Die Gelowige en Lyding

Die Gelowige en Lyding

Dit gebeur in almal van ons se lewens dat daar teenspoed kom en dat ons selfs ‘n tragedie of lyding kan beleef. As mens, wil ons dan graag verstaan hoekom dit nou juis met ons gebeur. Maar die eenvoudige waarheid is dat ons in ‘n gevalle wêreld woon. Die Here het ons nêrens belowe dat ons lyding gaan vryspring, indien ons Hom as Verlosser en Saligmaker aanneem nie. Maar dit gesê, daar is wel sekere leidrade in die Woord van God wat ons ‘n mate van kennis oor hierdie onderwerp sal gee, en sal help indien ons eendag ‘n broeder moet bystaan wat ‘n tragedie beleef het, of indien onsself in ‘n soortgelyke tragedie bevind. Mense wat loop en verkondig dat ons net voorspoed in hierdie lewe gaan beleef, indien ons die Here aanneem, verkondig leuens en veroorsaak dat wanneer dinge nie reg verloop nie, baie mense permanent van die Here af wegdraai om nooit weer terug na Hom toe kom nie. Hier volg ‘n paar redes hoekom lyding in ons lewens toegelaat word.  As gelowiges behoort ons goed ingelig oor  hierdie onderwerp te wees, en kennis aangaande lyding, behoort ons aan te moedig om in geloof om hulp na die Here te gaan .

Lyding a.g.v sonde in ons lewens.

Lyding en probleme kan veroorsaak word deur sonde in die gelowige se lewe.
I Korinthiërs 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. (Gesterf) 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
Volgens die Bybel is dit duidelik dat God Sy kinders tugtig, want ons God is ‘n heilige God en verwag van ons, as Sy kinders, om heilig te lewe. Soms moet die Here sonde (dros) uit ons lewens verwyder, en is die enigste wyse waarop Hy dit kan bewerkstellig, om lyding in ons lewens toe te laat.
Jesaja 1:25 “En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.”

Hoe onaangenaam sulke dissiplinêre optrede ook al mag wees, vir die gelowige gee dit die versekering dat hy God se kind is. God tugtig net Sy eie in hierdie dispensasie, die ongelowiges se tugtiging sal in die verdrukking begin en volkome, in die hiernamaals, na afloop van die Groot Wit Troon Oordeel, afgehandel word wanneer hulle vir ewig in die poel van vuur gewerp sal word.. (Openbaring 20:11)
Hebreërs 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

Ek is egter oortuig daarvan, dat meeste lyding wat in gelowiges se lewens plaasvind , lyding is wat hulle kon vermy het indien hulle net basiese wyshede toegepas het.
Spreuke 10:10 “Hy wat met sy oog knip, veroorsaak smart, en hy wat dwaas spreek, kom tot ‘n val. 10:14 Die wyse lê kennis weg, maar die mond van die dwaas is ‘n ondergang wat naby is.
22:3 ‘n Skrander (wyse) mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges (onverstandige) gaan verder en word gestraf.”
Ons almal weet byvoorbeeld dat ooreet, asook rook, sonde is! (en boonop ongesond is) Ons beskik ook oor genoeg inligting om die gevare daaraan verbonde vooraf raak te sien, maar gaan nog steeds met hierdie dwaashede voort, totdat ons aan hartsiektes ly of selfs sterf. In gevalle soos hierdie, het ons die onheil wat ons tref, oor ons self gebring en is dit nie van die Here afkomstig nie. Dink maar aan skinder , drankmisbruik, steel, dronkbestuur ensovoorts en die gevolge wat daarop kan volg. Die gelowige moet sy optrede, en die moontlike gevolge mooi oordink, alvorens hy optree, en mooi kyk waar die slaggate lê en alles in sy vermoë doen om dit te vermy, sodoende sal Hy homself baie onnodige lyding spaar. Die Here wil ons nie inperk nie, maar wil ons van onnodige hartseer, lyding en pyn spaar en daarom waarsku Hy ons vooraf in Sy woord om wysheid te bekom en Hom te gehoorsaam.

Onthou, ons kan nooit God blameer vir al die pyn en lyding wat ons in hierdie wêreld ervaar nie, omrede dit juis sonde is wat al die smarte op die mensdom gebring het. En daarom maai ons maar net wat ons gesaai het. Sonde het gevolge, kyk maar net vir Adam en Eva en die sondeval. Dit was nooit die Here se begeerte dat mense lyding moes ervaar nie, en daarom het Hy Adam en Eva vooraf teen die gevolge van sonde gewaarsku. Die oorsprong van alle dood en lyding is die gevolg van sonde wat in die wêreld deur ons ongehoorsaamheid ingekom het.  Ons moet daarteen waak om God te wil blameer vir iets wat deur ons eie ongehoorsaamheid veroorsaak is. Lyding en swaarkry was nooit God se doel vir die mens nie! Derhalwe sal Hy ook, met tyd, ‘n einde aan alle lyding, vir diegene wat die Evangelie geglo het, maak.

