Valse Profete vs Ware Profete

Valse Profete vs Ware Profete

Die Skrifte waarsku ons herhaaldelik teen die gevare van valse profete, valse leerders en valse apostels. Ongelukkig steur baie mense hulle nie aan hierdie waarskuwings nie en dit gaan tot hulle eie ondergang lei. Mense wat verlei is, sal nooit die verskoning kan gebruik dat God hulle nooit gewaarsku het nie.
Mat 24:11 “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
Mat 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
2Pe 2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring;”
Verder word ons gewaarsku om nie alles te glo wat ons hoor nie, maar ons moet eers die geeste toets! Dit is ons, as gelowiges, se plig om vas te stel wie die geeste is, onder wie se leiding die sogenaamde profete optree.
1Jo 4:1 “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”
Om hierdie waarskuwings te ignoreer, is om God te ignoreer, en soos reeds genoem gaan dit tot so ‘n persoon se eie ondergang lei. Let net daarop, dat hierdie artikel hoofsaaklik oor valse profete gaan en die leser word aangeraai om die artikel oor “vals apostels” asook die artikel “is die gawe van profesie nog in werking vandag?”ook te lees.

Dit is van uiterste belang, om alle leerstellings, profesieë of uitlatings met die Skrifte te vergelyk en seker te maak dat teksgedeeltes nie uit konteks aangewend of verdraai word nie. Die Skrifte (Bybel) is die finale gesag en nie menslike leerstellings, tradisies of menings nie. Enige profete moet dus die toets van die Skrifte slaag, alvorens so ‘n persoon as ‘n profeet bestempel kan word. Niemand sal tog na ‘n geneesheer gaan, indien daardie geneesheer nie eerstens kan bewys lewer dat hy of sy die nodige toetse geslaag het, om as geneesheer te kwalifiseer nie. So moet ons ook alle profete teen die Skrif toets, om seker te maak of hulle wel namens God praat. Indien ons nie God se waarskuwings eerbiedig nie sal ons deur Satan verlei word om ‘n ander Jesus; ‘n ander evangelie of ‘n ander gees te volg wat ons nie nader aan God sal bring nie.
2Ko 11:3 “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 11:4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.”
Ons moet seker maak, dat ons die Here Jesus Christus volg, soos wat Hy Homself in Sy woord openbaar en nie ‘n Jesus, wat iemand in sy verbeelding opmaak, nie. Deesdae word daar op ‘n baie subtiele manier ‘n ander Jesus, ‘n ander gees en ‘n ander evangelie verkondig wat baie mense Hel toe gaan sleep.

Hoe stel ‘n mens dan vas wie ware of valse profete is? Vir die antwoord moet ons na die Bybel toe gaan.
Deu 18:22 “as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.”
Waar die Here deur ‘n profeet spreek, sal wat daardie profeet profeteer, honderd persent van die tyd in vervulling gaan en nie net soms nie, soos wat dit met die hedendaagse profete die geval is nie. Die Christendom word oorval met sogenaamde profete en mense wat profeteer, en waar daardie profesieë nie bewaarheid word nie omrede daardie persone nie werklik oor die profetiese gawe beskik nie. Hierdie mense is nie profete nie, maar hulle lieg in God se Naam en veroorsaak dat die wêreld God belaster. Dit is ‘n baie ernstige sonde om valse profesieë te verkondig. Om te bepaal hoe ernstig God ‘n spesifieke sonde beskou, moet mens gaan kyk watter straf vir daardie spesifieke sonde in die Ou-Testament opgelê is. In die geval van valse profete is die doodstraf opgelê, dieselfde straf as vir ‘n moordenaar.
Deu 18:20 “Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe.”
Dit demonstreer maar net weer, hoe ver ons werklik van God en Sy woord afvallig geword het , omrede ‘n reeks moordenaar ons miskien nog sal skok, maar ons sal geensins geskok wees indien iemand valse profesieë in God se Naam maak nie. Het ons opinie van God so laag gedaal, dat ons Hom nie eers meer vrees nie! Miskien is dit weer tyd om God te eerbiedig en te respekteer, soos wat dit behoort te wees, voordat dit te laat is.
Heb 10:31 “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.”
Ware gelowiges moet sulke mense vermaan, en as hulle nie tot bekering kom nie moet hulle vermy word.

