Heiligmaking op Grond van Genade deur Geloof sonder Werke. Deel 2

Heiligmaking op Grond van Genade deur Geloof. Deel 2

Inleiding: In deel een van hierdie reeks van drie artikels, wat oor heiligmaking in die gelowige se lewe, na aanvanklike wedergeboorte, handel het ons die eerste twee vra oor hierdie onderwerp gestel, asook beantwoord. Die eerste vraag was soos volg gestel: “ Vind heiligmaking op grond van genade deur geloof alleen plaas, of vind heiligmaking op grond van geloof plus goeie werke plaas?” Dit is vanuit die Skrifte bevestig, dat die gelowige nie in staat is, of oor die vermoë in homself beskik, om suksesvolle heiligmaking in sy eie lewe te bewerkstellig nie. Dit is gedemonstreer dat die gelowige van die Here Jesus Christus en die Heilige Gees afhanklik is om vrugte in sy lewe voort te bring. Al hierdie dinge bewerkstellig God op grond van Sy genade alleen, sonder dat die mens enige iets daartoe kan bydra. Werklike heiligmaking is nie deur geloof plus werke nie, maar deur geloof alleen in wat God in Sy genade sal voorsien! Die tweede vraag is soos volg gestel: “Bepaal die gelowige se werke sy posisie, of bepaal die gelowige se posisie sy werke?” In hierdie geval is daar ook vanuit die Skrifte gedemonstreer, dat ‘n gelowige se stand in Christus sy werke behoort te bepaal en dat die gelowige se werke nie sy posisie in Christus kan bepaal nie. Wie ‘n persoon in Christus is, behoort dus te bepaal hoe daardie persoon optree! (Vir ‘n volledige uiteensetting van hierdie waarhede, word die leser aangeraai om deel een van hierdie reeks van drie artikels te lees.) Voordat die laaste twee vra gesetel en beantwoord gaan word, sal ons weer vanuit die Skrifte demonstreer wat met ‘n persoon sal gebeur indien hy in sy eie krag heiligmaking in sy lewe wil bewerkstellig. Die apostel Paulus het aan ons ‘n voorbeeld vanuit sy eie lewe nagelaat, sodat ons nie dieselfde foute sou begaan en onsself frustreer nie.

Romeine 7. Die goeie wat ek wil doen dit doen en nie!:

In Romeine 7:15 sien ons dat Paulus ook gefrustreerd geraak het, toe hy in sy eie krag, heiligmaking in sy lewe wou bewerkstellig.
Rom 7:15 “Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.”
Die goeie werke wat hy wou doen, dit het hy nie reggekry om te doen nie, maar dit wat hy juis gehaat het om te doen, dit het hy egter gedoen. Sy sonde natuur het dus die oorhand gehad al wou hy die regte dinge doen.
Rom 7:17 “Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde (sonde natuur) wat in my woon.”
As gelowiges, is nie een van ons met die frustrasie, om heiligmaking in ons eie lewens te bewerkstellig, onbekend nie! Om dan net uit te vind, dat ons nie oor die vermoeë in onsself beskik om heiligmaking suksesvol te bewerkstellig nie, al probeer ons hoe hart!
Rom 7:18 “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 7:19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.”
In Rom 7:24 sien ons dat selfs die apostel Paulus gefrustreerd geraak het toe hy heiligmaking in sy eie krag wou bewerkstellig.
Rom 7:24 “ Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”
Die stelling “ellendige mens” skep die idee van iemand wat moeg gestry en uitgeput is, en wat homself boonop in ‘n hopelose situasie bevind. Hy het dus uitgeput geraak toe hy in sy eie krag die Christelike lewe wou uitleef. Dit is egter opmerklik, dat Paulus alreeds in Romeine 6:11 duidelik gestel het, dat hy alreeds van die oorheersing van sy sonde natuur verlos is. In Romeine 7 beskryf Paulus egter ‘n tydperk in sy lewe, toe hy hierdie waarhede vergeet het en in sy eie krag probeer het om heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig.

