Openb. 22:15

Openb. 22:15 Wie is die honde towenaars, hoereerders, moordenaars, afgodedienaars, en leuenaars?

Vraag: Openb. 22:15 “Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.”

Hallo Vic, glo dit gaan goed met jou!! Weer een van daardie beweringe wat by huis sel gemaak is wat my hare laat rys!! Daar word gesê dat hierdie mense nie die nuwe Jerusalem sal in gaan nie en ook nie hel toe gaan nie!! Die bewering word gemaak dat hulle na die ewige duisternis toe gaan en dat hulle gewetens hulle dan vir altyd sal kou omdat hulle dit nie in die hemel gemaak het nie!!

Nou dit kan meesterlik verwarrend wees want ek glo dat jy eendag Hemel toe OF hel toe gaan!! Daar is nie ‘n middeweg nie soos wat daar beweer is verlede Donderdag aand nie! Wat is jou opinie?

Antwoord: Ek het ook al van hierdie leerstelling, asook die verskillende variasies daarvan gehoor. Om jou vraag aangaande Openb. 22:15 voldoende te beantwoord moet ek eers ‘n kort opsomming van die drie fases van ons verlossing hier weergee. Ons verlossing vind in drie fases plaas. Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte vind plaas wanneer ‘n persoon die Evangelie verstaan en glo. Tydens fase een word die gelowige van die gevolge van sy sondeskuld, naamlik die poel van vuur verlos. (Dus ontvang die gelowige die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid) Nadat ‘n persoon wedergebore is, bevind hy homself in fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking. In hierdie fase van die gelowige se verlossing, word hy toenemend van die houvas van sonde in sy lewe verlos, alhoewel hy nooit ‘n toestand van absolute sondeloosheid in hierdie lewe sal bereik nie, omrede die gelowige nog steeds met sy aardse liggaam oorklee is wat nog steeds oor ‘n sonde natuur beskik. Met die aanvang van die eerste opstanding, wat die Wegraping insluit, bevind die gelowige homself in fase drie van sy verlossing, naamlik die verheerliking, wanneer die gelowige met sy verheerlikte liggaam oorklee sal word, en by hierdie geleentheid sal hy volkome van die teenwoordigheid van sonde verlos wees en sal die gelowige se verlossing volkome afgehandel wees. (En dit alles op grond van God se genade!) Lees asb die artikel “Drie Fases van Verlossing” vir ‘n in diepte verduideliking van die drie fases van ons verlossing, asook die reeks van drie artikels wat oor die Wegraping handel. Derhalwe kan ‘n gelowige verklaar dat hy alreeds verlos is; (fase een – wedergeboorte. Tit. 3:5; Hand. 16:31) dat hy huidiglik verlos word; (fase twee – heiligmaking. 1Kor.1:18; Jak. 1:21) en dat hy nog verlos sal word (fase drie – verheerliking. Heb. 9:28; Filip. 3:20-21)

Die leerstelling waarna jy verwys weerspreek egter die Bybel wat dit duidelik stel, dat alle mense wat se name nie in die boek van die lewe gevind word nie, in die poel van vuur gewerp gaan word.
Openb. 20:11 “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 20:12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 20:13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 20:15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Om meer van die Wit Troon oordeel te leer, lees gerus die artikel “Die Wit Troon Oordeel” Dit is belangrik om te onthou, dat alle ongelowige mense wat nog nie in die poel van vuur gewerp is nie, by die Wit Troon Oordeel gaan verskyn, en die Bybel stel dit baie duidelik dat al hierdie mense op hulle werke geoordeel gaan word, en in die poel van vuur gewerp gaan word, omrede hulle nie God se oplossing vir die mens se sonde, naamlik die Evangelie (Die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir hulle) geglo het nie. Daar gaan geen uitsonderings wees nie! Dit moet ook in gedagte gehou word, dat die Wit Troon Oordeel nie dieselfde as die Regterstoel Oordeel van Christus is nie. (Later meer hieroor.)

