Die Wegraping

Die Wegraping. Deel 1

Baie mense het my al gekontak en gevra of die Bybel wel duidelik die leerstelling van die Wegraping verkondig, en indien wel, wat die teksgedeeltes is wat hierdie leerstelling bevestig. Voordat ek egter hierdie vraag beantwoord, wil ek dit net duidelik stel dat ek dit as ‘n tragedie beskou, dat so min gemeentes wel die moeite doen om die profesieë, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, te bestudeer en verkondig. Ek beskou ook die gebrek aan die duidelike verkondiging van die profetiese woord, as een van die grootste redes waarom die belydende Christendom so wêreldgesind en mislei is. Erger nog, is die feit dat sekere groepe, aan die anderkant van die spektrum, weer op hulle beurt die profetiese woord, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, verontagsaam en self ignoreer en op buite Bybelse profesieë, deur selfaangestelde apostels en profete, staatmaak om toekomstige gebeure te wete te kom. In baie gevalle word dan profetiese uitsprake en leerstellings verkondig wat lynreg met die Bybel in botsing is, en wat die hoorders daarvan ernstig gaan mislei en wat weer tot groot ontnugtering gaan lei. Daar is baie waarheid in die gesegde wat soos volg lees: “Indien jy wil hoor wat God aan jou sê, moet jy jou Bybel bestudeer. Dit is God se woord aan jou!”

Indien die Bybelse profesieë, wat die leerstelling van die wegraping insluit, weer bestudeer en verkondig word, sal dit daartoe bydra dat die kerk, in afwagting op die Here Jesus Christus se koms vir haar, weer heilig sal lewe en met groter doelgerigtheid Christus se belange op aarde verteenwoordig. Dit sal verder daartoe bydrae dat die Kerk minder wêreldgesind sal wees en weer soos ‘n lig in ‘n donker wêreld sal begin skyn. Veral indien ons besef dat die Here Jesus Christus op enige gegewe tyd Sy verskyning, deur die wegraping kan maak en dat ons aan Hom sal moet verduidelik wat ons met ons lewens gemaak het.
Tit 2:11 “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 2:12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, 2:13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,”

Baie mense beweer ook verkeerdelik, dat die leerstelling van die Wegraping nie in die Bybel voorkom nie en dat dit ‘n onlangse uitvindsel is. Met hierdie artikel sal daar gedemonstreer word, dat hierdie leerstelling wel in die Bybel voorkom en dat dit nie ‘n onlangse uitvindsel is nie, maar dat Jesus Christus self hierdie leerstelling verkondig het. Verder sal ook gedemonstreer word dat die Apostel Paulus verder  ook self hierdie leerstelling verkondig het en daarop uitgebrei het. Daar sal ook gepoog word, om te demonstreer dat die Wegraping voor die aanbreek van die verdrukking sal plaasvind, en dat die Kerk, wat die Bruid van Christus is, nie die voorwerp van God se toorn is nie, maar hoofsaaklik die Israeliese volk en sekondêr die Goddelose wêreld as geheel. Die Bybel waarborg egter alle gelowiges, wat tydens die Kerk dispensasie wedergebore raak, dat hulle God se oordele oor die wêreld sal vryspring, deurdat Hyself hulle uit die wêreld sal kom wegneem om te wees waar Hy is, naamlik die Hemel.

Dit is baie belangrik om te besef, dat baie van die belangrikste leerstellings wat ons in die Bybel vind, nie afgelei is van een enkele teksgedeelte nie, maar wel uit ‘n sistematiese bestudering en samevoeging van verskeie teksgedeeltes, wat op hulle beurt in geheel ‘n leerstelling vorm. Sommige leerstellings word wel soms direk in die Bybel vermeld, soos byvoorbeeld Jesus Christus se Goddelikheid, soos wat ons dit in Joh 1:1 vind.
Joh 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”
Ander leerstellings, soos byvoorbeeld die leerstelling van die Drie-Eenheid is egter die produk van ‘n sistematiese harmonisering van die baie teksgedeeltes wat oor hierdie onderwerp handel of daarmee verband hou. Teoloë wat die Bybel as God se woord aan die mens beskou, het oor die jare heen al hierdie kwessies, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, bestudeer en met verloop van tyd tot die gevolgtrekking gekom, dat God ‘n Drie-Eenheid is, en dat die Here Jesus Christus, God in die vlees is, naamlik volkome mens en volkome God. (Bogenoemde kwessies gaan egter nie in hierdie artikel bespreek word nie, en indien dit die Here se wil is sal ek later daaroor uitbrei.)