Soos reeds in die deel een van hierdie reeks artikels duidelik gestel is, sal God alle werke wat in die vlees gedoen is, moet verwerp. Verder sal werke in die vlees gedoen, God se pogings tot heiligmaking in die gelowige se lewe belemmer. Jesaja 64:6 illustreer hierdie feit baie duidelik.
Jes 64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Al ons goeie dade in die vlees, dit maak nie saak hoe heilig dit ook al mag voorkom nie, is vir God soos ‘n besoedelde kleed. Daarom het Jesus Christus dit duidelik aan Sy dissipels gestel dat hulle niks sonder Hom sal kan doen nie.
Joh 15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Dit is nogal opmerklik, hoedat ons optrede soms ons ongeloof in Christus se woorde, soos wat Hy dit in bostaande teksgedeelte gemaak het, demonstreer. Dit is duidelik dat ons nie werklik Jesus Christus se stelling in Joh15:5 glo nie. Hoeveel keer het ons nie al in ons eie krag probeer om heiligmaking in ons lewens te bewerkstellig nie? En dit terwyl die Here dit duidelik gemaak het dat ons niks sonder Hom sal kan doen nie!

Waar lê die probleem dan? Die probleem lê in die wyse waarop ons redeneer. As gelowiges, is ons soms verkeerdelik onder die indruk, dat ons werke of optrede ons posisie bepaal en nie dat ons posisie ons werke moet bepaal nie. Solank as wat ons hierdie verdraaide mentaliteit handhaaf, gaan ons altyd onsself in ‘n posisie bevind, waar ons goeie werke in die vlees wil doen en nie in die Gees nie. Soos reeds duidelik gestel, is enige werke in die vlees gedoen, nie by God aanvaarbaar nie, en frustreer dit ook God se pogings om heiligmaking in ons lewens te bewerkstellig. Boonop sal ons geen loon vir enige werke wat in die vlees verrig is ontvang nie. Hierdie mentaliteit dra ook daartoe by dat die gelowige ‘n verdraaide beskouing omtrent sy verhouding met God ontwikkel. ‘n Verhouding wat op meriete vir goeie werke gebaseer is. Dit is die idee van, indien ek iets goeds doen die Here verplig is om my daarvoor te beloon, en ongelukkig misbruik die proponente van die Voorspoed-Evangelie, baie tel-evangeliste en meeste valse vorms van die Christendom hierdie verdraaide sienswyse tot hulle eie finansiële voordeel.

Veral as dit by ons verhouding met God, na aanvanklike wedergeboorte kom, val die meeste gelowiges, insluitende myself, in hierdie verdraaide sienswyse vas, en lei ons eie vleeslike pogings om God te behaag, na mislukking en dan na frustrasie wat in moedeloosheid opeindig. Baie mense gee dan sommer ook net moed op! Net soos in die geval van Kain, wil ons as gelowiges, ook ons eie vleeslike werke aan God bied, in ‘n poging om Sy aanvaarding van ons te bewerkstellig.
Gén 4:3 “En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. 4:4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 4:5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.”
In ons pogings om God se aanvaarding vir ons te bewerkstellig, bied ons, ons eie goeie werke aan Hom met die hoop dat Hy ons in liefde sal aanvaar. Op ‘n baie subtiele wyse wil ons, deur ons goeie werke, God se liefde vir ons koop en daardeur verwerp ons God se genade. Hierdie is ‘n baie algemene sienswyse, wat in die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom gehandhaaf word. ‘n Sienswyse, wat as ‘n baie subtiele vorm van belediging vir God en Sy grenslose liefde en genade vir ons beskou kan word. God het Sy liefde alreeds deur die kruisdood van Sy Seun aan ons gedemonstreer en dit terwyl ons nog vyande was! Hoekom is dit dan nou nodig om Sy liefde vir ons, deur goeie werke, te wil koop?
Rom 5:10 “Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is”
Die Skrifte stel dit baie duidelik, dat ons God slegs liefhet, omdat Hy ons eerste liefgehad het. Ons kan nie God se liefde of aanvaarding deur goeie werke, voor of na wedergeboorte, koop of verdien nie!
1Jo 4:19 “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”
God se liefde vir ons is onbeperk, asook onveranderlik. Liefde is immers een van God se attribute, en daarom is dit nie wat ons is of doen wat Sy liefde vir ons bepaal nie, maar wie en wat Hy is! Onthou hierdie waarheid!

