Dispensasie van die Wet

Die Dispensasie van die Wet. Deel 1

Historiese Konteks van die Wet van Moses:

Die aangebreek en die einde van die Dispensasie van die Wet:
Die Dispensasie van die Wet begin toe God die Wet van Moses op die berg Sinai aan Moses gegee het, en strek tot en met die Here Jesus Christus se dood aan die kruis op Golgota. (Ex.19:3; Matt.27:56; Joh.20:30; Hand.2)

Die Wet van Moses was slegs aan Israel as volk gegee en nie aan enige ander persoon of nasie nie:
Ex.19:1 “In die derde maand ná die uittog van die kinders van Israel (die Skrifte lê spesifiek klem op hierdie feit)uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die woestyn Sinai gekom —2 hulle het van Ráfidim af opgebreek en in die woestyn Sinai gekom en in die woestyn laer opgeslaan. En Israel het daar teenoor die berg laer opgeslaan. 3 Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig: 4 Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. 5 As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. 6 En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel (nie aan die heiden nasies wat ons insluit nie) moet meedeel. 7 En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het. 8 Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE oorgebring. 9 En die HERE het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in ‘n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jou kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel.”
Hierdie was ‘n formele voorwaardelike, wedersydse onderneming wat tussen God en die volk Israel aangegaan is. Die Mosaieke Verbond is die enigste verbond wat voorwaardelik is. Al die ander verbonde wat God met Israel aangegaan het was onvoorwaardelik. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “God se verbond met Israel” te bestudeer.)

a. Die Wet was nooit ter enige tydstip aan die heidene gegee nie:
Rom.2:14 “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie;”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat die heidene (wat ons Afrikaner nasie insluit) het nie die Wet van Moses ontvang nie.

b. Slegs Israel is die ontvangers van die verbonde:
Rom.9:4 “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes;” (sien ook Neh.9:13:Deut.4:1,8; Deut.10:12-13; Ex.20)
Die wet van Moses was aan geen ander nasie of persoon gegee nie. Hierdie is ‘n feit wat ons baie mooi moet verstaan, en wat ongelukkig deur ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom misgekyk word.

c. God het Israel op grond van Sy liefde en genade uitgekies, nie verdienste nie:
Deut.7:6 “Want jy is ‘n volk heilig (heilig beteken afgesonder) aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. 7 Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. 8 Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. 9 Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte.”
God het nie Israel, op grond van hulle grootheid, of enige meriete van Israel se kant af uitgekies om Sy uitverkore volk te wees nie. Dieselfde beginsel geld ook vir ons. God het ons (gelowiges wie tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade leef) ook nie van die ewige verderf gered op grond van enige meriete van ons kant af nie.

Die Wet van Moses was slegs drie maande nadat Hy hulle uit Egipte gered het aan Israel gegee:
Ex.19:1 “In die derde maand ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die woestyn Sinai gekom”

Die Dispensasie van die Wet strek omtrent 1500 jaar, vanaf 1446vC tot 33nC:
Saam met die vorige dispensasie, naamlik die Dispensasie van Belofte, strek die tydperk waartydens God spesifiek met Israel gewerk het omtrent 2000 jaar. (sien illustrasie “Die Sewe Dispensasies.)

Nuwe Goddelike openbaring word ontvang:

Met die aanbreek van elke nuwe dispensasie word daar verdere progressiewe openbarings deur God gemaak:
Hierdie beginsel geld ook vir die Dispensasie van die Wet.
Ex.19:5 “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. 6 En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.”

Israel verklaar dat hulle alles wat God vereis sal nakom:
Ex.19:8 “Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE oorgebring.”

a. Israel was te vol selfvertroue:
Jare later het Moses die volk juis van hulle woorde by die berg Sinai herinner, naamlik:
Deut.5:27 “Gaan u naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê; dan kan u ons alles meedeel wat die HERE onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen. 28 En die HERE het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het. Toe sê die HERE vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het. 29 Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.”
God weet dat die mens nie uit eie krag oor die vermoeë beskik om ons beloftes aan Hom ten alle tye na te kom nie. Die feit dat Israel so vinnig ingestem het, dui as indikasie, dat hulle nog nie besef het dat hulle nie in staat is om enige voorwaardelike verbond wat met God aangegaan word, volkome kan nakom nie. Hulle het die feit vergeet dat hulle voor die uittog uit Egipte, en voor die aankoms by die Berg Sinai, alreeds herhaaldelik misluk het.
God het herhaaldelik voor die volk wonderwerke verrig, (soos byvoorbeeld die Rooi See wat oopgekloof is, en die rook en vuurkolom wat voor hulle uit beweeg het en waardeur hulle teen die Egiptiese weermag beskerm is) maar elke keer wanneer God hulle geloof getoets het, het hulle misluk. Noudat hulle by die berg Sinai kom verklaar hulle vol selfvertroue dat hulle die Wet van Moses sal nakom. Hulle het nog nie geleer dat sonder die genade van God, en Sy instaatstellende krag die mens altyd sal misluk nie. Selfs gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef maak soms dieselfde fout deur om vol selfvertroue die Wet van Christus, in eie krag, te wil volbring. Israel sou beter af gewees het indien hulle erken het dat hulle wel gewillig is om die Wet van Moses te volbring, maar dat hulle dit slegs op grond van God se genade sou kon doen indien Hy dit in en deur hulle bewerkstellig. Ons moet versigtig wees om ooreenkomste met God aan te gaan, en dan te reken dat ons dit in ons eie krag sal kan volbring. Die mens is maar net te geneig om beloftes te maak wat hulle nie in staat is om na te kom nie. (Sien Matt.5:33-36) Ons moet God se beloftes aan ons glo, sonder om enigsins op ons eie vlees staat te maak.