Tweedens, sal die boodskap wat so ‘n profeet verkondig, geensins met die Bybel in botsing kom nie! Ook sal so ‘n profeet nie dinge verkondig wat die gelowige van die Here afvallig sal maak nie.
Deu 13:1 “As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 13:2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, 13:3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. 13:4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.”
Indien jy werklik jou liefde aan God wil demonstreer, eerbiedig dan Sy woord. Gelowiges eer nie die Here deur om agter valse profete aan te loop nie. Om so iets te doen demonstreer maar net dat die gelowige nie werklik die Here en Sy woord (die Bybel) intiem ken nie!

Nou dat ons weet hoe om n profeet met die Bybel te toets, om vas te stel of hulle in werklikheid deur God gestuur is, moet ons waak dat ons in ons alledaagse lewens nie ook as vals profete optree nie. Mens hoor nogal gereeld van mense wat beweer dat hulle Skrif ontvang het. Ons moet baie versigtig wees as dit by hierdie aangeleentheid kom, want ons moet baie duidelik verstaan dat Satan ook van die Skrifte gebruik maak om mense te verlei. Dink maar hoe hy gepoog het om Jesus Christus in die woestyn te versoek, deur om van die Skrifte gebruik te maak. Indien hy dit met Jesus probeer doen het, gaan hy dieselfde met ons ook probeer. In werklikheid gebeur dit alreeds en word baie mense sodoende verlei. Die gedagtes wat in ons verstand opkom het drie moontlike bronne nl. God self, onsself en Satan. Waar ‘n persoon Skrif ontvang, moet daardie persoon baie seker maak dat God wel die bron is. Ek gaan die drie bronne afsonderlik bespreek om meer lig op die aangeleentheid te werp, omrede daar al oneindige skade en seerkry veroorsaak is deur mense wat Skrif uit konteks aanhaal en dit op hulle eie of op ander se omstandighede van toepassing te maak, sonder om op die konteks van daardie teksgedeelte ag te neem. In baie gevalle het God nie die teksgedeelte aan die profeet gegee nie, maar is die oorsprong daarvan die persoon se eie verbeelding. (Ongelukkig maak Oom Angus Buckan homself aan hierdie optrede skuldig en dit gaan nog tot grootskaalse ontnugtering lei.)

Die mens se eie verbeelding as bron: Ek sal baie teksgedeeltes kan aanhaal wat sal bevestig wat ek graag wil hoor en dit dan as God se woord aan my van toepassing maak. Dit kan dus baie maklik gebeur dat daardie spesifieke belofte nie aan my direk gemaak is nie, en is ek in werklikheid besig om myself te mislei. Mens sien oor en oor, waar persone oor ‘n aangeleentheid ‘n besluit moet neem en waar God en Sy belange nie die eerste prioriteit geniet nie, maar dat die mense nog beweer dat hulle die boodskap van die Here af gekry het. Ek praat hier van mense wat beweer dat hulle God wil dien en wat meer as genoeg aardse besittings het. Hulle sal dan ook verskeie redes vir hulle besluit aanbied, en soms teksgedeeltes kan aanhaal om te bewys dat dit God se wil vir hulle lewens is. Later verneem mens egter dat daardie selfde mense nie meer genoeg tyd het om aan God en Sy belange aandag te skenk nie, omdat die najaag van hulle eie droom van die begin af die werklike hoofdoel in hulle lewens was. Dus het hulle, en hulle belange, god in hulle lewens geword en is daardie mense dus besig om hulleself en Mammon te dien. Hoe kan so iets, dan ooit van die begin af, God se wil gewees het, veral as ons besef dat God alwetend is en dat Hy ons almal se harte ken? Sulke mense is besig met afgodediens en hulle is nie eens bewus daarvan nie.

Teksgedeeltes, soos om jouself te verloën en Jesus te volg, word dus nooit opgehaal as Skrif wat van God afkomstig is nie, maar altyd net positiewe uitlatings wat aan die persoon se eie begeertes voldoen.
Mat 10:38 “En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”
Luk 12:15 “En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.”
Ek sal teksgedeelte op teksgedeelte kan aanhaal waar die mens herhaaldelik gewaarsku word teen die gevare van gierigheid, hebsug, Mammon, afgodediens en nog baie meer sondes wat bitter min deur mense wat “Skrif ontvang” aangehaal word. Hier is nog so ‘n teksgedeelte om oor na te dink. Mens sou dink dat God graag die onderstaande Skrif onder ons aandag sou wou bring!
1Ti 6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 6:11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.

