God en die verkiessing

Stemreg: ʼn Verantwoordelikheid voor God

Ons woon in ʼn wêreld waarin ʼn felle geestelike stryd plaasvind. Deelnemers aan hierdie geestelike stryd sluit Engele (Heilige Engele en gevalle engele) en mense (gelowiges en ongelowiges) in. Hierdie stryd vind in die geestelike – en fisiese sfeer van die skepping plaas, sluit bymekaar aan en is met mekaar ineengestrengel. Indien ons nie hierdie feit in gedagte hou nie sal ons nie werklik verstaan wat in die wêreld om ons aangaan nie. Indien ons insig in hierdie opsig gebrekkig is sal ons ook nie die rol wat ons in hierdie stryd speel mooi verstaan nie. Daar is onsigbare magte wat poog om die mens se optrede in die fisiese realiteit te beïnvloed en indien ons nie hierdie feit onthou nie sal ons in ‘n verdraaide realiteit leef wat nie God se Wil vir ons is nie. God verwag dat ons in die ware realiteit leef en die Skrifte gee vir ons insigte aangaande die werklike realiteit wat ons nie daar sonder sou begryp nie. Indien ons in die Lig van God se Woord lewe sal dit verseker dat ons die regte besluite sal neem wat Hom sal verheerlik en verhoed dat Hy ons moet tugtig.

Geen werklik regverdige regering kom uit ʼn wettelose samelewing te voorskyn nie. Morele uitkomste kan nie uit immorele insette verwag word nie. Mens kan ook nie geregtigheid van ʼn regering of politieke party verwag indien die leierskap ongeregtig is nie. So ook kan ons nie morele waardes van ʼn party verwag as die party se beleidsdokument immoreel is nie. Enige party is afhanklik van die morele menslike kapitaal wat in daardie organisasie werksaam is.

Ons moet egter nooit vergeet dat Satan, en sy engele in die agtergrond poog om mense, groepe en nasies nadelig te beïnvloed nie. Hierdeur poog hy om God se oordeel oor hulle te bring indien hulle aan sy verleiding sou toegee. God het die verloop van die wêreld se geskiedenis in Sy Hande, en Hy het Sy morele wette daargestel en hou die mensdom vir die onderhouding daarvan verantwoordelik. Alhoewel die Bybel vir ons verduidelik hoe die verloop van die wêreld se geskiedenis gaan eindig beteken dit geensins dat Hy nie in die verloop van hierdie dispensasie, voor die aanbreek van die voorverdrukking-wegraping, in die verloop van ‘n spesifieke land of volk se geskiedenis kan ingryp en daardie land van ondergang red nie. Vir so iets om plaas te vind sal daardie land/volk God se morele beginsels moet eerbiedig en ware geregtigheid moet laat geskied.

Die oomblik wanneer God se morele standaarde, soos in die Bybel opgeteken staan, met humanistiese standaarde vervang word, kan enige optrede op pragmatiese gronde geregverdig word. Die Staat het byvoorbeeld alreeds die reg op aborsie, wat niks anders as moord is nie, in ons wetgewing verskans. Wat is daar wat hul dan in die toekoms gaan verhinder om Christene wat getrou aan God is, en wat sonde as sonde uitwys van haatspraak aan te kla? Alles kan immers in die naam van liefde en verdraagsaamheid goedgepraat word en op grond van pragmatiese redes (wat deur die regering vasgestel is) geregverdig word. Enige persoon wat nie met die huidige gees van die tyd saamstem nie sal as liefdeloos uitgekryt word. Die staat kan dan, indien die meerderheid van die stemgeregtiges ware Bybelse waardes verwerp, onder die dekmantel van die demokratiese proses vereis dat alle getroue gelowiges krimineel vervolg moet word.

In hierdie opsig sal enige brutale, of perverse optrede deur die staat goedgepraat word.

Wat met ons land in die toekoms gaan gebeur hang grootliks van die keuses wat ons in die stemlokaal gaan maak af. Wanneer ons vir ʼn party stem moet ons besef dat ons vir die waardes waarvoor daardie party staan stem. Sou die party aan bewind kom sal die waardes waarvoor daardie party staan in ons samelewing en instansies opgeneem word. Wanneer hierdie waardes in stryd met God se Woord is, is ons op ʼn afdraande pad en stuur op ʼn botsing met God af. Uitgeputte bronne en aardverwarming word aan ons voorgehou as redes waarom die wêreld vernietig gaan word. Volgens die Skrifte het aardverwarming of uitgeputte bronne niks met die aarde se vernietiging te make nie. Dit is eerder die mens se moreel verantwoordelike optredes voor ʼn Heilige God wat die bepalende faktor gaan wees.

