Die Breë en die Smal Weg

Die Breë en die Smal Weg

Mat 7:13 “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Hierdie is seker een van die belangrikste waarskuwings wat die Here ooit kon uiter, en verbasend genoeg steur baie mense hulle nie daaraan nie. Baie mense wat hulle wel daaraan steur verstaan die teksgedeelte verkeerd en begin dan onnodiglik vrees. So wat het die Here dan werklik hier bedoel?

Om die teksgedeelte beter te verstaan moet ons ook die teksgedeelte in Lukas hier byvoeg, dan sal ons bogenoemde teksgedeelte verder bespreek.
Luk 13:23 “Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: 13:24 Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.”
Soos ons kan sien is hierdie mense wat wel gered wil word, maar wat dit op een of ander rede nie regkry nie. Dit sal tragies wees as ‘n persoon sy hele lewe lank hart probeer om in die Hemel te kom, maar uitvind dat hy dit nie gemaak het nie en dan , wanneer dit te laat is, eers uit te vind dat hy die heeltyd op die breë weg was.  As ons mooi na die woorde van Jesus kyk is dit egter wat gaan gebeur. Die verpligting rus op ons om seker te maak dat ons die Here reg verstaan, en dat ons God se woorde reg verstaan en dan doen wat Hy wil hê ons moet doen. So sal ons verseker kan wees, dat ons wel in die Hemel toegelaat sal word.

Wat het die Here bedoel toe Hy gesê het, ons moet hart stry om deur die nou poort in te gaan. Ons moet toelaat dat die Bybel self die antwoord aan ons verskaf.
Johannes 10:7 “Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. 10:9 Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.
Daar het ons die antwoord. Jesus is die nou weg en niemand sal ooit gered word as hulle nie deur Hom ingaan nie. Daar is baie mense wat beweer dat alle weë op een of ander wyse na die Hemel lei. Dit is egter ‘n leun wat van die duiwel self afkomstig is en ongelukkig is die meerderheid van die mensdom op daardie weg. Dit sluit nie net Moslims, Boeddhiste, Hindoes en ander vreemde gelowe in nie, maar ook baie mense wat dink dat hulle Christene is. Dit is egter die moeilikste gedeelte om te glo, maar dit is die waarheid. Die Here stel dit baie duidelik, dat die weg wat na die verderf lei breed is, en dat die weg wat na die lewe lei maar smal is. Nie baie mense loop op daardie weg nie!

My raad aan enigiemand is om seker te maak dat hy na Jesus Christus alleen kyk as die weg na die Vader toe. Jesus het dit baie duidelik gestel en ons sal wys wees om dit ernstig op te neem.
Johannes 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
As jy na enigiemand anders, of na ‘n kerk, die doop of na die wet kyk om jou in die Hemel te kry gaan jy verlore gaan. Nie Jesus plus die wet; Jesus plus die doop; Jesus plus die kerk of Jesus plus enigiets anders nie. Net Jesus Christus alleen plus niks anders nie. Om enigiets of enige ander vereiste by die Evangelie vir redding te voeg verander jy van weg en kom op ‘n ander weg. ‘n Weg wat sal verhoed dat jy gered word. Dit is ‘n ernstige bewering wat ek hier maak, maar ek gebruik net God se eie woord self om my stelling te staaf. Lees asb verder.

Die Jode het presies dieselfde vraag aan die Here gerig, en die Here het Sy antwoord baie duidelik aan hulle gestel.
Joh 6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 6:29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.
Dit is seker die belangrikste vraag wat enige mens ooit sal kan vra. As daar enige iets anders vir verlossing , behalwe geloof alleenlik, benodig was,  sou Jesus dit op hierdie geleentheid genoem het. Ons sien egter geen ander vereistes nie. Nie die doop, kerk, tien gebooie, nagmaal of enigiets anders word as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe gegee nie. Ons doen goeie werke omdat ons alreeds gered is, en uit dankbaarheid vir dit wat die Here vir ons, in Sy genade, gedoen het. Net ware wedergebore mense behoort aan die Kerk wat Jesus se liggaam is. Ons word gedoop nadat ons die Evangelie geglo het. Die Heilige Gees begelei ons in die waarheid en bevry ons van ons sondes (Heiligmaking). Daar is nie ‘n ander weg as Jesus Christus nie, en daar is ook nie ‘n ander metode as geloof in Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis nie. Enige ander weg lei na die dood en daarom is daar baie mense op die breë weg. Selfs mense wat beweer dat hulle Christene is. Die Kerke se banke sit vol van hulle. (Mat 13:25-30 Die Gelykenis van die onkruid.)

Die groot vraag is dus wat ons moet doen, om te verseker dat die Here ons in die Hemel sal toelaat? Hoe kom ons op die regte weg? Ons moet die Bybel self lees en seker maak dat wat aan ons verkondig word, die waarheid volgens God se Woord is. Ons moenie die mens alleen vertrou om ons die weg te wys nie. Mense kan verlei wees en kan selfs valse profete wees, wat deur die duiwel self aangestel is om ons te mislei. Ons moet die Bybel self in gebed bestudeer en seker maak, dat wat ons glo werklik die waarheid is. Dit sluit my in.
Mat 7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
7:21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?”

Weereens, wat is die Wil van die Vader?
Joh 6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 6:29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.
Dit is die Vader se Wil!
Rom 3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Die leser word aangeraai om die artikel “Bekering, geloof en die ewige lewe” vir ‘n volledige uiteensetting van hierdie waarheid te lees.

Op die einde van die dag is daar net twee groepe mense op aarde. Die een groep wil deur werke (die wet) geregverdig word. Dit sluit baie Christelike groepe in wat nog steeds op die doop en die kerk staat maak om gered te word. Die mense is op die breë weg. Die tweede groep is mense wat op Jesus Christus alleen vertrou om hulle te regverdig. Die mense is op die smal weg. Hulle is deel van die ware Kerk. (Die baie klein minderheid)
Rom 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.
(Die leser kan gerus die artikels “Slegs geloof as basis vir wedergeboorte“; “Die objek van geloof” asook “Wettisisme vs geloof in Christus” ook te lees)

Op watter weg is jy?

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.