Hoekom is dit altyd God se wil vir iemand, indien daardie persoon rykdom of enige aardse voordeel kan bekom? En hoekom is dit nooit God se wil indien daardie persoon iets moet prysgee wat hy nie wil prysgee nie? Daar is iets ernstigs verkeerd met die Christendom van vandag, veral die Christendom in die westerse wêreld, omrede dit bitter min ooreenkoms toon met die Christendom wat ons in die Bybel van lees. Ons moet God se waarskuwing aan die gemeente van die Laodicense baie ernstig opneem, sodat ons nie te laat uitvind dat ons Hom glad nie gedien het nie. Baie mense verkeer onder die illusie dat hulle God dien, maar in werklikheid dien hulle Hom nie!
Opn 3:15 “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 3:16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 3:17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 3:18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. 3:19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”
Ons moet onderskeid tref tussen ons begeertes, en God se begeertes en moet ook daarteen waak om nie profesieë uit te spreek wat maar net ons eie begeertes reflekteer nie Ons moet baie seker maak of God wel die bron van enige profesie is!

Satan as bron: Soos reeds gemeld, sal die Duiwel nie skroom om die Bybel aan te haal indien dit sy saak gaan bevoordeel nie. Die meerderheid van die mensdom sal openlike satanisme verwerp, maar hulle sal baie maklik valse leerders navolg wat godsdienstig klink, maar nie werklik van God afkomstig is nie. Op hierdie wyse kry hy die mens so ver om hulleself en Mammon te dien en nie die God van die Bybel nie. Deur gebruik te maak van hierdie metode word miljoene mense na die Hel gelei, wat dit nie eens besef nie, en wat vas oortuig is dat hulle op pad Hemel toe is. Dit geld ook vir sogenaamde profesie wat baie mense, as van God afkomstig, verkondig, wanneer dit nie werklik van Hom afkomstig is nie. Mens moet altyd seker maak dat die teksgedeeltes wat aangehaal word altyd in die konteks aangehaal word waarin dit in die Bybel verskyn en, dat dit nie buite konteks aanhaal of verdraai word om te sê wat dit nie in werklikheid sê nie. Ons moet toelaat dat God se woord ons lei, en daarteen waak om God se woord te verdraai en buite konteks aan te haal sodat dit sê wat ons graag wil hê dit moet sê nie! Die Duiwel sal poog om ons so ver te kry om dit te doen en sodoende veroorsaak dat ons sy wil doen in plaas van om God se wil te doen.

Satan sal ook aan mense die dinge bied wat hulle die graagste wil hoor en wat hulle sondige natuur begeer, soos bv hebsug, liefde vir geld, selfliefde, hoogmoed en eiewaan. Wanneer ons skrif ontvang wat ons sonde natuur bevredig, moet ons weet dat dit nie van die Here afkomstig is nie, en moet ons dit verwerp, onsself verloën, ons kruis opneem en Jesus volg. Ons moet op God en Sy woord staatmaak en nie op ons eie insigte nie, want ons harte is boos en Satan sal dit teen ons gebruik om ons so ver te kry om sy wil te doen.
Jer 17:9 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”
Onthou God se waarskuwings oor die verskyning van valse profete en apostels wat baie mense gaan verlei!

God as bron: God sal nooit ‘n teksgedeelte uit konteks uit aanhaal wat mense op ‘n dwaalspoor sal neem nie. Waar God mens deur Sy woord leiding gee, sal ons opmerk, dat alles nie altyd noodwendig positief klink nie, en baie keer sal dit iets wees wat ons glad nie eers wil hoor nie.
Opn 3:19 “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”
Nog so ‘n voorbeeld uit die Skrif:
Mat 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”
Wees versigtig vir mense wat die heeltyd rondloop en verkondig dat hulle Skrif ontvang het en veral as daardie skrif die heeltyd positief is. Die hedendaagse samelewing, insluitende die kerk, het baie meer as net positiewe aanhalings nodig! Hulle het die waarheid nodig! As iemand werklik namens God praat, hoekom hoor mens nie meer van die onderstaande stellings nie?
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

Dit is immers feite wat die moderne kerk nodig het om te hoor! Kyk maar na enige van God se ware profete en mens sal gou opmerk dat hulle nie baie positief geklink het nie. Ook was hulle nie baie gewild nie, maar hulle het God se woorde en waarskuwings verkondig en dit soms ten koste van hulle eie lewens. Vandag se profete word deur die meeste mense bewonder en het hordes aanhangers! Daar is iets ernstigs in die grootste gedeelte van die Christendom verkeerd!
Luk 6:26 “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.”