b. Die Mosaïeke Verbond was die enigste voorwaardelike verbond:
Die leser word aangeraai om die Deut.28 te lees. In kort belowe God dat Hy die volk sal seën en voorspoedig maak indien hulle die Wet van Moses nakom. Hierdie seëninge was oorwegend fisiese, en materiële seëninge en die volk Israel sou die hoof oor ander nasies en volke op aarde wees. Anders as die grondgebied van Israel verbond (Deut.30), die Dawidiese Verbond (2Sam.7) en die Nuwe Verbond (Jer.31), wat vanuit die Abrahamitiese Verbond voortvloei, en wat onvoorwaardelik is, is die Mosaïeke Verbond, wat die hele Wet van Moses insluit ‘n voorwaardelike verbond. Ons moet nooit hierdie feit vergeet nie. Die Wet van Moses is egter nooit gegee om mense van die ewige verderf te red nie. Slegs geloof in die Here Jesus Christus kan dit doen. Die Wet van Moses het egter die volk van Israel geheilig in die sin dat die Wet van Moses hulle van al die volke rondom hulle afgesonder het, wat beteken dat die volk, as geheel, vir God se gebruik afgesonder was. Onthou, nie almal in die volk Israel was gelowiges en van die ewige verderf gered nie. Daar was ongeredde, sowel as geredde mense in die volk teenwoordig, maar hulle almal was onder die Wet van Moses geplaas, en was deel van die Mosaïeke Verbond. In hierdie opsig was hulle geheilig. (geheilig beteken in kort afgesonder en dus is hulle van die heiden nasies om hulle afgesonder) Daarenteen is almal wat tydens die Dispensasie van die Kerk/genade wedergebore raak deel van die ware kerk. Die ware kerk bestaan dus slegs uit wedergebore mense, en geen ongelowige kan deel van die ware Kerk vorm nie. God erken slegs ware gelowiges, wat op grond van Sy genade, deur geloof alleen in die Evangelie gered is as deel van Sy liggaam/Kerk. Dit is egter so dat daar mense in kerke sit wat ongered is, maar hierdie mense vorm nie deel van die ware kerk nie, al mag hulle deel van die gegewe gemeente wees. Daar is in werklikheid net een ware kerk en dit bestaan uit alle wedergebore Christene. Daar is baie “Christene” wat nooit wedergebore geraak het nie en wat die slagoffers van die een of ander werke evangelie is. Hierdie mense vorm nie deel van die ware kerk nie.

God het aan die volk Israel die Tien gebooie gegee:
(Sien Ex 20:1-17; Deut 5:6-21) Soos alreeds duidelik gestel is die Tien gebooie slegs aan Israel as volk gegee.

a. God het die tien gebooie mondelings en in skrif aan Israel gegee:
Ex.24:12 “Toe sê die HERE vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig.
Ex.31:18 En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God.” (God het persoonlik die tien gebooie op die kliptafels geskryf.)

b. Nog voordat Moses die tien gebooie van die berg af gebring het, het die volk alreeds drie van die wette gebreek: Ex.32:1-35; Deut.9:1-21. Ten spyte van die feit dat God herhaaldelik wonderwerke in hulle teenwoordigheid gedoen het, kon die volk nie 40 dae vir Moses wag om van die berg af te kom nie. Nieteenstaande die feit dat God net ‘n kort tydjie van tevore Sy teenwoordigheid op ‘n wonderbaarlike wyse voor hulle aangesigte op die berg bekend gemaak het, naamlik:
Ex.19:17 “Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg. 18 En die hele berg Sinai het gerook, omdat die HERE in ‘n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe. 19 Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord. 20 Terwyl die HERE op die berg Sinai neerdaal, op die top van die berg, het die HERE Moses na die top van die berg geroep,”
Hulle het gou a.g.v. hulle ongeloof vir Aäron gekry om ‘n afgod vir hulle te maak en dit aanbid en gehoereer. ( Ex.32:1-35; Deut.9:1-21)

