Sewendedag Adventiste 2

Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike perspektief. Deel 2

Soos ons in die vorige artikel waargeneem het, beskou die Sewendedag Adventiste Ellen G White se profetiese uitlatings as gesaghebbend omrede hulle haar as ‘n boodskapper van God bestempel. Hulle sal hierdie feit nie openlik erken nie, maar dit is ‘n feit dat hulle die Bybel deur die verwysingsraamwerk van Ellen G White filtreer, en dan die skrifte buite konteks aanhaal en verdraai om by haar verwysingsraamwerk in te pas. Sewendedag Adventisme is ‘n valse godsdiensstelsel wat menslike werke die bepalende faktor in ‘n persoon se verlossing maak, en in hierdie opsig verkondig hulle ‘n ander evangelie (valse evangelie/werke evangelie) waarteen Paulus ons so sterk in Galasiërs gewaarsku het. Al mag die normale lidmaat van die Sewendedag Adventiste Kerk nie noodwendig daarvan kennis dra nie, versteek die leierskap van die Adventiste kerk hulle valse (en selfs godslasterlike) godsdiensstelsel agter Christelike terme weg. Met die skryf van hierdie artikel sal hierdie feit duidelik gedemonstreer word. Om hierdie rede is dit belangrik dat ons na hulle leerstelling van die ondersoekende oordeel gaan kyk en met die skrifte vergelyk.

Onder punt 23 van “wat Sewendedag Adventiste glo” genaamd “Christus se Bediening in die Hemelse Heiligdom”vind ons die volgende stelling, naamlik: “Daar is ‘n heiligdom in die hemel, die ware tabernakel wat die Here gebou het en nie die mens nie. Daarin tree Christus namens ons op en stel Hy die voordele van Sy soenoffer wat Hy eens en vir altyd aan die kruis gedoen het, aan gelowiges beskikbaar. Hy is tydens Sy hemelvaart as ons groot Hoëpriester ingehuldig en toe het Hy as Middelaar begin dien. In 1844, aan die einde van die profetiese tydperk van 2300 dae, het Hy die tweede en laaste fase van Sy versoeningsbediening betree. Dit is ‘n ondersoekende oordeel wat deel uitmaak van die uiteindelike verwydering van sonde, waarvan die reiniging van die ou Hebreeuse tempel op die groot Versoendag ‘n voorafskaduwing was. In daardie skadudiens is die heiligdom met die bloed van offerdiere gereinig, maar die hemelse dinge word met die volmaakte offer van die bloed van Jesus gereinig. Die ondersoekende oordeel openbaar aan die hemelse wesens wie van die dooies in Christus slaap en daarom in Hom waardig geag word om aan die eerste opstanding deel te hê. Dit maak ook bekend wie onder die lewendes in Christus bly, die gebooie van God en die getuienis van Jesus hou en daarom in Hom gereed is om in Sy ewige koninkryk opgeneem te word. Hierdie oordeel bewys die regverdigheid van God om diegene te red wat in Jesus glo. Dit verklaar dat diegene wat getrou aan God gebly het, die koninkryk sal ontvang. Die voltooiing van hierdie bediening van Christus sal die einde van die genadetyd vir die mensdom voor die Wederkoms aandui.”

Let op die term “Sy hemelvaart as ons groot Hoëpriester ingehuldig en toe het Hy as Middelaar begin dien. In 1844, aan die einde van die profetiese tydperk van 2300 dae, het Hy die tweede en laaste fase van Sy versoeningsbediening betree. Dit is ‘n ondersoekende oordeel wat deel uitmaak van die uiteindelike verwydering van sonde, waarvan die reiniging van die ou Hebreeuse tempel op die groot Versoendag ‘n voorafskaduwing was. In daardie skadudiens is die heiligdom met die bloed van offerdiere gereinig, maar die hemelse dinge word met die volmaakte offer van die bloed van Jesus gereinig.”
Soos reeds in deel een van hierdie reeks artikels verduidelik is, het William Miller op grond van ‘n “dag is ‘n duisend jaar beginsel”, wat nie deur korrekte skrifuitleg gestaaf kan word nie, en deurdat hy Daniël 8:14-16 buite konteks en verkeerd vertolk het, tot die slotsom gekom dat die Here Jesus Christus in 1843 na die aarde sou terugkeer. Iets wat nooit gebeur het nie. Toe is die dwaalleerstelling van die sogenaamde “ondersoekende oordeel” gebore om die feit dat die wederkoms nie plaasgevind het nie te verduidelik. Ellen G White verklaar toe dat die die bloed van die sondeoffers, wat die Israeliete in Levitikus moes maak, hulle sondes na die allerheiligste verplaas het waar dit opgegaar is tot en met die jaarlikse Versoendag waar dit op een van die twee bokke van Lev.16 geplaas is en wat toe hulle sonde in die woestyn sou wegdra. Volgens die Sewendedag Adventiste is die tweede bok waarop die sondes van Israel verplaas is, en wat Israel se sondes weggedra het, niemand anders as satan nie. (die leser word versoek om self Lev.16:8-34 sorgvuldig deur te lees.) Ek haal Ellen White self aan, naamlik:
“The scapegoat, bearing the sins of Israel, was sent away “unto a land not inhabited” (Lev. 16:22); so Satan, bearing the guilt of all the sins which he has caused God’s people to commit, will be for a thousand years confined to the earth, which will then be desolate, without inhabitant, and he will at last suffer the full penalty of sin in the fires that shall destroy all the wicked (The Great Controversy, pp. 485-486).

