten sterkste aangeraai om die volgende illustrasies sorgvuldig te bestudeer, naamlik. 1. Die sewe dispensasies. 2. Bybelse Verbonde. God se verbond met Israel. 3. Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Verdrukking. 4. Nebukadnesar se droom in Daniël 2 en Daniël se visioen in Daniël 7. 5. Die Opstandings. 6. Daniël se Sewentig Jaarweke. Ek sal met graagte die illustrasie aan diegene wat dit verlang met epos stuur. Stuur net asb u epos adres met die versoek dat ek die illustrasies aan u sal stuur.

Wat sal met die vloek tydens Christus se Vrederyk op aarde gebeur?:

Die vloek sal grotendeels van die aarde verwyder word.
Amos 13 “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.
Jes.11:6 Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. 7 Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; 8 en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk.”
Jes.41:18 “Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ‘n waterplas maak en die dor land waterbronne. 19 Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde-olyfboom; Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal;”
Daar is baie ander voorbeelde in die skrifte wat as bewys dien dat die vloek gedeeltelik op aarde verwyder sal word. Onbeskryflike toestande soortgelyk aan die tuin van Eden sal op aarde heers.

Wat sal die geestelike toestand van Christus se Koninkryk aan die begin wees?

Alle mense, sonder uitsondering, sal die Here ken. Aanvanklik is almal met die oprigting van Christus se Koninkryk op aarde gelowiges. Die rede hiervoor is dat alle ongelowige na afloop van die Here Jesus Christus se wederkoms van die aarde verwyder sal word.
Hab.2:14 “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”
Jes.11:9 “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”

Waar en wat sal die belangrikste plek van aanbidding in Christus se Koninkryk op aarde wees?

Die belangrikste aanbiddingsplek in Christus se Koninkryk sal die herboude tempel in Jerusalem wees.
Sag.8:22 “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek. 23 So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”
Die leser word versoek om Eseg. 40-44 sorgvuldig deur te lees.

Wat sal sommige van die eienskappe in Christus se koninkryk op aarde wees?:

a. God se Shekinah Glorie sal teenwoordig wees:

Eseg.43:1 “Toe het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk. 2 En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid. 3 En die gesig wat ek gesien het, het gelyk soos die gesig wat ek gesien het by my koms om die stad te verwoes; en dit was gesigte soos die gesig wat ek gesien het by die Kebarrivier; en ek het op my aangesig geval. 4 En die heerlikheid van die HERE het in die huis ingetrek deur die poort waarvan die voorkant na die ooste lê. 5 En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die HERE het die huis vervul. 6 En ek het Een gehoor wat met my spreek uit die huis, terwyl die man by my staan. 7 En Hy het vir my gesê: Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole waar Ek vir ewig sal woon onder die kinders van Israel; en die huis van Israel sal my heilige Naam nie meer verontreinig nie, hulle en hulle konings met hulle hoerery en met die lyke van hulle konings, by hulle dood;”
Sag.2:10 “Jubel, en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die HERE. 11 En baie nasies sal hulle in dié dag by die HERE aansluit, en hulle sal My tot ‘n volk wees; en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na jou gestuur het. 12 En die HERE sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond en Jerusalem weer verkies. 13 Swyg alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning.”
Jer.3:17 “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.”

b. Diereoffers sal weer ingestel word:

Jes.56:7 “hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.”
(sien ook Eseg.43:13-27; 45:13-25) Diereoffers sal weer ingestel word as gedenkteken van dit wat die Here Jesus Christus vir ons aan die kruis bewerkstellig het. Net soos wat die diereoffers in die Ou Testament ‘n heenwysing tot Christus se koms in die toekoms was, sal die diereoffers wat in die Millennium weer ingestel sal word as herdenking dien vir dit wat die Here Jesus Christus alreeds aan die kruis vir die mensdom bewerkstellig het.

c. Die Sabbatdag en sekere van die feeste sal weer ingestel word:

Eseg.44:24 “En oor ‘n regsaak moet hulle optree om reg te spreek, volgens my verordeninge moet hulle dit uitoefen; en hulle moet my wette en my insettinge hou op al my feestye en my sabbatte heilig.
Sag.14:16 En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier.”
Dit mag dalk vir ons vreemd klink om te hoor dat die nasies ook tydens die Vrederyk van Christus die huttefees sal vier. Maar ons moet nooit vergeet dat tydens elke verandering in dispensasie daar ook ‘n verandering in reëls, wat vir daardie spesifieke dispensasie sal geld, gemaak word.