Die boek van die lewe bevat al die mense se name wat in Christus gesterwe het en dus alle gelowiges van alle tye. Hierdie mense het Jesus Christus se toegerekende geregtigheid ontvang, en bevind hulleself na afloop van die eerste opstanding in fase drie van hulle verlossing, naamlik die verheerliking, waar hulle alreeds met hulle verheerlikte liggame oorklee is, en derhalwe is hulle verlossing volkome afgehandel, en is hulle totaal en al van die teenwoordigheid van sonde (in hulle sondige liggame wat die sonde natuur insluit) verlos. Boonop sal hierdie gelowiges in hierdie sondelose toestand bevestig word, sodat hulle nooit weer kan sondig nie. (anders sou hulle nie verheerlikte liggame, wat gelykvormig aan die van die Here Jesus Christus is, kon ontvang het nie. Jesus Christus is immers sondeloos!)
Fil 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking.)
Nie een persoon wie se naam in die boek van die lewe opgeteken staan (dus alle gelowiges) sal by die Wit Troon Oordeel verskyn nie. Die Wit Troon Oordeel is slegs vir ongelowiges wat die Evangelie verwerp het of wat ‘n werke of valse evangelie geglo het.

Onthou, die Here Jesus Christus het al ons sondes op Homself geneem, en is daarvoor deur God aan die kruis gestraf, sodat almal wie die Evangelie glo, nie weer geoordeel kan word vir hulle sondes nie.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Heb 10:14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.” (alle gelowiges bevind hulleself na wedergeboorte outomaties in fase twee, naamlik die heiligmaking fase.)
Hoe kan God, wat geregtig is, iemand wat die Evangelie geglo het, en wat deur Hom a.g.v. Christus se voltooide werk aan die kruis geregverdig verklaar is, daardie selfde persoon (gelowige) dan uitwerp, sodat hy (die gelowige) nie toegang tot die Hemel of die Nuwe Jerusalem, waarin God teenwoordig is, kan hê nie? Om so iets te beweer kan as ‘n direkte aanval op die Evangelie bestempel word!
Kol 2:13 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,”
Al die gelowige se sondes is deur Christus aan die kruis betaal en is daarvoor vergewe/uitgedelg. (Verlede, hede en toekomstige sondes) Slegs op grond van geloof in Christus se Persoon, en voltooide werk aan die kruis alleen kan God die gelowige, wat in Christus is, geregverdig verklaar!
2Ko 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Hoe sal God dan ‘n gelowige wie alreeds geregtig verklaar is, en wie se sondes alreeds volkome in Christus vergewe is, dan weer daardie gelowige vir daardie selfde sondes veroordeel? Dit kan en sal nie gebeur nie, want ons het God se woord daarvoor!

Maar gaan alle gelowiges nie voor die Regterstoel Oordeel van Christus moet verskyn sodat ons werke beoordeel moet word nie?
2Ko 5:10 “Want ons (gelowiges) moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
Ja, dit is inderdaad so, maar dit moet ingedagte gehou word, dat slegs gelowiges by die Regterstoel Oordeel van Christus sal verskyn, en dat die Regterstoel Oordeel van Christus geensins dieselfde oordeel as die Wit Troon Oordeel is nie, want by die Wit Troon Oordeel sal slegs ongelowige mense verskyn. Lees asb die artikel “Die Wit Troon Oordeel”. By die Regterstoel Oordeel van Christus kom die gelowige se sondes glad nie ter sprake nie, omrede die Here Jesus Christus alreeds volkome vir die gelowige se sondes met Sy kruisdood betaal het.
Rom 3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is 3:25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God”
En daarom het die Here Jesus Christus die onderstaande stelling aan die kruis uitgeroep!:
Joh 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! (Engels: “It is finished!”) En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
Hoe kan die gelowige weer vir ‘n tweede keer vir sy sondes gestraf word, indien die Here Jesus Christus alreeds ten volle vir daardie sondes aan die kruis betaal het?
Heb 10:10 “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal. 10:11 En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; 10:12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God” (Christus se versoeningswerk is afgehandel!)
Heb 10:14 “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.”