Die sabbatdag, wat op Saterdag val, was slegs vir Israel bedoel:

a. Die Sabbatdag was ‘n teken tussen God en Israel:
Ex.31:13 “Spreek jy met die kinders van Israel (nie al die nasies van die aarde nie)en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle (Israel) in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig.” (vir Hom as volk afgesonder het)
In hierdie opsig was Israel uniek in vergelyking met die heiden nasies met wie God nie ‘n verbond aangegaan het nie.
Ex.31:17 “Tussen My en die kinders van Israel (nie die nasies nie) is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.”
God het Saterdag as ‘n sabbatdag vir Israel (en geen ander nasie) as ‘n rusdag afgesonder. Sewedaagse Adventisme, Hebreeuse Wortel Beweging, die Jehova Getuies ensovoorts, neem sonder enige skriftuurlike mandaat hierdie wet wat aan Israel gegee is, en wie tydens die Dispensasie van die Wet gelewe het, en wil dit as wet op die Kerk, wie tydens die Dispensasie van die Kerk/genade leef, toepas. Die Kerk is nie onder die Wet van Moses nie maar onder die Wet van Christus. (1Kor.9:21; Gal.6:2) Hulle begaan ‘n ernstige mistasting, omrede die sabbatdag ‘n teken tussen God en slegs die volk Israel is, nie ‘n teken tussen God en die Kerk, wat uit al die verskillende nasies saamgestel is, nie. (Die kerk is ‘n heel aparte entiteit as die volk Israel. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk die volk Israel as God se verbondsvolk vervang” te lees.) En om hierdie rede maak Paulus, wie direk aan die Kerk geskryf het, die volgende stelling, naamlik:
Kol.2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie,” (Die leser word ook aangeraai om die artikel “Die Sabbatdag kontroversie” vir meer inligting te lees”)

b. Almal wie die sabbatdag verbreek moes gedood word:
Num.15:32 “En toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle ‘n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak. 33 En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring. 34 En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom gedoen moes word nie. 35 Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig. 36 Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom gestenig, dat hy gesterf het, soos die HERE Moses beveel het.”
Die groepe soos hierbo genoem kan nie van die sabbatdag onderhouding ‘n wet vir die Kerk maak, en dan die doodstraf vir die oortreding daarvan ignoreer nie. Die vonnis wat in die Wet van Moses vir oortredings voorgeskryf word, vorm ‘n integrale deel van die Wet van Moses en kan nie daarvan losgemaak word nie. Hoekom dood hierdie groepe dan nie hulle lidmate wat die sabbatdag verbreek nie? Deur dit nie te doen nie breek hulle self die wet wat hulle juis op almal wil afdwing!

c. Nege van die Tien Gebooie word weer in die Nuwe Testament herhaal:
Hoe die nege gebooie wat in die Nuwe Testament egter herhaal, en benader word, is heeltemal anders as onder die Wet van Moses. Onder die Wet van Moses moet ‘n persoon die wet nagekom het om geseën te word. Onder die Dispensasie van die Kerk/genade benader ons die nege gebooie op grond van genade en die feit dat ons alreeds in Christus geseënd is. Ons kom nie hierdie gebooie na om geseën te word nie, maar omrede ons alreeds in Christus geseënd is. In lig van alles wat die Here Jesus Christus alreeds vir ons aan die kruis bewerkstellig het, ons nuwe identiteit in Hom, en in lig van die krag van die Gees, (met Wie ons tydens wedergeboorte verseël is (Ef.1:13), behoort ons in geloof deur die Gees te wandel, God en ons medemens lief te hê en sodoende word die reg van die wet van Christus in en deur ons vervul.
Rom.8:3 “Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

d. Dit is God self wat die wette wat Hy aan Moses gegee het die Tien Gebooie noem:
Deut.4:13 “Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe.
Deut.10:4 En Hy het op die tafels, volgens die eerste skrif, die tien woorde geskrywe wat die HERE op die dag van die vergadering by die berg uit die vuur met julle gespreek het; en die HERE het dit aan my gegee.” (sien ook Ex.34:23)

e. Die Wet van Moses het uit 613 wette bestaan:
Die hele Wet van Moses het uit 613 wette bestaan en dit word soms deur teoloë in drie afdelings opgedeel, naamlik die morele wette, siviele wette, asook die seremoniële wette. Sommige teoloë gebruik soms hierdie verdeling om hulle dwaalleerstelling van sabbatdag onderhouding te regverdig. Die Bybel tref egter nie hierdie onderskeid nie en al die 613 wette vorm deel van die Wet van Moses. Paulus stel hierdie feit baie duidelik toe hy die Galasiërs teen wettisisme gewaarsku het, naamlik:
Gal.5:1 “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. 2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. 3 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. 4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; (julle gemeenskap met Christus is gebreek) julle het van die (beginsel van)genade verval. (nie uit genade geval om verlore te gaan nie) 5 Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.”

