gelowiges raad

Raad aan gelowiges in hierdie tydperk van verval. Deel 1

Ons lewe in ‘n tydperk van algemene morele agteruitgang, asook ‘n tydperk van erge leerstellige verval. Indien ‘n Christen oortuig daarvan is dat ons, ons in ‘n tydperk van morele en leerstellige herlewing bevind dan is daardie Christen heel waarskynlik self die slagoffer van verlyding. In baie gevalle, waar gelowiges wat die leerstellige en morele agteruitgang van die belydende Christendom uitwys, word as negatief uitgekryt. Om op die leerstellige en morele agteruitgang te fokus is te negatief en demonstreer volgens baie ‘n algehele gebrek aan geloof. Hierdie misleidende siening vind mens in ‘n baie groot gedeelte van die Woord geloof Beweging”, asook groot gedeeltes van die charismatiese beweging, wat die proponente van die Voorspoed Evangelie insluit. Hoofstroom Christelike televisie, byvoorbeeld Christelike kanale soos TBN en baie ander soortgelykes, dien as platvorm waardeur hierdie kultus van positivisme versprei word. Onthou, ware Bybelse geloof is gesetel in God se woord, wat binne die korrekte konteks aangehaal en toegepas is. Geloof wat nie op God se woord, binne die korrekte konteks gebaseer is nie, is nie Bybelse geloof nie maar eerder ‘n delusie.

Die Bybel teken agter ‘n baie ander prentjie as wat die proponente van die religie van positivisme aan ons wil voorhou. Ek gaan slegs enkele voorbeelde hier aanhaal en die leser word aangeraai om self verdere Bybelstudie te doen.
2Tim.3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. 6 Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, 7 wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. 8 En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof.”
Baie van die leerstellings wat as ware leerstellings in baie gemeentes verkondig word is niks anders as die vervulling van 1Tim.4:1 wat soos volg lees:
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”

Omrede God alwetend is, het Hy vooraf geweet hoe die Kerk tydens die Kerk dispensasie toenemend agteruit sal gaan, en daarom het Hy aan gelowiges, wat getrou aan Hom wil bly, genoeg middele (wapenrusting) gegee om as Sy getroue dissipels in hierdie donker tye te oorleef, naamlik:

Die geskrewe woord van God: Geen persoon kan beweer dat Hy God as getroue dissipel volg indien daardie persoon nie die Skrifte persoonlik bestudeer nie. Dit is in die Skrifte waar ons God se woord aan die mens vind. Een van die groot tragedies van ons tyd is die feit dat die Bybel toenemend verdraai word, om vooropgestelde menslike leerstellings en leefwyses te regverdig. In baie gevalle word die skrifte nie bestudeer om vas te stel wat die skrywer werklik met ‘n spesifieke stelling bedoel het nie, maar die skrifte word eerder in terme van die mensdom se begeertes vertolk, en indien dit nodig blyk, word die Skrifte selfs verdraai. Waar ‘n persoon doelbewus die Skrifte verdraai, dan dien daardie persoon die duiwel, en nie God nie, al mag sodanige persoon dalk die gewildste of hoogs geleerde teoloog op aarde wees. Onthou, God oordeel nie ‘n bediening in terme van die gewildheid, rykdom of status daarvan nie, maar Hy oordeel ‘n bediening in terme van getrouheid aan Sy woord. Bybelse geloof en God se liefde kan nie van Sy woord geskei word nie. Dit is juis teoloë van die bekendste universiteite ter wêreld wat die inspirasie van die Bybel aanval.

2Tim.2: “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,”
Teksgedeeltes soos hierdie klink nie baie positief nie, maar dit bly egter God se woord aan die mens. Baie preke wat deesdae in die Kerke verkondig word, het meer in gemeen met humanistiese selfhelp motivering toesprake as met wat God werklik aan ons wil sê. Christelike terme word gebruik om sodanige preke ‘n skyn van Christelikheid te gee, maar die Bybel word nie binne die korrekte dispensasionele konteks verkondig nie. Ware Christenskap begin by die korrekte uitleg van die Bybel. Boonop kan die Skrifte slegs met behulp van die Heilige Gees verstaan word. Indien die leser werklik die waarheid wil hoor, dan sal die Heilige Gees altyd die leser na die oorspronklike bedoeling van die skrywer van daardie spesifieke teksgedeelte lei, omrede dit Sy woord is en Hy wil hê dat ons die regte betekenis bepaal en nie ons eie geliefde leerstelling daarin in te lees nie.