‘n Prestasie gebaseerde verhouding sal altyd daartoe lei, dat die gelowige wat misluk of struikel, voel asof God nou teen hom gekant is, wat weer daartoe aanleiding sal gee, dat die gelowige al hoe meer wetties, in sy poging om God te behaag, sal raak. Hierdie gedagtegang en optrede sal daartoe lei, dat al hoe meer werke in die vlees gedoen word, wat geensins God se goedkeuring sal kan wegdra nie en boonop God se pogings tot Heiligmaking in die gelowige se lewe sal hinder. Omdat die mens se sonde natuur in wese altyd die gelowige sal neig om in onafhanklikheid van God op te wil laat tree, is ons geneig om die wet te wil gebruik om heiligmaking in ons lewens te bewerkstellig. Omdat ons almal tot wettiesheid geneig is, is werke gebaseerde godsdienste so gewild, en geld hierdie feit vir die oorgrote meerderheid van Christelike denominasies ook. (Deur van die wet gebruik te wil maak om heiligmaking te bewerkstellig, het ons nie meer nodig om in geloof na Christus vir heiligmaking te kyk nie, maar kan ons die wet as ‘n stel reëls nakom om daardeur te bewys dat ons heilig lewe.) Hierdie is ook dan een van die grootste redes, waarom ons as mens, die gedagte van God se radikale genade verwerp. Nog ‘n logiese uitvloeisel van ons geneigdheid om in onafhanklikheid van God te wil optree, is die geneigdheid, om die wete dat ons kragteloos sonder God is, te wil weerstaan en te verwerp. En daarom kom ons optrede met Jesus Christus se stelling, dat ons niks sonder Hom sal kan doen nie, in botsing . (Joh 15:5) Dus, demonstreer ons optrede dat ons nie werklik Jesus Christus se stelling glo nie. Dit is niks anders as die sonde van ongeloof nie! Hierdie bose kringloop veroorsaak dat ons in werklikheid deur wettiesheid verder van die Here af verwyderd raak, want ons verhouding met God is nie op die wet gebaseer nie maar op God se genade deur geloof.
Rom 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
‘n Stelling wat ons in geloof moet aanvaar en uitleef!

Indien ‘n persoon in sy eie krag streef om oor sonde te heers en oorwinnend te wil lewe, tree hy onder die beginsel van die wet op en wil hy van die wet gebruik maak om heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig. Die wet was egter nie vir hierdie doel gegee nie!
Gal 3:24 “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 3:25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. (let mooi op die woorde “Geloof” nie die wet nie!)
Rom 6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Die wet was ons tugmeester na Jesus Christus toe, en was nooit gegee om ons eie verlossing, in al drie die fases, (wedergeboorte, heiligmaking asook verheerliking) te bewerkstellig nie! Die probleem ontstaan, wanneer die gelowige na die wet kyk om heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig, inplaas daarvan om homself in geloof aan God, as iemand wat uit die dood uit lewend geword het, vir diens te bied, (Iets wat die gelowige in geloof moet doen!)
Rom 6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
Indien ‘n gelowige nie homself, as iemand wat uit die dood lewend geword het, aan God aanbied nie, en na die wet vir heiligmaking kyk, tree hy met ‘n “in Adam” ingesteldheid of mentaliteit op, en daarom sal mens hoor dat ‘n persoon, in sy poging om die oorhand oor sy sonde natuur te wil bewerkstellig, sal vertel hoe hard hy teen sonde in sy lewe stry. Wat so ‘n stelling eintlik beweer, is dat die gelowige se lewe verander word, indien hy sy optrede en gedrag verander, wat weer impliseer dat ‘n persoon se optrede sy identiteit bepaal. So om te verander wat jy doen, verander wie jy is. Die Bybel stel egter net mooi die teenoorgestelde beginsel, naamlik dat die gelowige se posisie as mede-gekruisigde saam met Christus, sy identiteit bepaal en nie sy optrede nie. Indien dit van die gelowige verwag word, om self heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig, dan is die gelowige se geestelike seëninge in sy lewe afhangend van sy gehoorsaamheid aan God se wet, en indien dit die geval is, dan vind sy verlossing (fase twee) op grond van sy eie meriete plaas en kan dit nie as genade beskou word nie. Boonop bots so ‘n sienswyse lynreg met wat die Bybel ons leer. Indien ons, ons oë van die Here Jesus Christus afhaal, en dit op die wet rig, dan draai ons, ons rug op die Bron wie oor die krag beskik om heiligmaking suksesvol in ons lewe te bewerkstellig. (Ek sal later meer oor hierdie onderwerp uitbrei)

