Die Dispensasie van die Wet. Deel 2

Die Dispensasie van die Wet. Deel 2

Soos wat ons alreeds in die vorige artikels in hierdie reeks wat oor die sewe dispensasies handel opgemerk het, begin elke dispensasie met God se seën, wat deur verdere voortgesette Goddelike openbaring gevolg word. Boonop vind ons dat elke dispensasie met ‘n Godgegewe toets vergesel word, wat deur die mensdom se mislukking gevolg word en wat tot God se oordeel aanleiding gee. Die leser word aangeraai om die vorige artikels in hierdie reeks te lees, asook om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer. In deel een het ons gesien hoe God Israel uit die Egiptiese slawerny bevry het, en ook verdere nuwe openbarings inligting aan hulle verskaf het wat ook dan ‘n toets ingesluit het. In deel twee sal ons opmerk dat Israel nie slegs misluk nie, maar ons sal ook baie belangrike inligting oor die doel van die Wet van Moses bekom, en hoe dit ons wie tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade leef raak. Dit gaan ‘n lang artikel wees, maar die leser wat die moeite doen om dit te lees sal feite aangaande die Wet van Moses leer wat baie min mense van kennis dra.

Israel misluk:

Israel het herhaaldelik die verbond wat God met hulle gemaak het gebreek:
Jer.31:32 “nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE.”
In kort:God was getrou aan Sy verbond, Israel was ontrou aan die verbond.

Voorbeelde van Israel se mislukkings:

a. Israel misluk deur Afgodediens te beoefen:

‘n Paar voorbeelde vanuit al drie die fases van Israel se geskiedenis, naamlik die tydperk van Moses, die tydperk van die rigters en toe die tydperk van die konings sal hier weergegee word. Daar is egter baie meer voorbeelde wat aangehaal kan word waarvoor ons nie ruimte in hierdie artikel het nie.
Onder Moses:
Ex.32:1 “Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. 2 En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. 3 Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. 4 En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ‘n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. 5 Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE. 6 En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.”
Onder die Rigters:
Rigt.3:7 “En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en die HERE hulle God vergeet en die Baäls en die heilige boomstamme gedien.
Rigt.10:6 En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en hulle het die Baäls en die Astartes gedien, en die gode van Aram en die gode van Sidon en die gode van Moab en die gode van die kinders van Ammon en die gode van die Filistyne, en hulle het die HERE verlaat en Hom nie gedien nie.”

Onder die Konings:
1Kon.11:6 “So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie volgehou om die HERE te volg soos sy vader Dawid nie. 7 Toe het Salomo ‘n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon. 8 En so het hy gedoen vir al sy uitlandse vroue wat rook laat opgaan het en geoffer het aan hulle gode.”

b. Israel misluk a.g.v. ongeloof :
Hulle het geweier om die beloofde land op bevel van God binne te gaan, omrede hulle na die grootsheid van die probleem gekyk het en nie op God vertrou het nie, naamlik:
Num.13:26 “ En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien. 27 En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. 28 Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. 29 Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan. 30 Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig. 31 Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. 32 So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. 33 Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.”

c. Israel het herhaaldelik teen God en Sy gesant Moses gemurmureer:
Num.16:1:1 “En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, 2 en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. 16 “11 Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer? 12 En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie. 13 Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie? 14 Ook het jy ons nie gebring in ‘n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.”
Die leser word versoek om self die hele hoofstuk van Num.16 te lees.

d. Israel misluk a.g.v. hoerery:
Num.25:1 “Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete — 2 dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode. 3 So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam.”

e. Israel misluk omrede hulle hulle beloofde Messias verwerp en Hom oorgee om gekruisig te word:
Matt.23:37 “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek (die Here Jesus Christus en derhalwe God)jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! 38 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! (Toe die stad in 70nC deur die Romeine verwoes is)39 Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (‘n Profesie wat na afloop van die Groot Verdrukking en met Christus se wederkoms in vervulling sal gaan.)
Joh.19:14 “En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning! 15 Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. 16 Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei.
In kort, Israel het die Here Jesus Christus, Wie die doel en einde van die Wet was, verwerp, naamlik:
Rom.10:2 “Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. 3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. 4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”