Die Heilige Gees: Soos reeds genoem, kan die Skrifte nie korrek sonder die instaatstellinde krag van die Heilige Gees uitgelê word nie. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
1Kor.2:14 “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Gegewe hierdie feite is dit dwaasheid om dokumentêre oor die Skrifte op televisie, soos byvoorbeeld “National Geographic” en ander soortgelyke kanale as gesaghebbende bronne van inligting te beskou, omrede die meeste teoloë wat in hierdie dokumentêre verskyn nie werklik glo dat die Bybel God se foutlose, geïnspireerde woord aan die mens is nie. Net omrede ‘n persoon ‘n teoloog is beteken nie dat daardie persoon werklik wedergebore is nie. Daar is letterlik hordes van hulle wat nie is nie, en wat ook nie die Gees van God binne hulle het nie. Boonop het die regisseurs van sodanige programme hulle eie agenda wat hulle wil bevorder, en is oor die algemeen totale heidene en haat die ware Christendom. Moenie alles glo wat jy op televisie sien nie. Glo wat in die woord staan!

Dit is egter ook so dat baie wat deesdae in die naam van die Heilige Gees verkondig word, nie werklik van die Gees afkomstig is nie. Terme soos “ Die Gees het my gesê” ensovoorts word te maklik rondgeslinger, en is in baie gevalle nie werklik van die Heilige Gees afkomstig nie. Veral die sogenaamde moderne profete van vandag maak hulleself aan hierdie optredes skuldig. Dit is nogal verbasend dat die Heilige Gees, wat heilig is, en wat na bewering gereeld direk, en soms woord vir woord met ‘n sogenaamde profeet/prediker praat, nalaat om daardie persoon aangaande sy dwaling ten opsigte van die skrifte te korrigeer. Veral indien dit juis die Heilige Gees is wat ons in alle waarheid moet lei.
Joh.16:12 “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”

Bostaande teksgedeelte is vervul toe die Heilige Gees gekom het en die skrywers van die Bybel geïnspireer het om God se woorde op skrif te stel. (God se woord aan die mens is dus voltooi en daar kan nie nuwe boeke of openbarings bygevoeg word nie.) En dit is juis hierdie geïnspireerde Skrifte, wat deesdae in die Naam van die Heilige Gees, verdraai word of heeltemal ten koste van nuwe profetiese openbarings en/of emosionele belewenisse geïgnoreer word. Die Heilige Gees is God en kan nie sonde pleeg nie, en Hy sal ook nie in enige sondige praktyke deelneem nie. Om die skrifte doelbewus buite konteks te verdraai, of aan te haal, is ‘n baie ernstige sonde, en is van die Satan afkomstig en nie die Heilige Gees nie. Die heilige Gees sal nooit die Skrifte buite konteks aanhaal, verdraai of ‘n persoon beïnvloed om so iets te doen nie.

So ook sal daar nie werklike heiligmaking in ‘n persoon se lewe bewerkstellig kan word indien die Heilige Gees dit nie met samewerking van die gelowige bewerkstellig nie. Baie wat deesdae as heiligmaking bestempel word, is eerder reformasie in eie krag waarin die Heilige Gees geen aandeel in het nie. Beweerde Heiligmaking onder die vaandel van die Maatskaplike Evangelie is een voorbeeld hiervan. Die maatskaplike evangelie is nie dieselfde as die Evangelie van God se genade nie en moet nie daarmee verwar word nie. Die Maatskaplike Evangelie is ‘n evangelie wat op menslike werke gebaseer is en is nie van God afkomstig nie. Hierdie stelling geld ook vir Bevrydings Teologie wat in baie gevalle niks anders as ‘n verchristelikte vorm van Marxisme en sosialisme is nie. Boonop het Christelike sosialisme niks met Gees geïnspireerde dissipelskap te make nie en moet nie met ware Christenskap verwar word nie.