d. Nuwe openbarings inligting sal gegee word:

Joël.2:28 “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. 29 En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.”
Bostaande teksgedeelte is nie op Pinksterdag vervul nie, maar is ‘n verwysing na gebeure wat tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus op aarde sal plaasvind. Wat op Pinksterdag plaasgevind het is soortgelyk met wat tydens die God se Koninkryk op aarde sal plaasvind, maar dit is nie presies dieselfde gebeurtenis nie en moet nie met mekaar verwar word nie. Joël.2:28 het betrekking op die Dispensasie van die Koninkryk, en vorm nie deel van die Kerk dispensasie soos wat baie mense beweer nie. Bogenoemde teksgedeelte is die vervulling van die Nuwe Verbond wat God met Israel, na afloop van die Groot Verdrukking, sal aangaan soos wat Hy hulle belowe het. Die leser word aangeraai om weereens die illustrasie “Bybelse Verbonde. God se verbond met Israel.” sorgvuldig te bestudeer.

e. Die hele aarde sal slegs God aanbid en daar sal geen geestelike verleiding van Satan se kant af wees nie:

Openb.20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.
Jes.19:21 En die HERE sal Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en die Egiptenaars sal die HERE ken in dié dag; en hulle sal Hom dien met slagoffers en spysoffers en geloftes doen aan die HERE en dit betaal.
Jes.52:1 Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie. 2 Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion! 3 Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word. 4 Want so sê die Here HERE: In vroeër dae het my volk afgetrek na Egipte om daar as vreemdeling te vertoef, en Assur het hom sonder rede verdruk. 5 Maar nou, wat vind Ek hier? spreek die HERE; want my volk is vir niks weggeneem, sy oorheersers maak geraas, spreek die HERE, en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster. 6 Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek! 7 Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! 8 Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Sion. 9 Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die HERE het sy volk getroos, Jerusalem verlos. 10 Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God.
Mal.1:11 “Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en ‘n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die leërskare.
Sag.8:23 So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”
Net die ware aanbidding van God sal geduld word. Daar sal geen ander valse godsdienste geduld word nie. Boonop sal daar tot en met Satan se vrylating uit die bodemlose put geen geestelike verlyding plaasvind nie, omrede Satan vir duisend jaar in die bodemlose put toegesluit sal wees. Daar sal geen openlik rebellie teen God bestaan nie, en volskaalse verlyding, asook rebellie sal eers plaasvind wanner Satan vir ‘n kort tydjie uit die bodemlose put vrygelaat word.

Watter verandering i.t.v. Israel sal gedurende Christus se Koninkryk op aarde plaasvind?:

a. Israel se huidige grondgebied sal dramaties vergroot word:

Gen.15:18 “Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier
Jes.26:15 “U het, o HERE, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei.”
Anti-semitiese groepe wat glo hulle gaan die nasie van Israel in die see indryf begaan ‘n ernstige mistasting. Na afloop van die Groot Verdrukking sal Israel se grondgebied drasties vergroot word. Die Here het dit gespreek en dat sal so gebeur!
Obad.1:17 “Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal ‘n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem. 18 Dan sal die huis van Jakob ‘n vuur wees en die huis van Josef ‘n vlam, maar die huis van Esau ‘n stoppel; en dié sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die HERE het dit gespreek. 19 Dan sal dié van die Suidland die gebergte van Esau, en dié van die Laeveld die land van die Filistyne in besit neem; en hulle sal die veld van Efraim en die veld van Samaría, en Benjamin Gílead in besit neem. 20 Die ballinge van hierdie leërmag van die kinders van Israel sal die wat Kanaäniete is, tot by Sarfat verower; en die ballinge van Jerusalem, wat in Sefárad is, sal die stede van die Suidland in besit neem. 21 Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.”
Huidiglik besit Israel maar net ‘n fraksie van die grondgebied wat hulle tydens die Dispensasie van die Koninkryk sal besit. Sake sal egter na afloop van die Here Jesus Christus se wederkoms heeltemal verander.

b. Daar sal topografiese verandering in Israel wees:

