Sara sondeloos?

Sara Sondeloos?

Hebreërs 11:11 “Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het.
Is daar ‘n weerspreking in die Woord van God hier? Ons almal weet tog dat Sara getwyfel het en selfs gelag het toe die Here aan Abraham belowe het dat hulle ‘n kind sou ontvang.
Genesis 18:9 “Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent. 18:10 En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was. 18:11 Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie. 18:12 En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is? 18:13 Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het?
18:14 Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.
18:15 Maar Sara het dit ontken en gesê: Ek het nie gelag nie—want sy was bang. Maar Hy sê: Nee, maar jy het gelag.”

Maar as ons na Hebreërs 11:11 kyk, dan wil dit voorkom of Sara nie getwyfel het nie, deurdat sy as ‘n geloofsheld omskryf word, maar volgens die Ou-Testament was dit duidelik dat sy nie net getwyfel het nie, maar sy het blatant gelieg ook. Hoe kan dit dan wees? Hoe kan sy dan onder die erelys van geloofshelde geplaas word?  Nou hoor ek hoe die ongelowiges uitwys dat die Bybel weersprekings in het. Ons Christene weet egter dat die Bybel God se Woord is, en boonop geïnspireerd is en dus foutloos is. Wat gaan dan hier aan?

Die antwoord is eenvoudig, en demonstreer net weereens dat die Bybel God se Woord is en nie deur mense uitgedink kon word nie. Die antwoord lê in Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis!.
1Johanes 2:2 “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
En verder:
Hebreërs 8:12 “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.”

Die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireerd. Abraham het die Here geglo en is geregverdig verklaar deur die geloof. 
Romeine 4:3 “Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.
Sara moes ook ‘n gelowige gewees het, omrede sy onder die geloofshelde van Hebreërs gelys word. Omrede sy dus, deur geloof (op ‘n punt in tyd) geregtig verklaar is, kon die Heilige Gees nie haar foute in die nuwe Testament weer ophaal en teen haar hou nie. Volgens Hom bestaan dit nie meer nie, want al haar sondes was op die Here Jesus geneem en Hy het aan die Kruis, met Sy bloed, vir haar sondes betaal . Dus sien God haar as sondeloos en sal nooit enige tekortkoming van haar na die Kruisdood van Jesus kan noem of onthou nie. God is geregtig, en sal nie, indien Hy die Here Jesus in haar plek gestraf het, (en Hy het) Sara se sondes weer teen haar hou nie. Dit geld vir ons. As ons sonde gedoen het, kan ons met sekerheid weet dat God die Vader ons volkome in Jesus Christus vergewe het, en boonop sal Hy nooit ons sondes weer teen ons kan hou en ons daarvoor Hel toe stuur nie. Dit is ons plig om enige sonde aan teenoor ons Hemelse Vader te bely en in geloof aanvaar dat die Here getrou is om ons ons sondes te vergewe. As ons weer al die ou sondes in ons verlede opgrawe, demonstreer ons deur ons optrede dat ons nie werklik glo dat Hy ons sondes vergewe het nie. 
1Jo 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 
Lees gerus die artikel “Bekering, geloof en die Ewige lewe” vir ‘n volledige uiteensetting van hierdie onderwerp.

Romeine 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Kom ons volg Paulus se voorbeeld en vergeet wat agter is en strek ons uit na wat voorlê

Wat ‘n wonderlike God dien ons darem nie !.

Mag die Here jou dag seën.

Vic

Deel met ander asb.