Bostaande stelling weerspreek die Bybel op twee punte. Eerstens is die feit dat die duiwel ons nie gemaak sonde pleeg het soos wat die Sewendedag Adventiste verkondig nie. Die mens self het gekies om eerder satan se leuens te glo, God se woord nie te glo nie, maar eerder gekies het om saam met hom teen God te rebelleer. Satan kan ons met sonde versoek maar hy kan ons nie maak sonde pleeg nie. Ons pleeg sonde op grond van ‘n wilsbesluit wat ons maak om God nie te gehoorsaam nie. God hou die mens vir die pleeg van sonde regverdiglik verantwoordelik, net soos wat Hy die duiwel vir sy eie rebellie teen Hom verantwoordelik hou.

Tweedens is daar nie een plek in die Bybel waar dit gestel word dat bloed sonde van een plek (of persoon) na ‘n ander plek (of persoon) verplaas nie. Die bloed van sondeoffers is nie ‘n kanaal wat sonde verplaas nie. Dit is ‘n godslasterlike leerstelling wat Ellen White verkondig het en wat weer aan al haar volgeling verkondig word. Volgens die Bybel reinig bloed altyd van sonde en daarom het God Israel beveel om sondeoffers te maak, wat ‘n heenwysing na die Here Jesus Christus se versoeningswerk aan die kruis was, en wat Irsael, sowel as die kerk, se sondes wegneem. Boonop verteenwoordig die tweede bok in Levitikus nie satan nie, maar die Here Jesus Christus wat die sondes van die wêreld wegneem.
Rom.11:27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.”
Jes.53:5 “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Deur te verkondig dat Israel se sondes in die Allerheiligste opgegaar het is dwaalleer en soos wat ons later in hierdie artikel sal waarneem het hierdie dwaalleerstelling verreikende implikasies.

Hulle gaan dan verder en pas hierdie konsep op die hemelse heiligdom toe wat beteken dat Israel se diens by die Heiligdom, soos deur God in die Ou Testament beveel, nie hoofsaaklik na die Here Jesus Christus se Persoon, en Sy voltooide werk aan die kruis en opstanding vanuit die dood verwys nie, maar eerder dat dit presies is wat nou in die hemelse tabernakel plaasvind. Ellen G White het die volgende stelling hieromtrent gemaak, naamlik: “At the termination of the 2300 days, in 1844, there had been no sanctuary on earth for many centuries. Thus the prophecy, ‘Unto two thousand and three hundred days; then shall the sanctuary be cleansed,’ unquestionably points to the sanctuary in heaven.”—Ellen G. White, The Great Controversy, p. 417.
Volgens hierdie Godslasterlike leerstelling is die Heiligdom in die hemel onrein en moet nog gereinig word. Volgens die Sewendedag Adventiste word die Heiligdom vanaf 1844 van sonde gereinig. Omrede die Here Jesus Christus al ons sondes op Homself geneem het impliseer hierdie dwaallering van hulle dat die Here Jesus se bloed ons sondes na die hemelse heiligdom toe verplaas het. Hou nou hierdie konsep in gedagte wanneer u Ellen G White se volgende stelling lees, naamlik: “The blood was transferred into the sanctuary during the daily services, showing the recording of sin (Jer. 17:1) and God’s taking responsibility for its ultimate disposition. Now, on the Day of Atonement, it was transferred out of the sanctuary and placed on the head of the scapegoat Azazel, representing Satan and revealing his ultimate responsibility for the sin problem. This goat was led far into the wilderness so that, at the close of the Day of Atonement, God had a clean sanctuary and a clean people. In the heavenly sanctuary, Christ ministers for us first in the Holy Place, and now, in the Most Holy Place since 1844, at the end of the 2,300 days.

