Christus en Markus 7:18-23

Het Christus Homself nie in Markus 7:18-23 weerspreek nie?

Vraag: Ons weet dat Christus tydens die Dispensasie van die Wet gebore was en daarvolgens moes leef. Met die gee van die wet het God egter bepaal dat die Israeliete nie sekere onrein kossoorte, soos byvoorbeeld vark mag eet nie. Hoe kon die Here dan in Markus 7:18-23 die volgende stelling maak, naamlik: “En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein? En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” (Markus 7:18-23)
Maar toe Moses egter die wet aan Israel gegee het, het hy spesifiek sekere kossoorte soos byvoorbeeld die eet van vark as onrein bestempel met die gevolg dat die eet daarvan ‘n persoon onrein sou maak, maar in Markus verklaar die Here dat die kos wat ‘n persoon inneem hom nie onrein kan maak nie. Dit dien maar net as nog ‘n bewys dat daar weersprekings in die Bybel is. Groete.

Antwoord: Die Here weerspreek Homself nie. Die Bybel in die oorspronklike tale is God se woord aan die mens en as sulks kan daar geen weersprekings in die Bybel wees nie. Die probleem ontstaan wanneer mense die Bybel verkeerd uitlê en dan wil hulle beweer dat daar weersprekings in die Bybel is. In baie gevalle is hierdie persone nie wedergebore nie, en het dus nie die Heilige Gees in hulle om hulle in die hele waarheid te lei nie, en daarom vind ons dat dit gewoonlik ongeredde mense (maak nie saak hoe hoogs geleerd hulle mag wees nie) wat met sulke stellings die Bybel as God se onfeilbare woord aan die mens wil aanval.

Dit is egter so dat God slegs die volk Israel, wie onder die Dispensasie van die Wet gelewe het, verbied het om onrein kossoorte, (wat varkvleis insluit) te eet. Daarbenewens is die Here Jesus Christus tydens die Dispensasie van die Wet gebore, en moes dus as gebore Israeliet/Jood die Wet van Moses stiptelik nakom, iets wat Hy volkome gedoen het. En ja, die Here het bogenoemde stelling soos in Markus 7:18-23 gemaak. Tot op hierdie punt is die stellings in jou opmerkings hierbo korrek, maar in jou gevolgtrekking dwaal jy egter grootliks.

Eerstens moet ons kortliks kyk wat sonde is. Sonde is enige morele daad wat in stryd met God se Heilige karakter verrig word. Sonde word ook gepleeg wanneer ‘n persoon, of groep persone, enige optrede in stryd met God se spesifieke opdragte wat vir die gegewe Dispensasie geld oortree. Enige Jood/Israeliet wat tydens die Dispensasie van die Wet gelewe het, en wat byvoorbeeld vark geëet het, het sonde gepleeg, omrede God die Israeliete wat tydens die Dispensasie van die Wet geleef het, spesifiek verbied het om onrein kossoorte te eet. Om God se verbod op die eet van onrein kossoorte tydens die Dispensasie van die Wet te verontagsaam is ‘n vorm van rebellie en is dus sonde. (Die leser word aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer.)

Kom ons gaan kyk nou weer mooi na die Here se stelling, naamlik:
Markus 7:18-23 “En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, (enige kossoorte) hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein? En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”
Vir ‘n Jood wat byvoorbeeld varkvleis eet, was die varkvleis onrein, nie omrede varkvleis self ‘n persoon onrein kan maak nie, maar die rebelse gesindheid wat uit die hart van die rebelse Jood/Israeliet voortvloei. Omrede God Israel verbied het om onrein kossoorte tydens die Dispensasie van die Wet te eet, word die eet daarvan vir enige Israeliet sonde omrede die Here dit vir hulle tydens daardie spesifieke dispensasie verbied het. Die probleem lê dus nie soseer by die kos self nie, maar in die rebelse hart van die Jood wat daardie varkvleis in stryd met God se verbod daarop eet. In bogenoemde teksgedeelte verklaar Christus dan ook die logiese volgorde waarin sonde manifesteer, naamlik:

  • Uit die sonde natuur van die mens: Alle sonde kom vanuit die gevalle natuur van die mens uit.
  • Uit die mens se verstand: Die sonde natuur van die mens gee ook aanleiding daartoe dat mense bose gedagtes uitdink.
  • Menslike reaksies en optredes: En hierdie bose gedagtes, wanneer dit nie aangespreek word nie, beïnvloed die mens se optredes, wat in dade van hoerery, moord, diefstal en rebellie ensovoorts uiting vind.