Geestelike Groei te bevorder.

Romeine 5:3 “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, 5:4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; 5:5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. “
Baie keer laat die Here teenspoed of lyding in ons lewens toe, sodat dit voordelig vir ons geestelike groei is. Sulke beproewinge leer ons om geduldig te wees en as ons geduld geleer het, beproefdheid. Ons almal kan tot ‘n groter mate met hierdie karakter eienskappe doen. Dit is ons Hemelse Vader se doel om deur heiligmaking ons toenemend na die beeld van die Here Jesus Christus te verander. Derhalwe kan ons verseker wees dat ons beproef gaan word, en onsself met die wete troos, dat God ons so lief het dat Hy bereid is om die moeite doen om in ons lewens te werk.
Johannes 15:2 “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”
Ons kan die hele proses vir onsself vergemaklik, deur eenvoudig bereid te wees om ons lewens, as lewendige offers, aan God te bied, asook om Sy opdragte in die Bybel te eerbiedig. Ongelukkig  gehoorsaam ons, in die meeste gevalle, nie die Here se woord aan ons nie, en sodoende dwing ons die Here om soms op onaangename wyses in ons lewens in te gryp. Indien ons vrywilliglik alle boosheid aflê, vergemaklik ons die Heilige Gees se taak om heiligmaking in ons lewens te bewerkstellig, sodat ons toenemend soos die Here Jesus Christus kan word.

Filippense 4:11 “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. 4:12 Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Net soos Paulus, moet ons ook soms leer om tevrede te wees met dit wat die Here ons toebedeel het, en met die omstandighede waarin ons, onsself mag bevind. Sodoende leer ons om op die Here te vertrou, en om net op Sy genade alleen staat te maak om ons deur moeilike situasies te help. Indien ons nie sulke onaangename situasies beleef het nie, sou ons dalk nog steeds verkeerdelik geglo het, dat alles wat ons bereik het, deur ons eie krag bereik is en nie deur God se genade nie. Daar kan dus tye kom wanneer ons oorvloed kan hê, maar daar kan ook tye kom waar ons gebrek gaan beleef. Die doel met sulke situasies, is om ons te kry om volkome op Jesus Christus alleen te vertrou. Boonop, demonstreer hierdie situasies aan ons dat ons nie oor genoegsame krag in onsself beskik om sulke situasie die hoof te bied nie, en dat ons krag slegs in die Here Jesus Christus te vinde is. Om hierdie rede moet ons uiters versigtig te wees om op ander mense neer te wil kyk wat dalk nie al die seëninge, besittings en gawes besit wat ons besit nie.  Die Here kan baie vinnig die hele situasie verander en die rolle totaal en al omdraai.  Wees liewer nederig en dank die Here vir wat jy het, en help jou medemens eerder as om op hom neer te sien.

Een van die mens se grootste probleme is trots, en hoogmoed, en derhalwe het die Here ook die nodige stappe in Paulus se lewe geneem om te verhoed dat die groot Apostel hoogmoedig raak.
2 Korintiërs 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”
Om hierdie rede moet ons uiters sensitief vir die oortuigingswerk van die Heilige Gees wees, wat enige vorm van hoogmoed in ons lewens wil uitwys. Indien ons geneig is om hoogmoedig te wil raak, gaan ons die Here dalk noop om in ons lewens in te gryp en toelaat dat die duiwel en ons omstandighede ons weer aarde toe bring. Ons sal ook nooit werklik, aan hierdie kant van die graf, werklik besef tot watter mate die Here sondes in ons lewens verhoed het, deur om moeilike omstandighede in ons lewens toe te laat nie. Sulke situasies mag nou as heeltemal onaangenaam ervaar word, maar eendag, in die ewigheid, wanneer ons terugkyk sal ons die Here daarvoor dank!