Net so sal ‘n sistematiese, letterlike bestudering en interpretasie van al die Nuwe-Testamentiese teksgedeeltes, wat met die wegraping verband hou, logies tot die leerstelling van die voor-verdrukking wegraping lei, d.w.s dat alle gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof in Jesus Christus kom, voor die aanbreek van die verdrukking, hulle verheerlikte liggame sal ontvang en deur die Here Jesus Christus hemel toe geneem sal word.
1Ts 4:16 “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
Ek is vas oortuig dat die Bybel wel die leerstelling van die voor-verdrukking wegraping verkondig en ek sal poog om hierdie feit duidelik uit die Bybel te bevestig.

‘n Paar fundamentele kwessies:

Daar is vier feite wat die raamwerk vir die voor-verdrukking wegraping bied. Die eerste feit is die konsekwente, letterlike verklaring of uitleg van die Bybel.
Die tweede feit, is die leerstelling van pre-mellennialisme.
Die derde feit is om seker te maak, dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen die volk Israel en die Kerk gemaak word en moet daar verseker word dat hierdie twee groepe nie met mekaar verwar word nie. (Later sal meer oor hierdie feit uitgebrei word. Lees asb die artikel “Het die Kerk vir Israel as God se Verbondsvolk vervang?“)
Die vierde en laaste feit is die leerstelling van futurisme, d.w.s die leerstelling dat baie van die profesieë, wat in die Bybel opgeteken staan, nog in die toekoms in vervulling moet gaan. Dit moet ook baie duidelik verstaan word dat hierdie leerstellings nie net aannames is nie, maar eerder belangrike Bybelse waarhede is, waarop die leerstelling van die wegraping gebou is. Hierdie vier punte sal om gerieflikheidsonthalwe kortliks hieronder verduidelik word.

Letterlike interpretasie:

Indien ons die Bybel korrek wil verstaan, is dit van uiterste belang om die Bybel op ‘n konsekwente letterlike wyse te interpreteer. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (7de uitgawe) omskryf die woord “Letterlik” soos volg: “Stip na die letter soos dit daar geskryf staan; nie figuurlik nie; heeltemal feitelik” Dus behels letterlike interpretasie die benadering wat gebaseer is op die werklike betekenis van woorde, wat volgens hulle alledaagse gewone betekenis vertolk word. Daarom is dit ook dan van uiterste belang, dat ons nie verder as die gewone betekenis van woorde gaan en ons eie gevolgtrekkings in die teksgedeelte in lees of daaruit weg laat nie. Die letterlike vertolking van die Bybel beteken dood eenvoudig net dat ons die Bybel op die normale alledaagse betekenis van die taal interpreteer. Dit kan slegs gedoen word, indien ons die Bybel volgens die grammatiese, (om die grammatiese reëls van die taal te eerbiedig) historiese (om die historiese agtergrond van die teksgedeelte ingedagte te hou) en kontekstuele agtergrond (in ooreenstemming met die konteks waarin die woorde staan) te verklaar. Dit is in kort die letterlike, grammatiese, historiese, en kontekstuele metode van Bybel uitleg.