Omrede die mens nog sy sonde natuur na wedergeboorte het, sal dit nog steeds vir God nodig wees om hom te korrigeer en by implikasie sal die persoon wat vermaan en gestraf word so ‘n ondervinding nie noodwendig as positief beleef nie. Wat mens egter in die meeste gevalle op Christelike televisie sien, en hoor, en in die meeste Christelike boeke lees, is ‘n positiewe boodskap ten koste van die waarheid. Dit is ongelukkig nie ware Godsdiens nie! Hierdie vals profete is te bang om die waarheid te praat, want die waarheid sal hulle sakke raak, iets wat hulle nie wil hê nie. Hulle is goed bewus van die feit, dat die mens nie daarvan hou om homself te verloën, sy kruis op te neem en Jesus te volg nie. Dus verkondig hulle dit oor die algemeen nie. Uitsonderings op hierdie reël vind net plaas indien hulle finansieel voordeel daaruit kan trek of wanneer hulle mense bang maak om meer geld te gee. (soos die leerstelling oor die tiendes te misbruik!) Hierdie tipe optrede is nie van God afkomstig nie.

Die Heilige Gees is heilig, en sal nie die mens nooit na sonde lei nie, maar sal die mens afsonder om heilig te lewe. Die Heilige Gees se doel is altyd om die gelowige meer soos Jesus Christus te laat word, nie minder nie. Dus kan mens verwag dat Hy mens sal wil los maak van die liefde vir geld, gierigheid , losbandigheid en al dergelike sondes en sal die mens geensins in hierdie sondes versterk nie.
Rom 8:14 “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.
Rom 14:17 Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.
Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 5:23 Teen sulke dinge is die wet nie. 5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. 5:26 Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.”
Ongelukkig word daar nie genoeg oor die bostaande onderwerp gepreek nie en mense “ontvang” te min van hierdie tipe Skrif. Dit is ook die rede waarom die grootste deel van die Christendom meer soos die wêreld lyk as wat dit na die gemeente van God lyk. Een van die grootste bydraende faktore is die hope vals profete wat leuens in die Here se naam versprei. En hoekom gebeur dit? Want die meeste mense wil nie meer hoor wat God in Sy woord aan ons te sê het nie, maar wil net hoor wat hierdie valse profete profiteer, omrede wat hulle profeteer juis die dinge is wat die mens se sondige natuur wil hoor.
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Ons moet baie versigtig wees vir die valse profete wat deesdae so volop is, en ons moet weer na die Skrifte wend, dit bestudeer en daarvolgens lewe. Die Heilige Gees het deur die apostel Paulus aan ons ‘n baie duidelike prentjie gegee van hoe die grootste gedeelte van die belydende Christendom in die laaste dae gaan lyk. Indien ons eerlik is sal ons moet erken dat hierdie profesie in ons tyd in vervulling gaan.
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Weereens is hierdie nie ‘n baie positiewe profesie nie, maar dit bly egter die waarheid en ons kan verseker wees dat dit God se woord is. Mense wat beweer dat hulle skrif ontvang het, moet hulleself die vraag afvra of hulle wel die Skrif vanaf God ontvang het. Indien dit werklik van God afkomstig is, dan kan mens mos verwag dat baie meer teksgedeeltes, soos hierbo genoem, ontvang behoort te word, juis omrede die mensdom van vandag dit so nodig het.

Dit is tyd dat ons tot bekering kom en bereid wees om teen die stroom van leuens en bedrog op te swem, al kos dit ons alles, omrede ons verseker kan wees dat ons loon groot sal wees. Ons kan verwag dat die wêreld ons sal haat en dit sluit die grootste gedeelte van die belydende Christendom in. As hulle ons God gehaat het sal hulle ons ook haat.
Joh 15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. 15:20 Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.”
Ons moet weer Jesus Christus alleen navolg en Sy woord getrou bestudeer en gehoorsaam. Vermei alle vals profete, apostels en leerders soos die plaag en toets alle leerstellings, profesieë en die persone wat dit verkondig teen wat die Skrifte sê. Boonop moet ons ten alle tye bid vir dieper insig om God se woord beter te verstaan, sodat ons nie verlei kan word nie. Indien ons gewillig is om deur die Heilige Gees gelei te word, kan ons verseker wees dat Hy ons deur Sy woord sal lei. Dit is God se belofte aan ons.

Onthou, dat die verleiding wat ons huidiglik waarneem, net erger gaan word en ons moet daarop voorbereid wees!
2Ti 3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 3:14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Ons moet egter nie moedeloos of bang word nie, want die Here is in beheer en Hy het die wêreld oorwin. Sake sal nie vir ewig so aangaan sonder dat God gaan ingryp nie.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Wees op julle hoede! (die leser word ten sterkste aanbeveel om die artikel “Is die Gawe van Profesie no in Werking Vandag?” te lees.

Seën groete

Vic

Deel met ander asb.