Enige politieke party wat op humanistiese demokratiese beginsels gebaseer is, en wat deur wetgewing God se morele standaarde, soos wat ons dit in die skrifte vind omseil, moenie dink dat die finale uitkoms enigsins die land tot voordeel sal strek nie. God bestaan onafhanklik van Sy Skepping en sal die mensdom oordeel ten spyte van die politieke party wat aan bewind is. Om van die morele standaarde soos in die Skrifte gevind, te verwerp en met humanistiese standaarde te vervang is om goddeloosheid tot die vlak van heiligheid te verhef. Om enigsins God se seën uit sodanige onderneming te verwag is ʼn ernstige mistasting wat eerder God se oordeel te wagte kan wees. Die skrifte waarsku ons om nie hierdie fout te begaan nie.
Jes.5:20: “Weë hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”

Dit is belangrik om te besef dat dit wat gesaai word ook gemaai sal word. Optredes het konsekwensies. Hierdie feit geld ook vir elke individuele persoon. Ons lewe in ʼn samelewing wat grootliks onder die wanindruk verkeer dat daar geen verband tussen morele optredes en fisieke gevolge bestaan nie. Dit is ʼn ernstige mistasting om te dink dat ons sonde kan saai en God se seën kan maai. Dit sal nooit gebeur nie. Hierdie stelling geld ook vir die politieke partye waarvoor ons stem en die keuses wat hulle maak.

Die Bybel waarsku duidelik dat vriendskap met die wêreld vyandskap met God is. In ʼn poging om in die wêreld relevant te bly, maak die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom hulle in God se oë irrelevant. Mens kan nie neutraal in so ʼn geval optree nie. ʼn Mens is vir of teen God. Indien ʼn persoon vir ʼn party stem wetende dat daardie betrokke party waardes bevorder wat nie met God se Woord versoenbaar is nie, dan het daardie persoon van God af weggedraai omrede ʼn persoon nie God en iets anders kan dien nie. So ʼn persoon verkeer valslik onder die indruk dat hy lojaal aan die Here gebly het en in hierdie opsig mislei hy homself. Dit waarop ʼn persoon werklik vertrou is die god waarin die persoon in werklikheid glo. Die mate waarin die persoon sy tyd, geld en hulpbronne aan ‘n instansie/voorwerp/persoon spandeer dien as indikasie van daardie persoon se liefde en toewyding aan daardie betrokke instansie/voorwerp/persoon. Dit is dan ook wat die persoon in der waarheid dien. Liefde is meer as net ʼn emosionele gevoel. Ware liefde sluit die elemente van toewyding, tyd en geld ook in.

Vervolgens ʼn paar faktore wat ek sal oorweeg alvorens ek vir ʼn politieke party sal stem:

1. Eerbiedig die party die institusies soos wat God dit in Sy Woord daar gestel het?:

Dit sluit die huwelik tussen een man en een vrou in.
Gen.2:24 “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een wees”.
Matt.19:6 “sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie”.

Indien die gegewe party die term van ʼn huwelik wil herdefinieer om enige sondige praktyke as ʼn huwelik te erken, soos byvoorbeeld homoseksualiteit, dan sal ek nie vir daardie party kan stem nie.

2. Die gesin:

Hierdie punt sluit by bogenoemde punt aan. God het die gesin, wat die kleinste sosiale eenheid is, daargestel sodat die ouers die kinders in die weë van God moet groot maak.
Deut.6:6-7 “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan”.
Sodra ‘n party die reg van ouers, om hul kinders volgens skriftuurlike beginsels groot te maak, ondermyn dan kan ek nie met ‘n skoon gewete vir daardie party stem nie.

3. Die regering:

Dit is die regering se plig om vryheid, wet en orde en die landsburgers van boosdoeners te beskerm, naamlik:
“Maar wat jul eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van ʼn mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na Sy beeld gemaak” Gen. 9:5-6
1 Pet. 2:13 ‘Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, 14 of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys.
Boonop is dit die regering se plig om ʼn burger se reg op die besit van privaat-eiendom te beskerm en mag ook nie ʼn burger se grond teen sy wil wegneem nie.

4. Menslike lewe: God het die mens na Sy beeld geskape:

Gen.1:27 “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape”
In hierdie opsig het die menslike lewe meer waarde as enige skepsel op aarde.
Gen. 9:6 “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak”
Aborsie kan as niks anders as moord op babas bestempel word nie en mag daarom nie in ʼn party se beleidsdokumente beskerm word nie. Die Bybel verklaar dat lewe tydens bevrugting begin, naamlik:
Ps. 139:13 “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef”
Jes. 44:24 “So sê die Here, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af: Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei — wie was met My?”
Jer. 1:5 “ Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.”

5. Rassisme:

Volgens die Bybel is daar slegs een menslike ras.
Hand. 17:26 “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het.”
God het wel verskillende etniese groepe, tale en kulture daar gestel maar die mensdom vorm net een ras. Ek sal nie vir ʼn party kan stem indien daardie party nie alle landsburgers presies dieselfde geleenthede tot werk of lewens geleenthede bied nie. Boonop moet so ʼn party die kulturele verskille tussen die groepe eerbiedig en almal onder die wet beskerm.

6. Twee (2) geslagte:

God het slegs twee geslagte daar gestel, naamlik man en vrou.
Gen.1:27 “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape”
Enige party wat beweer dat die mens ʼn reg het om sy geslag te herdefinieer, en ander wil dwing om hom/haar op daardie terme aan te spreek tree buite die perke waarvoor God die geslagte daar gestel het op en ek sal nie vir so ʼn party as Christen kan stem nie.

