opstanding deel 4

Die opstanding en meegaande implikasies deel 4

In deel een van hierdie reeks artikels het ons gemerk hoe die apostel Paulus die uiters belangrike geskiedkundige werklikhede aangaande die Here Jesus Christus se opstanding vanuit die dood aan sy lesers voorgelê het. In deel twee van hierdie reeks artikels, het ons gemerk dat Paulus bo enige twyfel gedemonstreer het dat die Here Jesus Christus se opstanding direk met die toekomstige opstanding van die gelowige verbind is. In deel drie van hierdie reeks artikels het ons die aard van die opstandings liggaam bespreek. (Indien die leser nie alreeds die eerste drie artikels in hierdie reeks artikels gelees het nie, word hy ten sterkste aangeraai om dit te doen, omrede die onderwerp daarin bespreek met mekaar inskakel.) In deel 4 van hierdie reeks artikels word 1Kor.15:58 en die belangrikheid om aan die Apostoliese leerstellings, soos wat ons dit in die Skrifte vind, vas te hou. (‘n Uiters belangrike opdrag vir die tye waarin ons onsself nou bevind.)

Dit is op grondslag van die apostel Paulus se verklarings (wat die feit van Christus se persoon en voltooide werk aan die kruis, asook Sy opstanding vanuit die dood insluit) waarop hy die gelowiges in Korinthe aanmoedig om aan die apostoliese leerstellings wat hy en die ander apostels verkondig het, en wat nou volledig in die Bybel saamgevat is, moet vashou. Hierdie formule van eers die grondslag van Christus se voltooide werk aan die kruis aan die gelowige voor te hou, en dan op grond van daardie feite die gelowiges aan moedig om nou lewens te lei wat met hierdie feite ooreenstem, vind mens in meeste van Paulus se briewe. (Dus moedig hy hulle aan om lewens te lei wat met hulle posisie in Christus ooreenstem. Om hierdie rede herhaal hy in hierdie brief wat hy oorspronklik aan die gemeente in Korinte verklaar het, (veral die inhoud van die Evangelie wat hy aan hulle verkondig het) wat as die grondslag vir hulle lewens as gelowiges moet dien.
1Kor.15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte, wat hulle onveranderlike posisie in Christus bepaal) 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, (fase twee van hulle verlossing, wat voortgesette geloof vir suksesvolle heiligmaking/dissipelskap vereis) of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat die Korinthiërs (en alle gelowiges) slegs aan die apostels se leerstellings vashou en hulleself nie aan die valse leerstellings of buite Bybelse profesieë en leerstellings steur nie. (dit sluit die dwaalleerstelling wat die opstanding uit die dood ontken in.)
2Kor.11:2 “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. 3 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval. 5 Want ek reken dat ek niks agterstaan by dié uitnemende apostels nie.” (ongelukkig is daar deesdae baie sogenaamde apostels en profete wat die Kerk binnegekom het en wat groot skade aanrig.)
Slegs indien ons aan die oorspronklike apostels (ware apostels, wat tydens die apostoliese tydperk, wat lankal verby is, geleef het) se leerstellings, soos wat dit in ons Bybels opgeteken staan, vashou sal ons tot volwasse gelowiges in Christus opgroei.
Ef.4:14 “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; 15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid (soos wat dit alreeds volledig in ons Bybels opgeteken staan) betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,”

Bogenoemde stelling sal slegs geldig wees indien ‘n persoon die Here se getuienis aangaande die opstanding, soos wat Hy dit in Sy woord laat opteken het, aanvaar. Dit is geloof in die feit van die opstanding wat as motivering tot getroue diens aan Christus dien. Sonder die opstanding sou almal nog steeds in hulle sondes gewees het en sou enige geloofswerke in Sy Naam gedoen waardeloos wees.
1Kor.15:16 “Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.”
Maar omrede Christus vanuit die dood uit opgestaan het, kan ons met absolute sekerheid weet dat alle gelowiges ook eendag vanuit die dood sal opstaan, en hierdie feit behoort ons tot getroue diens aan Christus aan te spoor.
Gal.6:9 “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 10 Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”

Met die wete dat alle diens vir die opgestane Here Jesus Christus gedoen mildelik by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon sal word moet ons nie in ons geloofslewe verslap nie.
Openb.22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
Onthou, ons raak nie wedergebore deur die doen van enige werke nie, maar die Here gaan ons vir geloofswerke na aanvanklike wedergeboorte by die Regterstoel Oordeel beloon. Dit is slegs na aanvanklike wedergeboorte waar enige gelowige genadeloon deur voortgesette geloofswerke kan verdien. Enige werke wat ‘n persoon voor wedergeboorte gedoen het, sal niks beteken nie.
1Kor.3:10 “Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, (die Evangelie) en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (wat die leerstelling van Christus se Persoon, voltooide werk aan die kruis, asook Sy opstanding vanuit die dood insluit) 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;”
Slegs goeie werke wat na aanvanklike wedergeboorte verrig word sal genadeloon ontvang, en in hierdie opsig is ons werke uiters belangrik. (Die leser word aangeraai om die artikel “Die gelykenis van die Ponde “asook die artikel “Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus” te lees.)