Die Heilige Gees werk tydens die Dispensasie van die Kerk op ‘n baie subtiele wyse, wat soms die indruk by mense kan skep dat dit hulleself is wat alles in hulle lewens bewerkstellig het. Al ons talente, geleenthede ensovoorts word deur God se voorsienigheid aan ons voorsien, en in die meeste gevalle werk Hy ongemerk in die agtergrond om Sy wil in ons lewens te bewerkstellig, en aan ons geleenthede te gee wat ons soms as vanselfsprekend aanvaar. Om hierdie rede is dit baie maklik vir mense om met hulle prestasies te wil spog. Die Here het juis Israel teen hierdie vorm van arrogansie gewaarsku, naamlik:
Deut.8:17 “en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. 18 Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het, soos dit vandag is.”
Dit is om hierdie rede dat Paulus die volgende waarskuwing aan gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie leef gemaak het, naamlik:
1Kor.4:7 “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”

Dit is my beskeie opinie dat God in sy soewereiniteit aan veral nasies wat beweer dat hulle Christen nasies is, die leiers gee wat hulle verdien. Hierdie beginsel geld egter ook vir ander nasies, en wat uiteindelik tot die ongekende smarte van die Groot Verdrukking aanleiding gaan gee. God gaan nie hierdie God verwerpende mensdom ongestraf laat bly nie. Daarom is dit nou die tyd vir ongelowiges om hulleself met God te versoen, deur die Evangelie te glo, en dan as toegewyde dissipels te lewe.

Daarbenewens moet ons as gelowiges ook dan as God se ware dissipels die heilige Gees toelaat om heiligmaking in en deur ons te bewerkstellig. Ware Christene moet nooit onder die indruk verkeer dat die Here hulle nie in hierdie lewe vir hulle voortgesette sonde na aanvanklike wedergeboorte sal straf nie. Hy sal, en een so ‘n vorm van tugtiging is om aan ons die leiers te gee wat ons verdien. Die feit bly staan dat sonder die Heilige Gees ons niks blywends kan verrig nie. Die valse profete, wat so volop deesdae is, en wat valslik voorspel dat die Christendom stelselmatig die land/wêreld gaan oorneem verkondig leuens en is een van die faktore wat nog tot erge ontnugtering aanleiding gaan gee. Boonop word hierdie valse profesieë direk in stryd met God se woord verkondig, wat verklaar dat die wêreld op morele, asook leerstellige vlak, toenemend agteruit sal gaan en wat tot die verskriklike smarte van die Verdrukking aanleiding sal gee. (Dit klink miskien nie baie positief nie, maar dit bly nog steeds ‘n Skriftuurlike feit en as sulks God se woord aan ons.)

Hierdie valse profete is nie deel van die oplossing nie maar deel van die probleem. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van Profesie nog in werking vandag” sorgvuldig deur te lees, en dan die morele en leerstellige agteruitgang van ons land vanuit die skrifte beoordeel, wat bo enige twyfel sal demonstreer dat hierdie sogenaamde profete nie profete van God is nie en Hom ook nie verteenwoordig nie. Dit is nou die tyd om seker te maak dat ons die Skrifte korrek uitlê en daarteen waak om ons begeertes as leerstellings in die Bybel in te wil lees. Al beteken dit dat negatiewe feite aangaande onsself, asook die dwaalleerstellings wat ons so graag aankleef as sulks blootgestel word. Dit is nou tyd vir werklike bekering van ons eiewilligheid en die tyd om as toegewyde dissipels van Christus te leef. Onthou, die tyd is min!

Geloof: Soos reeds genoem, is dit nie Bybelse geloof om ‘n teksgedeelte buite konteks aan te haal en dan te verwag dat God daarop moet regeer nie. Geloof wat nie op teksgedeeltes wat binne die korrekte konteks aangehaal gebaseer is nie, is nie Bybelse geloof nie maar eerder ‘n delusie. Baie wat deesdae as Bybelse geloof bestempel word is niks anders as ‘n vorm van opgewerkte emosionaliteit nie. ‘n Persoon kan wel emosies ervaar, wat wel van die Heilige Gees afkomstig is, maar die meeste van die emosies wat mens in baie kringe van die belydende Christendom teëkom het absoluut niks met die heilige Gees te make nie, maar eerder die vlees. In alle gelowe, en selfs by sportbyeenkomste, asook musiek byeenkomste beleef die skares sterk emosionele manifesterings, maar daardie emosionele belewenisse het absoluut niks met die Heilige Gees te maak nie. Dit is dan ook so, dat ‘n persoon wat werklik deur die Heilige Gees gelei word, nie deur sy emosies voortgedryf sal word nie, omrede hy nie deur sy emosies gelei word nie maar deur God.