Diegene wat van die letterlike metode van interpretasie gebruik maak, erken dat ‘n frase of woord in sy alledaagse betekenis gestel kan word, of dat ‘n woord of frase soms op ‘n meer kleurvolle manier gestel word, wat geensins afbreek maak aan die betekenis van die woord of frase nie. Net soos wat die geval in ons eie Afrikaanse taal is, stel die Bybel oor die algemeen ‘n woord of frase in hulle alledaagse vorm voor, soos bv: “My hond het vandag gesterf.” Soms word dieselfde frase op ‘n meer kleurvolle manier gestel, sonder om afbreuk aan die betekenis van die frase te doen, soos bv: “My hond het vandag die emmer geskop” Dit bly egter baie belangrik om te onthou, dat die frase wat gebruik word, altyd iets beskryf wat werklik plaasgevind het en nie iets beskryf wat nie werklik plaasgevind het nie. (Dan sou dit ‘n leun wees) Daar is egter ‘n goue reël, vir Bybel interpretasie, wat ons sal help om tussen figuurlike taal en gewone taal te onderskei. Hierdie reël lees soos volg: “Indien die gewone sin van die skrifgedeelte logiese sin maak, soek dan vir geen ander betekenis in die teksgedeelte nie. Derhalwe moet ons elke woord op sy primêre, gewone alledaagse en letterlike betekenis verstaan, behalwe as die feite in die omliggende konteks, wat in die lig van soortgelyke teksgedeeltes bestudeer is, en wanneer die aksiomatiese en basiese waarhede iets anders aandui”

Om die hele Bybel op ‘n konsekwente, letterlike wyse te interpreteer, lei logies na die Voor- Verdrukking Wegraping leerstelling. Dit beteken, dat die profesieë soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, soos enige ander gedeelte van die Bybel verstaan en vertolk behoort te word. Die profetiese gedeeltes maak dus gebruik van dieselfde letterkundige beginsels wat ons ook in al die ander teksgedeeltes van die Bybel vind.

Pre-Millennialisme:

Pre-Millennialisme is die volgende fundamentele beginsel waarop die leerstelling van die Voor-Verdrukking Wegraping gebou is. Pre-Millennialisme is die leerstelling wat verklaar dat Jesus Christus se Wederkoms na die afloop van die Groot Verdrukking en voor die aanvang van Jesus Christus se duisendjarige Vrederyk op aarde sal plaasvind, en vanwaar Jesus Christus, vanuit die huidige stad Jerusalem, wat in Israel gesetel is, die aarde sal regeer. Hierdie gevolgtrekking word gemaak, deur om dood eenvoudig te lees en verstaan wat die Bybel oor hierdie onderwerp te sê het. (Op 19:11-20:6) Die leser word aangeraai om self hierdie teksgedeelte, in terme van die bogenoemde beginsels te lees, dan sal dit opgemerk word hoe maklik dit in werklikheid is om die Bybel te verklaar.

Die onderskeid tussen die volk Israel en die Kerk:

Die derde beginsel waarop die Voor-Verdrukking Wegraping gebou is, is die Bybelse leerstelling, wat verklaar dat God oor ‘n enkele program vir die ganse mensdom beskik, waarin twee afsonderlike groepe mense betrokke is, nl die Israelitiese volk (die Jode) en die Kerk (wat uit alle gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof in Christus kom bestaan. Jode sowel as nie-Jode)
Rom 10:12 Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.
Efs 2:13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, (heiden nasies) naby gekom deur die bloed van Christus. 2:14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak (die Kerk) en die middelmuur van skeiding afgebreek het 2:15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep (die Kerk) 2:16 en albei in een liggaam (die Kerk) met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap (tussen Jood en nie-Jood) doodgemaak het.”
Hierdie Skriftelike waarhede is gesistematiseer en en word vandag dispensasionalisme genoem.