Wat baie voorstanders van die buite-duisternis-vir-gelowiges of soortgelyke leerstellings nie verstaan nie, is die feit dat die versoening wat die Here Jesus Christus vir ons bewerkstellig het, nie iets is wat apart van Christus verkry of bekom kan word nie. Ook is die versoening wat Jesus Christus aan die kruis bewerkstellig het, nie iets wat nou afsonderlik en losstaande van Christus staan nie. Inteendeel, versoening vir die mensdom se sonde is slegs in die Persoon van die Here Jesus Christus gesetel, aangesien “Hyself die versoening vir ons sondes is”
1Jo 2:2 “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
1Jo 4:10 Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.”
Alhoewel die hele mensdom deur Christus se voltooide werk aan die kruis redbaar is, is daar geen verlossing of versoening vir sonde buite Christus nie. (almal moet dus die Evangelie glo!)
2Ko 5:19 “naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. (Die Evangelie) 5:20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.”

Omrede God se regverdige oordeel vir die mensdom se sondes volkome op die Here Jesus Christus uitgestort en bevredig is, is God nou vrygestel om almal, wie posisioneel deur die Heilige Gees in Sy Seun geplaas is, geregverdig te verklaar. Slegs persone wie die Evangelie, op ‘n punt in tyd, geglo het word egter posisioneel in Christus ingedoop en is werklik wedergebore.
1Ko 12:12 “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Efs 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, (fase een) verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (fase drie)
Aangesien Christus, d.m.v. Sy voltooide werk aan die kruis, alle gelowiges met die Vader versoen het, is daar vrede tussen die Vader en almal wat posisioneel in Christus is. Hierdie stelling sluit alle gelowiges sonder uitsondering in!
Rom 5:1 “Omdat ons (alle gelowiges) dan uit die geloof geregverdig is, het ons (alle gelowiges) vrede by God deur onse Here Jesus Christus;
Kol 1:20 en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.”

Alle persone wat hulleself posisioneel buite Christus bevind, bly egter onder God se regverdige oordeel, omrede hulle God se enigste oplossing vir hulle sondeskuld, naamlik Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir hulle, verwerp het.
Joh 3:17 “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. 3:18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Alle persone wat die Evangelie verwerp bevind hulleself dus buite Christus, en derhalwe sien God hulle nog steeds in hulle sondes en is hulle die voorwerp van Sy regverdige oordeel. Dit is dus ‘n ernstige mistasting om te beweer dat ‘n gelowige, wat homself posisioneel in Christus bevind, tydens die Regterstoel Oordeel van Christus vir ‘n tweede maal vir sy sondes gestraf kan word, deurdat hy toegang tot die Nuwe Jerusalem (en dus toegang tot Christus) geweier sal word. So ‘n leerstelling beweer dus dat Christus se voltooide werk aan die kruis nie werklik voldoende vir al die gelowige se sondes was nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Voorbeelde van die Gelowige se Seëninge en Rykdom in Christus” te lees.

Hoekom word die gelowige se werke dan by die Regterstoel Oordeel van Christus beoordeel? Die Regterstoel Oordeel van Christus handel dus glad nie oor die gelowige se sonde nie (want daardie probleem is alreeds deur Christus se kruisdood opgelos!) maar die gelowige se lewe na wedergeboorte, gaan by die Regterstoel Oordeel van Christus in oënskou geneem word om te bepaal of die gelowige enige genadeloon gaan verdien of nie.
2Ko 5:10 “Want ons (gelowiges) moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
1Ko 3:11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 3:12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