Indien ons werklik God se beloftes, soos in die Skrifte gevind, glo sal ons nooit voel asof ons heeltemal alleen of leeg is nie.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
Ef.4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Ons emosies en gevoelens kan by tye misleidend wees, en daarom moet ons nie ons geloof op ons gevoelens baseer nie, maar slegs op God se beloftes aan ons. (soos in Sy woord opgeskryf)

Indien ‘n persoon werklik deur die Heilige Gees gelei word, sal daardie persoon ‘n baie hoë aansien van die skrifte handhaaf, omrede hy glo dat dit God se woord aan hom is. En omrede hy weet dat dit God se woord aan hom is, sal die persoon moeite doen om vas te stel wat die Here werklik aan hom wil sê. Omrede ons God se woord glo wat verklaar dat Hy orals teenwoordig is, sal ons weet dat ons Hom ter enige tyd in gebed kan nader, maak nie saak waar ons is nie of hoe ons voel nie. ( Ek mag dalk alleen voel, maar weet op grond van God woord aan my, dat ek nooit werklik alleen is nie en dat Hy altyd in en by my is.)

Dit is egter ook so, dat wanneer ‘n persoon geloof in die Evangelie van God se genade plaas, slegs daardie persoon, op daardie spesifieke punt in tyd, enige voordeel uit sy aanvanklike daad van geloof vind, deurdat hy die gawe van die ewige lewe by God ontvang. In hierdie opsig raak sy geloof niemand anders as homself nie en ontvang sy medemens nog geen voordeel uit sy geloof nie. Aanvanklike geloof wat tot wedergeboorte aanleiding gee is ‘n saak slegs tussen God en die persoon self. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.) Indien die leser nog nie die artikel “Drie fases van verlossing” gelees het nie dan raai ek hom aan om dit te doen.

Daarbenewens is daar voortgesette geloof, na aanvanklike wedergeboorte, wat nie slegs die gegewe gelowige baat nie, maar waarby ook sy medemens baatvind. Dit sluit voortgesette dade van geloof in wat die woord korrek aan ander verkondig; finansieel tot die verspreiding van korrekte leerstelling bydrae; en wat ‘n behoeftige broeder in nood bystaan. Let egter, dat geloof altyd in die lig van Godgegewe wysheid moet plaasvind en nie op emosionele manipulering nie. Geloof wat byvoorbeeld geld aan ‘n persoon gee wat nie wil werk nie, is nie praktiese geloof wat tot daardie persoon se welstand sal bydrae nie, maar is eerder ‘n instrument wat sy ondergang sal bewerkstellig. So ook baat dit nie mens skenk geld aan Christelike bedieninge wat dwaalleerstellings verkondig nie, want om so iets te doen is eerder geval van saam met die duiwel werk en maak die skenker van die geld deel van die verspreiding van valse leerstellings. (‘n werk wat die duiwel konstant besig mee is) Misplaaste geloof is nie Bybelse geloof nie maar eerder ‘n delusie. Dit is elke gelowige se plig om wat aan hulle verkondig word met die skrifte te vergelyk, want ieder en elk van ons gaan persoonlik voor God moet verskyn en sal nie die proponent van valse leerstellings vir ons onkunde kan blameer nie. Onthou, ons hele lewe, asook al ons talente en besittings behoort aan God en ons is maar net die rentmeesters daarvan. Christus gaan ons in terme van ons rentmeesterskap van Sy besittings beoordeel.