Alhoewel die grondslag vir verlossing vir die Jood sowel as die nie-Jood in albei gevalle God se genade is, het God egter twee afsonderlike profetiese programme vir elke groep. God se profetiese program vir die volk Israel (Jode) is op die oomblik op ys gesit, totdat God Sy huidige program vir die Kerk afgehandel het.
Rom 11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;”
(Vir meer inligting oor hoe God se plan met Israel sal verloop, word die leser aangeraai om die artikels oor die “die Profetiese rede op die Olyfberg, asook die gelykenis van die tien Maagde en die gelykenis van die Talente,  asook die gelykenis van die Ponde te lees)
Nadat die volle getal heidene, sowel as ‘n baie klein minderheid gelowige Jode, tot die Kerk gevoeg is, sal Hy die Kerk, wat as Sy Bruid bekendstaan, kom haal (wegraping) en saam met Hom hemel toe neem, soos wat Hy belowe het.
Joh 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
(Ek sal later meer oor hierdie teksgedeelte uitbrei)

Sodra die Kerk, met die wegraping, uit die weg geruim is, sal God weer met Sy program vir die volk Israel begin, wat op die Verdrukking sal uitloop en wat as die tydperk van “benoudheid vir Jakob” bekendstaan.
Jer 30:5 “Want so sê die HERE: Ons het ‘n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! 30:6 Vra tog, en kyk of ‘n manspersoon baar? Waarom sien ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander?
30:7 Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word. 30:8 En op dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. 30:9 Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek. 30:10 Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob, spreek die HERE; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak. 30:11 Want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou te verlos. Want Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie.”
Onthou die beginsels wat ons vroeër in hierdie artikel bespreek het, en hoe ons gesê het dat ons nie Israel met die Kerk moet verwar nie, en dat ons die teksgedeelte in die gewone alledaagse taal en in konteks moet lees. Indien ons hierdie reëls op bogenoemde teksgedeelte toepas, sal ons duidelik opmerk dat God hier met die Joodse nasie wat Dawid as koning oor hulle gehad het, spreek en nie met die kerk soos wat sommige groepe deesdae verkondig nie. Onthou Dawid was koning oor Israel en nie oor die kerk nie!! Om hierdie rede is dit so belangrik om nie teksgedeeltes wat vir die volk Israel bedoel is op die Kerk van toepassing te maak nie. Al wat ons in hierdie teksgedeelte moet doen, is om vas te stel met wie die Here hier praat, so eenvoudig soos dit. Israel beteken Israel! En nie die Kerk nie! Lees die teksgedeelte met die gewone betekenis van woorde in gedagte.

Indien ons teksgedeeltes wat op Israel van toepassing is, op die Kerk wil toepas, verwar ons die twee programme wat God vir die twee afsonderlike groepe mense het. Dieselfde beginsel geld vir die Evangelie, wat God se genadegawe aan die mensdom is. Indien ons werke by eenvoudige geloof, as vereiste vir wedergeboorte voeg, dan verander ons God se plan met die Evangelie en verkondig ons dus ‘n valse evangelie, wat in effek ‘n werke evangelie is. Ons moet verder ook nie dissipelskap met wedergeboorte verwar nie, want dit kan verreikende gevolge vir die hoorders daarvan inhou, want dit sal verhoed dat hulle wedergebore word. Ek vra om verskoning, omdat ek so op hierdie punt hamer, maar dit kan nooit oorbeklemtoon word hoe belangrik dit vir ons is om hierdie feite te verstaan en dit toe te pas nie. Dieselfde beginsel geld vir Israel en die Kerk. Indien ons hierdie twee groepe met mekaar verwar, skep ons ‘n valse leerstelling wat nie op God se woord gebaseer is nie. Dit behoort ons geensins te verbaas, om uit te vind, dat God se plan vir die geskiedenis van die mensdom, ‘n multidimensionele aspek bevat nie, nl Israel en die Kerk. (Efs 3:10) As menslike skrywers verskeie komplotte in hulle verhale kan inweef, hoeveel te meer kan die Alwetende, Alwyse Skepper van alle dinge nie ook dieselfde doen nie?! Mense wat God se plan vir Israel met die van die Kerk vermeng, vernietig verder die basis waarvoor God die leerstelling van die Wegraping daar gestel het. Die Bybel verkondig baie duidelik dat God twee afsonderlike planne met Israel en die Kerk het, nieteenstaande die feit dat altwee groepe op grond van God se genade gered word.