Vir enige blywende verandering om plaas te vind, moet heiligmaking deur die Een wat werklik in staat is om heiligmaking suksesvol in die gelowige se lewe te bewerkstellig, naamlik die Heilige Gees, wat vir hierdie spesifieke doel na die gelowige gestuur is en wat nou permanent in die gelowige inwoon, bewerkstellig word. God het, deur Sy onbeskryflike genade, aan elke gelowige die grondslag vir oorwinning oor die sonde natuur en suksesvolle heiligmaking deur die inwonende Heilige Gees gegee, en slegs op hierdie fondament sal ware heiligmaking in die gelowige se lewe bewerkstellig kan word. Soos wat die gelowige van sy stand in Christus bewus word, en dit in geloof sy eie maak, en homself op grond van daardie waarheid as iemand wat uit die dode, met ‘n nuwe lewe opgewek is, Homself aan Christus aanbied, sal die Heilige Gees heiligmaking deur die gelowige bewerkstellig. En omdat dit God is wat deur die gelowige lewe, beskik die gelowige oor God se krag om oor die sonde te heers.
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
Indien ‘n gelowige nie hierdie waarhede in geloof vir homself toeëien en daarvolgens lewe nie, is hy bestem vir ‘n lewe van val en opstaan. Ons kan hierdie beginsel vanuit Paulus se lewe waarneem, en Romeine 7 handel spesifiek oor hierdie aangeleentheid. Suksesvolle heiligmaking kan nie in ons eie krag bewerkstellig word nie, en daarom het ons God se genade en krag nodig! Gewapen met hierdie feite, kan ons nou die derde vraag stel en dit dan vanuit die Skrifte beantwoord.

Moet ‘n gelowige gehoorsaam wees om Geestelik te wees, of moet hy Geestelik wees om waarlik gehoorsaam te wees?

Hierdie is nogal ‘n belangrike vraag, en kan ook op ‘n ander wyse gestel word, naamlik: “Volg ware geestelikheid op die spore van die gelowige se gehoorsaamheid aan God, of is werklike gehoorsaamheid aan God, die byproduk wat vanuit die gelowige se gemeenskap met God behoort voort te vloei?” In wie of wat is die ware krag, om heiligmaking suksesvol te bewerkstellig, gesetel? In Romeine hoofstuk agt gee Paulus aan ons die antwoord. Maar voordat ons Romeine 8 bespreek, gaan ek net gou ‘n kort chronologiese opsomming van die hoofstukke van die boek Romeine, wat ons alreeds bespreek het, weergee. In Romeine 5 het die apostel Paulus die gelowige se identiteit in Christus bespreek, en in hoofstuk 6 het hy die gelowige se posisie in Christus breedvoerig bespreek, en het hy suksesvol gedemonstreer dat die gelowige se nuwe identiteit en posisie in Christus die grondslag bied, waardeur suksesvolle heiligmaking bewerkstellig behoort te word. In Romeine 7 het ons geleer, dat die gelowige se goeie bedoelings en pogings om in sy eie krag heiligmaking te wil bewerkstellig, in mislukking en frustrasie gaan eindig. In Romeine 8 gaan Paulus aan ons die werklike bron vir heiligmaking, asook die krag vir die uitleef van die Christelike lewe benadruk.

