luciferiese elite

Luciferiese elite se opmars na ‘n een wêreldregering.

Ons lewe in ‘n wêreld wat drasties na afloop van die COVID-19 pandemie verander het. Wanneer wêreld gebeure vinnig plaasvind is dit maklik om belangrike aspekte (veral die gevaarlike gedeeltes, soos byvoorbeeld die luciferiese elite se sinister planne vir die wêreld) daarvan mis te kyk. Om so iets te doen het gewoonlik rampspoedige gevolge. In die verlede was die gelowiges wat die profetiese woord, soos in die Skrifte gevind, ernstig opgeneem het soms uitgelag en as samesweringsteoretikuste afgemaak. Daardie beskuldiging sal nie nou meer gemaak kan word, sonder dat die persoon wat die beskuldiging maak se eie geloofwaardigheid negatief aangeraak word nie. Die wêreld is baie vinnig besig om te verander, en dit geld nie slegs vir Suid Afrika nie, maar sluit die res van die wêreld in. Diegene wat dit nie kan raaksien nie, wil dit nie raaksien nie. Die wêreld stuur op ‘n een wêreldregering, onder bevind van die Antichris, af en die tekens is orals waarneembaar. Maak geen fout nie daar bestaan so iets soos die luciferiese elite. Om hierdie feit te ignoreer is om blindelings in gevaar in te loop.
Spr.22:3 “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.”
Wat die saak nog erger maak, is dat daar predikers is wat nie die profetiese woord, soos wat dit in die Skrifte opgeteken staan, aan hulle gemeentes verkondig nie. Hierdie predikers maak hulle daarin skuldig dat hulle nie die volle raad van God verkondig nie, iets wat die Here van hulle verwag en waarvoor hulle rekenskap sal moet gee. Paulus het seker gemaak dat hy wel die volle raad van God verkondig het, naamlik:
Hand.20:26 “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.”
En dit sluit Bybels profesie in!

Alhoewel die duiwel weet dat God hom op die een of ander tyd gaan toelaat om sy een man diktatorskap op aarde te vestig, weet hy egter nie wanneer nie. Onthou, Satan is nie God nie en is dus nie almagtig of alwetend nie. Maar net soos wat God mense op aarde gebruik om Sy wil uit te oefen, net so maak Satan ook van mense gebruik om sy doelwitte op aarde te bereik. En daarom word gelowiges in die skrifte gemaan om nie hulle lede tot beskikking van ongeregtigheid te stel nie, maar eerder vir geregtigheid. (Rom.6.13) Ongelukkig is by verre die oorgroot meerderheid van die mensdom wetens, of onwetens, instrumente in Satan se hande waardeur hy poog op sy wil op aarde te bewerkstellig. Onthou, tot en met Christus se wederkoms is Satan die God van hierdie wêreld, naamlik:
2Kor.4:4 “naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
So ook, is gelowiges ook tot ‘n sekere mate God se hande en voete op aarde, en daarom moet ons vasstel wat Sy wil vir ons is en dit uitvoer. Gepraat van hande en voete. Ek wil net diegene, wie my finansieel help om met die webtuiste voort te gaan, namens God bedank. Julle weet wie julle is, en belangriker nog, God weet wie julle is! Hy het hierdie feit swaar op my hart gelê en daarom noem ek dit hier. Die Here Jesus Christus sal julle ryklik by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon. In hierdie opsig is ons medewerkers, en alles wat deur die webtuiste verrig word sal dan ook op julle rekening gevoeg word. Weereens baie dankie!!
2Kor.9:8 “En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.”

Satan se agente, naamlik ongelowige mense, asook bose geeste, is aktief in die wêreld arena bedrywig en poog om alle belangrike instansies te beïnvloed. Hy het al grootliks in hierdie doel van sy plan geslaag, en het al die meeste regerings, opvoedkundige instellings, die vermaaklikheid bedryf, weermagte, intelligensie agentskappe, nywerhede, Christelike organisassies en kerke, asook die media geïnfiltreer en bevorder so sy agenda op aarde. Baie mense, en soms selfs gelowiges, is nie altyd daarvan bewus dat hulle as instrumente in ‘n sataniese sameswering aangewend word nie. Daar is egter ‘n ander groep, wat as die luciferiese elite beskryf kan word, wat presies weet wat hulle doen en vir wie hulle werk, naamlik Satan. Hierdie feit behoort ons nie te verbaas nie. Alhoewel die Antichris nog nie openbaar is nie, is dit egter ‘n feit dat daar bose magte agter die skerms werksaam is, en hierdie feit word elke dag meer duideliker, naamlik:
Ef.6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Die leser word aangeraai om weer die reeks artikels “Satan se optrede ten opsigte van die nasies.” asook die artikel “COVID-19 pandemie en hoe dit ons wêreld verander het” te lees.

