Gelykenis van die Landbouers

Gelykenis van die Landbouers

Die gelykenis van die landbouers kan as ‘n opvolg gelykenis beskou word, deurdat dit op die gelykenis van die twee seuns volg en op sy beurt weer deur die gelykenis van die bruilof gevolg word. Onthou die hele konteks gaan oor die feit, dat die geestelike volksleiers van Israel, Jesus gevra het met watter gesag Hy al hierdie dinge gedoen het. Dit sluit die intog in Jerusalem (Mat 21:1-11) , Sy ontvangs van lofprysing deur die mense, die reiniging van die tempel (Mat 21:12-17) , die genesing van die blindes en kreupeles (Mat 21:14) , en Sy onderrigting van die mense, (Mat 21: 23) in. Die leiers van die volk het duidelik besef dat Jesus Homself as die Messias van die volk voorhou en daarom wou hulle weet met watter gesag Hy hierdie dinge doen. Lees asb die gelykenis van die twee seuns eerste om ‘n vollediger agtergrond te verkry.

Kom ons gaan lees nou die gelykenis van die landbouers.
Mat 21:33 “Luister na ‘n ander gelykenis: Daar was ‘n sekere huisheer wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.”
Opmerking: Die huisheer is God en die wingerd is die volk van Israel (Ps 80:8 ; Jes 5:1-7 ; Jeremia 2:21) Onthou ons praat van die volk Israel hier en ons moet altyd toelaat dat die Bybel die Bybel verduidelik.  Die Here het Israel as ‘n nasie uitgekies om vir Hom vrugte te dra, maar hulle het egter nie.
Jes 5:1 “Laat my tog sing van my Beminde; ‘n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel. 5:2 En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ‘n toring daar binne-in gebou en ook ‘n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring. 5:3 Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd. 5:4 Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring? 5:5 Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. 5:6 En Ek sal dit ‘n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie. 5:7 Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!”
Dit is ook baie duidelik, soos uit bostaande teksgedeelte opgemerk kan word, dat die Here hierdie gedeelte uit Jesaja ingedagte gehad het toe Hy die gelykenis van die landbouers vertel het. Die Volksleiers sou onmiddellik geweet wat Hy bedoel het. Dit dui ook daarop dat die Bybel die woord van God is want net God ken die toekoms en kan absolute akkurate voorspellings maak. 

Die heining wat die huisheer om die wingerd opgerig het verteenwoordig die wet soos wat dit aan Moses gegee is. Die wet het die volk Israel van alle ander nasies afgesonder en het hulle in ‘n unieke groep mense vir die Here bewaar. Indien hulle die wet nagekom het, het die Here belowe dat hulle beskerming en seëninge sou ervaar. (Deut 28:1-14) Die Parskuip, waarin al die geoeste druiwe gepars is, verteenwoordig die vrugte wat die volk Israel vir die Here moes voortbring. Die wagtoring wat deur die huisheer opgerig is, verteenwoordig God se versorging en beskerming van die volk. Die landbouers verteenwoordig die priesters en skrifgeleerdes wat oor die volk moes waak en hulle na geregtigheid lei.

Mat 21:34 “En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. 21:35 Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. 21:36 Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak.”
Opmerking: Die diensknegte van die huisheer verteenwoordig die profete wat herhaaldelik na die volk gestuur is om hulle terug te roep na God toe. Israel het egter hierdie profete gereeld sleg behandel en selfs gedood.
Hnd 7:52 “Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het;”

Mat 21:37 “Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. 21:38 Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. 21:39 En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.”
Opmerking: Dit is baie duidelik dat die Seun van wie hier gepraat word, Jesus Christus, met Sy eerste koms aarde toe is. Deur hulle erkenning dat die Seun die erfgenaam is , het hulle hulleself verdoem, want alhoewel hulle in die openbaar ontken het dat Hy die Seun van God was, het hulle in hulle harte geweet dat Hy wel die Seun van God was, naamlik die tweede Persoon van die Drie-Eenheid . Onthou, net soos met die gelykenis van die twee seuns en die gelykenis van die bruilofsmaal, was die vraag gewees met watter gesag Hy al hierdie dinge gedoen het. Om meer oor die konteks te verstaan, raai ek die leser aan om eerste die gelykenis van die twee seuns te lees. Die volksleiers het dus geweet dat Jesus Christus wel die gesag gehad het om op te tree soos wat Hy gedoen het.

In die gelykenis word dit duidelik gestel, dat hulle onder mekaar erken het dat die Seun die erfgenaam is, en dat hulle Hom moet dood, sodat hulle Sy erfporsie kan bekom. Die Bybel maak dit baie duidelik wat in die werklike lewe gebeur het. Die leiers van die volk was meer begaan oor wat die Romeine sou sê, en doen, en het die Romeine meer gevrees as wat hulle God gevrees het. (Dus was hulle meer besorg oor die politieke stand van sake as oor die waarheid, wat maar net nog ‘n bewys van hulle ongeloof was.)
Joh 11:48 “As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.”                         Ons weet ook dat die volk Jesus verwerp het en Hom buite die stad Jerusalem laat kruisig het. Israel het nie ‘n Messias gesoek wat vir hulle sondes versoening moes doen nie. Hulle het iemand gesoek wie hulle van die Romeine kon verlos en Jesus het nie aan daardie vereiste voldoen nie, omrede Hy nie gekom het om Sy koninkryk te vestig, alvorens Hy vir die sondes van die mense kom sterf het nie.
Heb 13:12 “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.”