Romeine 8 Die bron en krag vir heiligmaking in die gelowige se lewe:

Rom 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
In bostaande teksgedeelte herinner Paulus die gelowige weer aan sy posisie in Christus, en in die wete dat hy as gelowige deur die Gees behoort te wandel. Die gelowige is posisioneel nie meer in Adam nie, maar in Christus en daarom is daar geen veroordeling vir die gelowige nie.
Rom 8:2 “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.”
Wat is die wet van die sonde en die dood? Die antwoord het Paulus in Rom 7:22-23 weergegee, naamlik:
Rom 7:22 “Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; 7:23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.”
In bostaande teksgedeelte sien ons, dat Paulus homself in die wet van Christus verlustig het, maar dat hy gou agtergekom het, dat indien hy heiligmaking in sy eie krag wou bewerkstellig, sy pogings in mislukking sou uitloop. Om heiligmaking in eie krag te wil bewerkstellig is amper soos vir ‘n worshondjie om ‘n boerboel die stryd aan te sê. Die worshond gaan elke keer verloor, en so is dit met heiligmaking ook die geval. Indien die gelowige in sy eie krag oor sy sonde natuur wil regeer, gaan hy elke keer misluk.

In Romeine 8:3 vind ons egter die oplossing.
Rom 8:3 “Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees,”
In Christus, het God die Vader, deur die kruisdood van Sy geliefde Seun, ons sonde natuur in die vlees veroordeel.
Rom 8:4 “sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
Suksesvolle heiligmaking sal slegs in die gelowige se lewe ‘n werklikheid kan word, indien hy homself in geloof aan die Heilige Gees onderwerp en in die Gees wandel. Dit beteken dat die gelowige moet toelaat dat die Heilige Gees hom volkome beheer. Die Heilige Gees moet die nodige leiding d.m.v Sy woord verskaf, en die gelowige moet dan die Heilige Gees se leiding in geloof eerbiedig en gehoorsaam. Die gelowige kan nie in sy eie krag wil lewe nie. Ek stel dit weer: “Heiligmaking sal slegs suksesvol bewerkstellig kan word, indien die gelowige toelaat dat die Heilige Gees dit deur hom bewerkstellig.” Die gelowige kan vir iets lewe of hy kan, deur geloof, vanuit sy posisie in Christus uit lewe en sukses behaal. Ons posisionele stand in Christus is die enigste grondslag waarop die Christelike lewe gebou kan word. Jesus Christus self het hierdie feit baie duidelik gestel.
Mat 7:24 “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. 7:25 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.” (Die Rots is die Here Jesus Christus)

Ons is almal geneig, om wanneer dit by die kwessie van heiligmaking in ons lewens kom, op ons optrede en eie werke te fokus. Daardeur demonstreer ons die feit, dat ons glo dat ons optrede ons posisie bepaal. Ons kyk dan na onsself om heiligmaking te bewerkstellig, asof die krag daarvoor in onsself gesetel is, en wil dan vanuit onsself die krag te voorskyn bring om heiligmaking in onsself te bewerkstellig. Daarom probeer ons in ons eie krag om harder te werk, harder te leer, minder te sondig en heilig te lewe. Daar is egter ‘n baie ernstige probleem met hierdie uitgangspunt, want die krag vir suksesvolle heiligmaking is nie in onsself of in ons eie pogings tot heiligmaking gesetel nie. Die bron vir suksesvolle heiligmaking is in God gesetel, nie in onsself nie. Indien ons op ons werke of optrede vir heiligmaking fokus, dan fokus ons op onsself en het effektief ons rug op Jesus Christus en die Heilige Gees, die werklike bron en krag vir suksesvolle heiligmaking, gedraai. Dit lei weer daartoe dat ons heiligmaking in die vlees wil bewerkstellig, wat op mislukking gaan uitloop en wat tot verdere frustrasie gaan lei. Om in eie krag heiligmaking te bewerkstellig is amper soos om vir ‘n blinde man te sê, dat hy mooier moet kyk, of om vir ‘n verlamde man te sê, dat hy vinniger moet loop. Ons poog dan om in ons eie krag ‘n lewe van geregtigheid vir God te lewe, wat geensins ‘n slegte ding is om te wil doen nie, maar vergeet dat ons dit in geloof vanuit ons posisie in Christus moet uitlewe, iets wat die Here wil hê ons moet doen, om sodoende te verhoed dat ons ons rug op Hom, die bron van ons krag, draai.