Die Dispensasie van die Wet eindig ook met God se oordeel:

a. Die tydelike tersydestelling van Israel in ongeloof:
Hand.28:25 “En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek 26 en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. 27 Want die hart van hierdie volk (Israel) het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. 28 Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.”
Rom.11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
(wat met die wegraping afgesluit word en wat deur die Verdrukking gevolg word) 26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; (Met Christus se wederkoms, na afloop van die Groot Verdrukking, wanneer die volk Israel tot geloof in Christus kom en Hom sal aanroep om hulle van gewisse uitdelging te verlos) 27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem. 28 Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. 29 Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. (Omrede dit God was wat Israel as Sy volke uitgekies het sal Hy nooit op Sy woord teruggaan nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang” te lees) 30 Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, 31 so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. 32 Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal (Israel sowel as die nasies) barmhartig te kan wees.”
God het nie Israel verwerp nie.

Die Bybel verkondig nie vervangingsteologie soos wat onder andere ook deur ons drie Afrikaanse Susterkerke beweer word.

b. Die Here Jesus Christus, Koning van de Jode word gekruisig:
God maak selfs van Sy oordeel ‘n seën vir die mensdom, deurdat Hy die Here Jesus Christus in ons plek aan die kruis laat sterf om sodoende vir die hele mensdom se sonde versoening te doen, naamlik:
Kol.2:14 “en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
Hebr.10:10 Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal. 11 En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; 12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God 13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete. 14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.”

Wat is dan die doel van die wet gewees?:

a. Sodat Israel ‘n heilige (afgesonderde) en groot nasie op die aarde kon wees:
Deut.4:5 Kyk, ek (Moses die profeet van God) het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. 6 Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk. 7 Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? 8 En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?”
Israel moes in hul sosiale, morele en geestelike praktyke ‘n afgesonderde nasie vir God op aarde wees. Hulle moes dus ‘n unieke volk onder al die nasies wees. Die Wet se doel was om dus Israel as nasie van die ander nasies af te sonder. Hulle moes anders as die nasies om hulle wees.

b. Om aan Israel asook die hele mensdom hulle sondige toestand uit te wys:
Rom.3:19 “Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.”
Die wet gee aan ons die kennis van sonde en lig die feit van die mensdom se gevalle/sondige toestand uit.

c. Die wet was nooit gegee dat mense daardeur gered kan word of hulleself gered kon hou nie:
Hand.13:39 “en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.
Rom.3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Rom.3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.

Gal.2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Gal.3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.”
Die feit dat niemand deur die onderhouding van die Wet van Moses gered sal word nie word herhaaldelik in die Nuwe Testament beklemtoon.

d. Israel asook sekere Christelike groepe/denominasies verstaan nie dat die wet nie gegee is om enige persoon te red nie:
Rom9:32 “Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. 33 Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Rom.10:1 Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. 2 Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. 3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. 4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”
Die belofte aan Abraham dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, was nie deur die wet nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.
Rom.4:13 “Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. 14 Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak. 15 Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie.”
Almal wat deur die geloof is, is geestelike kinders van Abraham. Daarbenewens is gelowige Jode geestelike, asook vleeslike nasate van Abraham.

Verdere aspekte van die Wet van Moses:

a. Die Wet van Moses was nooit bedoel om permanent te wees nie:
Gal.3:19 “Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad (die Here Jesus Christus) aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ‘n middelaar.”

b. Die Wet van Moses was ‘n juk wat niemand werklik kon dra nie:
Tydens die sinode in Jerusalem waar die vraagstuk of heidense gelowiges besny moes word om gered te word het die apostel Petrus die volgende stelling gemaak, naamlik:
Hand.15:10 “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk (die Wet van Moses) te lê wat ons vaders en ook ons (Israel) nie in staat was om te dra nie?”
Paulus gaan verder en maak die volgende stelling, naamlik:
Gal.5:1 “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie”
Ongelukkig is daar baie denominasies, en groepe in die belydende Christendom, wat juis weer poog om die juk van die Wet van Moses op hulle lidmate se nekke te plaas. In hierdie opsig versoek hulle God.