Elke gelowige ontvang by wedergeboorte (fase een – wedergeboorte) ‘n erflating by God wat God self insluit. (en daarom kan die gelowige nie van God geskei word nie en het alle gelowiges vrye toegang tot die Vader op grond van hulle geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis.) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Voorbeelde van die Gelowige se Seëninge en Rykdom in Christus” te lees om meer oor hierdie erflating te leer. Bo en behalwe die erflating wat ‘n gelowige outomaties by wedergeboorte (fase een) ontvang, is daar ook nog ‘n erflating/loon wat deur die gelowige verdien kan word, en dit slegs soos wat hy die Heilige Gees, tydens fase twee naamlik heiligmaking, toelaat om in en deur hom/haar goeie werke, wat die Vader vooraf bepaal het, te doen. Hierdie erflating staan as genadeloon bekend en derhalwe word die gelowige se geloofs-samewerking/gehoorsaamheid aan God vereis, wat sal verseker dat die gelowige genadeloon sal versamel en homself nie hoef te skaam as Christus verskyn nie.
Rom 8:17 “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God (fase een – wedergeboorte) en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, (fase twee – heiligmaking waar ons loon kan opgaar deur om God te gehoorsaam wat lyding insluit.) sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.
1Jo 2:28 “En nou, my kinders, (gelowiges) bly in Hom, (gemeenskap) sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.” (regterstoel Oordeel van Christus. Die poel van vuur is glad nie ter sprake hier nie!)
2Ti 2:11 “Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. (fase een – wedergeboorte, waar die gelowige op grond van sy geloof met Christus en Sy kruisdood geïdentifiseer word) 2:12 As ons verdra, sal ons met Hom regeer. (Fase twee – heiligmaking, waar geloofswerke van ons verwag word en wat moontlike lyding insluit.) As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. (Fase drie – verheerliking, waar die Here ons nie voor Sy Vader by die Regterstoel Oordeel van Christus sal bely nie. Die gelowige bly nog steeds gered maar staan met leë hande voor God.) 2:13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (Ewige sekuriteit van die gelowige. Maak nie saak hoe ontrou ons as gelowiges mag wees nie, God sal nooit op Sy woord teruggaan nie! Ons kan wel met leë hande voor Hom staan maar Hy sal ons nooit verloën en in die poel van vuur werp nie. Lees asb die artikels “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” asook “die Gelykenis van die ponde.”)
Onthou ons word op grond van genade gered, nie ons werke nie. Ons geloofswerke bepaal ons genadeloon!
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
Rom 11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”

Dit is van uiterste belang om te besef dat God die mensdom vanuit slegs twee oogpunte klassifiseer. Die eerste groep mense as almal wat die Evangelie geglo het en wat derhalwe in Christus is. (dus alle gelowiges)
Rom 6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
Gal 3:26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; 3:27 want julle almal wat in Christus gedoop is, (Doop met die Heilige Gees nie waterdoop nie) het julle met Christus beklee.
Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees”
Alle gelowiges van alle tye se name is in die boek van die lewe geskrywe, omrede God hulle in Sy Seun die Here Jesus Christus geplaas het, en die gelowige ontvang met wedergeboorte die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid, en derhalwe sien God daardie gelowiges asof hulle nooit gesondig het nie en dus verklaar Hy hulle as geregtig. Hulle sonde sal dus nooit weer ter sprake kom so ver dit hulle eindbestemming aan betref nie. Derhalwe het alle gelowiges vrye toegang tot hulle hemelse Vader.
Efs 2:18 “want deur Hom (Die Here Jesus Christus) het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.
Efs 3:12 in wie (Die Here Jesus Christus) ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom.”

Indien die gelowige in Christus is, het daardie gelowige vrye toegang tot sy hemelse Vader en hierdie voorreg sal nooit van hulle weggeneem word nie.
Openb. 21:23 “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. 21:24 En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. 21:25 En bedags want nag sal daar nie meer wees nie sal sy poorte nooit gesluit word nie; 21:26 en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. 21:27 En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.”
Slegs persone wie se name in die boek van die lewe opgeteken staan sal toegang tot nie Nuwe Jerusalem hê. Dus alle persone wie in Christus is! En dit is slegs gelowiges wat se name in die boek van die lewe opgeteken staan. Dus alle gelowiges van alle tye sal vrye toegang tot die stad en God hê, omrede hulle almal oor Christus se toegerekende geregtigheid sal beskik!)

