Die Dispensasie van die Kerk

Die Dispensasie van die Kerk. Deel 2

In deel twee van die reeks artikels “Die Dispensasie van die Kerk, ook bekend as die Dispensasie van Genade, gaan ons die mensdom se verantwoordelikheid tydens die Dispensasie van die Kerk bespreek, en merk hoe die mensdom weereens grootliks misluk wat weer tot God se oordeel aanleiding gee. So merk ons dan dat die Dispensasie van die Kerk met God se seën, naamlik die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, wat deur verdere openbarings inligting gevolg word begin, en wat die mensdom se verantwoordelikheid insluit, asook die feit dat mens weereens grotendeels misluk wat deur God se oordeel gevolg word. Indien die leser nie deel een alreeds gelees het nie word hy aangeraai om so te doen.

Die mensdom se verantwoordelikheid tydens die Dispensasie van die Kerk/ Genade:

1. Die mens moet die evangelie van God se genade glo:

Rom.1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. 17 Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte afgehandel) tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking waar ‘n lewe van voortgesette geloof vereis word.)
God verwag van die mensdom om die evangelie te glo, niks anders nie. God het alreeds alles gedoen wat nodig is om ons te red, en Hy verwag dood eenvoudig van die mens Hom glo en die ewige lewe kosteloos deur geloof in ontvang te neem. Geen ander vereiste behalwe geloof kan by die evangelie gevoeg word om gered te word nie. Slegs nadat ‘n persoon alreeds wedergebore is kan daardie persoon goeie werke doen wat God sal kan behaag, nie voor die tyd nie. Die ware Christelike lewe kan nie begin voordat ‘n persoon alreeds wedergebore is nie.

2. Ons moet daagliks in gehoorsame afhanklikheid wandel:

God verwag van die gelowige om elke dag bewustelike gehoorsame afhanklikheid van Hom en Sy woord te lewe, en op die instaatstellende krag van die Heilige Gees wat in ons woon staat te maak.
Rom.6:10 “Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. 11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat verdere dade van geloof vereis word”)
Rom.12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, (gelowiges) by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (fase twee van ons verlossing)
Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
(fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat in die krag van die Heilige Gees bewerkstellig moet word.)

3. Gelowiges moet in genade toeneem:

2Pet.18 “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.”
Wanneer ons die woord bestudeer, en korrekte Bybelse leerstellings inneem, en dit in geloof in ons lewens toepas, sal ons in ons denke vernuwe word, en die resultaat daarvan sal wees dat ons in genade sal toeneem soos wat God dit in en deur ons bewerkstellig. Om hierdie rede is dit belangrik dat ons oomblik vir oomblik saam met die Here in geloof wandel.

4. Gelowiges moet nie die genade van God misbruik nie:

Ons moenie skroom om genade te verkondig net omrede daar mense kan wees wat God se genade moontlik kan misbruik nie. Onthou, indien daar nie ‘n moontlikheid bestaan om genade te misbruik nie dan kon in die eerste plek nooit werklike genade bestaan het nie. Om genade te misbruik moet daar genade bestaan. Ons kan God se genade misbruik maar daar sal gevolge wees en ons benadeel net ons self. Ons sal egter nooit verlore kan gaan nie, want die Here werp nie Sy kinders weg soos wat sommige mense lasterlik verkondig nie.
Gal.5:13 “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. 14 Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. 15 Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.”
Tit.2:11 “Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. (en ons het, toe ons die evangelie geglo, en wedergebore geraak het en wat ons ewige sekuriteit waarborg) 12 As ons verdra, (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat voortgesette dade van geloof vereis wat ook lyding vir Christus ontwil insluit)sal ons met Hom regeer. (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, waar ons by die Regterstoel oordeel van Christus beloon sal word wat die moontlikheid van heersers posisies in Sy koninkryk insluit) As ons Hom verloën, sal Hy ons ook (by die Regterstoel Oordeel) verloën. 13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (die ontroue gelowige bly egter gered, maar soos deur vuur heen, [1Kor.3:11-15] maar hy sal egter genade loon verbeur. God bly egter aan Homself getrou en hierdie feit verseker dat ‘n gelowige nooit verlore sal kan gaan nie. [Joh.5:24; 6:37; 10:28-29] Voordat ‘n gelowige verlore sal kan gaan sal die Here Homself moet verloën, iets wat nooit kan gebeur nie.)
Lees gerus weer die artikels “Die ewige sekuriteit van die gelowige, asook “Die gelykenis van die ponde” en laastens “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe”
Tit.2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn (fase een van ons verlossing) 12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, (fase twee, heiligmaking) 13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,” (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking wat die moontlikheid van genadeloon insluit)

5. Gelowiges moet nie uit die leerstellings/beginsels van genade verval nie:

Gal.5:1 “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons (alle gelowiges. Mense wat alreeds wedergebore is) vrygemaak het, en laat julle (wedergebore gelowiges) nie weer onder die juk van diensbaarheid (aan die Wet van Moses)bring nie. 2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle (gelowiges) dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. 3 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. 4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Die teksgedeelte sê nêrens dat God die gelowige weggooi nie. (Joh.6:37) Dit is egter die gelowige wat d.m.v. sy werkheiligheid homself van Christus, (wat Sy voltooide werk aan die kruis vir die gelowige insluit) losmaak en weer na die wet terugkeer om homself voor God geregverdig te laat verklaar of te hou. In hierdie opsig sal Christus hom niks baat nie, en die gelowige sal nie werklike heiligmaking in sy lewe ervaar, en tot geestelike volwassenheid opgroei nie wat weer tot verlies aan genadeloon aanleiding sal gee.Dit is nogal opmerklik dat diegene wat verkondig dat ‘n gelowige uit genade a.g.v. voortgesette sonde in hulle lewens kan verval, gewoonlik na bogenoemde teksgedeelte as proefteks verwys. Maar indien mens bogenoemde stelling mooi bestudeer, dan merk ons dat dit juis mense is wat hulleself deur wetnakoming by God wil regverdig deur om werke van die wet by slegs geloof in die evangelie te voeg. Dit is ook opmerklik dat Paulus gelowiges aanspreek wat alreeds wedergebore is (fase een van hulle verlossing is dus alreeds afgehandel) en wat hulleself nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking bevind. Onthou Christus se stelling dat niemand, en dit sluit die gelowige in, die gelowige uit God se hand kan ruk nie! (Joh.10:28-29)