c. Die Wet van Moses moes ten alle tye perfek onderhou word:
Die Wet van Moses mag nie eens eenkeer in ‘n persoon se lewe gebreek word nie, iets wat geen mens behalwe die Here Jesus Christus ooit sou kon regkry nie.
Gal.3:10 “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.
Jak.2:10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.”

d. Die wet van Moses was net die skaduwee van toekomstige dinge:
Heb.10:1 “Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.”
Die Wet, en die diere-offers wat daarmee gepaard gegaan het, was ‘n heenwysing na die Here Jesus Christus wie deur Sy soendood op die kruis die sondes van die wêreld sou wegneem.
Joh.1:29 “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy vir eens en vir altyd die probleem van die mens se sonde voor God opgelos. Dit gaan nie nou meer soseer oor wat ons met ons sonde kan doen nie maar eerder wat ons met Christus doen. Gaan ons Hom glo of gaan ons nog steeds poog om deur wetnakoming ons eie geregtigheid voor God te bewerkstellig. Dit is presies wat die Jode probeer doen, en daar is baie Christelike groepe wat presies dieselfde as die Jode doen. In hierdie opsig is hulle niks anders as gekerkte Fariseërs nie. Dit is op grond van hierdie feit dat die Here dit duidelik gestel het dat min mense gered sal word. Die leser word aangeraai om die artikel “Die Breë en die smal weg” te lees.e. Die wet van Moses kon nie ‘n persoon geregverdig verklaar of maak nie:
Gal.2:21 “Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.
Gal.3:1 “o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?
(die Evangelie) 2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? 4 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! 5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”

f. Die Wet van Moses kon ook nie die ewige lewe gee nie:
Gal.3:21 “Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar ‘n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.”

Toepassings-raamwerk vir ons as gelowiges wie tydens die Dispensasie van Genade/Kerk leef:

a. Gelowiges wie tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade leef is nie onder die wet nie maar onder genade:
Rom.6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Hierdie feit geld nie net vir aanvanklike wedergeboorte (fase een van ons verlossing) nie maar ook vir heiligmaking. (fase twee van ons verlossing) Ons lewe die ware Christelike lewe op presies dieselfde wyse uit as waarop ons gered word, naamlik geloof.

b. Die gelowige het die Heilige Gees wat hom bekragtig vir diens:
Gal.5:16”Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;
Wandel in geloof d.m.v. die instaatstellende krag van die Heilige Gees en dan sal mens nooit aan die begeertes van die vlees toegee nie. Die Gees van God sal nooit ‘n mens in stryd met die wil van God (wat die Wet van Christus insluit) lei nie. Wanneer ‘n gelowige in die vlees wandel dien dit as ‘n indikasie dat hy nie in die Gees wandel nie. ‘n Gelowige korrigeer egter nie die probleem deur om nou in sy eie krag te poog om nie in die vlees te wandel nie. Ons kan nie in eie krag suksesvol die hoë standaarde van die Wet van Christus nakom indien dit nie in die krag van die Heilige Gees geskied nie. Nee, ons moet ons sonde bely, en dan weer in die geloof d.m.v. die instaatstellende krag van die Heilige Gees wandel, en a.g.v. hierdie feit sal ons weer in die Gees wandel en nie aan die begeertes van die vlees toegee nie. ‘n Mens moet eers in die Gees wandel, alvorens hy werklik die Wet van Christus (wat die wil van God vir ons insluit) kan vervul. Om egter deur die vlees versoek te word (versoekings wat ons daagliks beleef) is nie ‘n sonde nie. Dit word slegs sonde wanneer ons aan daardie sondes toegee. Moenie versoekings met sonde verwar nie. Menslike werke bring nie die vrugte van die Gees voor nie, dit kan wel soms in die vlees nagemaak word, maar dit is nie werklik die vrug van die Gees nie. (selfs ongelowiges kan goeie werke in die vlees doen.) Dit is slegs die Gees van God wat werklik die vrug van die Gees in ‘n gelowige se lewe kan voortbring, en wat weer op sy beurt tot goeie werke, wat enigsins ewigheidswaarde het, aanleiding sal gee. Die gelowige wie onder die Dispensasie van Genade/Kerk leef het dus nie ‘n vrybrief om goedsmoeds sonde te pleeg nie. Sonde het gevolge! (Lees gerus die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe”.)

c. Gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Genade/Kerk leef moet die Wet van Christus vervul:
Gal.6:2 “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.
Die Wet van Christus kan in kort as die Wet van Liefde (waarvan God se liefde en heiligheid die standaard is) opgesom word.
Joh.13:35 “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”
Rom.13:10 “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.”
Ware liefde, wat aan God se standaarde voldoen, is ‘n liefde wat nie sonde in ons, of ons medemens se lewens goedpraat, regverdig of aanmoedig nie. Ons moenie die liefde van die wêreld met die liefde van God verwar nie. Die wêreldse liefde regverdig omtrent alle sondes, soos byvoorbeeld homoseksualiteit, en ander sodanige optredes, en dit nogal onder die dekmantel van liefde. Ongelukkig is daar deesdae baie kerke wat hierdie goddelose leerstelling regverdig, en selfs voorstaan. Indien ‘n persoon dit sou waag om in hierdie gemeentes hom teen sondige leefstyle uit te spreek word hy daarvan beskuldig dat hy nie in liefde optree nie. Hierdie mense verwar die wêreldse liefde met ware liefde wat God as bron het.

Ter Afsluiting:

Daar is ongelukkig baie teoloë wat verkeerdelik verkondig dat God vir eens en altyd met Israel, as volk, klaar is en dat die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang het. (die dwaalleerstelling wat as vervangingsteologie bekend staan, en wat onder meer ook ook deur die Drie Afrikaanse Susterkerke in Suid Afrika verkondig word) Die Skrifte weerlê egter hierdie dwaalleerstelling en God het ook aan Israel ‘n profesie gegee wat verseker dat hulle eendag, na afloop van die Groot Verdrukking, in ere in hulle eie land herstel sal word, naamlik:
Deut.1 “En as al hierdie dinge oor jou (Israel as volk) kom, die seën en die vloek wat ek jou voorgehou het, en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die HERE jou God jou verdryf het, 2 en jy jou tot die HERE jou God bekeer en na sy stem luister net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel, 3 dan sal die HERE jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die HERE jou God jou verstrooi het. 4 Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal. 5 En die HERE jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, (die grondgebied van Israel in die Midde Ooste) en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders.” (lees gerus weer die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?”)

Indien ‘n persoon nie die doel van die Wet van Moses nie mooi verstaan nie, asook nie die korrekte dispensasionele konteks handhaaf nie, gee dit daartoe aanleiding dat die persoon die Wet van Moses op gelowiges, wie tydens die Dispensasie van Genade/kerk leef, wil afdwing, nieteenstaande die feit dat die Kerk nie onder die Wet van Moses val nie maar eerder onder die Wet van Christus. Dit gee ook in baie gevalle aanleiding tot die verkondiging van ‘n werke evangelie, waar die nakoming van die Wet van Moses die bepalende faktor is of ‘n persoon gered is of nie. So ‘n werke evangelie sal niemand kan red nie. Die Here Jesus Christus het die Wet van Moses volkome vervul, en toe aan die kruis vir die mensdom se sondes gesterf. Sodoende het Christus vir eens en altyd die probleem van die mens se sonde voor God opgelos en daarom het die Vader die voorhangsel in die tempel van bo tot onder geskeur.
Matt.27:51 “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;”

Ongelukkig is daar ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom wat d.m.v. wettisisme poog om weer die voorhangsel toe te werk. Dit is ‘n ernstige mistasting, en daarom moet die Wet van Moses binne die korrekte dispensasionele konteks bestudeer en toegepas word. Onthou, die Wet van Moses was nooit vir die Kerk bedoel nie. Die volgende dispensasie wat ons sal bestudeer is die Dispensasie van Genade/Kerk. Dit is my bede dat hierdie artikel ‘n seën vir diegene sal wees wat die moeite gedoen het om dit volledig deur te lees.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.