In baie gevalle manifesteer die Sataniese invloed agter die skerms in die optrede van mense, naamlik:
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
Hierdie leerstellings sluit humanistiese filosofiese soos byvoorbeeld Marxisme, Kommunisme, die ewolusie leer, ensovoorts in. As gelowiges moet ons die realiteit van die geestelike stryd teen ons besef en daarom moet ons ook seker maak dat ons die groter konteks van Satan se agenda op aarde raaksien. Die leser word aangeraai om die illustrasie ” Die Luciferiese elite se globale netwerk” te bestudeer.

Maak geen fout nie, Satan en sy medewerkers (mense sowel as bose geeste) se doel is om ‘n een wêreld politieke, ekonomiese, asook godsdiensstelsel te bewerkstellig, waardeur hy volkome beheer oor die wêreld wil bekom. Om sy doel te bewerkstellig sal hy poog om toenemend van ‘n globale netwerk van waarnemingstelsels, en menslike netwerke, gebruik maak om die populasie dop te hou. Ons merk hierdie tendens alreeds orals in die wêreld en dit sal net erger word. Hierdie netwerke, en waarnemingstelsels sal dit vir die luciferiese elite makliker maak om toenemend die wêreld populasie te domineer en hulle optredes te beheer. Die luciferiese elite se doel is om ‘n finansiële sisteem op die been te bring, waardeur die rykdom van die wêreld toenemend in die hande van ‘n klein groepe luciferiërs geplaas sal word en waardeur hulle beheer oor die politieke sisteme van alle lande wil bekom. Individuele vryheid van keuse sal binne nou beperkte alternatiewe beheer word. Vryheid van spraak sal dus toenemend beperk word en slegs narratiewe wat met die van die luciferiese elite in lyn is sal toegelaat word. Ons sien alreeds hoe vryheid van spraak op sosiale netwerke soos byvoorbeeld YouTube en Facebook ingeperk word en hierdie trajek sal toeneem. Die media sal dus toenemend beheer word. Groot netwerke soos CNN, Fox News, BBC, ensovoorts word alreeds gebruik om ‘n spesifieke narratief te bevorder.

In die boek “The Great Narrative” maak die stigter en voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum, Klaus Schwab, wie ‘n sterk voorstaander van globalisering is, die volgende stelling, naamlik: “ “Disruption is coming. It will be both good and bad, and major.” En hoe beplan hy om die populasie van die wêreld so ver te kry om sy planne te aanvaar? Hy het ook dan die volgende stelling gemaak, naamlik: “…nothing is more effective than the power of narratives, that is to say, developing stories that are both pertinent and convincing to others. This is the best way to motivate those with whom we interact socially, politically, and economically, and to move the agenda forward.” En wat is sy agenda? ‘n Een wêreld regering, en hulle sal nie ophou probeer totdat hulle doel bereik is nie.

Ons moet nooit gevoelens met denke verwar nie. So ook kan denke nie van feite geskei word nie. Indien ‘n persoon sy eie feite opmaak, dan is daardie persoon besig om homself te mislei en sal enige optrede kan regverdig. Sataniese geïnspireerde mense sal nie skroom om valse stories op te maak om hulle doel te bereik nie. Onthou, nie alles wat mooi klink is noodwendig die waarheid nie, en dit dien as geen waarborg dat die finale uitkoms goed sal uitdraai nie. Kyk maar as voorbeeld na die mooi beloftes wat ons regering in die verlede gemaak het en vergelyk dit met die huidige toestand van ons land. So ook sal luciferiese elite nie skroom om bloed te vergiet, valse narratiewe op te maak, die media te sensuur en mense regte te skend nie. Inteendeel, ons kan verwag dat menseregte toenemend herdefinieer sal word om by die globaliste se doelwitte in te pas. Arthur Schlesinger, Jr. het al so vroeg as 1995 in die Julie/Augustus uitgawe van die The Council on Foreign Relations (CFR) se tydskrif die volgende stelling genaak, naamlik: “We are not going to achieve a new world order without paying for it in blood as well as in words and money.”
Hulle stel dit dus duidelik dat bloedvergieting, propaganda en geld die gewese metodes sal wees om hulle doelwitte te bereik. Hierdie feit word elke dag duideliker, maar ons behoort dit te verwag, want hulle vader is immers ‘n leuenaar (Joh.8:44), die vader van leuens en ‘n moordenaar! (Joh.8:44)