Dit is ironies, dat dit wat die volksleiers deur ongeloof gevrees het en wat hulle wou voorkom het, juis dit is wat oor hulle gekom het. Titus, die Romein, het in 70 nC Jerusalem ingeval en verower en die tempel is verwoes, presies soos wat Jesus Christus voorspel het.
Luk 19:41 “En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween 19:42 en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. 19:43 Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit.
19:44 En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.”

Dit herinner my nogal aan ‘n ander waarskuwing wat Jesus gemaak het.
Mat 10:39 “Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
16:25 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”
Hoeveel keer het ons nie ook al soos die leiers van Israel opgetree nie? Uit vrees, en ongeloof, maak ons van wêreldse metodes en maniere gebruik en vertrou op mense en rykdom eerder as op God. Inplaas daarvan om vir die Here te leef, en Hom alleen te dien, dien ons onsself en Mammon en kyk na sekulêre leiers om ons van ons probleme te verlos wat rampspoedige gevolge gaan meebring.

Jeremia 17:5 “So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. 6 En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land. 7 Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. 8 Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.”                                      
Is dit nie wat ons deesdae in ons eie land sien gebeur nie?      

Mat 21:40 “Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? 21:41 Hulle antwoord Hom: Die slegte mense—hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee. 21:42 Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?
Opmerking: Die volksleiers se eie antwoord veroordeel hulle. As die sogenaamde kenners van die Skrifte, moes hulle geweet het van die profesie wat in Ps 118:22 gestaan het. Jesus haal ook dan juis hierdie teksgedeelte aan om Sy punt te bevestig. Met Sy intog in Jerusalem op die rug van ‘n donkie, het Hy Homself aan die volk Israel voorgestel as hulle Messias. (Mat 21:1-11) Die volksleiers verteenwoordig die bouers en Jesus verteenwoordig die steen wat deur die bouers verwerp word. Die bouers (Volksleiers)het geen plan vir die steen (Jesus) gehad in hulle bouplanne (Volk Israel) nie en hulle verwerp Hom dus as nutteloos. (Kruisiging)
Na Jesus Christus se kruisiging en opstanding, verhoog God Hom en maak Hom die die belangrikste steen in die gebou. (Hoeksteen)
Fil 2:9 “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,”
Die figuurlike gebruik van die steen word gereeld in die Skrifte gemeld. Jesus word as die hoeksteen sowel as die fondasie steen in die Skrifte uitgebeeld. (1 Ko 3:11; Efs 2:20-22; 1Pet 2:4-5)

Mat 21:43 “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.”
Opmerking: Daar moet net gelet word, dat Jesus nie van Israel af wegdraai na die heiden nasie toe nie, maar Hy draai van daardie generasie Jode af weg en sal die Koninkryk eendag tot stand bring wanneer daar ‘n generasie Jode is wat Hom in geloof aanvaar. ‘n Gebeurtenis wat na afloop van die Groot Verdrukking sal plaasvind. Die Skrifte stel dit baie duidelik dat die koninkryk nie vir ewig van die Israeliete af weggeneem is nie en dat hulle wel weer herstel sal word. (Rom11;15 ; 25-26)

Mat 21:44 “En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.”
Opmerking: Indien ons mooi oplet sal ons merk dat die steen in die eerste gedeelte van die teksgedeelte op die grond is. In die tweede gedeelte van die teksgedeelte val die steen van bo af. Die twee posisies van die steen, verteenwoordig Jesus Christus se twee komste aarde toe. Met Sy eerste koms was Hy ‘n steen van struikeling vir die volk Israel. (Jes 8:14-15; Rom 9:32-33; 1 Ko 1:23; 1Pet 2:8) Hulle het dus oor Hom gestruikel.
Met Sy tweede koms aarde toe, sal Jesus Christus ‘n steen van veroordeling en vernietiging wees, wat Sy vyande sal vernietig. (Dan 2:34; 1Ko 15:24; 2Ts 2:8 ens) Met Sy eerste koms het die Here gekom om die wêreld te red, met Sy tweede koms, kom Hy om die wêreld te oordeel.

Mat 21:45 “En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek. 21:46 En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het.”
Opmerking: Alhoewel die owerpriesters en die Fariseërs besef het, dat die Here van hulle praat, kon hulle niks aan Hom doen nie, omrede Sy tyd nog nie daar was nie. Dit geld ook vir ons as gelowiges. As ons in God se wil leef en doen wat Hy van ons verwag, kan niks met ons gebeur nie. As die Here dus vir ons ‘n werk het om te doen, en ons almal het so ‘n werk, dan sal niks ons kan verhinder om dit uit te voer nie, solank as wat ons op Hom vertrou en in Sy Krag wandel. In meeste gevalle werk dinge egter nie uit nie, omrede ons te maklik moed opgee as die pad moeilik raak en die werk wat ons doen nie werklik van die Here afkomstig is nie. Dit bewys maar net dat ons nie werklik in God en Sy krag glo nie. Onthou altyd hierdie teksgedeelte wanneer die stryd moeilik raak en dit wil voorkom of die vyand die oorhand kry.
Rom 8:31 “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”

Seën groete

Vic