Die tweede groep mense is almal wie buite Christus deur God gevind word. Hierdie is al die mense wie nie die Evangelie geglo het of wat ‘n valse evangelie aangehang het. God sien hulle dus in hulle sonde, omrede hulle nie oor die Here Jesus Christus se toegerekende beskik nie en derhalwe omskryf God hulle in terme van hulle sondes.
Openb. 21:1 “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. 21:2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. 21:3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. 21:5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. 21:6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. 21:7 Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees. 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.”
En wie is hy wat oorwin? Kom ons laat Skrif, Skrif verduidelik!
1Jo 5:5 “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”
Die gelowige is dus die oorwinnaar, omrede die gelowige in Christus is en omrede Christus die oorwinning aan die kruis behaal het. Almal wat buite Christus gevind word, sal in die poel van vuur gewerp word, en derhalwe sal hulle nie toegang tot die nuwe hemel en aarde hê nie, wat toegang tot die Nuwe Jerusalem sal insluit. Dit is na die ongelowiges wat Openb. 22:15 verwys.
Openb. 22:15 “Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.”

Ter Afsluiting: En wat dan daarvan as God die gelowige tydens sy huidige aardse bestaan tugtig? Daar is ‘n groot verskil tussen God se tugtiging van Sy kinders en straf/veroordeling van die ongelowige. God se tugtiging/straf teenoor die gelowige is altyd in liefde en met die doel om die gelowige te korrigeer, sodat die gelowige se gemeenskap met God sy Vader herstel kan word.
Heb 12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”
Hierdie tugtiging kan by tye baie onaangenaam wees en kan self tot fisiese siekte, erge lyding en dood lei, maar die gelowige se posisie in God se familie kom geensins in gedrang nie.
Heb 12:11 “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”
Die gelowige kan egter loon by die Regterstoel Oordeel verloor, maar hy bly egter God se kind, en kan nooit deur God veroordeel word en na die poel van vuur gestuur word nie, omrede die Here Jesus Christus, deur Sy voltooide werk aan die kruis, volkome die gelowige se sondeskuld op Hom geneem het en daarvoor met Sy lewe/bloed betaal het.
1Ko 3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 3:12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
(Lees gerus die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer besonderhede oor hierdie aangeleentheid.)

Soos reeds genoem sien God die Vader slegs twee groepe mense. Die wat in Christus is en die wat buite Christus is. Na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking sal alle gelowiges met verheerlikte liggame oorklee word en kan hulle nooit weer sondig nie. Hoe sal die Here dan hierdie gelowiges as sondaars en leuenaars ens omskryf indien die Here Jesus Christus volkome vir hulle sondes betaal het en hulle alreeds met hulle verheerlikte liggame oorklee is wat nie kan sondig nie?
Openb. 22:15 “Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.” (‘n Gelowige wat sy verheerlikte liggaam, na afloop van fase drie van sy verlossing, naamlik die verheerliking, ontvang het sal nie gruwelikheid of leuens kan doen nie, so hoe sal hulle dan nie die Nuwe Jerusalem kan binnegaan nie?)
Slegs mense vir wie die Vader buite Christus en dus in hulle eie sondes sien, voldoen aan die omskrywing van bogenoemde teksgedeelte, (Openb. 22:15) en dit is hulle wat hulleself vir ewig in die poel van vuur en ewige duisternis sal bevind, omrede hulle geweier het om God se oplossing vir hulle sondeskuld, op Sy terme, deur geloof te aanvaar, naamlik die Evangelie.
2Ts 1:8 “in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. 1:9 Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte,”
Dus is dit my oortuiging, dat die Skrifte baie duidelik leer dat ‘n persoon of Hemel of na die poel van vuur sal gaan en dat daar geen ander middeweg is nie. Ek hoop en bid my antwoord beantwoord jou vraag oor Openb. 22:15.

Seën Groete

Vic

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Deel met ander asb.