dood

Tydperk tussen die dood en die oordeel

Vraag: Waar gaan die mense in die tussentyd na hul dood terwyl ons almal wag vir die oordeelsdag? Hoe kan van hul reeds in die hemel wees en sommiges reeds in die hel?

Antwoord: Baie goeie vraag! Voor ek egter jou vraag gaan beantwoord is dit belangrik dat ons verstaan wat die Bybel met dood bedoel. Volgens die Bybel word die dood nooit as totale vernietiging of die ophou van bestaan bestempel nie, en word dit altyd as skeiding tussen siel, gees en liggaam bestempel. ‘n Persoon wat in ongeloof tot sterwe kom word vir altyd van die teenwoordigheid van God geskei maar daardie persoon se gees en siel lewe bewustelik, of in die teenwoordigheid van God in die hemel of in die doderyk, voort.(Luk 16:19-31) (Ek sal later meer hieroor uitbrei.)

Die apostel Paulus het ‘n mooi beskrywing gegee van wat met ‘n gelowige gebeur wat in Christus tot sterwe kom.
2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”
In bostaande teksgedeelte stel die apostel Paulus dit duidelik dat die gelowige, na sy afsterwe, by die Here inwoon. Ons weet ook dat die Here in die hemel is en daarom kan met sekerheid gesê word, dat indien ‘n gelowige tot sterwe kom sy liggaam in die graf gelê word en die persoon se gees na die Here wat in die hemel woon gaan. Die Here sal met die wegraping al die gelowiges wat tot afsterwe gekom het se geeste saam met Hom bring, en hulle geeste met hulle opgestane verheerlikte liggame versoen, voordat Hy hulle saam met Hom hemel toe sal neem. (Fase drie van ons verlossing. Lees asb. die artikel “drie fases van verlossing” om meer oor hierdie onderwerp te leer.) Diegene wat ten tyde van die wegraping nog leef se liggame sal verander word en hulle sal met hulle verheerlikte liggame oorklee word, alvorens hulle die Here in die lug tegemoet gaan.
1Ts 4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 4:14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. 4:15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 4:17  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”

‘n Tweede punt wat jy moet verstaan is dat voordat Jesus Christus aan die kruis vir die mensdom se sonde versoening gemaak het, het alle mense na afsterwe na die doderyk gegaan wat in twee afsonderlike dele verdeel was. Die een deel wat as Abraham se boesem bekendgestaan het, was die plek waarheen alle gelowiges gegaan het. Hierdie plek was ‘n plek van rus en was daar geen sprake van pyn en lyding nie. Aan die anderkant was daar die plek van smarte, waarheen alle ongelowiges gegaan het. Die twee gedeeltes van die doderyk was deur ‘n groot kloof van mekaar geskei en kon daar nie van die een plek na die ander oorgegaan word nie. Jesus Christus het aan ons ‘n mooi beskrywing van die doderyk gegee.
Luk 16:19 “En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. 16:20 En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. 16:21 En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. 16:22 En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. 16:23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. 16:24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. 16:25 Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. 16:26 En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. 16:27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— 16:28 want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. 16:29 Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. 16:30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.16:31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

Nadat die Here Jesus Christus vir die mensdom se sondes aan die kruis betaal het, deur om aan die kruis vir ons sondes te sterf, het Hy na die doderyk neergedaal en die gelowiges se geeste wat in die paradys gedeelte van die doderyk was, gaan haal en hulle saam met Hom hemel toe, na Sy Vader se huis geneem.
Efs 4:8 “Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. 4:9 Maar dít: Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? 4:10 Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.”
Let egter daarop, dat die Here nie na die doderyk gegaan het en daar in ons plek gestraf is nie. Hierdie valse leerstelling vind mens onder die Woord-Geloof beweging waarvan Kenneth Copeland en Charles Capps  deel is. Joyce Meyer het ook hierdie dwaalleer verkondig. Die Here het aan die kruis vir ons sondes versoening gemaak, deurdat Hy daar met Sy lewe vir ons sondes betaal het, en deur God die Vader vir ons sondes gestraf is, nie in die hel nie. Voor die kruisiging van die Here Jesus Christus kon niemand na die hemel gaan nie, want Jesus Christus het toe nog nie vir hul sondes versoening gemaak nie en daarom het die Ou-Testamentiese gelowiges na die paradys gedeelte van die doderyk gegaan, in afwagting vir die soendood van Christus aan die kruis. Jesus Christus het ook net die gelowiges van die Ou-Testament se geeste saam met Hom hemel toe geneem en die geeste van die ongelowiges is nog steeds in die Hel gedeelte van die doderyk waar hulle op die Wit Troon Oordeel wag, waar hulle op grond van hulle werke geoordeel gaan word en in die poel van vuur gewerp gaan word. (Lees asb. die artikel “Die Wit Troon Oordeel” vir meer besonderhede oor hierdie oordeel.) Ongelowiges wat tydens die Kerk dispensasie sterf gaan ook na hierdie plek, totdat hulle by die Wit Troon Oordeel in die poel van vuur gewerp word.
Op 20:15 “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskrywe was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”