Hierdie beginsel geld ook vir gelowiges wat vir politieke partye stem wat lewenswyses wat in stryd met die Skrifte is voorstaan. Wanneer ‘n regering geld deur onnodige belastings van mense wegneem wat hard daarvoor gewerk het, en dan daardie belasting geld op ongeoorloofde wyses vermors, of aan mense gee wat nie wil werk nie, dan is hulle met niks anders as ‘n geïnstitusionaliseerde vorm van diefstal besig nie. Waar ‘n regering sodanig optree dan tree daardie regering in stryd met God se woord op en dan moet die gelowige niks met daardie party te doen hê nie. Indien ons op hierdie wyse deur ons stemreg tot die probleem bydra, word ons ‘n deel van die probleem en nie deel van die oplossing nie. En nee, geen politieke party kan ons land red nie, slegs God kan, en gebaseer op ons getrouheid aan Hom kan Hy aan ons die regering verskaf wat wel sake in ons land kan omdraai. Indien ‘n gelowige vir ‘n goddelose politieke party stem, dan kan hy nie later wil kla, indien die land as geheel deur God gestraf word en finansieel in duie stort nie. Dit sluit politieke stelsels soos Kommunisme, Marxisme, en baie vorme van sosialisme in.

Die sosiale evangelie, asook bevrydingsteologie is in werklikheid maar net ‘n verchristelikte vorm van dwaalleer wat vanuit bogenoemde politieke sisteme voortgevloei het. (Dit het niks met Bybelse Christenskap te make nie) Hierdie beginsel geld ook vir politieke partye wat aborsie in die wet verskans en wat openlik sondige lewenswyses bevorder. As gelowiges is ons almal broeders in Christus, en as sulks behoort ons as toegewyde dissipels van die Here Jesus Christus te leef, en slegs politieke partye bevorder wat met die Skrifte vereenselwig kan word en wat eenheid en vrede wil bewerkstellig.

Geloof moet dus prakties uitgeleef word. Waar daar wel ‘n werklike nood ontstaan (en daar is baie sulke gevalle) is dit die plig van elke gelowige om wel sy naaste te help indien dit in sy vermoëns is. En die meeste van ons kan wel ons medemens op die een of ander wyse bystaan. Ware liefde in geloof uitgeleef, sal altyd ons medemens tot voordeel strek. Dit help min om te beweer dat jy vir ‘n persoon omgee, en jy weet dat daardie persoon ‘n behoefte het wat jy as Christen kan vervul. Dit sluit die verpligting om valse leerstellings aan ‘n ander gelowige uit te wys in. Om te beweer dat jy iemand liefhet en daardie liefde manifesteer nie in aksies van geloof nie, dan beteken daardie persoon se deklarasie van liefde absoluut niks nie. Dit is ons as gelowiges se plig om broeders in nood te help. Dit is hierdie gebrek aan voortgesette geloof waarvan Jakobus in sy brief gepraat het. Hy het met mense gepraat wat alreeds wedergebore was, (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte was alreeds afgehandel gewees) maar wat nie hulle liefde deur dade van voortgesette geloof prakties uitgeleef het nie. (fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking)

Dus bevoordeel aanvanklike geloof slegs die persoon wat die evangelie glo en die ewige lewe ontvang. Voortgesette geloof, na aanvanklike wedergeboorte, handel dus nie oor die kwessie van wedergeboorte, wat op hierdie stadium alreeds afgehandel is nie, maar dit handel eerder oor ware dissipelskap in die alledaagse uitleef van ons Christenskap. Dissipelskap moet nie met wedergeboorte verwar word nie. (Lees gerus die artikel “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel“) Ons almal ontvang die ewige lewe as geskenk by God, op grond van ons aanvanklike geloof in die evangelie, maar ware dissipelskap vereis dade van voortgesette geloof na aanvanklike wedergeboorte, waarby ons medemens voordeel kan trek. Baie mense verwar Jakobus se stelling dat geloof sonder werke dood is, as ‘n bewys dat daardie persoon nie werklik wedergebore is nie. (Sodanige siening kom op niks anders as ‘n werke evangelie neer nie.)
Jak.2:26 “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”

