Kategorie se argiewe: Tale Spreek

Spreek in vreemde tale as bewys van wedergeboorte ?

Vraag: My kind was na ‘n kerk kamp vir ‘n naweek genooi waar hulle gelei is om hulle lewens vir die Here te gee. Daarna is hulle aangemoedig om in onverstaanbare vreemde tale te praat as bewys dat hulle die Heilige Gees ontvang het. So ver ek weet was my kind alreeds voor die kamp ‘n gelowige gewees en het nog nooit dit reggekry om in vreemde tale te praat nie. Moet almal in vreemde tale praat voordat hulle seker is dat hulle wedergebore is?

Antwoord: Nee, ‘n persoon hoef glad nie in vreemde tale te praat as bewys dat hy wedergebore is nie. Boonop het die vreemde tale wat ons in die boek Handelinge aantref niks met die brabbeltaal wat ons vandag onder sekere denominasies en groepe vind in gemeen nie. Die vreemde tale wat ons in Handelinge vind is nie-aangeleerde menslike tale wat deur mense van verskillende streke gepraat en verstaan is en nie ‘n onverstaanbare gebrabbel nie.
Hand.2:4 “En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. 5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 11 Kretense en Arabiere — ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.”
Onthou, na afloop van die ballingskap van Israel het baie Jode verkies om in die streke waarheen hulle weggevoer is agter te bly en het dus daardie streke se taal aangeleer en gepraat. Toe hulle in Jerusalem was, en die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort was, het hulle die dissipels in die tale van hierdie streke gehoor praat en was dus verwonderd. Bogenoemde teksgedeelte stel hierdie feit baie duidelik. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Spreek in vreemde tale” te lees. In daardie artikel word al die belangrike fasette van jou vraag sorgvuldig en in diepte vanuit die Skrifte beantwoord.)

Lees meer Spreek in vreemde tale as bewys van wedergeboorte ?

Spreek in vreemde tale

As dit kom by die bespreking van Geestelike gawes kom, is dit van uiterste belang, dat ons slegs na die woord van God vir ons antwoorde gaan en moet daar nie op ons ondervindings en belewenisse staatgemaak word nie. Die Skrifte bly altyd die standaard waarteen ons enige doktrines of ervaring moet toets. Indien ‘n persoon sy teologie op buite Bybelse ervarings bou, ontstaan daar twee baie ernstige gevare wat rampspoedige gevolge kan hê. Eerstens kan die ervaring self, in sy inhoud en en die oorsprong daarvan, heeltemal misverstaan word. Tweedens kan daar ‘n foutiewe gevolgtrekking omtrent die leerstellige betekenis van die ervaring gemaak word. Dus kan ‘n ervaring of belewenis wat blykbaar ‘n goddelike oorsprong het, slegs ‘n sielkundige oorsprong hê en glad nie van God afkomstig wees nie. Wat die saak nog verder vererger, is die feit dat Satan die ervaring, as middel tot verdere verleiding kan gebruik. Aan die ander kant, kan ‘n ware ervaring van die vulling met die Heilige Gees met die doop van die Heilige Gees verwar word. Doop in die Heilige Gees is nie dieselfde as om gevul met die Heilige Gees te wees nie. Dus is dit van uiterste belang, dat die persoon wat werklik die waarheid soek, in alle nederigheid en vertroue, op die inwerking en verligting van die Heilige Gees, slegs na die Bybel vir die antwoorde gaan, en alleenlik op die inhoud van die Bybel, sy leerstellige sienswyse baseer. Die soeker na waarheid, moet ook seker maak, dat hy nie sy vooraf opgestelde idees op die Bybel afdwing en die woorde in die Bybel verdraai om sy leerstellige posisie te staaf, of om sy eie gedagtes in die teks in te lees nie. Lees meer Spreek in vreemde tale