Deur hierdie dwaalleerstelling te verkondig omseil hulle die feit dat Israel se diens in die tabernakel (wat die diereoffers insluit) in werklikheid net ‘n skadu was van dit wat die Here Jesus Christus vir ons aan die kruis bewerkstellig het. Maar wat verklaar die Bybel in werklikheid?
Kol.2:13 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade(verlede, hede en toekomstige sondes)vergeef het, 14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, (Indien die skuldbrief wat teen ons was deur die Here Jesus se voltooide werk aan die kruis uit die weggeruim is, hoe kan daar dan sondes wees en wat ons later kan verdoem? En hoe kan daar sondes in die hemelse heiligdom wees? Dit is immers God die Vader se troon!)15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. 16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, (iets waaraan die Sewendedag Adventiste hulleself aan skuldig maak)17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
Volgens die Sewendedag Adventiste word daar tog ‘n rekord van sondes (wat gelowiges insluit) in die hemel gehou, en dit ten spyte van die feit dat die Here Jesus Christus vir al ons sondes aan die kruis versoening gedoen het en dit uit die weg geruim het. Onthou, volgens die Sewendedag Adventiste het die bloed van die sondeoffers die sonde van Israel net na die heiligdom verplaas, en slegs wanneer daardie spesifieke sonde bely word, word dit nou deur Christus se bloed in die hemelse tabernakel gereinig.

By implikasie insinueer hulle leerstelling, dat indien daar sondes in die hemelse heiligdom teenwoordig is, dit vir Christus ook nodig is om die hemelse heiligdom van sonde te reinig. Dit beteken dat die Here Jesus Christus, aldus volgens hulle, ‘n kanaal was wat sonde na die hemelse heiligdom verplaas het en waar Hy nou besig is om die allerheiligste van sonde te reinig. (hierdie leerstelling is gruwelik godslastering! Moet ons nou glo dat die allerheiligste in die hemel waar God se troon sit onrein is?) Kom ons haal weereens ‘n stelling wat in punt 23 van “Wat Sewendedag Adventiste glo” aan om bostaande gevolgtrekkings te staaf, naamlik: “In 1844, aan die einde van die profetiese tydperk van 2300 dae, het Hy die tweede en laaste fase van Sy versoeningsbediening betree. Dit is ‘n ondersoekende oordeel wat deel uitmaak van die uiteindelike verwydering van sonde, waarvan die reiniging van die ou Hebreeuse tempel op die groot Versoendag ‘n voorafskaduwing was. In daardie skadudiens is die heiligdom met die bloed van offerdiere gereinig, maar die hemelse dinge word met die volmaakte offer van die bloed van Jesus gereinig.” Volgens die Sewendedag Adventiste is die kruis van Christus nie die sentrale punt van die evangelie nie, maar eerder die hemelse heiligdom, en dit ten spyte van die feit dat die Bybel dit baie duidelik maak dat ons sondes aan die kruis weggeneem is. (Kol.2:13)

Kom ons haal nou die laaste gedeelte van punt 23 “wat Sewendedag Adventiste glo” aan en bespreek dit, naamlik: “Die ondersoekende oordeel openbaar aan die hemelse wesens wie van die dooies in Christus slaap en daarom in Hom waardig geag word om aan die eerste opstanding deel te hê. Dit maak ook bekend wie onder die lewendes in Christus bly, die gebooie van God en die getuienis van Jesus hou en daarom in Hom gereed is om in Sy ewige koninkryk opgeneem te word. Hierdie oordeel bewys die regverdigheid van God om diegene te red wat in Jesus glo. Dit verklaar dat diegene wat getrou aan God gebly het, die koninkryk sal ontvang. Die voltooiing van hierdie bediening van Christus sal die einde van die genadetyd vir die mensdom voor die Wederkoms aandui.” Lees asseblief ook die volgende stelling wat hulle maak sorgvuldig deur, naamlik: “Jesus Christ is now in heaven investigating the works of all would-be believers to determine the genuiness of their faith/worthiness of heaven. This is the SDA’s doctrine of Christ’s investigatave judgement. (Baptismal wow #8)

