Covid

Covid-19 entstof nie die merk van die dier nie

Daar is ‘n baie gevaarlike bewering wat in die Christelike gemeenskap verkondig word, en dit is dat die Covid-19 entstof die merk van die dier in Openbaring is. Die Skrifte stel dit duidelik dat die valse profeet, wie saam met die Antichris sal werk, wel die mensdom sal verplig om die merk van die dier te neem, maar dit is nie die Covid-19 entstof nie. Dit is nie my doel om die positiewe, asook negatiewe mediese risikofaktore aangaande die Covid-19 entstof hier te bespreek nie, maar wel die feit dat daar mense is wat valslik beweer dat die Covid-19 entstof die merk van die dier is. Net soos wat daar mense was wat die presiese datum van die koms van die Here voorspel het, en sodoende die Here se woord in oneer gebring het, is daar vandag mense wat dieselfde fout aangaande die Covid-19 entstof maak. Elke persoon behoort d.m.v betroubare mediese inligting tot sy beskikking die keuse te maak of hy die entstof wil neem of nie. Om egter die bewering te maak, dat indien ‘n persoon sou verkies om die Covid-19 entstof te neem, daardie persoon die merk van die dier aanvaar het, en sy lewe aan Satan verkoop het, is ‘n ernstige mistasting en moet heeltemal verwerp word. Met die skryf van hierdie artikel sal daar vanuit die skrifte baie duidelike gedemonstreer word dat die Covid-19 inenting nie die merk van die dier kan wees nie.

Die Skrifte stel dit duidelik dat die valse profeet, wie die Antichris se tweede in bevel gaan wees, die persoon is wat die mensdom sal verplig om die merk van die dier te neem, naamlik:
Openb.13:11”En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, (Vals Profeet) en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak. 12 (hy het vroom voorgekom maar duiwelse leerstellings verkondig) En hy oefen al die mag van die eerste dier ( die Antichris) uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier (Antichris) aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. 13 Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. 14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier (Antichris) te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. 15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier (Antichris) se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. 16 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk (nie entstof nie) op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; (die Covid-19 entstof word nie eens op ons voorkoppe toegedien nie) 17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. 18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.”

Die Skrifte stel dit baie duidelik, dat dit die vals profeet is wat die mensdom sal dwing om die merk van die dier te neem. Dit is ook boonop baie duidelik dat die Antichris, asook die Vals Profeet, nog nie hulle verskyning op die geopolitieke wêreld toneel gemaak het nie en dus is hulle nie in ‘n posisie om die mensdom te dwing om die merk van die dier te neem nie. Op grond van slegs hierdie een feit behoort dit duidelik te wees dat die Covid-19 entstof nie die merk van die dier kan wees nie. Benewens hierdie feit is daar nog verdere profetiese gebeure wat moet plaasvind alvorens die merk van die die op die mensdom afgedwing kan word. Hierdie profetiese gebeure moet eers afgehandel word alvorens daar enige sprake van die merk van die dier kan wees. Ek gaan kortliks die chronologiese gebeure hier weergee wat bo enige twyfel sal bewys dat die Covid-19 entstof nie die merk van die dier kan wees nie. (Let wel: Hierdie lys is geensins ‘n volledige lys van gebeure wat in die Bybel voorspel is nie, maar net genoeg daarvan om aan die doel vir die skryf van hierdie artikel te voldoen. Die leser word ook aangeraai om die artikel “Covid-19 pandemie en hoe dit ons wêreld verander het” te lees.)

Profetiese gebeure wat eers moet plaasvind:

  • Die Kerk Dispensasie moet eers d.m.v. die wegraping tot ‘n einde gebring word, wat daartoe aanleiding sal gee dat die Heilige Gees nie meer die verskyning van die Antichris en die daaropvolgende leerstellige en morele verval sal verhoed nie.
    2Thess.2:1 “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, (die wegraping) 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is. (die dag van Christus wat met die wegraping begin en wat die Verdrukking en Duisendjarige Vrederyk van Christus insluit.)3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval (geestelike/leerstellige verval, asook die wegraping) kom en die mens van sonde ( die Antichris) geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, (die Antichris gaan nie slegs ware Godsdiens teenstaan nie, maar enige vorm van godsdiens behalwe duiwelaanbidding toelaat nie) sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. (Slegs die Antichris mag dan aanbid word) 5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6 En nou, julle weet wat hom teëhou, (die Heilige Gees, Wie se werking deur die ware Kerk die Antichris se verskyning verhoed) sodat hy op sy tyd (wat God bepaal het) geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy (die Heilige Gees wat algehele goddeloosheid/wetteloosheid deur Sy werking deur die ware Kerk verhoed) wat nou teëhou, (d.m.v die wegraping) uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms (wanneer Christus na afloop van die Groot Verdrukking, persoonlik Sy Koninkryk op aarde kom vestig, nadat Hy ‘n einde aan alle menslike koninkryke gemaak het.) tot niet sal maak,” (Die leser word te sterkste aangeraai om die illustrasies “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking illustrasie” asook “Die Sewe dispensasies” sorgvuldig te bestudeer.)
  • Die wegraping en daaropvolgende voorbereidings tydperk: Na afloop van die wegraping, waarna die Heilige Gees Sy bediening, wat algehele goddeloosheid/wetteloosheid op aarde verhinder, tot ‘n einde bring wat die Antichris in ‘n posisie sal stel om sy opmars op politieke gebied te maak. (Alhoewel die Heilige Gees God is en alomteenwoordig is, sal Hy egter Sy bediening om algehele wetteloosheid/goddeloosheid op aarde staak en die mens vrye teuels gee om in algehele boosheid te verval. Hy is nie tydens die Verdrukking heeltemal van die aarde af afwesig nie, maar Sy bedrywighede tydens die Verdrukking verander net.) (Joh.14:1-3; 1Kor.15:51-58; 1Thess.4:13-18; Openb.3:10) Die Antichris sal gedurende hierdie tydperk beheer oor ‘n westerse konfederasie van tien nasies bekom, wat niks anders as die herstelde Romeinse Ryk van ouds sal wees nie en waartydens die mense hulle ook aan keiser aanbidding skuldig gemaak het. (Dan.2:40-44; Dan.7:7; Openb.17:12) Wanneer die Antichris op politieke en militêre vlak sterk genoeg is sal hy ‘n vredesverdrag op die nasie van Israel afdwing waardeur hy hulle beskerming sal waarborg. (Dan.9:27; Eseg.38:8, 11)
  • Die Verdrukking begin: Die oomblik wanneer die Antichris ‘n vredesverdrag met Israel onderteken het begin die verdrukking amptelik. (Dan.9:27) Onder die Antichris se beskerming herbou die Jode die tempel in Jerusalem. Tydens die eerste helfte (3.5 jaar) sal die Antichris in samewerking met die ekumeniese valse godsdiensstelsel die wêreld regeer. Tydens die eerste helfte van die verdrukking sal die Jode toegelaat word om hulle geloof in die tempel te bedryf en sal deel van die ekumeniese godsdiensstelsel vorm. Valse Christelike godsdiensstelsels, soos byvoorbeeld die Rooms-Katolieke kerk en alle ander Christelike gelowe wat enige vorm van menslike werke by die Evangelie van God se genade voeg, sal deel van hierdie wêreld godsdiensstelsel vorm. (Dit sluit die Wêreld Raad van Kerke in.) Tydens hierdie tydperk sal alle godsdiensstelsels behalwe die ware Christendom onder die vaandel van ‘n oorkoepelende ekumeniese godsdiensstelsel (staatskerk) vry wees om volgens hulle geloofsoortuiging te aanbid, solank as wat die ware Evangelie van die Koninkryk nie verkondig word en die Here Jesus Christus as enigste Verlosser en enigste Weg na die Vader aanbid word nie. Die Jode sal dus van hierdie toegewing gebruik maak en in hulle herboude tempel begin aanbid en offers bring. Teen die einde van die eerste helfte van die Verdrukking sal ‘n Russies-Islamitiese koalisie Israel binneval waarna God die invalsmag sal verdelg. (Dan.11:40-45; Eseg.38-39) Na afloop van hierdie slagting sal die Antichris die eer van die oorwinning oor die Russies-Islamitiese koalisie magte op homself neem en sodoende beheer oor die hele wêreld bekom. Die wêreld sal nou in die kloue van die mees goddelose diktator van alle tye beland. Nou sal hy nie slegs oor die westerse alliansie heerskappy voer nie maar oor die hele wêreld. Nou is die weg vir die Antichris oop om homself as God te verheerlik.
  • Die Groot Verdrukking begin: Die duiwel word uit die Hemel gewerp en word tot die aarde beperk. (Openb.12:7-13) Hy begin Israel nou vervolg met die doel om hulle heeltemal uit te wis. Die Antichris verbreek sy verbond met Israel. Nou verhef hy homself, en gaan so ver en gaan die allerheiligste van die Tempel binne, en verklaar homself daar as God en rig ook ‘n standbeeld van homself daarin op. (die gruwel van die verwoesting waarna die Here Jesus Christus Matt.24 verwys het) (Dan.9:27; 11:45a; Matt. 24:15; 2Thess.2:4; Openb.13:5; 15-18) Hy sal ook gedurende hierdie tydperk volle beheer oor die koalisie van tien leiers bekom deur om drie van hulle te dood, waarna die oorblywende sewe hom volkome onderdanig sal wees. (Dan.7:24; Openb.17:12-13) Die Antichris en sy koalisie draai nou teen teen die valse ekumeniese godsdiensstelsel wat in Babilon gesetel is en vernietig dit. (Openb.17:16-17) Van die middel van die verdrukking, wat as die Groot Verdrukking bekendstaan, sal geen godsdienste behalwe die aanbidding van die Antichris en die duiwel geduld word nie. Om hierdie doel te bereik, sal die Valse Profeet alle mense dwing om ‘n merk op hulle hande of voorkom te neem as bewys dat hulle die Antichris as God aanbid. (Openb.13:4-5; 15-18) Nou bekom die Antichris volkome beheer oor die wêreld se politieke, godsdienstige, asook ekonomiese stelsels. Almal wat weier om die Antichris te aanbid sal nie handel kan dryf nie en sal sodoende finansieel, asook fisies uit die samelewing uit gedwing en selfs gedood word. Daar sal dus ‘n bewuste kontrak en belydenis met die Antichris aangegaan word waardeur ‘n persoon sal verklaar dat die Antichris as sy God aanvaar en aanbid. Na die persoon die Antichris, as sy God, aanvaar en aanbid het, sal die persoon die merk van die dier ontvang, wat as bewys sal dien dat die persoon aan die Antichris behoort. So ‘n persoon het dus sy lot verseël en sal nie deur God van sy sonde oortuig word nie, maar sal oorgegee word om Satan se leuens te glo. Die persoon kan dus nie weer gered word nie. Baie Jode sal nou besef dat hulle om die bos gelei is en sal weier om die Antichris as god te aanbid en sal nou saam met die ware gelowiges vervolg word. Nou het die Tweede gedeelte van die Verdrukking ten volle aangebreek. In pleks van die beloofde vrede sal die wêreld nou die grootste tyd van bloedvergieting en smart gedompel word.
  • Christus se wederkoms: Vir die doeleindes van hierdie artikel gaan Christus se wederkoms nie hier bespreek word nie, want dit word nie hier benodig nie. Die eindtyd gebeure soos hierbo weergegee is maar kortliks en daar is baie besonderhede van gebeure en persoonlikhede wat doelbewus uitgelaat is, omrede dit nie direk met die onderwerp van hierdie artikel betrekking het nie. Indien die Here dit toelaat sal ek op ‘n latere geleentheid ‘n volledige lys van gebeure in ‘n afsonderlike reeks artikels weergee.