Nog ‘n feit wat ons moet onthou, is dat die doderyk, of die hel soos wat ons van praat, nie dieselfde plek as die poel van vuur is nie. Na afloop van die  Wit Troon Oordeel, sal die dood sowel as die doderyk in die poel van vuur gewerp word.
Op 20:13 “En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.”
Die doderyk is maar net ‘n tydelike aanhoudings plek vir ongelowiges wat hulle beurt afwag om hulle saak voor die Wit Troon Oordeel van Christus te stel. Hulle is egter verseker op pad na die poel van vuur toe. Hierdie mense word op grond van hulle werke geoordeel wat die graad van straf in die poel van vuur gaan bepaal. So sal Adolf Hitler wat ‘n massamoordenaar was erger gestraf word as wat ‘n ongelowige wat die Evangelie verwerp het en wat nogtans ‘n redelike goeie lewe gelei het. Dit is ook een van die redes waarom hulle op hulle werke geoordeel gaan word.

Geen gelowige sal egter by die Wit Troon Oordeel verskyn nie. Gelowiges wat gedurende die Kerk dispensasie die Evangelie aanhoor en glo, sal voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn waar hulle werke beoordeel sal word, wat sal bepaal watter loon hulle sal ontvang en met watter gesagsposisies hulle in God se koninkryk beloon sal word. (Lees die artikel “Gelykenis van die ponde” vir die beginsels wat by hierdie oordeel gaan geld.) Niemand wat voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn sal verlore kan gaan nie, en die poel van vuur is glad nie ‘n moontlike bestemming vir hulle nie, want hulle is in Jesus Christus en kan dus nie verlore gaan nie. (Lees asb. die artikel “Ewige sekuriteit van die gelowige” vir meer besonderhede oor hierdie onderwerp.)
Rom. 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

‘n Gelowige kan egter met leë hande voor die Here verskyn, en alhoewel die persoon in die koninkryk sal ingaan, sal sy traak-my-nie-agtige houding verreikende gevolge hê, wat tot in alle ewigheid sal geld. Soos wat ‘n bekende evangelis dit mooi omskryf het: “Ons almal se bekers sal vol wees, maar ons almal se bekers gaan nie ewe groot wees nie”
2Ko 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. 6:8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”
Ons werke red ons nie! Ons word gered deur om die Evangelie te glo wat ‘n geskenk van God is. (Dit kos ons niks nie, maar dit het God alles gekos) Ons werke na wedergeboorte gaan egter ons loon bepaal. Om hierdie rede is dit so belangrik dat ons met God se belange besig moet wees en dat ons werk daarvan maak om getroue dissipels van Jesus Christus te wees. Dit verg moeite en baie opofferings, maar ons loon gaan soveel groter wees. Die ewige lewe word dus as ‘n kostelose geskenk in geloof by God ontvang. Ware dissipelskap aan die anderkant sal ons alles kos.

Ter afsluiting: Nou gaan ons terug na jou vraag van hoe sommige mense alreeds in die hel is, en ander alreeds in die hemel is. Omdat Jesus Christus net gelowiges se geeste uit die doderyk geneem het en hulle saam met Hom hemel toe geneem het, is dit duidelik dat die ongelowiges se geeste nog steeds in die Hel gedeelte van die doderyk is, waar hulle aangehou sal word, totdat hulle na afloop van die Wit Troon Oordeel in die poel van vuur gewerp sal word.  Daarom kan gesê word dat sekere mense alreeds in die hemel is en sommige alreeds in die hel is. Onthou egter dat die Hel nie dieselfde as die poel van vuur is nie. Na afloop van die eerste opstanding wat ook in fases plaasvind, sal die gelowiges se geeste met hulle opgestaande verheerlikte liggame verenig word en sal hulle volgens hulle werke vir die toekenning van loon beoordeel word.
Op 20:6 “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Op 20:5 “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.”
Die ongelowiges sal egter nie deel uitmaak van die eerste opstanding nie en hulle sal eers na afloop van die duisendjarige vrederyk van Christus opgewek word en met hulle liggame verenig word, alvorens hulle by die Wit Troon Oordeel in die poel van vuur gewerp sal word. Die mense wat deel van die tweede opstanding is, sal almal in die poel van vuur gegooi word. Dit is die tweede dood. Onthou soos reeds vroeër duidelik gestel is, beteken die dood altyd in die Bybel skeiding en nie die einde van bestaan nie. Die tweede dood kan as skeiding van die teenwoordigheid van God omskryf word, hierdie mense lewe egter vir ewig in bewustelike pyniging voort. Die ewige lewe is dus meer as net ‘n persoon se bestaan. Die ewige lewe het ‘n kwantitatiewe asook ‘n kwalitatiewe aspek wat ons nie uit die oog moet verloor nie. Ons almal gaan iewers voort bestaan, of in God se teenwoordigheid, waar ons vir altyd in onbeskryflike vreugde sal voortbestaan of in die poel van vuur, waar die ongelowiges vir altyd gepynig sal word.

Ek bid en hoop hierdie artikel beantwoord jou vraag.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.