Dit is duidelik dat bostande stelling vanuit Ellen G White se leerstellings uit afgelei is en nie vanuit die skrifte alleenlik nie. Sy het byvoorbeel die volgende stelling gemaak, naamlik:
Not one of us will ever receive the seal of God while our characters have one spot or stain upon them. It is left with us to remedy the defects in our characters, to cleanse the soul temple of every defilement.” (Testimonies vol. 5, p. 214)
So volgens haar is ons sonde probleem tog ons probleem om op te los? Wat sy verkondig is niks anders as ‘n werke evangelie nie. Daarenteen stel die Bybel dit duidelik dat ons met die Heilige Gees verseël is die oomblik toe ons die evangelie van God se genade geglo het, naamlik:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het,
(verlede tydsvorm) verseël is met die Heilige Gees van die belofte, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) 14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid. (wat fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking waarborg. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees, asook die illustrasie “Die Drie Fases van Verlossing” sorgvuldig te bestudeer.)

Indien daar nou ‘n ondersoekende oordeel in die hemel plaasvind, waarin die werke van persone wat alreeds die evangelie geglo het beoordeel word, om vas te stel of hulle volgens hulle werke waardig is om hemel toe te gaan, dan weerspreek dit boonop die belofte wat die Here Jesus Christus aan ons gemaak het, naamlik:
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe (as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, maar het (alreeds)oorgegaan uit die dood in die lewe.”
Die oordeel waarna die Here hier verwys is die oordeel wat ‘n persoon se eindbestemming, naamlik die hemel of hel bepaal. As ‘n gelowige nie in die oordeel kan kom nie, hoe kan daar dan nou in die hemel ‘n sogenaamde “ondersoekende oordeel” plaasvind om vas te stel of die gelowige waardig is om hemel toe te gaan? Hierdie sogenaamde ondersoekende oordeel kom op niks anders as werkheiligheid neer nie, wat niks anders as ‘n werke evangelie is waarin menslike werke die finale bepalende rol speel. Dit is nie die evangelie van God se genade nie. Maar wat verklaar die Bybel?
Gal.2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
Rom.3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Rom.4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”

Ellen White het ook die volgende leerstelling verkondig, naamlik:
“Jesus has purchased redemption for us. It is ours; but we are placed here on probation to see if we will prove worthy of eternal life”. (Testimonies vol. 1, p.198)
Aan die eenkant verklaar die Sewendedag Adventiste dat ‘n persoon op grond van genade deur geloof gered word, en dan weerspreek hulle onmiddellik hierdie feit d.m.v. die dwaalleer soos wat hulle hierbo verkondig. Die Sewendedag Adventiste maak ‘n persoon se verlossing van menslike werke afhanklik en nie slegs op die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis alleenlik nie. Indien ‘n persoon d.m.v. sy werke moet bewys dat hy geregtig genoeg is om hemel toe te gaan, dan verwerp daardie persoon die leerstelling van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid en glo in ‘n werke evangelie wat hom nie sal red nie. Nie een van ons sal ooit in onsself (of deur wetnakoming) waardig wees om hemel toe te gaan nie. Daarenteen waarborg die Here dat ‘n persoon wat in Hom glo nie in die oordeel sal kom nie. Die hele konsep van die ondersoekende oordeel maak van die Here se bostaande belofte ‘n grap. In teenstelling met wat die Sewendedag Adventiste kerk verkondig, waarborg die Here Jesus Christus die feit dat ‘n persoon wat die evangelie glo nie in die oordeel sal kom nie. (Hy kan nie in die oordeel kom nie omrede die Here Jesus Christus alreeds aan die kruis vir al die gelowige se sondes veroordeel en gestraf is) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof”, asook die artikel “Kan die gelowige se naam uit die Boek van die Lewe verwyder word?” sorgvuldig te bestudeer.

Indien God die Vader ons op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid geregtig verklaar, hoe kan ons eie werke dan die oorsaak wees dat ‘n persoon verlore gaan? Ons staan voor God geregverdig op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid, nie op grond van ons eie werke nie. Die Here Jesus Christus se geregtigheid is ‘n ewige geregtigheid, en daarom kan ‘n gelowige nooit in die oordeel om verlore te gaan nie. Ons ontvang nie die gawe van die ewige lewe op grond van die feit dat ons waardig is nie, ons ontvang dit op grond van die feit dat die Here Jesus Christus waardig is en ons op grond van Sy toegerekende geregtigheid regverdig verklaar is.