Met hierdie kort agtergrond kan ons nou ‘n paar logiese afleidings maak:

  • Slegs na afloop van die wegraping sal die Kerk van die aarde af verwyder word, en sodoende sal die Heilige Gees Sy huidige bediening, wat totale goddeloosheid verhinder, beëindig word en sal die Antichris openbaar kan word. Hierdie gebeure het nog nie plaasgevind nie. (Sien 2Thess.2:1-8 hierbo.)
  • Die vale profeet het nog nie sy verskyning op die wêreld toneel gemaak nie en is dus nie nou in ‘n posisie op die merk van die dier aan die mensdom voor te hou nie. Die Skrifte stel dit duidelik dat hy die een is wat die Antichris aanbidding, asook die merk van die dier instel.
  • Die gruwel van verwoesting is nog nie in die tempel opgerig nie, want die tempel is nog nie eens herbou nie.
  • Die Antichris sit nie nou in die tempel en vereis dat almal hom as God moet aanbid nie. Dis kan die Covid-19 inenting nie die merk van die dier wees nie.
  • Dit is ook opmerklik dat die merk van die dier op (nie in) die mense se regter hand of voorkop geplaas sal word. Die Covid-19 entstof word nie op ons geplaas nie maar word in ons ingeënt. Boonop word die Covid-19 enting nie met enige godsdiens gekoppel nie. Iets wat ‘n vereiste vir die merk van die dier is.