Die oorsprong van die probleem lê dus in die mens se gevalle natuur, en dit is dus sy rebelse hart wat hom onrein maak, nie die varkvleis self nie. Die Here Jesus Christus het Homself dus nie weerspreek nie, en het ook nie vir die Jode, wat saam met Hom tydens die Dispensasie van die Wet gelewe het, met hierdie stelling toestemming gegee om onrein voedsel te eet nie. Vir ‘n Jood wat byvoorbeeld varkvleis sou eet, was die varkvleis onrein, nie omrede varkvleis self ‘n persoon onrein kan maak nie, maar die rebelse gesindheid wat uit die hart van die betrokke Jood/Israeliet voortvloei. Omrede God Israel verbied het om onrein kossoorte tydens die Dispensasie van die Wet te eet, word die eet van sulke kosse sonde, omrede die Here dit vir hulle tydens daardie spesifieke dispensasie as onrein verklaar het. Die probleem lê dus nie soseer by die kos self nie, maar in die rebelse hart van die Jood wat daardie varkvleis in stryd met God se verbod daarop eet. Die verbod om onrein voedsel te eet was slegs op Israel, wat tydens die Dispensasie van die Wet gelewe het, van toepassing nie op die Kerk wat tydens die Dispensasie van Genade/Kerk lewe nie.

Slotsom: Christus het slegs verduidelik dat kos self nie ‘n persoon onrein kan maak nie, maar dit is die rebelse dade wat vanuit die hart van die mens voortvloei wat hom onrein maak. Dit is dus jy wat dwaal en nie die Here wat Homself weerspreek nie.

Net vir interessantheid: Daarenteen is daar baie mense wat op ‘n ongeoorloofde wyse aspekte van die Dispensasie van die Wet na die Dispensasie van Genade/Kerk wil oorbring (wat die verbod op die eet van onrein voedsel insluit), en op mense as wet wil afdwing, en dit ten spyte van die feit dat met Christus se kruisiging daar ‘n verandering van dispensasies plaasgevind het, naamlik die Dispensasie van Genade/Kerk. Om hierdie rede het Paulus die volgende stelling gemaak, naamlik:
Kol.2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. 18 Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid, 19 en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ( die Kerk wat die liggaam van Christus is) deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word. 20 As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge 21 soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? — 22 almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan — volgens die gebooie en leringe van mense, (omrede die eet van onrein kosse nie meer tydens die Dispensasie van die Kerk geld nie.) 23 wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens (en dus ‘n rebelse godsdiens is) en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.” (wat die manifestering van die vrugte van die Gees in daardie persoon se lewe sal verhoed.) Die Kerk is nie die volk Israel nie, maar is ‘n nuwe entiteit wat eers met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag ontstaan het. Daarenteen het Israel as volk vir baie meer as duisend jaar alreeds bestaan. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” te lees)

Mense wat die Wet van Moses deel van die Dispensasie van Genade/Kerk wil maak, tree dus in stryd met God se woord aan die Kerk op, en sondig indien hulle die eet van onrein kossoorte tydens die Dispensasie van Genade/Kerk op mense as wet wil afdwing. Ons lewe nou tydens die Dispensasie van Genade, nie die Dispensasie van die Wet wat met Christus se kruisiging tot ‘n einde gekom het nie.
Gal.3:10 “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.”
Gal.5:4 “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.”

Ons moet nie te haastig wees om God se woord in twyfel te wil trek nie. Om so iets te doen gaan net onsself benadeel. Dit is ‘n ernstige sonde om te beweer dat die Here Homself in Sy woord weerspreek, en baie mense uiter hierdie beskuldiging net te maklik en dit sonder werklike Geestelike insig. Lees gerus ook die artikel “Dokumentêre programme en die komende oorlog” te lees. Ek bid my antwoord verander jou opinie oor die betroubaarheid van die Skrifte, en hoop dit gee daartoe aanleiding dat jy die evangelie sal glo, waarna die Heilige Gees in jou sal inwoon en in alle waarheid sal lei.

Seën groete.

Vic

Deel met ander asb.