Esau en Ons

Esau en Ons

Gen 25:21 “En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.”
Opmerking: Ons kan by Isak leer in hierdie geval. Anders as Abraham en Sara het hy, Isak, sy probleem na die Here geneem en gewag totdat God hom antwoord. In hierdie geval was dit die swangerskap van sy vrou. Abraham en Sara kon nie meer wag nie en het sake in hulle eie hande geneem en Israel ly tot vandag toe a.g.v hulle gebrek aan geloof. (Daar is geen einde aan die vyandigheid wat die Arabiere teenoor die land Israel koester nie. Ismael is die voorvader van die Arabiere) Om sonder God se leiding op te tree kan langdurige en onaangename gevolge in mens se lewens hê. Ons moet uit Abraham e voorbeeld leer en nie dieselfde foute as hy begaan nie.Gen 25:22 “En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg.
Gen 25:23 En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.”
Opmerking: Net soos Isak, is Rebekka ook ‘n voorbeeld aan ons. Neem jou probleme na God toe en wag vir Sy leiding en raad!

Gen 25:24 “En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot.
Gen 25:25 En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.
Gen 25:26 En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.”
Opmerking: (Esau volgens die Gesenius’s Lexicon beteken rowwe of harige )
(Jakob volgens die Gesenius’s Lexicon beteken om aan die hakskeen te vat, onderkruiper of lê van strikke)
Dit is opmerklik hoe akkuraat die ouers die kinders volgens hulle voorkoms en geaardhede vernoem het. Ek is seker dat God alles so beplan het, deur Sy voorkennis en die ouers het toe die kinders vernoem soos wat hulle die omstandighede op die aarde op daardie tydstip beleef het. Baie mense sal beweer dat dit toeval was, maar ek weet dit is voorsienigheid of wat die Engelse Providence noem.

Gen 25:27 “En die seuns het opgegroei: Esau het ‘n ervare jagter geword, ‘n man van die veld; maar Jakob was ‘n vredeliewende man wat in tente gewoon het.
Gen 25:28 En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.
Opmerking: Isak en Rebekka het elkeen hulle gunsteling kind gehad en dit is verkeerd. Dit wil voorkom of Rebekka dalk haar keuse gemaak het a.g.v. die voorspelling dat die oudste die jongste sal dien. (Sy het dus God se woord geglo en daarvolgens opgetree) Nog ‘n bydraende faktor kan a.g.v. Jakob se geaardheid wees. William MacDonald het Jakob as ‘n mamma se seun beskryf en dit is nogal ‘n mooi beskrywing van Jakob. Of dit nou waar is of nie, weet ek nie maar dit maak sin. Vrouens is oor die algemeen lief vir saggeaarde mense en die beskrywing van Jakob wil so ‘n afleiding tog bevestig. Omrede Jakob lief was om tussen die tente te bly moes hy en sy ma baie gesels het, en sy moes die profesie gereeld genoem het wat die Here oor hom ,Jakob, gemaak het. Dit sou ook lei tot ‘n sterk band tussen hulle.

Isak inteendeel was lief vir die smaak van wildsvleis en het sy keuse, van Esau, gemaak op sy vleeslike behoeftes. Net soos sy pa, het Esau ook sy keuses gebaseer op sy vleeslike behoeftes, wat tot ‘n geestelike ramp gelei het. As eersgeborene was Esau geregtig op ‘n dubbele erfporsie en sou met die afsterf van Isak die stamvader van die familie word . Nog ‘n bykomende seëning aan Esau sou wees dat Jesus Christus uit sy bloedlyn gebore sou word, want dit was deel van die seëning waarmee Isak , Jakob geseën het, terwyl hy gedink het hy seën Esau. Dus het die eersgeboortereg materiële sowel as onberekenbare geestelike voordele ingesluit. Hou hierdie feite in gedagte soos wat ons verder met hierdie studie gaan. Die twee seuns sou dus bewus gewees het van wat alles op die spel was.

Gen 25:29 “En Jakob het ‘n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom.
Gen 25:30 Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.
Gen 25:31 En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.
Gen 25:32 En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?
Gen 25:33 Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop.”
Opmerking: Dus, Esau die rooi harige en rowwe jagter kom van die jagveld af terug sonder enige prooi. Hy was baie honger. Jakob die onderkruiper stel ‘n strik van rooi lensie sop vir sy eie prooi, sy rooi, growwe en harige jagter broer. So die goeie jagter word gejag deur sy nadenke boetie wat bewys dat hy eindelik die beter jagter is. Op sigself wil dit voorkom of Jakob nie boos optree nie, omrede hy alles openlik doen en aanbied. Maar wat sy optrede gewetenloos maak is dat hy sy honger broer se swak punt uitbuit en teen hom gebruik om te kry wat hy wil hê. Alhoewel Jakob die beter besef gehad het van wat werklik in die lewe belangrik is, (Die Geestelike) het hy egter op ‘n verkeerde wyse te werk gegaan om dit te verkry. Esau aan die ander kant verag sy eersgeboortereg (Met die onberekenbare groot Geestelike beloftes daaraan verbonde), omrede hy net op sy vleeslike aptyt fokus en die geleentheid om die Here in sy bloedlyn te kon hê verwerp hy. In effek kies hy die wêreld en sy tydelike sorge en genietinge bo Jesus Christus en die ewige genadeloon wat daarmee saamgaan.
Mattheus 16:26 “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”

