Lig, Gen. 1:3

Is die Lig in Gen 1:3 die Here Jesus Christus?

Vraag oor die Lig in Gen 1:3: Hallo Vic, glo dit gaan goed met jou. Het vanaand bietjie “kop gestamp” oor die lig in bogenoemde verse nl. is die lig Jesus Christus of nie?

Antwoord: Goeie vraag! Baie wat ek hier gaan sê is slegs my opinie, so neem dit maar met ‘n knypie sout. Ek sê dit want die Bybel stel dit nie duidelik of die lig God self is of ‘n geskepte entiteit is nie. Altwee is moontlik. (vir God is enige iets moontlik) Dit is opmerklik dat die lig op die eerste dag van die skepping geskep/verskyn het en derhalwe kan die son en sterre nie die bron van daardie lig gewees het nie, want die son is eers op dag vier geskape. Die lig wat ons nou huidiglik op aarde ontvang kom van die son af en derhalwe bestaan daar ‘n groot moontlikheid dat die lig wat ons nou waarneem nie dieselfde lig is wat op dag een van die skepping waargeneem kon word nie. Dit is my beskeie opinie, dat die lig wat op dag een van die skepping verskyn het God se “Shekinah Glorie” of anders gestel Sy Heerlikheid was wat inbraak op die fisiese skepping gemaak het. Om hierdie rede vind ons ook dat die Bybel na die Here as die “Lig” verwys en dit geld (metafories) ook vir Sy woord
1Jo 1:5 “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.
1Jo 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
Joh 1:9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
Joh 8:12 En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.
Psa 119:105 1Noen. U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”

Nou moet jy geduldig met my wees, want ek gaan nou eers bietjie spekuleer. Twee vrae ontstaan nou naamlik:
Eerstens: Hoekom laat God nie meer Sy Heerlikheid as lig op die aarde skyn nie?
Tweedens: En hoekom het Hy dan die son, maan en sterre gemaak as Hy die wêreld se ligbron kon wees?
Antwoord vraag een: God in Sy alwetendheid, wat Sy voorkennis insluit, (Hy weet alles ten alle tye en daar is nie ‘n tyd waar Hy nie alles weet nie.) het geweet dat die mens gaan sondig en derhalwe nie meer in hulle liggame, wat na die sondeval oor ‘n sonde natuur beskik het, in Sy ontblote Heerlikheid “Shekinah Glorie” kan oorleef nie. Onthou God weet ten alle tye alles. (Alwetendheid van God) En Hy het lank voordat hy die heelal geskape het, geweet dat ons gaan sondig en derhalwe nie in Sy ontblote Glorie sal kan lewe nie, en derhalwe sou Sy gevalle skepping van ‘n sekondêre/alternatiewe ligbron afhanklik wees.
Vraag twee: Om hierdie rede (daar is meer redes) het God die son en sterre gemaak, sodat hulle as fisiese ligbron/energiebron sou dien wanner die noodsaaklikheid ontstaan, dat Hy die lig van Sy Heerlikheid op aarde a.g.v. die sondeval sou moes bedek. Nog ‘n rede vir die skepping van die heelal vind ons in Rom.1:20, naamlik:
Rom 1:20 “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;”

Wag, voordat jy dink dat ek van my sinne beroof is, lees asb eers klaar. Die hele Bybel van voor tot agter is God se verhaal, soos wat Hy Sy skepping gemaak het en hoe daardie skepping geval het, en hoe Hy in Sy genade weer die skepping van die val en rebellie bevry het. In Genesis sien ons waar die mens in ‘n tuin deur sy rebellie en Satan se verleiding tot ‘n val kom en a.g.d. is die skepping onder die vloek geplaas. Die rede en tydstip waarop die Here die lig van Sy glorie op aarde moes bedek het kon tydens die sondeval plaasgevind het, en op hierdie geleentheid het die son en sterre, wat toe alreeds bestaan het, as ligbron oorgeneem. In die boek Openbaring, wat die einde van die aarde se geskiedenis bevat, sien ons dat God Sy skepping van die val en rebellie bevry het, en waar die mens (nou sondeloos) in ‘n nuwe Jerusalem en ‘n nuwe aarde lewe waarvan God se Heerlikheid die lig verskaf.
Opn 21:22 “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. 21:23 En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.”
Indien mens die doel van God en Sy ewige plan vir die skepping ingedagte hou, maak bogenoemde stelling nogal sin. Die doel van God en Sy ewige plan vir die skepping kan as volg omskryf word: Om Homself, deur Sy soewereiniteit en genade, in en deur Sy skepping en die verlossing daarvan te verheerlik, wat uiteindelik uitdrukking vind in die vestiging van Sy Koninkryk in die hemele asook op die aarde, deur middel van die Here Jesus Christus, tot heerlikheid van God.

Ter Afsluiting: Dit is derhalwe my beskeie mening, dat die Drie-Enige God se Heerlikheid die lig was wat op dag een die aarde verlig het. Hierdie lig moes ook slegs van een rigting of geskyn het, (heel waarskynlik in die selfde rigting as wat die son huidiglik op die aarde skyn) om sodoende die aarde wat op hierdie geleentheid op sy as begin draai het, of alreeds op sy as gedraai het, te verlig en derhalwe die eerste dag en nag bewerkstellig het. So, die Bybel begin met God se Glorie en eindig met God se Glorie, en intussen het Hy die Duiwel en die mensdom se bose werke ongedaan gemaak, en bo enige twyfel gedemonstreer dat Hy alleenlik die volle reg het om as soewereine God en Heerser oor Sy hele skepping te regeer en dat alle eer en glorie slegs Hom, en Hom alleen, tot in alle ewigheid toekom!
Rom 11:36 “Want uit Hom (Oorsprong en Bron) en deur Hom (die Middel) en tot Hom (die Doel) is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
En boonop sal Sy verloste skepping, vir ewig, in die lig van Sy Glorie lewe! Derhalwe sal die son en maan nie benodig word om die nuwe Jerusalem te verlig nie.
Opn 21:22 En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. 21:23 En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. 21:24 En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. 21:25 En bedags want nag sal daar nie meer wees nie sal sy poorte nooit gesluit word nie; 21:26 en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.”
Ook sal God nie weer sonde in Sy skepping toelaat nie en derhalwe sal dit nooit weer nodig wees dat Hy Sy Glorie hoef te bedek nie. 
Opn 21:27 “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.”

Ek hoop my antwoord gee julle ten minste iets om verder oor te praat!

Seën groete

Vic

 

 

Deel met ander asb.