Futurisme:

Die vierde en laaste beginsel wat as grondslag vir die leerstelling van die Voor-Verdrukking Wegraping dien, is futurisme. Futuriste (toekomstige) glo dat feitelik alle onvervulde Bybelse profesieë nie tydens die huidige Kerk dispensasie in vervulling sal gaan nie, maar dat die meeste profesieë in die toekoms, gedurende die Verdrukking, met die Wederkoms van Christus en tydens en met afloop van die duisendjarige vrederyk van Christus in vervulling sal gaan. Die voor-verdrukking wegraping leerstelling kan slegs op die futuristiese sienswyse gebaseer word. Hierdie gevolgtrekking word op die toepassing van ‘n konsekwente letterlike interpretasie van die Bybel gebaseer.

Net soos wanneer ‘n man ‘n brief aan sy vrou skryf, wat op grond van die taal en kulturele agtergrond konteks, wat altwee van bewus is en kennis van dra, moet die brief ook uit letters en woorde, wat altwee verstaan, geskryf word. Dan word van die vrou, verwag om van die konsekwente letterlike interpretasie metode gebruik te maak wanneer sy die brief lees, anders sal sy nie verstaan wat haar man met die brief bedoel het nie. Ons almal maak daagliks gebruik van hierdie metode, wanneer dit by die lees van briewe, koerante en tydskrifte kom, en daarom geld dieselfde beginsel as dit by die lees van die Bybel kom. Die Bybel is geen uitsondering in hierdie opsig nie! Indien die man nou in die brief skryf dat hy graag ‘n kilogram biltong vir sy verjaarsdag wil hê, dan is dit tog belangrik dat die vrou weet wat die woord biltong beteken, en dat sy dit letterlik en in die Suid Afrikaanse konteks waarin hulle grootgeword het, verstaan. Indien sy arbitrêr sou besluit dat haar man nie biltong bedoel het nie, maar die brief allegories vertolk en haar eie mening in haar man se woorde inlees, en besluit dat hy in werklikheid ‘n lekker bord groente bedoel het, moet sy nie verbaas wees as haar man bitterlik teleurgesteld op sy verjaarsdag is nie. Dieselfde beginsel geld met die bestudering van die Bybel. Die Bybel is God se woord aan die mens en daarom moet ons die Bybel op konsekwente letterlike wyse lees en interpreteer, om sodoende tot die volle begrip van wat God aan ons wil sê te kom. Dit is in kort futurisme asook die konsekwente letterlike interpretasie metode van Bybel uitleg, en dit is ook die rede waarom ek hierdie metode van Bybel interpretasie gebruik.

Spesifieke Voor-Verdrukking Wegraping argumente:

Die waarheid van die wegraping is vir die eerste keer in Joh 14:1-3 deur Jesus Christus self aan Sy dissipels bekendgestel.
Joh 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Opmerking: Waar is die Vader se woning? Die Vader is in die Hemel en dit is waar Jesus Christus heen gegaan het met Sy hemelvaart. Dit moet verder gelet word, dat die Here Jesus Christus fisies in Sy verheerlikte liggaam opgevaar het en nie net geestelik nie.
Hnd 1:9 “En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. 1:10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, 1:11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”