Omrede hierdie punt so belangrik is gaan ek dit weer op ‘n ander wyse verduidelik. Let weer op die Sewendedag Adventiste se stelling “Dit maak ook bekend wie onder die lewendes in Christus bly, die gebooie van God en die getuienis van Jesus hou en daarom in Hom gereed is om in Sy ewige koninkryk opgeneem te word. Hierdie oordeel bewys die regverdigheid van God om diegene te red wat in Jesus glo. Dit verklaar dat diegene wat getrou aan God gebly het, die koninkryk sal ontvang. Die voltooiing van hierdie bediening van Christus sal die einde van die genadetyd vir die mensdom voor die Wederkoms aandui.” Onthou, volgens hulle gaan net diegene die wet nakom (dit sluit die onderhouding van die Saterdag Sabbat in.) hemel toe sal gaan. Die Bybel daarenteen leer ons egter dat i.t.v. ‘n gelowige se verlossing, sover dit die kondemnasie vir sy sondes aanbetref, behels die feit dat God op grond van die voltooide werk van die Here Jesus Christus aan die kruis al die gelowige se sondes (verlede, hede, asook toekomstige sondes) vergewe en uit die weg geruim het.
Kol.2:13 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel die oomblik toe ons die evangelie geglo het) deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, (verledetydsvorm) 14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, (verledetydsvorm) uitgedelg en weggeruim het (verledetydsvorm) deur dit aan die kruis vas te nael,”
Ef.1:7 “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,”
(sien ook Hand.10:43) Hierdie faset van ‘n gelowige se verhouding bepaal ‘n persoon se geregtelike stand voor God en is met wedergeboorte vir ewig afgehandel. God die Vader is nou vir ewig die gelowige se Vader. (‘n Persoon se werke het absoluut geen invloed ten opsigte van ‘n gelowige se posisie voor God as Sy kind nie. Om werke ‘n vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe te maak is om ‘n werke evangelie te verkondig.)
Joh.3:18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

Die rede waarom ‘n gelowige nie veroordeel kan word nie, is gebaseer op die feit dat die Here Jesus Christus se plaasvervangende offerande van Homself aan die kruis die gelowige van enige moontlikheid van veroordeling vrystel, omrede die gelowige op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid volmaak voor God staan.
Heb.10:14 “Want deur een offer (Christus se voltooide werk aan die kruis) het Hy (verledetydsvorm, en is dus iets wat alreeds afgehandel is)vir altyd volmaak (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, wat tydens die glo van die evangelie vir eens en vir altyd afgehandel is) die wat geheilig word.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat slegs na afloop van wedergeboorte kan plaasvind en wat geen invloed op waar die gelowige die ewigheid gaan deurbring uitoefen nie.)

Vir ‘n gelowige (‘n persoon wat alreeds d.m.v. die glo van die Evangelie ‘n kind van God is) wat sondig bestaan wel die moontlikheid dat God hom vir daardie sonde kan tugtig, maar daardie persoon kan nooit saam met die ongeredde mensdom veroordeel word om a.g.v. die sondes wat hy na afloop van aanvanklike wedergeboorte sou pleeg verlore te gaan nie.
Heb.12:6 “ 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?”
‘n Mooi voorbeeld van hierdie feit is die geval van die persoon wat met sy stiefma ‘n verhouding gehad het, naamlik:
1Kor.1 “’n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.  3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het, 4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus — 5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.”A.g.v. voortgesette sonde in ‘n gelowige se lewe, kan God self ‘n gelowige straf deur om hom fisies te laat sterwe, maar so ‘n gelowige sal nooit die gawe van die ewige lewe kan verbeur en verlore gaan nie. ‘n Gelowige word voor God geregverdig verklaar slegs op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid wat die gelowige tydens die glo van die evangelie ontvang. Menslike werke het absoluut niks met ‘n gelowige se regverdiging voor God te make nie.
Rom.3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Slegs geloof in die Here Jesus Christus alleenlik.

Ter afsluiting: Sewendedag Adventisme is ‘n valse godsdiensstelsel wat buite Bybelse profesie aanvaar, en wat onbybelse interpretasies in hulle leerstellings inwerk wat God se genade, en die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, devalueer en wat werkheiligheid en wettisisme verhef. In kort, Sewedaagse Adventisme verkondig ‘n werke evangelie deurdat hulle menslike werke die bepalende faktor in ‘n persoon se verlossing maak. Hulle verkondig dus ‘n ander evangelie in stryd met dit wat die apostels verkondig het en daarom is dit net gepas om Paulus laaste aan die woord te stel, naamlik:
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
Ek sal in die volgende artikel in hierdie reeks kortliks die Sewendedag Adventiste Kerk se dwaalleer rondom die Saterdag Sabbatdag onderhouding, asook hulle leerstelling van sieleslaap aanraak en vanuit die skrifte weerlê.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.