Satan poog altyd om sy delusie die norm te maak. Ongelukkig slaag hy alreeds grootliks in hierdie doel van hom, en hierdie feit sluit by verre die grootste gedeelte van die belydende Christendom in. Die Here waarsku ons, naamlik:
Jes.5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
Wat ons huidiglik in die wêreld sien gebeur is presies waarteen die Here ons gewaarsku het.

Voordat ons verder met hierdie deel van die artikel gaan, wil ek net die leser herinner, dat indien hy/sy hulle alreeds aan enige van die onderstaande sondes skuldig gemaak het, moet dit onthou word dat daar altyd vergifnis en ‘n nuwe begin in Christus beskikbaar is. (1Joh.4:3) Indien so ‘n persoon sy sondes bely het, is daardie sondes iets van die verlede en bestaan dit nie voor God nie. In Christus is ons sondige verlede iets van die verlede! Ons almal maak foute en het al sonde gepleeg, en met die skryf van hierdie artikel wil ek slegs hierdie sondes uitwys, omrede dit deel van Satan se plan is om Godgegewe institusies, soos wat ons dit in Genesis 1-11 vind, toenemend aan te val en te herdefinieer, naamlik:

Die luciferiese elite aanslag op lewe: Die luciferiese elite het die konsep van lewe d.m.v. die evolusieleer aangeval, wat daartoe aanleiding gegee het dat in baie lande die reg tot aborsie in wetgewing verskans word. Boonop is daar ‘n agenda om die wêreld se populasie te verminder en sluit die gebruik van eugenetika in. ‘n Historiese voorbeeld hiervan is die gedwonge sterilisasie van tot 225 000 mense in Nazi-Duitsland en miljoene ander “ongewenstes” is onder die skyn van eugenetika vermoor. Wanneer ‘n persoon oortuig is dat die mens nie in die beeld van God geskape is nie, maar eerder die produk van ewolusie/kans is, dan word dit maklik om enige vorm van moord te regverdig, en dit is presies wat met die wettiging van aborsies gebeur het.

Nog ‘n voorbeeld hiervan is geleerdes wat nie pasgebore babas as mense aansien nie, en wat die moord van hierdie babas wil regverdig. (tot en met so lank as drie maande na geboorte) Michael Tooley, ‘n filosoof en nou emeritus aan die Universiteit van Colorado, Boulder, het presies hierdie standpunt ingeneem. Volgens hom is pasgebore babatjies nie selfbewus nie, en kan dus nie as mense beskou word nie, en dat die reg om te lewe slegs vir mense geld wat selfbewus is. (Die implikasie van sy stelling is dat pasgebore babatjies wettig gedood kan word en dit is ook wat hy al in baie gevalle voorgestaan het.) Wanneer God se woord met menslike filosofie soos hierdie vervang word, dan is niks meer oor die langtermyn ontoelaatbaar nie. Mens kan met regte Tooley vra of hy dink dat ‘n mens wat slaap selfbewus is? Wat van ‘n persoon wat onder narkose is? Gaan ons nou moord op mense wat slaap, of wat onder narkose is, wettig verklaar? Wanneer menslike opinie die maatstaf word waarteen reg en verkeerd gemeet word, dan is dit net ‘n kwessie van tyd voordat enige goddelose daad geregverdig kan word. Dit is om hierdie rede waarom die Bybel as finale maatstaf vir die bepaling van reg, en verkeerd so deur Satan en sy medewerkers aangeval word. Satan poog om altyd goddeloosheid die norm te maak. En hierdie tendens gaan slegs toeneem. Die Bybel stel dit egter duidelik, dat lewe tydens bevrugting begin en daarom is aborsie niks anders as moord nie.
Ps.139:16 “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”
Met tyd sal die lys van toelaatbare eugenetika langer word, veral wanneer moord onder die dekmantel van liefde, en die beswil van die mensdom/aarde/gemeenskap geregverdig kan word. Daar is nou alreeds baie van die sogenaamde luciferiese elite wat verklaar dat ons planeet oorbevolk is en dat ons die populasie sal moet verminder. Ek wonder wie gaan bepaal wie lewe en wie moet sterwe?