Jesus Christus het ook belowe, dat as Hy hemel toe gegaan het, Hy vir Sy dissipels plek gaan voorberei. Jesus Christus het hier net met Sy dissipels gepraat, wat almal gelowiges was, en is dus verteenwoordigend van al die gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof sou kom. Sodra Jesus vir ons plek voorberei het , het Hy belowe dat Hy sou terugkom en ons, die Kerk, saam met Hom hemel toe sou neem, sodat ons vir altyd by Hom kon wees. Dit is uiters belangrik om hierdie teksgedeelte letterlik, net soos wat God dit hier gestel het, te lees. Dus, het Jesus Christus die volgende beloftes aan ons gemaak. 1. Hy is in huidiglik in die Hemel, wat as die Vader se woning bekendstaan en daar is baie wonings. 2. Jesus gaan, om in Sy Vader se huis vir ons plek voor te berei. 3. Sodra Hy klaar vir ons plek voorberei het, sal Hy weer kom en ons kom haal en saam met Hom neem. Waar is Jesus Christus tans? In die hemel aan die regterkant van die Vader. Let mooi op na Jesus se woorde:” Ek sal julle na My toe neem, sodat julle kan wees waar ek is.” Dit is baie duidelik, dat die Here nie van Sy wederkoms aarde toe praat, om sy koninkryk hier te kom vestig nie, maar Hy praat van Sy wederkoms om Sy bruid , die Kerk, te kom haal en saam met Hom hemel toe te neem. Hier word niks gesê, dat Hy by hierdie geleentheid Sy koninkryk op aarde sou vestig nie. Die wegraping is dus fase een van Jesus Christus se wederkoms, en dit is  verder duidelik dat Sy wederkoms in fases plaasvind, net soos wat ons verlossing in fases plaasvind. (Lees asb die artikel “drie fases van verlossing” vir meer besonderhede.) Indien Jesus Christus op hierdie oomblik Sy koninkryk op aarde sou vestig, kon Hy ons nie saam met Hom hemel toe neem nie en sou Hy dit so gestel het. Dus, sou Hy nie die belofte kon maak, dat Hy ons sou kom haal en na Sy Vader se huis sou neem nie, maar Hy sou gesê het dat Hy sou terugkeer aarde toe en vir altyd hier op aarde by ons sou wees. Dit is egter nie wat Jesus Christus hier belowe het nie. Dit is verder ook duidelik, dat die Here van die eerste fase van Sy wederkoms, naamlik die wegraping praat en nie van die tweede fase van Sy wederkoms, wanneer Hy Sy koninkryk fisies hier op aarde sal vestig nie. Daarom is dit baie belangrik dat ons hierdie feit raaksien, verstaan en ingedagte hou soos wat ons met hierdie studie voortgaan. Dit is ook dan foutief om te beweer dat die leerstelling van die Voor-Verdrukking Wegraping ‘n onlangse leerstelling is, want Jesus Christus self het hierdie leerstelling bekend gemaak, en soos ons sal opmerk, het die Apostel Paulus ook hierdie waarheid op basies dieselfde wyse verkondig.

1Ts 4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 4:14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. 4:15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Opmerking: Dit is nooit raadsaam om ‘n leerstelling op grond van een enkele teksgedeelte te bou nie. Daarom sal daar gedemonstreer word, dat Joh 14:1-3 nie die enigste teksgedeelte is wat oor hierdie onderwerp handel nie, maar dat die apostel Paulus presies dieselfde leerstelling verkondig het, en boonop daarop uitgebrei het. Daarom sien ons ook, dat Paulus presies dieselfde onderwerp in bostaande teksgedeelte bespreek, terwyl hy omtrent twintig jaar nadat Jesus Christus die stelling in Joh 14:1-3 gemaak het, bogenoemde waarhede aan die Thessalonisense gerig het, om gelowiges wat geliefdes aan die dood afgestaan het, te bemoedig met die wete dat indien die wegraping in hulle leeftyd sou plaasvind, hulle met hulle geliefdes verenig sou word.

Van waar af kom die Here wanneer Hy die geeste van die afgestorwe gelowiges saambring? Ja! Hy kom van die hemel af, waarheen Hy na Sy opstanding fisies opgevaar het, soos wat Hy ook in Joh 14:1-3 aan Sy dissipels verkondig het. In 1Ts 4:16 sien ons, dat net persone wat in Christus gesterf het (dit is slegs mense wat tydens die kerk dispensasie wedergebore geword het, want net hierdie gelowiges word beskryf as in Christus te wees, omrede die Heilige Gees hulle na wedergeboorte in Christus ingedoop het.(Rom 6:3; 1Ko 12:13; Gal 3:27) Die Ou Testamentiese gelowiges was nooit deur die Gees in Christus ingedoop nie, want Hy kon nog nie, want Jesus Christus het toe nog nie vir hulle sondes aan die kruis betaal nie, en daarom is hulle ook nie deur die Heilige Gees verseël, {2Ko 1:22 Efs 1:13 Efs 4:30} soos wat dit die geval met die Kerk is nie.)