Versoeke Vanaf die Duiwel:

Soms gebeur dit dat die Duiwel die Here versoek om ons te toets. Die Here kan sulke versoeke toestaan en dan bring die Duiwel rampe, siektes en teenspoed in die gelowige se lewe. (Job 1-2) In sulke gevalle kan ons verseker wees dat God nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie.
1Korintiers 10:13 “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”
Ons kan onsself met die feit troos, dat hoe meer ons lyding verdra, hoe meer geleentheid ons het om God te verheerlik.
Jakobus 5:10 “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. 5:11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.
1Petrus 1:6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;”
Onthou egter dat die duiwel niks aan ‘n gelowige kan doen, indien God nie Sy toestemming daarvoor gee nie. (Job 1:9-10)

Die Here het boonop ook die duiwel toegelaat om die Here Jesus Christus se dissipels, net voor Sy kruisiging, deur beproewinge te sif .
Lukas 22:31 “En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif.”
Maar merk met watse woorde van bemoediging die Here Petrus troos.
Lukas 22:32 “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.
So ook, kan enige gelowige wat homself in die donkerste dieptes van van beproewing vind, seker wees dat Jesus vir hom ook bid en intree. Wat ‘n groot troos is dit darem nie vir die beproefde siel nie! Dis in tye soos die, waar ons in geloof moet besef, dat die Here nooit Sy belofte, om vir altyd by ons te wees, sal verbreek nie.

Ek moet ook net noem, dat in die gevalle van Job, asook die dissipels van Christus, daar dinge in hulle geestelike lewens was wat nie heeltemal reg was nie. Job se probleem was sy eie geregtigheid, en die Apostels het verkeerdelik geglo dat hulle in hulle eie krag die Here, as toegewyde dissipels, kan volg. Die lyding en beproewinge wat die Here in hulle lewens toegelaat het, het tot ‘n groot mate hierdie geestelike tekortkominge in hulle lewens gekorrigeer. Later is elf van die twaalf apostels, as martelare vir hulle geloof, gedood, en deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, getrou aan God gebly. Maar dit was slegs nadat hulle geleer het om nie op hulle eie krag staat te maak nie, maar eerder op die Heilige Gees moes vertrou, om in en deur hulle, Sy krag ten toon te stel. Ten tye van lyding en beproewinge is daar egter altyd lesse wat die gelowige moet leer en korreksies wat in sy geestelike lewe toegepas behoort te word. Na afloop van hierdie tydperke van beproewing en lyding, is die duiwel elke keer as die leuenaar uitgewys, net soos wat dit in Job se lewe die geval was. Daardeur het God aan die duiwel gedemonstreer dat Sy kinders Hom kan liefhê, selfs in tye waar alles in hulle lewens verkeerd loop, en dat Sy kinders Hom nie net liefhet, oor wat Hy hulle gee nie, maar dat hulle Hom lief  het vir wie Hy is. Sodoende is God dan ook deur Job se optrede verheerlik! Ons moet leer om dieselfde te doen.

Lyding as voorbereiding vir ‘n groot Taak.

Lyding dien soms as voorbereiding vir ‘n groot taak of hoë posisie, soos wat dit in Josef se lewe die geval was. Hy was heel onskuldig as slaaf na Egipte geneem. Nadat hy Pótifar se vrou se toenadering geweier het, is hy onskuldig deur Pótifar in die tronk gestop. (Gen 39-50) Die jare in die tronk, en die diens wat hy daar moes verrig het, het hom egter voorberei vir die hoë pos wat hy sou beklee en het hom ook geleer om nederig te wees. Die Here was die hele tyd werksaam in Josef  se lewe gewees en het hom nooit eenvoudig aan die noodlot oorgelaat nie. Dit geld vir Dawid, wat na die woestyn moes vlug, en Moses wat na Mediaan moes vlug. Hulle tydperke van terugslae en beproewinge het as voorbereiding vir hulle toekomstige belangrike posisies gedien. Onthou hierdie feite indien jy dalk ‘n woestyn ondervinding in jou lewe beleef. Kyk watse lesse jy daaruit kan leer, en leer dit vinnig, sonder om die ondervinding te wil vermy. Want die lesse wat daar te leer is, moet geleer word. Boonop moet jy onthou, dat jy ten alle tye in God se hande (en wil) is en dat Hy jou nooit sal verlaat nie. Jou ervaring in die woestyn sal die een of ander tyd tot ‘n einde kom, en dan sal jy ten volle besef dat jy as baie beter mens uit daardie ondervinding uitgekom het. Boonop sal jy ook vir enige taak, wat die Here aan jou wil opdra, toegerus wees, sodat jy daardie taak suksesvol kan afhandel en Hy jou by die Regterstoel Oordeel van Christus ryklik daarvoor kan beloon.

Soms laat die Here ook toe dat slegte dinge in ons lewens gebeur, sodat ons weer ander kan help wat hulleself in dieselfde posisie mag bevind.
2 Korintiërs 1:4 “wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”                                                                                      Uit elke onaangename ondervinding is daar iets om te leer, en dit wat ons leer moet nie vergeet word nie, maar moet in diens van ons medemens, wat hulle in dieselfde posisie mag bevind, aangewend word.

Ander redes waarvoor lyding toegelaat word.