7. Israel se reg om te bestaan:

God het Israel as volk daargestel toe Hy Abraham geroep het om die Beloofde Land in die Midde-Ooste binne te gaan en daar met hom ʼn ewige onvoorwaardelike verbond gesluit het, waarin God met hom en sy nageslag (Isak en Jakob) Israel as hul land gegee het.
Gen.12:1-3 “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word”
Jes.43:1 “Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!”: Gen. 15:18 “Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:”

Alhoewel Israel huidiglik onder God se tugtiging verkeer (Matt. 23:37-38) het God nog steeds ʼn doel met Sy uitverkore volk. Die volk sal weer as geheel in ‘n verhouding met God herstel word wanneer hulle teen die einde van die Groot Verdrukking die Here Jesus Christus as hulle Messias sal aanvaar, waarna Hy hulle sal verlos en Sy koninkryk op aarde sal vestig.
Rom. 9:1-5 “Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart. Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af. Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.”
Rom. 11:25b-26a “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;”.

8. Die Kerk:

Dit is die Here Jesus Christus wat die kerk bou en net soos Israel sal die ware kerk nie vernietig kan word nie.
Matt.16:18 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
Die Here Jesus Christus sal met die voorverdrukking-wegraping die kerk kom haal en die Kerk Dispensasie tot ʼn einde bring. Vir my om vir enige politieke party te stem moet daardie politieke party die kerk se reg om saam te vergader, die Bybel te bestudeer, asook evangelisasie werk vrylik te verrig beskerm en waarborg. Die kerk se reg om God te aanbid en om Hom te gehoorsaam moet beskerm word. Boonop mag die kerk nie voorgesê word wat sonde is en wat nie sonde is nie. Die party mag dus nie die kerk onder dwang plaas om wêreldsgesind te raak nie maar moet die kerk se reg om sonde as sonde uit te wys (reg op vrye spraak) beskerm.

Ons moet nooit uit die oog verloor dat dit juis die godsdienstige leierskap van Israel was wat Christus se kruisiging geïnisieer het en dat die staat was wat dit uitgevoer het nie. Dit help geensins om in ʼn kerk te sit waarin daar Sondae teen sonde gepreek word en dan uit te stap en vir ‘n party te stem wat presies die waardes waarteen gepreek is handhaaf nie. In so ‘n geval word die Satan se agenda gedurende die week deur ons keuses gepropageer om op Sondae daarteen te preek. Dit is egter nie net slegs die kerkleierskap wat hulself hieraan skuldig maak nie. Lidmate van die gemeentes sien hierdie paradoksale optredes raak maar spreek dit nie aan nie. Indien ons die keuse maak om vir ʼn politieke party te stem, wat leefwyses en optredes buite God se morele wette bevorder, dan kan ons nie verwag dat God ons land van ondergang moet red nie. 

Ter afsluiting: Soos wat die voorverdrukking-wegraping nader kom kan ons verwag dat die wêreld toenemend ware Christelike beginsels sal teëstaan omrede die Bybel dit so voorspel het. Ons behoort egter nie vir ‘n politieke party wat goddelose leefstyle voorstaan by die stembus te ondersteun nie. Ons kan nie God en die wêreld dien nie.

Die trajek waarop ons land huidiglik beweeg stuur op ‘n ernstige ramp af. Om die huidige agteruitgang te stuit sal daar letterlik ‘n kulturele-morele omwenteling moet plaasvind. In stede daarvan dat die kerk die goddeloosheid in die wêreld uitwys, laat sy eerder toe dat die goddelose wêreldstelsel die kerk binne dring. Die meeste kerke is alreeds tot ‘n groot mate deur die gevalle wêreldstelsel geabsorbeer. Die rede hiervoor is dat ʼn groot gedeelte van die belydende Christendom te gewillig is om hul geloof by die heersende wêreldgesindheid aan te pas. Sodoende het ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom in werklikheid ‘n vertakking/verlenging van die wêreld-sisteem geword.

Ons behoort egter daarna te streef om te verseker dat die kerk haar missie op aarde getrou nakom, en uitvoer en ons mag nie deel van die morele degradasie van ons samelewing wees nie. Hierdie stelling geld ook vir die kruisies wat ons in die stemlokaal maak. Onthou, enige ding, of mens wat ons op ‘n gelyke, of hoër vlak as God op ons hiërargie van belange plaas word deur God as is ‘n afgod beskou. ʼn Persoon kan dus enige iets dien wat geld, mag, mense, sport, geskiedkundige prosesse, asook sosio-politieke stelsels insluit. Ons moet kies of ons na God om verlossing sal kyk of na die een of ander politieke party. Ek is deeglik daarvan bewus dat die meeste mense vir politieke partye sal stem wat morele waardes in stryd met God se Woord bevorder. As Christen kan ek egter nie met ‘n skoon gewete vir enige sodanige politieke party stem nie. Sover dit my en my gesin aanbetref sal ons die Here dien.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.