Eseg.47:8 “En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word. 9 En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal ‘n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom. 10 Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by en Eglaim: ‘n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, ‘n menigte. 11 Die moerasse en kuile daarvan — húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem. 12 En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan — uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.”
Daar sal twee strome water uit die Tempel van God in Jerusalem uitvloei, wat aanleiding daartoe sal gee dat die Dooie See weer lewe sal kry, en oral langs die die walle van hierdie riviere sal Eden-tipe bome staan wat elke maand nuwe vrugte dra. Dit is baie duidelik dat die vloek wat God op die aarde geplaas het gedeeltelik omgekeer sal word. Die gedeeltelike omkering van die vloek sal daartoe aanleiding gee dat die wêreld tot amper die oorspronklike toestande sal terugkeer soos wat dit voor die sondeval die geval was.
Jes.2:2 “2 “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.”
Sag.14:3 “En die HERE sal
(met Sy wederkoms)uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. 4 En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. 5 En julle (die Jode wat in hierdie stadium nog oorleef)sal vlug in die dal van my berge — want die dal van die berge sal loop tot by Asal — en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U! (Die Here Jesus Christus se wederkoms)6 En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees. 7 En dit sal ‘n enige dag wees wat aan die HERE bekend is — geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word. 8 En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. 9 En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een. 10 Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning. 11 En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon.”
Net soos wat die wêreld se topografie na afloop van die wêreldwye vloed drasties verander het, so ook sal die wêreld se topografie, na afloop van die Groot Verdrukking en Christus se wederkoms, heeltemal verander word.

c. Jerusalem sal vergroot word en die stad se naam sal ook in nuwe terme aangespreek word:

Eseg.48:35 “rondom agttien duisend el; en die naam van die stad sal van vandag af wees: Die HERE is daar!”
Jer.3:17 “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.”
Jes.62:1 “Ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ‘n glans en sy heil soos ‘n fakkel wat brand. 2 En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met ‘n nuwe naam genoem word wat die mond van die HERE sal noem. 3 En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van die HERE en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God. 4 Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want die Here het ‘n behae in jou, en jou land sal getroud wees.”
Na afloop van die Here Jesus Christus se wederkoms sal Jerusalem ‘n ongekende tydperk van voorspoed beleef en die nasies van die aarde sal daarheen stroom. Jerusalem sal nie meer die oorsaak van oorloë, en opstande wees nie, maar dit sal eerder ‘n stad wees waar mense heen sal stroom om van die Here Jesus Christus te hoor en Hom daar te gaan aanbid.

d. Die land sal gesond gemaak word en sal uiters vrugbaar word:

Eseg.36:33 “So sê die Here HERE: In die dag as Ek julle reinig van al jul ongeregtighede, sal Ek die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word. 34 En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit ‘n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan. 35 En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon. 36 Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die HERE, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; Ek, die HERE, het dit gespreek en sal dit doen.”
Anders as wat dit vandag die geval is, gaan Israel deur plantegroei oordek wees. Die grond sal amper net so vrugbaar wees soos wat die grond in die tuin van Eden was voordat die mens teen God gerebelleer het. So ook sal die alreeds verheerlikte Kerk, as deel van God (die Here Jesus Christus) se administrasie, aan die herbou van die wêreld deelneem en baie van die getroue gelowiges sal as gesante van die Here Jesus Christus oor die nasies regeer. (Openb.2:26)

e. Daar sal nie meer oorloë en politieke konflikte wees nie:

Jes.2:4 “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”
Jes.14:3 “En op die dag as die HERE jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het, 4 dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking! 5 Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers, 6 wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met ‘n agtervolging sonder verskoning. 7 Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel.”
Amos 9:15 “En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die HERE jou God.”
Dit is gedurende die Vrederyk van Christus wat hierdie beloftes in vervulling sal gaan, nie nou soos wat sommige mense beweer nie. Die wêreld sal ‘n ongekende tydperk van vrede beleef in teenstelling met wat ons nou in die wêreld sien gebeur.

Hoe eindig die Duisendjarige Vrederyk van Christus op aarde?

Openb.20:7 “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.”
Hierdie mense wat saam met Satan in rebellie teen God opstaan, is die afstammelinge van die gelowiges wat na afloop van die Groot Verdrukking met hulle nie-verheerlikte liggame in die Koninkryk van Christus ingegaan het om weereens die aarde te herbevolk. Omrede die mensdom tydens Christus se vrederyk op aarde baie langer lewens sal geniet as wat dit huidiglik die geval is, sal ‘n populasie ontploffing plaasvind wat die groot getalle rebelle teen Christus se heerskappy verduidelik. Daar sal baie mense wees wat nie hulle geloof in Christus wil plaas nie, en wat eerder sal verkies om saam met Satan teen Christus te rebelleer om Hom as alleenheerser op aarde om ver te werp. Hierdie mense sal dus uiterlik aan Christus gehoorsaam wees, maar in hulle harte sal hulle die Here Jesus Christus en Sy administrasie haat. Vanuit die skrifte weet ons egter dat ook hierdie rebellie deur God tot niet gemaak sal word.

