Demoon

Verdere vraag rakende demone

Vraag: Hello Vic. Ek het ‘n vraag wat ek graag verklaring voor soek. “Watse gesag/ krag het Satan en/ of demone oor iemand, veral as dit kom by iemand se gedagtes of wat in hulle harte is?”

Wat ek hiermee bedoel:

-Ek weet dat die Here, Jesus Christus en die Heilige Gees alles van ‘n mens weet nog voordat daardie persoon in die Moederskoot gevorm is.

-Ek weet ook dat die Here weet wat ek dink en voel selfs die gedagtes wat ek self nog nie eers gedink het of gevoelens wat ek nog nie eers gevoel het.

Met dit gesê:

Het Satan, of ‘n demoon, beheer oor jou gedagtes? Kan Satan jou gedagtes/ denke binne dring of jou dinge laat doen buite jou beheer?

Van wat ek verstaan kan hy nie, andersins sou hy my die lelikste en ongoddelikste dinge laat doen het wat beteken dat ek nooit uit die donker put van skuldgevoelens sou kon ontsnap nie.

Watse tipe outoriteit/ toegang het Satan, en demone, tot iemand?

Soos ek, en baie ander Christene, groot gemaak is, glo ek dat omdat ek gevul is met die Heilige Gees, is daar nie plek vir ‘n demoon nie.

Antwoord: Dit is ‘n baie interessante vraag wat jy gevra het en baie mense worstel met dieselfde vraag. Die duiwel is beperk in sy vermoë om ‘n mens se gedagtes te beheer. Indien hy die vermoë gehad het om ons gedagtes te beheer dan sou die Here ons nie vir ons gedagtes en optredes verantwoordelik kon hou nie. Satan of demone kan wel hulle idees in ons koppe sit waarop ons kan reageer en dan sonde pleeg. Die mens se verstand is die arena waarin die satan die mens meestal versoek. Om versoek te word, is egter nie ‘n sonde nie, maar indien ons op daardie versoeking reageer en optree dan pleeg ons sonde. Alle sondes begin in ons gedagtes en vind uitdrukking in ons gedrag. Dit is egter belangrik dat jy nie die vulling van die Heilige Gees met die doping van die Heilige Gees verwar nie. Die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie glo dan word daardie persoon eenmalig met die Heilige Gees gedoop en verseël.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”

Die doping van die Heilige Gees is dus ‘n eenmalige gebeurtenis en word nooit weer in die gelowige se lewe herhaal nie. God verwag egter van ons om met die Gees vervul te wees wat beteken dat die Heilige Gees ons beheer. Ek sal jou aanraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees en Vulling deur die Heilige Gees” te lees. ‘n Persoon kan dus wedergebore wees en met die Heilige Gees gedoop wees maar hy kan ook op dieselfde tyd deur wederstrewigheid/vleeslikheid nie met die Heilige Gees gevul wees nie. Die gemeente in Korinthe is ‘n mooi voorbeeld van mense wat met die Gees gedoop is, maar wat nie met die Gees gevul is nie en daarom was hulle so vleeslik. Soos reeds genoem, verwag God van ons om ten alle tye met die Gees gevul te wees.
Ef.5:18 “ Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Net soos wat drank ‘n dronk man se optrede kan beïnvloed, behoort ons die Heilige Gees toe te laat om Sy wil in en deur ons te bewerkstellig.

In kort beteken om met die Gees gevul te wees om deur die Gees beheer te word. Indien ‘n gelowige deur die Gees gevul is dan sal die Heilige Gees die vrugte van die Gees in daardie persoon se lewe laat manifesteer, naamlik:
Gal.5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Ef.5:9 “ Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
Indien ʼn gelowige met die Heilige Gees gevul is, dan sal daardie persoon deur die Heilige Gees beheer word en sodoende sal die persoon die Wet van Christus vervul. (Wat ‘n hoër standaard van optrede as die Wet van Moses vereis.) Tegnies gesproke is dit onmoontlik vir die mens om die Wet van Christus in eie krag te vervul en daarom is dit belangrik om met die Gees gevul te wees.
Rom.8:4 “sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