Die luciferiese elite aanslag op die huwelik: Die luciferiese elite val die institusie van die huwelik tussen een man en een vrou aan. Satan poog om die huweliksverhouding, soos wat God dit in Sy woord bepaal het, ongedaan te maak, en te herdefinieer deur homoseksuele huwelike in die wet te laat verskans. Boonop word enige persoon wat hierdie feit uitlig aangeval, en as liefdeloos en ‘n dweper uitgekryt en kan self in sommige gevalle krimineel aangekla word. Wat die saak erger maak, is dat baie kerke homoseksuele huwelike goedkeur, en homoseksuele predikers toelaat om te preek en op die kerkraad te dien. Ons kan verwag dat hierdie tendens sal toeneem, en die skrifte maak die volgende profesie aangaande die komende Antichris, naamlik:
Dan.11:37 “En op die gode van sy vaders sal hy (die Antichris) nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou.”
Dit is my beskeie opinie dat die Antichris ‘n homoseksueel sal wees en ek is nie die enigste persoon wat so dink nie. Daniël gaan verder en voorspel dat die komende Antichris ook sal poog om die wet en tye te verander, naamlik:
Dan.7:25 En hy (die Antichris) sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges(mense wat tydens die Verdrukking tot geloof kom)en van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.” (laaste helfte van die Groot Verdrukking net voor Christus se wederkoms.)
Die Skrifte stel dit ook duidelik dat die gees van die Antichris nou alreeds in die wêreld bedrywig is (1Joh.4:3) en daarom sal goddeloosheid toeneem soos wat die einde van die Kerk Dispensasie nader kom en sal die Bybel toenemend verdraai word om goddeloosheid te regverdig. Sondes wat die Bybel verbied sal deur die luciferiese elite onder die dekmantel van mense regte gewettig word. Die verskansing van sonde onder die wet is al in baie lande die norm.

Die luciferiese elite se aanslag op die Bybelse konsep van geslag: Die luciferiese elite wil toenemend die Bybelse konsep van manlike en vroulike geslag d.m.v. die transgender beweging herdefinieer. Hierdie agenda word ook in Amerika openlik deur die Biden administrasie gesteun, en wat letterlik die Verenigde State van binne af vernietig. Die transgender beweging is ook alreeds besig om in Suid Afrika inslag te vind, en ek glo dat dit nie meer lank gaan neem voordat die veroordeling van transgenderisme onder die wet as haatspraak geklassifiseer gaan word nie. Veral die Weste bevind hulleself in ‘n kulturele oorlog waar histories Christelike waardes deur humanistiese waardes vervang word. Met verloop van tyd sal dinge net erger raak, en Christene wat hulleself daarteen uitspreek sal toenemend gemarginaliseer en self vervolg word.
2Tim.3:12 “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”

Die luciferiese aanslag op nasionale soewereiniteit: Die luciferiese elite se doel is om die hele wêreld onder die leierskap van die Antichris te verenig, wat beteken dat onafhanklike state iets van die verlede moet wees. God het egter die verskillende nasies, volke en kulture daar gestel en hulle grense vasgestel en dit is ‘n vorm van rebellie om ‘n einde aan soewereine afhanklike nasies te wil maak.
Hand.17:26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,”
Omrede die mens met ‘n sonde natuur gebore word, is dit net logies dat algehele mag in een man se hande tot bloedige magsvergryp aanleiding sal gee. Goeie voorbeelde hiervan is Stalin, Pol Pot, Hitler en vele ander. Veral indien daardie persoon soos die Antichris deur Satan beset sal word. Daar is slegs een persoon wat met reg as alleenheerser oor die wêreld kan regeer, naamlik die Here Jesus Christus, wat wel na afloop van die Groot Verdrukking, met Sy wederkoms, Sy koninkryk op aarde sal vestig.