Lyding word soms toegelaat om God se kinders naby Hom te hou.
Psalm 119:67 “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. “
Ongelukkig is dit ‘n feit, dat indien dit met ons goed gaan, vergeet ons die Here en loop die wêreld in. Hoe hartseer moet dit nie ons Vader maak nie.

Dit leer die Gelowige om op die Here alleen te vertrou en nie op sy eie krag nie.
2 Korintiërs 1:9 “Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; 1:10 wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos,”

Dit is verder ‘n les aan die wesens in die hemel en op aarde. Dit bewys aan hulle dat mens God kan liefhê vir wie Hy is en nie net vir wat hulle by God ontvang nie. God word dus sodoende verheerlik.
2 Thessalonicense 1:4 “sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur— 1:5 ‘n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly; 1:6 aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, 1:7 en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele”

Omdat Ons juis Jesus gehoorsaam en as dissipels getrou volg.

Ons moet onthou dat ons in ‘n wêreld woon wie direk of indirek die duiwel as god dien. Dus kan ons teenstand verwag, omrede ons in ‘n stryd gewikkel is, en kan verseker wees dat die duiwel ons sal wil teenstaan met die verkondiging van die Evangelie.
Johannes 15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”
Dit behoort ons nie te verbaas indien die wêreld, en die wêreldse sisteem, ons teenstaan en haat nie. Ons behoort so iets eerder te wagte te wees. 
1Petrus 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.”

Trooswoorde

Die Here verduidelik nie altyd die redes waarom ons somtyds tydperke van beproewing en lyding moet deurgaan nie. Boonop gee Hy nie altyd aan ons die rede waarom ons op ‘n spesifieke tydperk ly nie. Wat ons wel oor seker kan wees, is die feit dat Hy alles tot ons voordeel laat saamwerk. Ons moet Hom net vertrou en weet dat Hy dinge sal laat uitwerk en dat ons nooit uit Sy hande kan val nie. Hou ook ingedagte hoe God met Job, na afloop van sy toetsing, gehandel het.
Romeine 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Indien ons na die einde van die boek van Job kyk, merk ons op dat die Here werklik vir ons omgee, en dat Hy soms gebeurtenisse wat in ons lewe verkeerd geloop het in hierdie leeftyd  alreeds regstel.
Jakobus 5:11 “Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”

Die Here het ons vooraf gewaarsku dat ons dit moeilik in hierdie lewe gaan hê, maar ons is ook die versekering gegee dat Hy altyd by ons is.
Johannes 16:33 ‘Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Ons het ook die verdere belofte, dat ons saam met Hom sal regeer, indien ons bereid is om vir Hom getrou na te volg, al beteken dit dat ons in die proses lyding moet verduur.
2 Titus 2:12 “As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.
As Jesus Christus Sy koninkryk op aarde kom vestig, dan sal ons saam met Hom as konings regeer en nie voor die tyd nie. Vir die gelowige lê die beste gedeelte van sy lewe nog voor. Vir die ongelowige, is hierdie wêreld egter al wat hy het en indien hy nie tot geloof in Christus kom nie gaan sake baie erger word.
Openbaring 1:6 “en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
Lees verder die gelykenis van die ponde.(Lukas 19:12-27)

Onthou, alle gelowiges gaan die een of ander tyd deur lyding, en beproewinge, en wat met ons gebeur nie ‘n uitsonderlike gebeurtenis is nie.
1Petrus 5:9 “Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.
2:20 Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly—dit is genade by God. 2:21 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;”

Niks sal ons ooit van God se liefde kan skei nie. Ons kan altyd verseker van God se liefde wees, asook die feit dat Hy ons lyding raaksien en Hy meegevoel daarmee het.
Romeine 8:35 “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 8:36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

Ter Afsluiting: Soos ons kan sien is die kwessie van lyding ‘n gekompliseerde onderwerp en met die skryf van hierdie artikel wis dit my begeerte gewees om meer lig op hierdie belangrike onderwerp te werp. Dit sal egter nooit genoegsaam wees nie, omrede daar soveel redes vir lyding kan wees. Al wat ek myself altyd mee troos, is die wete dat ek nie alles weet nie, maar my hemelse Vader weet alles en Hy sal my daardeur dra. Ons is pelgrims, op ‘n deurtog in hierdie wêreld, en sal een van die dae by ons regte woning in die Hemel wees, vanwaar ons ook saam met die Here Jesus Christus sal terugkeer om saam met Hom te regeer. Mag die Here jou versterk, en bemoedig, en mag jy altyd bewus van die feit wees dat Hy jou, deur jou tydperk van lyding en beproewinge, sal bewaar. Ek eindig hierdie artikel met die Here se woorde aan ons, naamlik:
Mattheus 28:20 “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.