1Ko 15:10 “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”
Paulus kan as die mees suksesvolste evangelis van alle tye beskou word, maar hy kon dit slegs regkry, omrede God se genade met hom was. Die prestasies wat hy behaal het, was nie in sy eie krag en pogings bewerkstellig nie, maar dit was die Here Jesus Christus wat al hierdie dinge, deur die Heilige Gees, in en deur hom gedoen het. Daar is geen twyfel, dat hy harder as enige van die ander apostels gearbei het, en dat hy ook die meeste lyding moes deurstaan het nie, maar dit was ‘n geval van sy posisie en identiteit in Christus wat sy optrede en sukses bewerkstellig het.
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
Om hierdie rede kon Paulus al die swaarkry en lyding verduur het, en nog boonop al die werke verrig het wat hy verrig het, want dit was nie hyself wat al hierdie dinge bewerkstellig het nie! Dit was God in Sy genade wat alles deur Paulus bewerkstellig het!

Fil 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Dit is juis hierdie waarheid wat verseker het dat Paulus die hoogtes bereik het, wat hy wel bereik het en waarom al die lyding en swaarkry hom nie onder kon kry of van stryk kon bring nie. In baie opsigte het Paulus ‘n bomenslike lewe gely, maar hy het in geloof besef dat hy ‘n Almagtige God dien, en indien hy die Here toelaat om Sy lewe deur hom te lewe, niks vir hom onmoontlik sou wees nie. Dieselfde beginsel geld vir alle gelowiges. Paulus het geleer om nie op sy eie werke of op homself te fokus nie, maar hy het in geloof vanuit sy posisie in Christus homself aan God as iemand wat uit die dood opgestaan het aangebied en vanuit hierdie posisie in geloof gelewe. Die Heilige Gees, wat toegelaat is om deur Paulus te lewe, het al die krag voorsien, en daarom kon Paulus oorwinnend lewe en die Heilige Gees se leiding suksesvol gehoorsaam.
Gal 6:14 “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”

Ons posisie en identiteit moet dus ons optrede dikteer, en ons moet vanuit daardie posisie in geloof lewe, en dit is alles op grond van God se genade en nie ons meriete nie. Dit is menslik onmoontlik om die hoë standaarde van die Christelike lewe in ons eie krag te wil uitleef. Ons lewe die Christelike lewe op grond van God se genade deur geloof in Christus wat d.m.v. die Heilige Gees deur ons lewe. Ons moet dus toelaat dat die Heilige Gees ons beheer, alvorens suksesvolle heiligmaking in ons lewens sal kan plaasvind. Op hierdie wyse kry God al die eer en is ons gehoorsaamheid die gevolge van die vrugte van die Gees. Ja, gehoorsaamheid is belangrik, maar dit moet vanuit ons geloofs verhouding met God, en deur middel van die Heilige Gees se lewe deur ons, bewerkstellig word. Ons harte, liggame en verstand word dan die instrumente waardeur God Homself deur ons manifesteer, en waardeur Hy verheerlik word! En boonop sal Hy ons in Sy genade ryklik daarvoor beloon! Al hierdie seëninge word bekom op grond van God se genade deur geloof alleen! Dit is egter die gelowige se keuse of hy In Christus gaan bly of nie.
Joh 15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Onthou hierdie stelling!!

Ter Afsluiting: In die laaste en finale deel van hierdie reeks artikels, wat oor heiligmaking handel, sal ons die vierde en laaste vraag, naamlik die gelowige se verhouding met die wet stel, beantwoord en bespreek. Dit is my gebed dat hierdie reeks artikels meer lig op die onderwerp van heiligmaking in die gelowige se lewe sal werp en dat God vir Sy onbeskryflike liefde en genade daardeur verheerlik sal word.

Seën Groete

Vic