Waar ‘n liggaam dood is, beteken dit geensins dat daardie liggaam nie bestaan het nie. In bostaande teksgedeelte verteenwoordig die liggaam geloof na wedergeboorte. Net soos wat ‘n dooie liggaam onproduktief is, maar wel nog bestaan, so beteken die gebrek aan voortgesette dade van geloof, na aanvanklike wedergeboorte, niks nie en is van God se doel vir die gelowige as dissipel geskei.
Ef.2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (fase een van ons verlossing naamlik wedergeboorte) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (fase twee van ons verlossing, naamlik /dissipelskap/heiligmaking wat goeie werke insluit)

Abraham dien as goeie voorbeeld hiervan. Nadat hy deur God geregtig verklaar is, omrede hy God se belofte aan hom geglo het, het hy nog baie jare as ‘n gelowige bly voortleef voordat hy tot sterwe gekom het. Maar in daardie tydperk het daar vele geloofstoetse op sy pad gekom, waardeur sy geloof verder ontwikkel moes word. Ons weet dat hy by tye in sy geloofslewe gefaal het, soos byvoorbeeld om ‘n kind by Hagar te verwek, instede daarvan om op God se woord aan hom staat te maak. Maar met verloop van sy lewe is sy geloof ontwikkel en was hy toe later in sy lewe bereid om sy seun aan God te offer. Toe hy aanvanklik God se belofte geglo het, en die gawe van die ewige lewe ontvang het, het sy geloof niemand anders as homself bevoordeel nie. Toe hy egter later bereid was om sy seun aan God te offer, het sy daad van geloof sy seun, wie teenwoordig was, asook die mense wat toe van die voorval ingelig is, geestelik bevoordeel. Dit is om hierdie rede dat Abraham tot vandag toe as die vader van geloof bekendstaan. Alle gelowiges van alle tye, het deur sy voorbeeld van geloof aanmoediging gekry om voortgesette werke van geloof, na aanvanklike wedergeboorte, voort te bring, sodat hulle deur hulle goeie werke, ook vriende van God genoem kan word. Eendag sal Christus ons almal by die Regterstoel oordeel van Christus vir ons voortgesette dade van geloof beloon. Dit is hierdie faset van ons Christelike wandel na aanvanklike wedergeboorte (dissipelskap) wat Jakobus aangespreek het. Paulus daarenteen het meer op aanvanklike wedergeboorte gefokus, alhoewel hy ook dade van voortgesette geloof (dissipelskap) aangeraak het.

Ter Afsluiting: Nadat ons wedergebore geraak het, verwag God van ons om deur voortgesette dade van geloof heiligmaking in ons lewens te bewerkstellig, wat goeie werke insluit, en wat tot voordeel van ons medemens sal strek. Geloof moet egter op die Skrifte binne die korrekte konteks gebaseer wees, om werklik as Bybelse geloof bestempel te kan word. Indien ons op hierdie punt dwaal dan lei dit tot ander meer gevaarlike dwaalleerstellings. Moderne Arminianisme vereis werke om gered te bly, Calvinisme vereis werke na aanvanklike wedergeboorte om te bewys dat ‘n persoon werklik gered is, (albei teologiese sisteme is dus op die een of ander wyse van menslike werke afhanklik) daarenteen vereis die Bybel absoluut geen werke om wedergebore te raak of te bly nie. Alle mense sal deur God beoordeel word. Getroue gelowiges, wat deur voortgesette dade van geloof goeie werke voortgebring het, sal by die Regterstoel Oordeel van Christus, met verskillende grade van genadeloon beloon word. Daarenteen sal ongelowiges by die Wit Troon Oordeel met verskillende grade van straf in die poel van vuur gestraf word. (alle ongelowiges sal in die poel van vuur gepynig word, maar die graad van hulle pyniging sal volgens hulle bose werke bepaal word.)

In deel twee van hierdie reeks artikels sal ons nog vier verder hulpmiddele wat God tot ons beskikking gestel het bespreek. Ons lewe in ‘n toenemend morele vervalle wêreld, wat net gaan vererger, en daarom is dit belangrik dat elke gelowige die Here as getroue dissipels navolg, en die hulpmiddelle wat Hy tot ons beskikking gestel het in geloof aanwend, en dit sluit die volle wapenrusting van God in, naamlik:
Ef.6:11 “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.”

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.