1Ts 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Opmerking: Ek vra om verskoning omdat ek weer hierdie teksgedeelte aanhaal, maar dit is noodsaaklik om hierdie punt duidelik gestel te kry. So, die Here daal van die hemel af neer, vergesel van die stem van ‘n aartsengel en die blaas van ‘n basuin van God. Dan sien ons dat daar ‘n opstanding plaasvind, maar soos reeds genoem, is dit net gelowiges wat tydens die kerk dispensasie tot geloof gekom het, wat by hierdie geleentheid opgewek word. Daarna sal ons wat nog met die aanbreek van die wegraping leef, verander word, en ons verheerlikte liggame ontvang en sal dan saam met die ander gelowige ontslapenes in wolke die Here Jesus tegemoet gaan, net soos Hy in Joh 14:1-3 aan Sy dissipels belowe het. Dit is ook baie opmerklik, dat die Here nie Sy voete op aarde sit nie. Ons gaan op na Hom toe! Hier word dus nie gepraat van die tweede fase van Jesus se wederkoms, wanneer Hy fisies Sy voete op die Olyfberg neersit en wanner Hy Sy duisendjarige vrederyk op aarde sal vestig, nie. Dit sluit by die feit, dat Hy hemel toe gaan om vir hulle plek te gaan voorberei, aan, wat Hy in Joh 14:1-3 aan Sy dissipels beloof het. Indien Hy op hierdie geleentheid aarde toe sou kom, om Sy koninkryk hier te kom vestig, sou dit nooit vir Hom nodig gewees het om vir ons ‘n plek in die Hemel te gaan voorberei nie en sou Hy nie gesê het dat Hy sou terugkom en ons na Sy Vader se huis toe neem nie. Onthou Jesus se belofte om ons te neem waar Hy nou is.
Joh 14:3 “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Waar is die Here nou? Ja, in die Hemel! En dit is waarheen Hy gesê het Hy vir ons gaan plek voorberei en waarheen Hy ons gaan neem! Dit is baie duidelik, dat die Here van die wegraping hier praat en nie van die tweede fase van Sy wederkoms aarde toe nie!

Om bogenoemde stelling te bevestig, gaan ons die twee teksgedeeltes van Joh 14:1-3 en 1Ts 4:13-18 met mekaar vergelyk en dan sal ons opmerk, dat die twee teksgedeeltes, gedagte vir gedagte dieselfde ooreenkomste toon, en dat 1Ts 4:13-18 ‘n parallelle stelling is van wat Jesus Christus in Joh 14:1-3 gemaak het en dat hulle presies oor dieselfde onderwerp handel.

Joh 14:1-3 1Ts 4:13-18
Ontsteld Vers 1 Treur Vers 13
Glo Vers 1 Glo Vers 14
God;(Die Vader) My (Jesus) Vers 1 God;(die Vader) Jesus (Jesus) Vers 14
Vir julle gesê het Vers 2 Sê ons vir julle Vers 15
Kom Ek weer Vers 3 Wederkoms van die Here Vers 15
Sal julle neem Vers 3 Weggevoer word Vers 17
Na My toe Vers 3 Die Here tegemoet Vers 17
Wees waar ek is Vers 3 Sal ons altyd by die Here wees Vers 17

Opmerklike punte:

  1. Die woorde en frases vorm basies direkte parallelle.
  2. In beide teksgedeeltes volg die frases mekaar in presies dieselfde volgorde.
  3. In beide gevalle word daar slegs met wedergebore persone gepraat.
  4. Daar is nie een onreëlmatigheid in die progressie van die woorde in die frases nie.
  5. In beide teksgedeeltes word die gelowiges vanuit moeilike omstandighede op aarde na die glorie van die hemel geneem.
  6. Uit bostaande feite is dit baie duidelik, dat die twee teksgedeeltes oor presies dieselfde onderwerp handel. Paulus verkondig dus presies dieselfde feite as wat Jesus Christus aan Sy dissipels verkondig het. Die direkte ooreenkomste tussen die bostaande teksgedeeltes dien as baie sterk bewys dat daar wel ‘n Voor-Verdrukking Wegraping sal plaasvind soos wat die res van hierdie artikel sal demonstreer.

Daar is absoluut geen twyfel by my dat daar wel ‘n Voor-Verdrukking Wegraping sal plaasvind nie, en dat beide Jesus Christus, asook die apostel Paulus, hierdie leerstelling verkondig het. Dus kan dit nie ‘n onlangse uitvindsel wees, soos wat baie mense verkeerdelik beweer nie! Onthou ons moet slegs die Bybel as basis vir ons leerstellings gebruik en nie tradisies of menslike argumente nie!

Voordat ons na die tweede gedeelte van hierdie artikel aan beweeg, is daar net een feit wat hier aangespreek moet word. Daar is baie mense wat beweer dat die woord “wegraping” nie in die Bybel voorkom nie. Die woord wat in die Afrikaanse Bybel (1953) as “wegvoer” in 1Ts 4:17 vanuit die oorspronklike Grieks vertaal is, is die woord “harpazo” wat soos volg in Afrikaans vertaal kan word. 1. Wegvoer. 2. Wegraap. 3. Vinnig wegruk. Dus beteken die woord “harpazo” om vinnig weggeruk te word, en word hierdie woord ook gebruik om die aksie te beskryf wanneer ‘n roofvoël sy prooi gryp en vinnig daarmee wegvlieg, of die aksie wanneer ‘n dief iets van ‘n tafel af gryp. Dit is dan ook foutief om te beweer dat die woord wegraping nie in die Bybel voorkom nie. Die woord is miskien nie in die Afrikaanse Bybel so oor vertaal nie, maar die woord kom wel in die oorspronklike Griekse Grondteks voor. Die Engelse woord “Rapture” is vanaf die Latynse vertaling van die Griekse woord “harpazo” afgelei. “Harpazo” is as “rapere” in Latyns en vandaar die Engelse woord “Rapture”

Daar behoort dus geen twyfel by die leser te wees of daar wel ‘n wegraping gaan plaasvind nie. Met die Wegraping sal alle gelowiges, wat gedurende die Kerk dispensasie tot geloof gekom, en afgesterf het, se geeste met hulle verheerlikte opgestane liggame verenig word en ons wat nog in die lewe is, sal in ‘n oogwink verander word en weggeraap word die Here tegemoet, waar ons verewig saam met Hom sal wees!
1Ko 15:52 “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. 15:53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. 15:54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. 15:55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”

Noudat ons die basiese beginsels vir die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling vasgelê het, asook die metodes wat gebruik is om tot hierdie gevolgtrekking te kom, naamlik die letterlike interpretasie metode van Bybel uitleg, Pre-Millennialisme, die onderskeid tussen Israel en die Kerk, asook Futurisme, sal ons in deel twee van hierdie artikel ses spesifieke argumente aanvoer, wat die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling sal bevestig en verder onderskryf. Met die skryf van hierdie artikel is dit my wens om enige onduidelikheid oor hierdie leerstelling uit die weg te ruim, en dat dit ons as gelowiges sal aanspoor om ten volle vir Christus te lewe, met die wete dat Hy enige tyd op die toneel kan verskyn, en ons met Homself en al ons geliefdes wat in Christus gesterf het, versoen sal word.

Deel twee volg kortliks!

Seën Groete

Vic

 
Deel met ander asb.