Solank as wat die ware Kerk nog op aarde is, verhinder die Heilige Gees, Satan om sy Antichris op die wêreld toneel te openbaar, en daarom weet niemand nou wie hy gaan wees nie, ook nie die luciferiese elite nie. Om hierdie rede vind ons ook, dat tussen hierdie geheime groepe, en organisasies ook baie keer persoonlikheidskonflikte bestaan omrede daar geld en mag op die spel is. Meeste van ons weet hoe erg interdepartementele kompetering soms kan raak. Boonop speel narcisme en magsbehepteit ‘n uiters groot rol in hierdie interpersoonlike konflikte, veral indien mens onthou dat die leierskap en hoër echelons van hierdie geheime groepe deur bose geeste beheer word. Net soos wat gelowiges deur eiesinnigheid, en hoogmoed die Heilige Gees se werking in en deur ons kan verhinder, (1Thess.5:19), so ook kan die luciferiërs, Satan se inwerking teëstaan, veral indien mens onthou dat ongeredde mense slegs in die vlees, en derhalwe hulle eie belang, kan optree waar die drang na geld en mag ongehinderd is. Daarom is sommige geheime genootskappe op die oomblik antagonisties teenoor mekaar. Gegewe hierdie feite is dit belangrik dat gelowiges moet bid, dat die Here hierdie groepe se planne sal teëstaan en hulle bose planne toenemend openbaar sal maak.

Nietemin verskaf die geheime organisasies ondergrondse kommunikasiemeganismes aan die Luciferiërs, wat toenemend samewerking tussen hierdie groepe sal fasiliteer, om sodoende hulle bose planne vir die wêreld onder ‘n dekmantel van geheimsinnigheid te bewerkstellig. Hoe nader ons aan die wegraping kom, hoe nader sal hierdie groepe met mekaar saamwerk, en wanneer die wegraping plaasgevind het sal die Heilige Gees, wie nou goddeloosheid tot ‘n groot mate beperk, dit nie meer doen nie. Daarna sal die kompetering tussen hierdie groepe toenemend afneem, en sal dan tot ‘n groter mate met mekaar begin saamwerk, waarna die Antichris Sy verskyning op die politieke toneel sal maak.
2Thess.2:5 “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6 En nou, julle weet wat hom teëhou, (die Heilige Gees) sodat hy (die Antichris) op sy tyd geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, (die Heilige Gees wat a.g.v. die Kerk se teenwoordigheid op aarde onbeheerste goddeloosheid tot ‘n sekere mate inperk) uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,”
Ons moet ook onthou dat nie alle mense wat in hierdie organisasies werksaam is noodwendig van hulle duistere motiewe kennis dra nie, en hulle is grotendeels net pioene/instrumente in die hande van die Luciferiërs wat die hoër echelons van hierdie organisasies beheer. Die laer echelons, is soos gewone voetsoldate wat nie weet wat die generaals beplan nie.

Met die doel om momentum aan hulle begeerte om ‘n wêreldregering op die been te bring, het Klaus Schwab ‘n boek in 2020 genaamd “COVID-19: The Great Reset” gepubliseer. Die boek is deur Die Wêreld Ekonomiese Forum, die Rockefeller-stigting, George Soros, die Bill & Melinda Gates-stigting, asook baie ander globalistiese organisasies geborg. Die wêreld sal toenemend deur hierdie groepe gekondisioneer word om met hulle sinister planne saam te werk, en poog om die mensdom te oorreed om toenemend hulle vertroue in ‘n handjie vol elites te plaas.

Op 12 November 2016 ongeveer ‘n jaar nadat agenda 2030 op die been gebring is, het die Wêreld se Ekonomiese Forum agt voorspellings vir die jaar 2030 gemaak. Ek gaan slegs twee hier noem. Eerstens beweer hulle dat ons niks sal besit nie en dat ons baie gelukkig sal wees. Alle produkte sal in dienste omgesit word. (weereens ‘n aanval op die Bybelse konsep van privaat eiendom en is niks anders as ‘n vorm van Marxisme nie!) Tweedens, dat die Verenigde State nie meer die wêreld se leidende supermoondheid sal wees nie en dat ‘n handvol nasies die wêreld sal domineer. Onthou egter, dat die Wêreld Ekonomiese Forum se voorspellings slegs ‘n werklikheid sal word indien die Here dit toelaat, en dit sal slegs op Sy tydsberekening plaasvind. Hierdie voorspellings van die luciferiese elite gee egter aan ons ‘n idee van hoe hierdie mense dink en wat hulle toekoms planne vir die wêreld is. (Dit is nogal insiggewend want die Bybel voorspel dat die Antichris uit ‘n Westerse Konfederasie van tien nasies (Herstelde Romeinse Ryk.) sy opmars tot wêreldheerskappy sal begin, en hy sal dan drie van hierdie nasies verower en as die heerser van die Westerse Konfederasie te voorskyn kom.)
Dan.7:23 “Só het hy gesê: Die vierde dier — die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. 24 En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal ná hulle opstaan, en hy (die Antichris)sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. 25 En hy (die Antichris) sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.”
Volgens die Bybel kan ons dus verwag dat Amerika toenemend sal verswak en die leidende rol in die wêreld sal prysgee. Dit is presies wat die Luciferiese elite binne Amerika beplan en poog om uit te voer. Wat nog meer is, is dat hierdie gebeure, soos in Daniël beskryf, eers na afloop van die wegraping en heel moontlik tydens die Verdrukking sal plaasvind. Dink bietjie mooi oor hierdie stelling na, veral as mens in gedagte hou dat daar ‘n tyd gaping van onbekende lengte tussen die Wegraping en die aanbreek van die Verdrukking is. (Die leser word aangeraai om die illustrasie genaamd “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Verdrukking” te bestudeer)