Israel se toets en die heersende beginsel van die Dispensasie van die Wet:

Israel het nou vyf heersende beginsels gehad waardeur hulle God moes dien:
Met die aanbreek van elke daaropvolgende nuwe dispensasie het God aan die mensdom ‘n groter mate van instaatstellende beginsels voorsien waardeur die mensdom Hom kan ken en dien. Israel het nou oor heersende beginsels van menslike gewete, die inperking van boosheid deur die Heilige Gees, menslike owerheid, belofte, asook nou die Wet van Moses tot hulle beskikking gehad. Die toets aan hulle was of hulle nou volgens hierdie beginsels sal lewe of nie? Die Wet was dus die heersende beginsel tydens die Dispensasie van die Wet, en die toets was of hulle daarvolgens sou leef, soos wat hulle verklaar het dat hulle sou doen. Later net voordat hulle die beloofde land binnegegaan het, het God Israel gewaarsku dat Hy ‘n profeet soos Moses vir hulle sal oprig en waarna hulle moes luister. Die Here Jesus Christus was die vervulling van hierdie profesie, maar ongelukkig het Israel as geheel nie na Hom geluister nie.
Deut.18:18 “’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.”

Ter afsluiting: Ek gaan deel een van die artikel “die Dispensasie van die Wet” vir eers hier afsluit en volgende keer in deel twee sal ons sien hoe Israel in lig van die lig/openbarings wat God aan hulle gegee het misluk het. Israel was dus n teokrasie waardeur God hulle d.m.v. ‘n verteenwoordiger wou regeer. God het oorspronklik Israel deur Moses en toe Josua regeer. Daarna het God Israel d.m.v die 14 rigters regeer. Daarna het God Israel d.m.v. konings regeer. Met Christus se wederkoms sal God die wêreld d.m.v. die Here Jesus Christus regeer en so sal Christus die suksesvolle vervulling van al hierdie doelstellings wees. Waar die mens dus gefaal het sal die God-Mens, naamlik die Here Jesus Christus slaag.

Alhoewel ons nie Israel is, en nou in die Dispensasie van die Wet lewe nie, is daar wel lesse wat ons by hulle kan leer. Onthou:
1Kor.10:11 “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”
Om in die geloof te leef beteken dat ‘n persoon verantwoordelikheid vir sy eie keuses neem. Baie mense verklaar dat ons alles in ons vermoeë moet doen, en dan die res aan God moet los. Indien ons hierdie beginsel t.o.v. ons verlossing sou toepas, sou nie een mens ooit gered word nie. Die Christelike lewe, na aanvanklike wedergeboorte (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking), word op presies dieselfde beginsels uitgeleef as toe ons gered is. Die Christelike lewe is ‘n lewe waar ons leer om elke dag willens, en wetens, op God te vertrou, sodat Hy Sy wil vir, in en deur ons kan bewerkstellig, en om hierdie rede werk Hy dit in ons om te wil, naamlik:
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Lees gerus weer die artikel “Dit is God wat in julle werk om te wil”)

Ons is slegs die menslike instrument waardeur God Sy wil bewerkstellig, soos wat ons in aktiewe onderdanige afhanklikheid, in gehoorsame gemeenskap op Hom staatmaak om dit in en deur ons te bewerkstellig. Die Apostel Paulus is ‘n mooi voorbeeld van wat God in en deur ‘n persoon kan bewerkstellig. Die Christelike leefwyse is ‘n aktiewe wandel van geloof, soos wat ons in getroue afhanklikheid op Hom staatmaak om ons te lei, en waar ons in geloof op Sy instaatstellende krag staatmaak, sodat Sy wil in en deur ons bewerkstellig kan word. Die ware Christelike geloofslewe is nie ‘n passiewe lewe van niks doen nie. God is aktief in die wêreld besig en indien ons Hom onderdanig is sal ons ook aktief met Sy sake besig wees. Wanneer ‘n persoon God se inwerking om te wil sowel om te werk weerstaan dan misluk daardie persoon in sy geloofslewe. Dit is egter God se begeerte dat ons nie in ons geloofslewe faal nie, sodat ons goeie werke kan voortbring waarvoor Christus ons met genadeloon sal beloon.
Ef.2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.