Daarenteen word ons almal met ‘n sonde natuur gebore, en indien ‘n persoon deur sy sonde natuur beheer word, dan sal hy maklik deur die duiwel versoek kan word om sonde te pleeg, en derhalwe beskik ons almal oor die potensiale vermoë om enige sonde te pleeg en dit sluit die gruwelikste dade in. In baie gevalle pleeg ons sonde en dit sonder dat Satan ons enigsins beïnvloed of versoek.
Jak.1:14 “Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 1:15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”
(Lees asb. die artikel “Sewe vorms van dood in die Bybel” wat bostaande stelling in perspektief sal plaas.) Indien ‘n persoon deur sy sonde natuur beheer word, kan dit met regte gesê word dat hy met sy sonde natuur gevul is en is in staat om enige sonde te pleeg, naamlik:
Rom.1:29 “hulle is vervul (beheer) met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; 1:30 nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; 1:31 onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, 1:32 mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (Sien ook Gal.5;17-26)

Jy is korrek in jou siening dat ‘n demoon nie ‘n gelowige kan beset nie. Alhoewel ‘n gelowige nie deur ‘n bose gees beset kan word nie kan hy wel van buite af tot so ‘n mate deur ‘n bose gees geteister word, dat sy toestand dieselfde as duiwelbesetenheid voorkom. Daarenteen kan ongelowiges wel deur ‘n bose gees beset raak en die Bybel is vol sulke voorbeelde. Ek sal jou ten sterkste aanraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” , asook “Hulp met bose geeste in huis” te lees. Dit beteken geensins dat elke ongelowige nie deur ‘n bose gees besete is nie, maar die moontlikheid bestaan wel daarvoor omrede ‘n ongelowige persoon nie deur die Heilige Gees gedoop en verseël is nie. Alhoewel die ongelowige persoon nie noodwendig deur ‘n bose gees beset is nie word hy egter deur sy sonde natuur gedomineer en kan geen goeie werke doen wat vir God aanvaarbaar is nie. Boonop kan so ‘n persoon maklik deur die satan versoek word om goddeloos op te tree en slaag gereeld in sy doel.

Enige outoriteit, of toegang wat die satan tot ‘n persoon geniet hang van God af en satan kan nooit buite die perke wat God vir hom bepaal het optree nie. Om verskeie redes laat God die satan wel toe om toegang tot mense te kry en dit sluit gelowiges ook in. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Job.
Job 1:7 “Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ʼn swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. 1:8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. 1:9 En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? 1:10 Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 1:11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 1:12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.”

Ter Afsluiting: Alhoewel Satan dit gereeld regkry om mense met sondes te verlei (en dit sluit gelowiges in) is daar egter verlossing en vergifnis in Christus. God verwag van die ongelowige persoon om die evangelie te glo, en sodoende sondevergifnis te bekom en die ewige lewe te ontvang. (fase een van ‘n persoon se verlossing, naamlik wedergeboorte) Wanneer ‘n gelowige egter sonde pleeg verwag God van daardie persoon om sy sondes te bely sodat die verhouding binne God se familie herstel kan word. (fase twee van ‘n persoon se verlossing, naamlik heiligmaking) Gelowiges behoort die volle wapenrusting van God aan te trek en deur die Gees te wandel en moet daarteen waak om nie die Heilige Gees deur ongehoorsaamheid te blus.
1Thess.5:19 “Blus die Gees nie uit nie.
Ef. 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”

Indien ‘n gelowige in ‘n toestand van rebellie teenoor die Heilige Gees voortgaan sal die Heilige Gees nie die vrugte van die Gees in daardie persoon se lewe laat manifesteer nie en die gelowige sal ook onder God die Vader se tugtiging kom. (Lees gerus die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” waar hierdie onderwerp breedvoerig bespreek word.)
Heb.12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”
Hierdie is ‘n baie interessante onderwerp en dit is my bede dat ek jou vraag tot ‘n groot mate beantwoord het.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.