In die lig van die die feit dat die opstanding ‘n toekomstige werklikheid is, en die feit dat geloof in Christus nie tevergeefs is nie, moedig Paulus sy lesers aan om standvastig in die geloof te bly.
1Kor.15:58 “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”
Die wete aangaande die opstanding vanuit die dood verleen aan die gelowige hoop asook standvastigheid. (veral in tye wanneer die sorge van die lewe, asook die smarte wat soms daarmee gepaardgaan ons wil oorweldig.) Hierdie feit geld ook vir diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het. Alle gelowiges kan met sekerheid weet dat God in beheer van alles is, en ook kennis van ons smarte en wroegings dra, en medelye daarmee het. Elke gelowige moet sonder enige twyfel weet dat daar wel ‘n opstanding vanuit die dood sal plaasvind en dan sal ons smarte en wroegings iets van die verlede wees. (ons sal dan ook met ons afgestorwe familie en vriende verenig wees.) Selfs die donkerste tydperke van ons lewens word deur God aangewend om alles ten goede te laat saamwerk vir die wat Hom liefhet.
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

Ter Afsluiting: Onthou, die hele konteks van hierdie reeks artikels handel oor valse leerstellings. In hierdie geval, die leerstelling wat die opstanding vanuit die dood ontken. Indien iemand werklik die Here liefhet, sal so ‘n persoon onmiddellik met enige dwaalleerstelling breek waarvan hy bewus raak, en slegs aan die korrekte leerstellings, soos wat dit in ons Bybels opgeteken staan, vashou. Ware geloof is nie ‘n emosie nie. Dit is ‘n vaste oortuiging dat ‘n proposisie of stelling waar is. In die geval van gelowiges is reddende geloof ‘n vaste oortuiging dat die Here Jesus Christus vir al die gelowige se sondes aan die kruis betaal het en uit die dood opgestaan het. Indien ‘n persoon hierdie proposisie glo dan beskik daardie persoon oor reddende geloof. Hierdie feit mag dalk tot emosies aanleiding gee, maar ‘n emosionele reaksie is nie ‘n vereiste om gered te word nie. Slegs geloof is. ‘n Persoon mag homself dalk in diepe duisternis bevind en slegs negatiewe emosies beleef, maar sodra daardie persoon God se woord glo, beskik daardie persoon oor geloof. Dissipelskap vereis baie keer opofferings en swaarkry van die gelowige se kant af en dit mag dalk tot hartseer aanleiding gee omrede sy geliefdes hom dalk mag verwerp. Maar die feit dat hy aan God se woord gehoor gee, dien as aanduiding dat hy geloof het, al beleef hy negatiewe emosies. (of omstandighede) Ware geloof is nie ‘n emosie nie! So baie wat ons vandag in die belydende Christendom aantref, is emosie wat onder die vaandel van geloof skuil, en baie mense gaan so verlore omrede hulle glo dat solank as wat hulle positiewe emosies ervaar hulle oor reddende geloof beskik. Dit is nie noodwendig die geval nie. Reddende geloof (in al sy fasette) vind plaas wanneer ons in die proporsionele feite aangaande Christus se Persoon, en voltooide werk aan die kruis, asook Sy opstanding vanuit die dood glo. Dit noem ons leerstellings, en om hierdie rede is leerstellings van uiterste belang. (ja, lewensbelangrik) Ons ewige bestemming hang daarvan af!

Ongelukkig gaan alles deesdae oor emosie en eenheid. En dit ten koste van suiwer Bybelse leerstellings. Daar was nog altyd ‘n baie klein groepie getroue gelowiges, en hulle het vrywilliglik, en onder diepe wroegings, eerder hulle lewens afgestaan as om hulle leerstellings prys te gee of kompromieë aan te gaan. (en dit vir Bybelse leerstellings wat deur die oorgroot meerderheid Christene van vandag as onbelangrik en verdelend beskou word. God roep ons om op die waarheid van Sy woord vas te staan, nie om kompromie met valse leerstellings aan te gaan nie. Ons moet God vra om ons van eenheid ten koste van die korrekte Bybelse leerstellings te bewaar. Persone wat eenheid ten koste van suiwer Bybelse leerstelling wil bewerkstellig is nie getrou aan God nie maar loon Hom. By implikasie sal suiwer Bybelse leerstellings verdelend van aard wees. Net soos wat olie en water nie kan meng nie, so ook kan suiwer Bybelse leerstellings nie met valse leerstellings vermeng word nie, en daarom sal dit logies tot verdeeldheid aanleiding gee. Die Here Jesus Christus het ons van hierdie feit ingelig, naamlik:
Luk.12:51 “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. 52 Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. 53 Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder.”
By implikasie sal suiwer Bybelse leerstellings tot verdeeldheid aanleiding gee, anders hoe sou mens weet wat ‘n dwaalleerstelling is?

Ongelukkig bevind ons, onsself in ‘n tydperk waar suiwer Bybelse leerstellings onder die vaandel van eenheid en liefde prysgegee word. (en dit in God se Naam!) Om so iets te doen is nie gehoorsaamheid (of liefde) aan God nie maar eerder die hoogste vorm van verraad! Mag ons van die klein minderheid Christene wees wat aan God se woord getrou bly, en weier om met enige dwaalleerstellings kompromie aan te gaan, al kos dit ons alles in hierdie lewe. Ware eenheid in die Gees sal slegs plaasvind wanneer suiwer Bybelse leerstellings eerbiedig word. Eenheid ten koste van suiwer Bybelse leerstellings is nie eenheid nie maar verraad. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om aan die apostels se leerstellings, soos wat ons dit in die Bybel vind, vas te hou sonder om daarvan af te wyk. Dit mag ons in hierdie lewe dalk baie kos maar die Here Jesus Christus sal ons bo mate vir ons getrouheid aan Hom beloon.
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
Maar onthou, ware liefde kan nie van getrouheid aan suiwer Bybelse leerstellings geskei word nie.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.