Gen 25:34 “En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.”
Opmerking: Hier volg ‘n bitter hartseer transaksie. Jakob het die rooi lensie sop, niks meer nie. Esau het die eersgeboortereg met die Messiaanse beloftes daarby ingesluit. Hy het alles maar minag dit. Hy ondervind tydelike swaarkry in hierdie wêreld(Honger) en verag die Geestelike (Jesus en die messiaanse bloedlyn)en ruil dit alles om sy tydelike bestaan makliker te maak.(Bord Sop) wat ‘n tragedie. Hy word nie in die boek, Hebreërs se erelys van geloofshelde opgeneem nie. Hy word as onheilige onthou. (Goddelose)
Hebreërs 12:16 “Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.
12:17 Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.”
Wat ‘n hartseer nalatenskap los Esau nie agter nie. Sy herdenking sal altyd lees, Hy wat sy ewige genadeloon vir die tydelike verkoop het. Wat gaan jy voor onthou word? Ons behoort uit Esau se foute ‘n baie belangrike les te leer.

Jakob, in vergelyking met Esau, kyk met geloof en besef dat die Geestelike beloftes by verre die begeerlikste is om te besit. Die hak gryper, Jakob gryp sy broer weer aan die hak, maar gaan nou verder en forseer die punt totdat hy sy broer onderkruip het en die oorhand oor hom gekry het. In een opsig is hy reg om agter die geestelike te gaan, eerder as die vleeslike, en die Here eer hom daarvoor. (Hy verkry die eersgeboortereg en is in die Messiaanse bloedlyn.) Maar die manier wat hy dit verkry het is verkeerd in God se oë. Jakob gebruik wêreldse of vleeslike metodes om die Geestelike te bekom. Hy wag en vertrou nie op die Here nie ,maar gebruik sy eie metodes. Die Here moes hierdie geneigdheid later in sy lewe op die harde manier verwyder. Eers nadat hy geleer het om op te hou slinkse planne uitdink, en net op God alleen te vertrou, kon die Here hom gebruik. Jakob het baie seer en swaarkry oor homself gebring a.g.v. sy slinksheid.
Genesis 47:9 “En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie.”

Ter Afsluiting: Net so het die duiwel ook vir Eva uitgevang. Sy het ook na die vleeslike en tydelike dinge gekyk en God nie vertrou nie. Die biljoene grafstene in begraafplase oral oor die wêreld is ‘n grafiese herinnering wat gebeur as die mens God nie op Sy Woord vat nie.

Net so het die Duiwel Jesus versoek.
Mattheus 4:2 “En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.
4:3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.
4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”
Jesus het ons presies gewys hoe ons die duiwel suksesvol teë te staan. Hy het God op Sy Woord gevat, en geweet dat dit nie saak maak hoe honger Hy mag word nie, die Vader sou Hom nooit in die steek laat nie en Hy sou dus nie sterf van die honger nie. Die doel waarom Jesus aarde toe gekom het, (Om aan die kruis vir ons sondes te sterwe) was ook nog nie bereik nie en niks of niemand sou God se doelstellings kon verydel nie. Ons moet op die ewigheid en God se beloftes fokus en daarvolgens leef.  Net ter inligting: Om veertig dae sonder kos te wees  is om op die punt van die dood te staan! Hoe sou ons onder sulke omstandighede optree? Sal ons die Here bly vertrou sonder om ‘n uitweg vir onsself te bewerkstellig?

Net so staan die duiwel voor jou en bied jou die Wêreld en ‘n lekker lewe (Bord Sop) aan in ruil vir God se goedkeuring oor jou lewe. Wat gaan jou optrede en keuse wees? Hoe gaan jy die Duiwel antwoord? Wat is die werk wat die Vader jou gegee het om te doen? Gaan jy dit doen al kos dit jou alles in hierdie lewe? Of gaan jy die bord sop neem? Ons moet uit Esau se foute leer!  Die Here het dit nie verniet in die Bybel laat opgeteken nie!
Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.                                      Lukas 14 :27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie”.                                                                                                  

Watter een van die twee volgende opskrifte gaan op jou Grafsteen staan.

Hier lê (jou naam en van) Hy het saam met God gewandel soos Henog (Genesis 5:24)

Of

Hier lê (jou naam en van) Hy was ‘n groot vriend van die wêreld.( hy was lief vir sop)

Seën Groete

Vic

NB ‘n Ware kind van die Here kan nie die ewige lewe verloor nie, maar hy kan verlies lei by die Bema Oordeel.
1Korintiers 3:14 “As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Die verlies kan baie groter wees as wat sommige dink. Moet nooit God se Woord ligtelik opneem nie. Die koste daaraan verbonde is te groot!

Deel met ander asb.