Hoe is die belofte van Genesis 3:15 aangaande Satan en sy engele volkome vervul?:

Gen.3:15 “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Open.20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “God se sistematiese oorwinning oor Satan” sorgvuldig deur te lees.

Wie is almal by die Wit Troon Oordeel teenwoordig en wat is die finale resultaat?:

Openb.20:11 “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Slegs die ongelowiges van alle tye sal voor die Wit Troon Oordeel moet verskyn, en waar hulle volgens hulle werke geoordeel sal word en wat die mate van hulle straf in die poel van vuur sal bepaal. Hulle sal dan vir ewig saam met Satan en sy engele in die teenwoordigheid van die heilige engele gepynig word. Die leser word aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel” weereens te lees.

Ter afsluiting: Met hierdie artikel kom ons aan die einde van die reeks artikels wat oor die Here Jesus Christus se Koninkryk op aarde handel. As gelowiges weet ons dat God ‘n raadsplan vir die hele skepping het, en hierdie feit behoort ons filosofiese uitkyk vir die doel van die lewe asook die verloop van die mens geskiedenis te beïnvloed. God se raadsplan vir die skepping kan as volg omskryf word, naamlik: “God se raadsplan vir die skepping, wat die eeue, asook die verskillende dispensasies insluit, het as doel om Homself te verheerlik. Die mens se verlossing is slegs ‘n subkategorie van God se ewige raadsplan. God het nie slegs ‘n plan vir die mensdom nie, maar ook ‘n plan vir die heilige engele; ‘n plan vir die gevalle engele; ‘n plan vir die volk Israel; ‘n plan vir die Kerk, asook ‘n plan vir die aarde en hemele. (lewenslose skepping)
1Tim.1:17 “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.”
God se glorie is die hoofdoel van die skepping se geskiedenis. Die mens se verlossing verheerlik die Here, maar God se raadsplan is baie meer as net die mens se verlossing. God se raadsplan het die hele skepping as doel waardeur Hy Homself sal verheerlik. Dus draai die wêreld nie om die mens nie maar om God en Sy glorie.

In veral die gereformeerde tradisie word die belangrikheid van die bestudering van Bybelse profesie baie afgeskeep en in sommige gevalle heeltemal vermy. Omtrent 27% van die Bybel handel spesifiek oor die onderwerp van profesie. Vir elke een verwysing na Christus se eerste koms is daar agt wat na Sy wederkoms verwys. Net hierdie feit behoort elke gelowige te noop om die profetiese woord, soos wat ons dit in die Bybel vind, sorgvuldig te bestudeer en enige buite-Bybelse profesie heeltemal te verwerp. Dit is verbasend om te hoor tot watse mate Christene kennis van Nostradamus, asook oom Siener Van Rensburg se buite-Bybelse profesieë beskik, maar wanneer dit kom by die profesieë wat in die Bybel opgeteken staan dra hulle weinig of geen kennis nie. Hierdie stand van sake hoort nie so nie omrede dit ons plig is om die hele raadsplan van God te verkondig. Enige leraar of gelowige wat ander mense aangaande die woord van God leer behoort saam met Paulus die volgende stelling te kan maak, naamlik:
Hand.20:27 “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.”

Ek glo dat die versuim van die Gereformeerde Kerke tot ‘n groot mate tot die onkunde bygedra het, omrede hulle nie die die hele skrif op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse interpreteer nie. Met die skryf van hierdie reeks artikels is dit my bede dat die leser die profetiese woord wat God in die Bybel vir ons laat opteken het beter sal verstaan. Hierdie feit moedig ons ook aan om voluit vir die Here te leef, met die wete dat die wyse waarop ons Christus in hierdie lewe as dissipels navolg tot ‘n groot mate ons posisies in die komende Koninkryk van Christus gaan bepaal. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die gelykenis van die Ponde” sorgvuldig deur te lees.
En onthou:
Kol.4:5 “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit.”
Ef.5:16 “en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.”

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.