Die ware kerk is nog in die wêreld, en kan nie saam met die wêreld aan God se oordeel oorgegee word nie, omrede die Kerk nie vir God se oordeel bestem is nie. Solank as wat die ware Kerk (wat uit alle wedergebore kinders van God bestaan) op die aarde teenwoordig is kan die merk van die dier nie aan die mens voorgehou word nie.
1Thess.5:9 “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus”

Ter afsluiting: Die Covid-19 entstof is nie die merk van die dier nie. Die metodes wat nou gebruik word om die mensdom te oorreed om die Covid-19 entstof te neem is soortgelyk aan dit wat die vals profeet sal aanwend, maar dit is niks meer as dit nie. Net omrede ons ooreenkomste kan waarneem, beteken geensins dat die entstof die merk van die dier kan wees nie. Daar is baie gelowiges wat alreeds die Covid-19 entstof ontvang het, en wat nog steeds getrou die Here dien. Indien die Covid-19 entstof die merk van die dier was, dan sou hierdie mense niks met die Here te doen wou hê nie, omrede die Vader hulle nie meer na die Here Jesus Christus om verlossing sou trek nie. En indien die Vader nie ‘n persoon trek nie dan sal niemand Christus om verlossing nader nie.
Joh.6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Dit is ongelowiges wat tydens die verdrukking sal leef, en wat willens en wetens verkies om eerder die Antichris as god te aanbid, wat die merk van die dier sal ontvang en hulle lot sal verseël. Dit sal ‘n doelbewuste besluit van hulle kant af vereis.
2Thes.2:9 hy (die Antichris) wie se koms (tydens die Verdrukking) is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, (ongelowiges) omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. (hulle het dus willens en wetens die Evangelie van die Koninkryk van die hand gewys, net soos wat daar nou baie mense is wat willens en wetens die Evangelie van God se genade tydens die Kerk Dispensasie van die hand wys) 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, (wat verklaar dat die Antichris, God is) 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid (die Evangelie van die Koninkryk) nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (hierdie mense is dus almal ongelowiges, en was nooit wedergebore nie en wat ook weier om die ware God in geloof te aanvaar.)

Die feit dat gelowiges wat die Covid-19 entstof alreeds geneem het en nog steeds die Here dien, dien as onomwonde bewys dat die Covid-19 entstof nie die merk van die dier kan wees nie. Dit is ‘n ernstige mistasting om te beweer dat die Covid-19 entstof die merk van die dier is. Ongelukkig is dit in baie gevalle gelowiges wat die Here ywerig wil dien, wat deur hierdie dwaalleerstelling mislei word en onnodig oor hulle ewige bestemming twyfel. Satan is lief daarvoor om die waarhede, soos wat dit in God se woord opgeteken staan, buite konteks aan te haal en en vir sy doeleindes aan te wend. Daarom is dit van uiterste belang dat ons die Skrifte binne die korrekte konteks bestudeer, en ons moet daarteen waak om nie alles goedsmoets te glo wat aan ons verkondig word nie. Ons moet self alles wat aan ons verkondig word met die Skrifte vergelyk. Die Covid-19 entstof is dus nie die merk van die dier nie. Gelowiges kan indien hulle op betroubare mediese gronde rede het om die entstof te vertrou, dit met vrymoedigheid neem. En nee, indien jy die entstof alreeds geneem het, dan het jy nie jou siel aan Satan verkoop nie.

Dit is egter ongelukkig ‘n feit dat hierdie mistasting weereens God se woord in oneer gaan bring, net soos wat die mense wat in die verlede die presiese datum van die wegraping voorspel het. Dit is tragies, want dit kan veroorsaak dat mense wat die Here om verlossing sou nader, dit op grond van hierdie mistasting nie sal wil doen nie.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.