So wat kan ons in die nabye toekoms verwag? Ek kan hierdie vraag net beantwoord deur om my eie mening aan die leser voor te lê, waarna hy self sal moet besluit of hy daarmee saamstem of nie. Omrede die luciferiese elite van die beginsel van “orde uit chaos” gebruik maak, waar hulle ‘n natuurlike (of mensgemaakte) ramp/krisis gebruik om hulle agenda te bevorder, kan ons verwag dat in die nabye toekoms daar weer so ‘n wêreldwye krisis sal wees, waardeur ons vryhede (wat die reg op vrye spraak insluit) toenemend ingeperk sal word, en sodoende sal die elite se doelwitte toenemend op aarde bevorder word. Indien hulle nie van ‘n natuurlike krises gebruik kan maak nie, kan ons verwag dat hulle ‘n krises sal skep, (moontlik weer ‘n gebeurtenis soortgelyk aan die COVID-19 epidemie, of dalk ‘n groot oorlog of mensgemaakte ramp) maar van een ding kan ons verseker wees, daar sal weer ‘n wêreldwye krisis wees. Indien die wegraping gou plaasvind, sal dit ‘n ideale krises bied wat deur die luciferiese elite uitgebuit kan word, en wat aan hierdie mense basies onbeperkte mag sal gee om hulle doelwitte te bevorder. Maar indien die wegraping nie gou plaasvind nie, kan ons verseker wees dat daar wel in die nabye toekoms, binne die volgende paar jaar, ‘n wêreldwye krises sal ontstaan.
2Tim. 3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”

Ter afsluiting: Hierdie artikel mag dalk vir baie mense onrusbarend wees, maar ons moet onthou dat God ons vooraf daarvan gewaarsku het. Boonop moet ons nooit vergeet dat die Here in volle beheer van alles is, en daarom moet ons nie bang wees nie maar eerder voorberei wees. Christus se koninkryk, en ons plek daarin is alreeds deur God gewaarborg!
Met die skryf van hierdie artikel, het ek gepoog om ‘n kort oorsig van wat werklik agter die skerms van wêreld politiek aangaan weer te gee. Die Here verwag van ons om die tekens van die tye te ken en ons moet waak om nie onverwags betrap te word nie.
1Thess.5:6 “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.”
Dit behoort vir almal van ons duidelik te wees dat die huidige wêreldgebeure die tafel dek vir die gebeure wat na afloop van die wegraping sal plaasvind, naamlik die opmars van die Antichris tot wêreldheerskappy, die aanbreek van die Verdrukking, en Christus se wederkoms, wanneer Hy die koninkryk op aarde sal vestig. Gegewe hierdie feite glo ek nie dat die wegraping meer ver kan wees nie. Boonop is die ware Kerk nie bestem om deur die Verdrukking te gaan nie en ons gaan die verskriklike gebeure tydens die Verdrukking heeltemal misloop. Ons moenie onsself dood bekommer nie maar eerder onsself besighou met die werk wat die Here vir ons gegee het om te doen. Ons het immers ‘n Godgegewe mandaat (Mark.16:15) en ons moet ons daarmee besig hou tot en met ons Hom d.m.v. die Wegraping in die wolke ontmoet. (1Thess.4:17)

Ef.6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
Openb.2:25 “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. 26 En aan hom wat oorwin
(fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte. Sien ook 1Joh.5:5)en my werke tot die einde toe bewaar, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat goeie werke insluit)sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking waarna ons genadeloon, wat heerser posisies insluit, sal ontvang.) 28 En Ek sal hom die môrester gee. 29 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
En onthou:
1Joh.5:5 “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”


Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.