6. Gelowiges moet ander in genade dien en hulle geestelike gawes beoefen:

1Pet.4:10 “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. 11 As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.”
Elke gelowige ontvang tydens wedergeboorte ten minste een geestelike genadegawe wat aan hom gegee word om te gebruik om ander te dien. Judaïsering van die kerk verhinder ook in baie gevalle gelowiges in die gemeente om hulle geestelike gawes uit te leef en hulle naaste in hierdie opsig te dien. Hierdie werk word gewoonlik vir die ‘professionele opgeleide amptenare” van die gemeente gelos terwyl daar in die kerkbanke (leke) gelowiges sit wat juis hierdie geestelike gawes by God ontvang het. Dit is een van die redes waarom die belydende Christendom in so ‘n benarde toestand is.

7. Alle gelowiges moet die Evangelie van God se genade verkondig en dissipels van hulle maak:

Mark.16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom”
Matt.28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
2Kor.5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 18 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, 19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. 20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. 21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Nie almal in die gemeente is het noodwendig die gawe van herders, leeraars, of evangeliste ontvang nie maar dit beteken nie dat dit ons daarvan vrywaar om die evangelie met ander te deel en op die een of ander wyse by die verkondiging waarvan betrokke te wees nie. Onthou, mense se siele is op die spel.

8. Gelowiges moet suiwere Bybelse leerstellings aanhang en dwaalleer bestry:

2Tim.4:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Ongelukkig bevind ons onsself nou in die tyd waarvan Paulus ons vooraf gewaarsku het. Die Here Jesus Christus het gemeentes aangeprys wat bogenoemde vermaning nagekom het, naamlik:
Openb.2:2 “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; 3 en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.”
Ook word die kerk teen valse profete gewaarsku.
1Joh.4:1 “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”
Dit is opvallend hoe baie profete daar deesdae is, en dit ten spyte van die feit dat die skrifte dit duidelik gemaak het dat die gawe van profesie met die voltooiing van die Bybel sou ophou funksioneer. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” asook “Ware apostels vs valse apostels” sorgvuldig deur te lees.)

Die mens se mislukking en God se oordeel:

1. Die mislukking van ongeredde persone:

By verre die oorgroot meerderheid mense in die wêreld weier om die evangelie dood eenvoudig te glo. Hierdie mense los God geen ander opsie as om hulle in die poel van vuur te werp wanneer hulle eendag voor die Wit Troon Oordeel sal verskyn nie. By verre die grootste gedeelte van die belydende Christendom verkondig valse leerstellinge en ‘n werke evangelie wat niemand sal red nie. Boonop beleef die belydende Christendom nie ‘n wêreldwye herlewing, soos wat baie mense beweer nie, maar ons belewe egter ‘n groot wegval en toename in valse leerstellings. (Die leser word aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel “ te lees.)
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
2Tim.3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”

2. Mislukking van gelowiges:

Baie gelowiges misluk in die genade van God en noodsaak God om hulle te tugtig.
Heb.12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? 10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”
Baie ander gelowiges reageer nie op God se tugtiging nie, en bly in ‘n voortgesette toestand van rebellie voortleef, tot so ‘n mate dat dit God noop om hulle ‘n vroeë dood te laat sterf.
1Kor.11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
Dit beteken nie dat alle sondes noodwendig a.g.v. sonde is die gelowige se lewe is nie. Siekte kan ook as deel van die vloek opgedoen word.
1Joh.5:16 As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee — vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.”
(Sien ook Hand.5:1-6) Daar is egter sondes wat tot fisiese dood aanleiding kan gee. God sal soms ook sekere gemeentes heeltemal tot niet laat gaan a.g.v ongehoorsaamheid aan Hom.
Openb.2:5 “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.”
‘n Gelowe kan egter nooit verlore gaan nie maar kan genadeloon verbeur. Die leser word ten sterkste aangeraai om weer die artikel “ Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees.

Ter Afsluiting: Net omrede die Kerk Dispensasie in mislukking opeindig beteken dit nie dat indiwiduele gelowiges, en selfs hele gemeentes ook geestelik moet misluk nie. Wanneer ons egter getrou aan die Here bly, sal Hy ons grootliks daarvoor beloon, en ons name sal in dieselfde asem as die geloofshelde van ouds genoem word. (Hebr.11) Die leser word sterk aangeraai om genoemde hoofstuk te lees, wat ons almal sal aanmoedig om getrou in die weg van genade deur geloof te volhard.
1Kor.15:58 “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”

En so kom ons aan die einde van die Dispensasie van Genade/Kerk. Die volgende dispensasie wat ons sal bestudeer is die Dispensasie van die Koninkryk. En onthou, ons moet daarteen waak om Israel met die kerk te verwar en vereistes wat vir die Dispensasie van die Wet gegeld het met die vereistes van die Dispensasie van die Kerk te vermeng.

Seën groete!

Vic.

Deel met ander asb.